Saturday 30 July 2011

GGP Deel 2


Geestelike Groeiprogram vir Dissipels en Dissipelmakers

DEEL 2 (Groeifase 2: 'Baba Fase')

Dr. J. M. B. Eloff

Tweede Uitgawe 1994
Kopiereg 1994: Dr Johann Eloff
Posbus 71, Mansfield, QLD, 4122, Brisbane, Australie
Ó Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie mag in enige vorm gedupliseer word sonder die toestemming van die uitgewer nie.
Gedruk in Suid-Afrika.


INHOUD

2. GROEIFASE 2 (BABA) 1
2.1 GROEIAREA: WOORD 2
2.1.1 Kennisdoelwitte: 3
2.1.2 Gesindheidsdoelwitte: 9
2.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 10
2.2 GROEIAREA: GEBED 12
2.2.1 Kennisdoelwitte: 13
2.2.2 Gesindheidsdoelwit 19
2.2.3 Aktiwiteitsdoelwit 20
2.3 GROEIAREA: PERSOONLIKE GROEI 21
2.3.1 Kennisdoelwitte: 22
2.3.2 Gesindheidsdoelwit: 32
2.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 33
2.4 GROEIAREA: GESIN 36
2.4.1 Kennisdoelwitte: 37
2.4.2 Gesindheidsdoelwit: 41
2.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 42
2.5 GROEIAREA: GEMEENSKAP 46
2.5.1 Kennisdoelwitte: 47
2.5.2 Gesindheidsdoelwit: 49
2.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 49
2.6 GROEIAREA: GETUIENIS 51
2.6.1 Kennisdoelwitte: 52
2.6.2 Gesindheidsdoelwit: 53
2.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 54
2.7 GROEIAREA: BEDIENING 55
2.7.1 Kennisdoelwitte: 56
2.7.2 Gesindheidsdoelwit: 57
2.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 58
2.8 GROEIAREA: LEEFWêRELD: 59
2.8.1 Kennisdoelwitte: 60
2.8.2 Gesindheidsdoelwit: 67
2.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 67


2. GROEIFASE 2 (BABA)

VOORWOORD

"‘n Mens moet julle met melk voed en
nie met vaste kos nie. Iemand wat nog
van melk lewe, kan nie saam praat oor
wat reg of verkeerd is nie, want hy is
nog 'n kind (baba)."(Hebreërs 5:13)

Die geestelike baba het 'n onversadigbare honger vir kennis omtrent sy nuwe verhouding met God. Daar is, met groot respek, 'n "God-vormige" vakuum in sy lewe wat gevul begin word. Hierdie geestelike vakuum is sy sleutel motiveerder.

Tydens hierdie fase moet jy as dissipelmaker die dissipel voed en koester soos 'n moeder. Die beste ding nou is om hom geestelik te voer en te laat voel dat hy iemand spesiaal is, en jou aandag waardig is. Gee onvoorwaardelike aanvaarding, baie liefde en beskerming aan hom. Help hom om die basiese van oorlewing en groei as 'n verheerlikte skepsel in 'n gevalle wêreld te begin verstaan.


2.1 GROEIAREA: WOORD

INHOUD

2.1.1 Kennisdoelwitte:
a. Weet wie God is.
b. Ken die oorsprong van die woord "Bybel".
c. Ken die indeling van die Bybel.
d. Weet waarom die Bybel ook die "Woord van God" genoem word.
e. Weet waarom die Bybel ook die "Openbaring van God" genoem word.
f. Weet waarom die Bybel ook die "Boek van die Lewe" genoem word.
g. Ken 'n kort samevatting van die boodskap van die Bybel.
h. Ken die eienskappe van die Bybel.
i. Neem kennis van vyf maniere waarop jy die Woord van God deel van jouself kan maak.
j. Weet dat die Woord van God voedsel is vir geestelike groei.

2.1.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Wees daarvan oortuig dat die Bybel wel die Woord van God is en daarom absoluut waar en gesaghebbend is.
b. Sien God se Woord as geestelike voedsel wat jou help om geestelik te groei.
c. Begeer om (meer) met die Woord van God om te gaan.

2.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Hoor die Woord weekliks tydens eredienste.
b. Begin om die Woord van God deel van jouself te maak.


2.1.1 Kennisdoelwitte:

2.1.1.a Weet wie God is.

Ons mense weet niks van God af nie, behalwe dit wat ons in die Bybel van Hom leer. In die Bybel stel God Homself aan die mens bekend. Hy openbaar Homself. Omdat Hy Homself met niks of niemand anders kan vergelyk nie sê Hy: "Ek is wat Ek is" (Eksodus 3:14). Hy sê dus dat Hy God is, die Almagtige, die Skepper, die Heilige, die Alomteenwoordige.
Wat leer die Bybel ons oor God? Lees Genesis 17:1; 35:11. God verskyn aan Abraham en later aan Jakob en sê by elke verskyning dat Hy God is. Hy stel Hom aan hulle bekend, anders sou hulle nie geweet het dat Hy God is nie (Eksodus 3:6). God is dus 'n Persoon en geen rewolusionêre aksie of krag of mag nie.
God is die oorspronklike lewende Wese wat daar was voordat enigiets anders bestaan het. Hy is uniek. Hy is wat Hy is. Daarom is Hy die almagtige Skepper en genadige Onderhouer van alles wat Hy gemaak het. Daarom maak Hy verlossing van sondaars moontlik as hulle in Christus as hul Verlosser glo. God eis van elke verloste mens om aan Hom gehoorsaam te wees en uit liefde tot sy eer en verheerliking te lewe. God is groot. Ons kan sy grootheid nie begryp nie (Job 36:26). Nogtans beheers ons kennis van God ons hele lewe. Hoewel ons God nie kan begryp of verklaar nie, kan ons Hom ken.
Hoewel ons dit nie kan begryp nie, leer die Bybel ons dat God een in Wese is. Hy openbaar homself egter as drie Persone naamlik: Vader, Seun, Heilige Gees (Genesis 1:26; 3:22; Psalm 33:6). Al drie tree altyd saam op, maar een staan telkens op die voorgrond. Waar die Vader werkend teenwoordig is, is die Seun en die Gees ook werkend teenwoordig. Waar die Seun werkend teenwoordig is, is die Vader en die Gees ook werkend teenwoordig. Waar die Gees werkend teenwoordig is, is die Vader en Seun ook werkend teenwoordig.
By die skepping staan die Vader byvoorbeeld op die voorgrond (Genesis 1:1,26; Johannes 14:26). Leer Johannes 14:26! In die Apostoliese Geloofsbelydenis/Twaalf Artikels, wat die hele Christelike kerk bely, word in die eerste artikel gesê: "Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde." Die Skepper-God en Vader van die Here Jesus Christus, is ook ons Vader. Ons moet Hom alleen aanbid en in liefde dien.
God die Seun (die Here Jesus Christus) is die tweede Persoon in die Goddelike Drie-eenheid. Na sy mensheid is hy uit sy moeder Maria gebore. Dit was 'n wondergeboorte. Die Heilige Gees het die wonder bewerk sonder die tussenkoms van 'n man. Daarom het Hy twee nature. 'n Goddelike natuur, wat Hy van ewigheid af het, en 'n menslike natuur wat Hy van sy moeder Maria ontvang het. Hy is dus Seun van God en Seun van die mens. So alleen kan Hy ons Verlosser wees. Ons weet min van sy jeug. Toe Hy 'n baba was het sy ouers, uit vrees dat Herodus hom sou laat doodmaak, met hom na Egipteland gevlug en so sy lewe gered. Daarna verneem ons weer van Hom toe Hy twaalf jaar oud was en met die skrifgeleerdes in die tempel in gesprek was. Nadat Satan hom versoek het en hom wou verlei om nie die kruisweg te volg nie en Johannes die Doper hom gedoop het, begin Sy openbare ampswerk as groot Profeet, enigste Hoëpriester en ewige Koning. Leer Johannes 3:16!
God die Heilige Gees leer ons alleen uit die Bybel ken. Soms praat en dink mense oor die Gees as 'n blote gees of 'n geheimsinnige krag. Maar in die Bybel leer ons Hom ken as 'n Persoon en wel as die derde Persoon in die Goddelike Drie-eenheid (Matteus 28:19; 2 Korintiërs 13:13). Hy bid (Romeine 8:26). Hy lei mense (Rigters 13:25). Hy lei die Here Jesus (Matteus 4:1). Hy deel gawes uit (1 Korintiërs 2:11). Leer Titus 3:5!

2.1.1.b Ken die oorsprong van die woord "Bybel".

Die Woord "Bybel" kom van die Griekse woord "Biblia" wat "boeke" beteken. Byblus was 'n hawe in Fenesië van waar papirus uit Egipte ingevoer is. Die Grieke het daarom 'n dokument wat op papirus geskryf is, 'n "Biblos" (boek) of "Biblia" (boeke) genoem. Ons Afrikaanse woord Bybel is afgelei van die Griekse woord "Biblia". Die Bybel is 'n bundel kanonieke boeke. Met ander woorde, die Bybel is 'n afgeslote versameling boeke met voorskriftelike (normatiewe) gesag. Ongeveer 14 eeue voordat Christus gebore is, het die ontstaansgeskiedenis van die Bybel 'n aanvang geneem. Onder inspirasie van die Gees van die Here het die eerste skrywers die Bybel begin skryf. Hierdie boeke was gebaseer op mondelinge vertellings wat deur die eeue heen van vader na kind oorgedra is. Meer as 1500 jaar later is die finale manuskrip voltooi op 'n eensame en windverwaaide eiland in die Middellandse see. Die laaste Bybelboek (Openbaring) is geskryf deur 'n visserman en voormalige dissipel van Jesus, Johannes die Appostel.
Van Genesis tot Openbaring is daar 66 geïnspireerde boeke. Daar was baie verskillende skrywers uit verskillende agtergronde deur God geïnspireer om sy Woord aan die mensdom saam te stel. Afgesien daarvan dat die skrywers in verskillende tye geleef het, vorm die produk 'n wonderlike eenheid.
Die Bybel kom dus van buite die mens, naamlik van God (sien doelwit 2.1.1.j). God het egter 30 tot 40 mense gebruik om Sy Woord (Bybel) te skryf. Hy het dit deur die Heilige Gees gedoen, oor 'n tydperk van meer as 1 000 jaar. Die laaste Bybelskrywer is al ± 1900 jaar gelede dood. God se Woord raak alle mense, van alle tye, selfs diegene wat nie in God glo nie.
Die Bybelboeke is oorspronklik geskryf in antieke tale, onder andere Hebreeus, Grieks en Aramees. Dit is deur die jare in verskillende tale vertaal om dit vir alle mense in hul eie tale verstaanbaar te maak. Bybelvertaling gaan nog steeds voort. Die Bybel is reeds volledig in ongeveer 310 tale vertaal en gedeeltelik in ongeveer 1597 tale van reg oor die wêreld.

2.1.1.c Ken die indeling van die Bybel.

Die Bybel is 'n biblioteek van 66 boeke met een sentrale boodskap. Dit word in 2 Testamente verdeel: Ou Testament - 39 Boeke. Nuwe Testament - 27 Boeke.
Die Afrikaanse woord "Testament" is afgelei van die Latynse vertaling van die Griekse woord vir verbond. "Diatheke" is die Griekse woord vir Verbond. "Palaia diatheke" is die Grieks vir Ou verbond. "Kaine diatheke" is die Grieks vir Nuwe Verbond. In die tweede eeu na Christus is hierdie woorde algemeen deur Christene gebruik vir boeke wat geassosieer is met die Ou en Nuwe Verbond. Die kerkvader Tetulianus het die woord "Diatheke" (Verbond) in Latyn vertaal met "Testamentum."
Die Bybel is die geskiedenis van "twee" verbonde of testamente of wilsverklaringe of kontrakte. Wat is 'n verbond? 'n Verbond is 'n ooreenkoms of kontrak tussen twee persone. Wat is 'n testament? 'n Testament is die dokument waarin die erflating van 'n persoon uiteengesit word.
Die Bybel (Ou Testament en Nuwe Testament) is dus die uiteensetting van God se erflating aan die mens. Hierin is Sy wil en Sy beloftes uitgespel wat ons moet opeis, asook die verantwoordelikhede wat ons moet nakom.
In die Ou Testament het die mense diere geoffer om vir hul sonde te betaal. Dit het hulle herinner aan die finale offer wat gebring moes word, naamlik Jesus Christus wat aan die kruis sou sterf vir die sonde van die wêreld. Hierdie diereoffer was onvolmaak.
In die Nuwe Testament is Jesus Christus finaal aan die kruis geoffer, en is daar vir alle mense se sondes betaal. Christus was die finale volkome offer.

2.1.1.d Weet waarom die Bybel ook die "Woord van God" genoem word.

Die Woord van God is dit wat God van Homself aan mense wil bekendmaak (openbaar). Hy het dit op twee maniere gedoen. In die tyd van die Ou Verbond, het God met mense gepraat deur die profete. In die tyd van die Nuwe Verbond, praat God met mense deur die Seun (Hebreërs 1:1-3).
Johannes noem Jesus Christus die Woord van God, wat self God is en mens geword het, maar sonder sonde (Johannes 1:1-3, 14). Daarom sê hy dat hy en sy mede apostels dit wat hulle van die Woord gehoor, gesien en met hulle hande aangeraak het, verkondig (1 Johannes 1:1-3).
God het Homself (sy Woord) dus aan mense geopenbaar. Hulle het dit oorvertel en neergeskryf onder leiding van die Heilige Gees. So het die Bybel tot stand gekom as draer van die Woord van God. God kom dus aan die woord in en deur die Bybel. Daarom noem ons die Bybel die "Woord van God".

2.1.1.e Weet waarom die Bybel ook die "Openbaring van God" genoem word.

In die Bybel openbaar God Homself aan ons. Om te openbaar beteken om dit wat eers verborge of onbekend was, bekend te maak. God maak Homself, sy beloftes, sy wil/wet, aan ons bekend deur sy Woord.
Wanneer ons God in sy grootheid, almag, heiligheid, ewigheid ensovoort leer ken, word ons kleinheid, sondigheid, sterflikheid aan ons geopenbaar. Daarom kan ons die Bybel kortweg die "Openbaring van God" noem.

2.1.1.f Weet waarom die Bybel ook die "Boek van die lewe" genoem word.

In die Bybel is die belofte van die Ewige Lewe vir ons opgeteken. Die Bybel is die draer van die Woord van God. Johannes noem Jesus Christus die Woord van God en die Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is (Johannes 1:2; 1 Johannes 1:1-2). Jesus Christus sê dat ons in Hom (die Lewe) moet bly soos 'n loot in 'n wingerdstok bly. Ons kan dan groei en baie vrugte dra. As ons nie in Christus (die Lewe) bly nie, sal ons verdroog. Dan snoei die Boer (God die Vader) ons van die Wingerdstok (Christus) af, en gooi ons in 'n vuur om te verbrand (Johannes 15:1-8; Romeine 6:23; Openbaring 21:8).
Omdat die Ewige Lewe aan ons in die Bybel geopenbaar word, noem ons die Bybel kortweg die "Boek van die Lewe".

2.1.1.g Ken 'n kort samevatting van die boodskap van die Bybel.

In die Bybel leer ons van:
God die Vader, Almagtige Skepper van Hemel en Aarde.
Jesus Christus, Sy ewige Seun, wat deur die werking van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria, wat gely het, onder Pontius Pilatus gekruisig is, gesterf het, deur God verlaat is, begrawe is, helse pyne gely het, en op die derde dag weer opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel en wat sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel die wat nog leef en die wat reeds gesterf het.
Die Heilige Gees, wat saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, wat die uitverkorenes van God troos en aan hulle die wedergeboorte skenk, hulle oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel, hulle herinner aan alles wat Christus geleer het, sy vrug in hulle lewens werk en hulle in hul dienswerk bekragtig.
'n Heilige, algemene, Christelike Kerk, die gemeenskap van die gelowiges.
Vergewing van sondes vir die wat hul skuld bely.
Opwekking van die liggame van alle mense met die wederkoms van Christus.
Ewige Lewe as erfdeel vir die wat in Jesus Christus glo.
Ewige Dood as straf vir die ongelowiges.
(Sien ook doelwit 1.1.1.c)

2.1.1.h Ken die eienskappe van die Bybel.

Lees 2 Timoteus 3:14-17 aandagtig deur. Paulus herinner Timoteus hier aan sommige van die kenmerkende eienskappe van die Bybel: Dit verskaf kennis van Jesus Christus wat tot geloof in Hom en verlossing deur Hom lei (1 Johannes 1:1-4); is deur God geïnspireer; onderrig in die waarheid (Johannes 14:6); bestry dwaling (2 Petrus 2); stel verkeerdhede reg (Matteus 5); kweek 'n regte lewenswyse (Matteus 6); het dus groot waarde om vir hulle wat in God se diens staan, volkome voor te berei en toe te rus vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:14-16).

2.1.1.i Neem kennis van vyf maniere waarop die Woord van God deel van jouself gemaak kan word.

Lees die meegaande verse aandagtig deur en probeer om die volgende maniere waarop die Woord van God deel van jouself gemaak kan word, te identifiseer: Lees (Deutronomium 17:19); hoor en memoriseer (Deutronomium 31:12,13); oordink en toepas (Josua 1:8).

2.1.1.j Weet dat die Woord van God voedsel is vir geestelike groei.

Lees die meegaande verse aandagtig deur (Johannes 1:1,14; 4:14; 6:35; 1 Petrus 2:2).
Daar is baie redes waarom 'n Christen die Woord van die Here moet glo, maar die belangrikste rede is omdat God die Outeur of Skrywer van die Bybel is. Alle studente van die Bybel weet dat God die Skepper (Genesis 1:1), die Verlosser (Jesaja 60:16) en Regter (Genesis 18:25) is. Baie min mense dink egter ook aan God as die Outeur van die Bybel (2 Timoteus 3:16). Menslike skrywers ag dit baie belangrik dat mense hulle boeke lees. Dit is baie belangriker dat ons God se boek (sien doelwit 2.1.1.b) lees. Hy het dit met 'n baie belangrike doel aan ons gegee.
Die praktiese voordele wat die Bybel vir ons inhou kan mooi saamgevat word onder twee opskrifte naamlik "kennis" en "groei". In die Bybel maak God aan ons die goeie nuus bekend naamlik dat ons deel kan hê in sy beloftes (Johannes 3:16). Hy maak sy wil en riglyne vir ons lewens daarin bekend (Eksodus 20:1-17). Hy openbaar ook ons taak en verantwoordelikheid daarin aan ons. Hy beantwoord dringende vrae met betrekking tot ons oorsprong, doel en bestemming aan ons (Genesis 1:26-28; 2:15; Jesaja 65:17; 66:22; Matteus 28:19-20; Johannes 14:6,26; 15:1-17; 2 Petrus 3:13).
Alhoewel ons nie altyd verstaan hoe en waar individuele gebeure by God se program inpas nie (Prediker 11:5), kan ons tog God se basiese plan ken en Hom dienooreenkomstig dien. Daar is min dinge wat soveel vreugde bring as wanneer jy jou plek in God se plan ontdek. Dit gee aan jou lewe rigting en jy kan doelgerig werk om jou roeping te vervul (Romeine 8:28-30).
Dit alles is deur God beplan, voorberei, en daargestel sodat ons geestelik kan groei tot gelykvormigheid aan die beeld van Christus! (Romeine 8:29).

2.1.2 Gesindheidsdoelwitte:

2.1.2.a Wees daarvan oortuig dat die Bybel wel die Woord van God is en daarom absoluut waar en gesaghebbend is.

Bid en vra die Heilige Gees om die Woord self, en veral die Skrifgedeeltes in doelwit 1.1.1.a-h te gebruik om jou te oortuig dat die Bybel die Woord van God is, en daarom absoluut waar en gesaghebbend is.

2.1.2.b Sien God se Woord as geestelike voedsel wat jou help om geestelik te groei.

Lees die meegaande verse biddend deur (Psalm 119:1-16; Spreuke 9:1-5; Jesaja 55:1-3; Matteus 22:1-14; Johannes 1:9; 6:47-63; 8:12; 1 Korintiërs 3:1-3; Hebreërs 5:11-6:2; 1 Petrus 2:1-5).

2.1.2.c Begeer om (meer) met die Woord van God om te gaan.

Bid en vra God dat Hy die begeerte om meer met sy Woord om te gaan, in jou hart sal werk en versterk.

2.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

2.1.3.a Hoor die Woord weekliks tydens eredienste.

Woon weekliks eredienste by saam met mede gelowiges, in die kerk waarvan jy lidmaat is (Hebreërs 10:25). Maak ook aantekeninge van preke. Dit kan jou help om beter te konsentreer, om die preek beter te verstaan en om materiaal oor Bybeluitleg vir latere naslaanwerk te versamel.

2.1.3.b Begin om die Woord van God deel van jouself te maak.

Begin om daagliks, tydens jou persoonlike stiltetyd, uit die Bybel te lees. Oordink die gelese gedeeltes, memoriseer 'n belangrike vers(e) uit gelese gedeeltes en probeer om dit wat jy geleer het in jou alledaagse lewe toe te pas.
Gebruik die meegaande Skrifgedeeltes oor 'n tydperk van 39 dae om hierdie proses as 'n gewoonte en normale deel van jou alledaagse lewe te vestig: dag 1 (Matteus 5:14-16; Markus 4:21,22; Lukas 8:16,17; 11:33-36), dag 2 (Matteus 7:24-27; Lukas 6:47-49), dag 3 (Matteus 9:16; Markus 2:21; Lukas 5:36), dag 4 (Matteus 9:17; Markus 2:22; Lukas 5:37,38), dag 5 (Matteus 13:3-23; Markus 4:2-20; Lukas 8:4-15), dag 6 (Matteus 13:24-30), dag 7 (Matteus 13:31,32; Markus 4:30-32; Lukas 13:18,19), dag 8 (Matteus 13:33; Lukas 13:20,21), dag 9 (Matteus 13:44), dag 10 (Matteus 13:45,46), dag 11 (Matteus 13:47-50), dag 12 (Matteus 18:12-14; Lukas 15:3-7), dag 13 (Matteus 18:23-35), dag 14 (Matteus 20:1-16), dag 15 (Matteus 21:28-32), dag 16 (Matteus 21:33-45; Markus 12:1-12; Lukas 20:9-19), dag 17 (Matteus 22:2-14), dag 18 (Matteus 24:32-44; Markus 13:28-32; Lukas 21:29-33), dag 19 (Matteus 25:1-13), dag 20 (Matteus 25:14-30; dag 21 (Markus 4:26-29), dag 22 (Markus 13:33-37), dag 23 (Markus 7:41-43), dag 24 (Markus 10:30-37), dag 25 (Markus 11:5-13), dag 26 (Markus 12:16-21), dag 27 (Markus 12:35-40), dag 28 (Markus 12:42-48), dag 29 (Markus 13:6-9), dag 30 (Markus 14:16-24), dag 31 (Markus 14:25-35), dag 32 (Markus 15:8-10), dag 33 (Markus 15:11-32), dag 34 (Markus 16:1-13), dag 35 (Markus 16:19-31), dag 36 (Markus 17:7-10), dag 37 (Markus 18:1-8), dag 38 (Markus 18:9-14), dag 39 (Markus 19:11-27).


2.2 GROEIAREA: GEBED

INHOUD

2.2.1 Kennisdoelwitte:
a. Weet wat gebed is.
b. Weet waarom 'n mens bid.
c. Neem kennis van verskillende tipes gebed.
d. Weet hoe en waarom God gebede beantwoord.
e. Weet dat God drie-enig betrokke is by gebed.

2.2.2 Gesindheidsdoelwit:
a. Begeer om die hemelse Vader te verheerlik, om te erken dat Hy alleen in al jou behoeftes kan voorsien, en om dankbaar te wees vir wat jy ontvang.

2.2.3 Aktiwiteitsdoelwit:
a. Begin om basiese kennis ten opsigte van gebed toe te pas in jou eie geestelike lewe, deur daagliks te bid.


2.2.1 Kennisdoelwitte:

2.2.1.a Weet wat gebed is.

Christen-wees is nie 'n stel reëls of 'n versameling gedragspatrone nie. Dit beteken om, met Christus as Middelaar (1 Timoteus 2:5,6), in 'n lewenskragtige liefdes- en vertrouensverhouding met jou Skepper te wees. Dit is die essensie van die Christelike lewe. Hierdie verhouding behels 'n lewensnoodsaaklike, dinamiese vriendskaplike ontmoeting (Johannes 15:13-15) tussen Skepper en skepsel.
Interaksie (waarvan kommunikasie 'n baie belangrike deel is) is die enigste manier om 'n verhouding in stand te hou en te laat groei. God die Vader maak Homself van die begin af aan ons bekend as 'n Persoon wat graag by ons lewens betrokke wil wees en met ons wil kommunikeer (Genesis 3:9; 17:7; Jesaja 44:6,7,8,22; Jeremia 35:17). Die wese van sonde is om Hom te ignoreer; daarom wil Hy graag hê dat ons Hom moet antwoord (Mattheus 5:44,45; 6:5-9; 7:7-11; 9:38; 24:20; 26:41; Markus 11:22-25; Lukas 6:28; 11:2; 18:1; 21:36; Johannes 14:13,14; 15:7,16; 16:24-27).
Gebed behels dus alle interaksie of intieme gemeenskap met die enigste, onsienlike en allerheiligste God. Hierdeur druk ons (dikwels sonder woorde - Romeine 8:26-28) ons totale afhanklikheid van God uit, aan Wie alle mag in die hemel en op aarde behoort (Genesis 18:22-33; Jesaja 1:18; Psalm 139:23,24; Mattheus 6:9-13; 11:25,26). Dit is die essensie van ons verhouding met God en die kanaal vir alle seëninge en die geheim van krag en lewe. Dit sê "ek kan nie, U kan". Dit is om in nederige erkentlikheid by God, wat ons uiterste respek en eerbied waardig is, se wil in te skakel (2 Konings 22:19; 2 Kronieke 7:14; 34:27; Psalm 10:17; 51:16,17; Lukas 18:9-14; Jakobus 4:10; 1 Petrus 5:5,6).

Wanneer ons bid moet ons die volgende voorwaardes nakom:
Ons bid tot die Vader in die Naam van Jesus Christus. Dit beteken dat ons in Hom moet glo as ons Verlosser (Johannes 14:13,14; Hebreërs 11:6; Jakobus 1:6-8).
Ons moet met God omgaan deur sy Woord en gehoorsaam wees aan sy Woord om waarlik te kan bid (Johannes 15:7).
Deur gebed moet ons altyd soek na die wil van God (1 Johannes 5:14). Ons mag dit nooit gebruik om van God 'n "dienskneg" te maak wat maar net doen wat ons wil hê nie.
Ons moet in geloofsverwagting bid (Markus 11:24).
Ons moet ten volle aan die Heilige Gees oorgegee wees wanneer ons bid, want Hy ken die Vader se wil en ons behoeftes, en tree vir ons by die Vader in (Romeine 8:26,27; Efesiërs 6:18).
Ons moet met 'n gesindheid van nederige erkenning en afhanklikheid bid, omdat ons geen reg het op die dinge wat ons vra nie en eintlik nie eers werd is om tot God te nader nie (Lukas 18:9-14).

2.2.1.b Weet waarom 'n mens bid.

Ons ontwikkel nie die behoefte om met God te praat, voordat Hy met ons deur sy Woord gepraat het nie. Wanneer ons egter geluister het na wat Hy in sy Woord vir ons sê, het ons baie om vir Hom te sê.

Ons bid veral om die volgende redes:
Om God te verheerlik (Johannes 14:13); omdat God ons beveel om te bid (Matteus 7:7-11; Lukas 18:1; 21:36; 1 Tessalonisense 5:17; Jakobus 4:2); om met God te verkeer (Jeremia 33:3); op grond van die voorbeeld van Christus. As Jesus so afhanklik was van gebed vir sy intieme gemeenskap met sy Vader, hoeveel te meer dan nie ons nie (Markus 1:35; Lukas 6:12) - die woorde "gebed" en "bid" word mistens 25 maal in verband met die Here Jesus gebruik - gebed het blykbaar baie van sy tyd en kragte in beslag geneem; omdat God deur gebed dinge verander - selfs die verloop van die natuur (Johannes 11:43; Mattheus 8:23-27; Jakobus 4:2; 5:17,18); gebed is die belangrikste bron van ons geestelike voedsel; net soos 'n kind voedsel nodig het om fisiek te kan groei, het ons ook voedsel nodig om geestelik te kan groei - sonder gereelde gebed en voedsel uit die Woord, sal ons geestelik ondervoed raak en die krag om 'n lewe van oorwinning te lei, verloor; omdat daar 'n Duiwel is - hy is listig, magtig, rus nooit nie en is altyd besig om die ondergang van die kind van die Here te beplan; as die kind van God verslap in die gebed, sal die Duiwel daarin slaag om hom te verstrik (Efesiërs 6:12,13,18); om oor niks besorg te wees nie, maar die vrede wat alle verstand te bowe gaan, te verkry (Fillipense 4:6,7); die rykste beloftes in die Bybel word aan mense wat bid belowe (Mattheus 7:7-11; Markus 11:24; Johannes 14:13,14; 15:17; Filipense 4:6); gebed is die weg na volle vreugde vir die gelowige - God het dit so bepaal dat die gelowiges volle vreugde en oorvloed kan hê deur gedurig in gebed met Hom te verkeer en hulle gebede beantwoord te sien (Johannes 16:24).

2.2.1.c Neem kennis van verskillende tipes gebed.

'n Mens se verhouding met God is nie soos die met 'n buurman wat net altyd dinge vra en leen en verder niks vir jou te sê het nie. Die volgende Skrifgedeeltes sal jou help om te onderskei tussen die verskillende tipes gebed:
Openbare gebede (1 Konings 8:29; 9:3; Jesaja 56:7; Sagaria 18:21,22). Verborge gebede (Mattheus 6:6; 14:23; 26:36).
Stil gebede (Jesaja 26:16). Oggend, middag en aandgebede (Psalm 5:4; 55:18; 88:14; 1 Tessalonisense 3:10). Etensgebede (Lukas 24:30). Deurlopende gebede (Psalm 86:3; Lukas 18:1; 21:36; 1 Tessalonisense 5:17). Formele gebede (gebede met 'n bepaalde struktuur waarvolgens gebid word - sien doelwit 3.2.1.e). Informele gebede (gebede met geen bepaalde struktuur nie).
Individuele gebede in groepsverband waar geleentheid aan gelowiges gegee word om elkeen om die beurt 'n volledige gebed klaar te bid en daarna "Amen" te sê.
Kettinggebede waarin die groepleier die groep voorgaan in wat gebid moet word. Wanneer hy begin om oor 'n sekere saak te bid, bid al die groepslede agtereenvolgens dan daaroor totdat hy die groep lei en voorgaan om oor 'n ander saak te bid. Daar word deur almal in kort sinnetjies gebid en 'n persoon kan onbeperkte kere oor 'n saak bid. Die waarde van hierdie manier van gebed is dat daar dan sinvol sonder baie herhaling oor sake gebid word en dit gee teruggetrokkenes meer vrymoedigheid om aan die gebed deel te neem.
Aanbidding (Eksodus 15:1-21; 2 Samuel 22; Psalm 63:1-8; Daniël 2:19-23; 4:34,35; Mattheus 11:25,26; Lukas 1:46-55; 4:8; Efesiërs 3:20,21; 1 Timoteus 1:17; 1 Petrus 1:3-5).
Belydenis (Psalm 32; 51; 66:18; 139:23,24; Spreuke 28:13; Markus 11:25; Lukas 15:17021; 18:9-14; 1 Johannes 1:8-10).
Danksegging (Daniël 6:10; Psalm 105:1; Lukas 17:11-19; Romeine 1:21; Efesiërs 1:15,16; Filipense 4:6; Kolossense 2:7; 3:17; 1 Thessalonisense 5:18).
Smeking (Genesis 18:23-32; 1 Kronieke 4:10; 2 Kronieke 14:11; Psalm 34:15; 143:8-10; Spreuke 30:7-9; Lukas 11:5-13; 18:1-8; Johannes 16:24; Efesiërs 6:18,19; Fillipense 1:9-11; 4:6,7; 1 Timoteus 2:1-3; Jakobus 4:2,3; 1 Johannes 5:14,15).
Voorbidding (Jakobus 5:15).

2.2.1.d Weet hoe en waarom God gebede beantwoord.

Vroeër is gesê dat gebed 'n werklike gesprek van die gelowige met God is. Hy praat en God luister. God praat weer terug met hom deur sy Woord (die Bybel), deur omstandighede of selfs deur direkte indrukke tot sy gees (Psalm 10:17; 34:15,17; 40:10; 65:21; 1 Petrus 3:12; Johannes 15:14,15). Ons lees ook op verskeie plekke in die Bybel hoedat God deur drome en visioene met mense gepraat het. Soms het die engel van God die boodskap oorgedra en soms het God direk met mense gepraat. Hy het veral so met profete gepraat. Dit is moontlik dat God selfs vandag nog kan kies om so met iemand te kommunikeer. Tog lees ons dat God voorheen deur die profete met sy volk gekommunikeer het, maar dat Hy vandag met ons deur sy Seun en sy Gees praat (Hebreërs 1:1-2).
Om vir God iets in gebed te vra waarborg nie dat ons dit sal ontvang nie. Hy is alwys en ken ons beter as wat ons onsself ken. God beantwoord gebede op een van drie maniere:

Hy sê ja:
Wanneer Hy dink dit vir ons goed mag wees (Psalm 32:51; 1 Samuel 1:11,19,20; 2 Konings 20:1-6; Lukas 17:11-14; 18:35-43).
Wanneer in die naam van Christus gebid word (Johannes 14:13,14).
Wanneer daar omgang met God en sy Woord is (Johannes 15:7). Dit beteken dat ons sy woorde in ons hart moet bêre (Psalm 119:11). Gebed en Bybelstudie is 'n onafskeidbare tweeling. Namate ons met die Bybel omgaan sal die drang tot gebed in ons harte toeneem.
Wanneer volgens sy wil en tot sy eer gebid word (1 Johannes 5:14).
Wanneer daar geloof in God as on hemelse Vader is (Psalm 37:5; Spreuke 3:5,6; Mattheus 7:19-21; 21:22; Markus 11:24; Hebreërs 11:6; Jakobus 1:6,7). Hy is God wat die mag het om te doen wat Hy beloof het (Romeine 4:20,21). Dit lyk so asof die Here ons met die gebedsbeloftes in sy Woord uitdaag om Hom op die proef te stel, ook wat ons gebedslewe en versoeke betref, sodat Hy die vensters van die hemel vir ons kan oopmaak. Geloof is 'n gawe van God en een van die mees belangrike karaktereienskappe wat God in jou wil laat groei.
Wanneer gebed in die Gees geskied (Efesiërs 6:18; Romeine 8:26,27). Om in die Heilige Gees te bid beteken om volkome deur die Gees beheer te word, ook in my gebedslewe.
As ons Hom gehoorsaam en doen wat Hy van ons verwag om te doen (Psalm 37:4; 145:18; Spreuke 15:8; 28:9; Mattheus 6:14,15; 1 Johannes 3:22).
Wanneer ons rein van hart is (Psalm 66:18,19).
Wanneer ons vergewingsgesind is (Mattheus 6:14).
Wanneer dit in eenvoudigheid van hart geskied (Mattheus 6:5,6).
Wanneer dit in nederigheid geskied (Lukas 18:10-14).
Wanneer daar eenstemmigheid tussen gelowige bidders bestaan (Mattheus 18:19,20).
Wanneer daar in gebed volhard word (Lukas 18:1-8).
Wanneer daar met dringendheid gebid word (Lukas 11:5-8).
Wanneer daar met intensiteit gebid word (Mattheus 7:7-11).
Wanneer daar vol vertroue in afwagting gebid word (Markus 11:24).
Wanneer daar sonder 'n ydele herhaling van woorde gebid word (Mattheus 6:7).
Wanneer daar onophoudelik gebid word (1 Thessalonisense 5:17).
Wanneer ons sondes bely is (Jona 3:7-10; 1 Johannes 1:9; Hebreërs 4:14-16).

Hy sê nee:
Wanneer Hy dink dat dit wat ons vra vir ons nadelig mag wees.
'n Selfsugtige oogmerk in die gebed beroof die gebed van krag (Mattheus 6:5; Jakobus 4:2,3).
Ons het dikwels baie belangrike dinge op ons harte om met God te bespreek, maar Hy verhoor dit nie solank Hy sonde in ons lewens sien wat dreig om ons te vernietig nie (Psalm 32:3-5; 66:18; 139:23,24; Spreuke 28:13; Jesaja 59:1,2; Klaagliedere 3:8,40-44; 1 Johannes 1:9).
Afgode in die hart maak dat God weier om na ons gebede te luister (Esegiël 14:3).
Wanneer ons 'n gebrek aan vrygewigheid teenoor die armes en God se werk (Spreuke 21:13) openbaar.
As ons 'n onversoenlike gees openbaar (Mattheus 5:23,24; 6:14,15; Markus 11:25).
Wanneer daar 'n verkeerde verhouding tussen man en vrou bestaan (1 Petrus 3:7).
Wanneer mense ongelowig is (Hebreërs 11:6; Jakobus 5:1-6).
Wanneer deur gebed probeer word om reeds verklaarde besluite van God te verander. God handel nie teenstrydig met Homself nie (Deuteronomium 3:23-27).
Wanneer deur gebed gesoek word om die tugtiging van die Here vry te spring (2 Samuel 12:15-18; 2 Korinthiërs 12:7-9).
Wanneer met 'n meerderwaardige gesindheid teenoor ander, gebid word. 'n Fariseëragtige gebed word deur God verafsku (Spreuke 8:13; Lukas 18:9-14).
Wanneer dit 'n betekenislose herhaling van woorde is (Mattheus 6:7).
Wanneer weer om 'n geleentheid gebid word wat verspeel is. Wanneer deure eers van Goddelike kant gesluit is, sal dit nie meer help om daarvoor te bid nie (Mattheus 26:37-42; Lukas 13:25-28; 2 Korinthiërs 12:7-10).

Hy sê wag eers:
Wanneer Hy dink dat sekere versoeke nie nou nie, maar in die toekoms goed sal wees (Genesis 15:2-5; 50:24,25; Eksodus 5:22,23; 6:6-8).
Gebed is 'n dissipline wat geduld, deursettingsvermoë en volharding vereis omdat God nie altyd dadelik gebede verhoor nie al het Hy dit gehoor. Wees bereid om op God te wag. So 'n gesindheid bring ewige resultate mee (Psalm 27:14; 40:1; 62:5; 85:8; Jesaja 55:1-4; Lukas 11:5-9; 18:1-8; 1 Korinthiërs 15:58; 19:11,12; Hebreërs 3:15).
God verhoor gebede volgens sy goeddunke, ons omstandighede, sy plan met jou in enger en breër sin en ook volgens of jy dit waarvoor jy nou gebid het, onmiddelik reg sou kan hanteer of nie (Lukas 18:1-8).

2.2.1.e Weet dat God drie-enig betrokke is by gebed.

In enige gebed is God drie-enig (Vader, Seun en Heilige Gees) altyd betrokke. Lees Efesiërs 1 deur en kyk hoe al drie Persone van God betrokke is by die mens en watter rol elkeen in hierdie betrokkenheid vertolk. Kyk ook na die volgende:
Gebed moet tot God die Vader gerig word (Psalm 65:1,2; Mattheus 6:6-9; Handelinge 12:5; Filipense 4:6; Romeine 1:8,10; 1 Korinthiërs 1:4).
Gebed tot God moet in die naam van Jesus Christus gebid word (Johannes 14:6,14; 16:23-26; Romeine 16:27). Gebed moet so gebid word omdat ons in 1 Timotheus 2:5 lees dat Christus Jesus die enigste Middelaar tussen God en mens is.
Gebed moet onder die leiding van die Heilige Gees (in die Gees) gebid word (Efesiërs 6:18 en Judas 20,21). Dit beteken dat die Heilige Gees, wat in die gelowige woon (1 Korinthiërs 3:6), hom inspireer en lei in gebed. Hy lei ons in intelligente gebed, soveel so dat ons vir dinge bid wat volgens die wil van God is (Romeine 8:27). Hy lei ons ook om gedetermineerd en volhardend te bid oor dit wat God wil hê ons voor moet en mag vra (Romeine 8:26,27).

2.2.2 Gesindheidsdoelwit

2.2.2.a Begeer om te bid deur ook jou behoeftes te noem en dankie te sê vir wat jy ontvang.

Die eerste doel van gebed is om God te eer (Psalm 86:12; 15:15; 1 Samuel 2:30; Hebreërs 12:28), maar ons mag ook ons behoeftes aan Hom bekend maak (Psalm 22; Filipense 4:5-7). Oor wat Hy vir ons is en vir ons gee moet ons steeds dankbaar bly (Psalm 147:7; Kolossense 3:16; 1 Tessalonisense 5:18).
Bid nou dat die Here deur sy Gees die gelese Skrifgedeeltes sal gebruik om hierdie begeertes in jou hart te lê en om gereeld tot Hom te bid.

2.2.3 Aktiwiteitsdoelwit

2.2.3.a Begin om basiese kennis ten opsigte van gebed toe te pas in jou geestelike lewe, deur daagliks te bid.

Hou daagliks jou eie stiltetyd op 'n plek waar jou aandag nie afgetrek sal word nie. Jy sal jouself moet dissiplineer om hierdie gereelde afspraak met God getrou na te kom, selfs al is jy nie lus nie. Jy moet verstaan dat korter maar gereelde stiltetye meer werd is as lang ongereelde geleenthede. Probeer om vir 39 dae lank gereeld stiltetyd te hou (sien doelwit 2.1.3.b en 3.2.3.b), waarna dit tweede natuur by jou sal word.
Hou dit vroeg in die oggend, sodat jy jouself kan voorberei vir die gebeure van die dag. So kan jy ook aan God te kenne gee dat Hy eerste prioriteit in jou lewe is. Gaan betyds in die aand bed toe en hou by gereelde slaaptye sodat jou liggaam daaraan gewoond kan raak. Anders sal jou stiltetye te stil raak. Jy moet ook verstaan dat jou gebedslewe, namate jy groei, meer sal begin inhou as net stiltetye. Jy kan ontwikkel tot op 'n punt waar jy enige tyd en plek met God praat!
Begin ook 'n gebedslys waarin jy dinge aanteken waarvoor jy God wil loof, dank en smeek. Visualiseer God se wil vir jou lewe (namate dit vir jou duidelik word tydens Bybelstudie) en bid dit van God af.
Lees die gebede van die volgende persone tydens jou stiltetyd aandagtig deur en let daarop hoe God aangespreek word, wat die bidder se gesindheid teenoor God is, watter versoeke tot God gerig word. Beoordeel en beplan jou eie gebede in die lig hiervan: Abraham (Genesis 18:16-33); Moses (Eksodus 33:7-23); Dawid (Psalm 8;16;25;27;28); Daniël (Daniël 9:1-19); Jesus (Mattheus 6:9-13; 11:25-27; 26:36-42; Lukas 6:12-16).
Sien ook doelwit 2.3.1.c, 3.1.1.b, 3.1.1.h en 3.2.3.b.


2.3 GROEIAREA: PERSOONLIKE GROEI

INHOUD

2.3.1 Kennisdoelwitte:
a. Begin om jouself te leer ken soos jy werklik is.
b. Weet watter Christelike karakter-eienskappe God in jou wil ontwikkel.
c. Verstaan die belangrikheid van 'n daaglikse stiltetyd vir persoonlike groei.
d. Verstaan die begrip "sonde".
e. Verstaan hoe om versoeking te hanteer.
f. Ken die beginsels van sinvolle tydsbesteding.
g. Verstaan hoe om die wil van God te bepaal oor spesifieke sake.

2.3.2 Gesindheidsdoelwit:
a. Ervaar jou Christenskap as 'n aktiewe, persoonlike verhouding met die lewende God wat groei verg deur gekonsentreerde aandag.

2.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Begin om te bid dat God jou natuur sal verander volgens God se plan.
b. Begin om God se wil te gehoorsaam en begin om jou stapsgewys te distansieer van sondige praktyke soos God dit in jou lewe uitwys.
c. Formuleer 'n doelgerigte lewensplan.


2.3.1 Kennisdoelwitte:

2.3.1.a Begin om jouself te leer ken soos jy werklik is.

God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees beraadslaag eers met mekaar voordat die mens gemaak word (Genesis 1:26-28). Daar is nie sprake van so 'n besondere beraad voordat die res van die heelal geskep word nie. Dit beklemtoon die uniekheid van die mens en die besondere waarde wat God aan die mens heg (Psalm 8:5,6).
Selfbeskouing is soos 'n bril waardeur 'n mens na jouself kyk. Die prentjie wat 'n mens van jouself het, kan jou ware selfbeeld genoem word. Elke mens is 'n unieke individu. Hy besit aangebore eienskappe en verworwe eienskappe. 'n Individu se selfbeeld is realisties indien dit sy verworwe en aangebore eienskappe insluit. Sy selfbeeld kan egter ook onrealisties wees, indien dit eienskappe insluit wat nie aangebore of verwerf is nie, of eienskappe uitsluit wat wel aangebore of verwerf is.
Die ideaal is dat 'n mens 'n realistiese selfbeeld moet hê. Dit vereis selfkennis (kennis van jou aangebore en verworwe eienskappe). Daar bestaan twee bronne van selfkennis, naamlik die Bybel, en interaksie. Wanneer ons God in sy grootheid, almag, geduld, heiligheid, getrouheid, ewigheid, geregtigheid ensovoort uit die Bybel leer ken, leer ken ons onsself as skepsele in ons kleinheid, onmag, ongeduld, onreinheid, ontrou, tydelikheid, ongeregtigheid, sondigheid, ensovoort. So kom 'n mens deur middel van die Bybel tot selfontdekking en sien jy jouself soos God jou sien.
Wanneer ons, tydens interaksie met dinge en mense rondom ons, bepaalde eienskappe van onsself ervaar, kom ons ook tot selfontdekking. Indien ons dit wat ons van onsself uit die Bybel leer, en tydens interaksie ervaar, insluit in die prentjie wat ons van onsself het, ontwikkel ons 'n realistiese selfbeeld.
Iemand met 'n realistiese selfbeeld ken sy eie moontlikhede, beperkinge en tekortkominge. So 'n persoon is instaat om doelbewus sy moontlikhede te ontwikkel, sy beperkinge te aanvaar, en sy tekortkominge te oorkom. Hy is instaat tot selfverbetering. Om dus tot selfkennis en selfverbetering te kan kom, is dit nodig dat jy die Bybel doelgerig en sistematies moet bestudeer en betrokke moet wees by die dinge en mense rondom jou.
'n Paar belangrike dinge wat die Bybel oor jou leer, is dat God jou geskape het om Hom te verheerlik deur die aarde te bewoon, te bewerk, te bewaar en te beheers ooreenkomstig sy wet. Soos alle mense, het jy ook die sondeskuld van jou voorouers Adam en Eva geërf, en is jy nie instaat om die wet van God te gehoorsaam nie. Daarom verdien jy God se straf op sondeskuld, naamlik die ewige (tweede) dood (Openbaring 21:8). God die Vader het sy Seun Jesus Christus gestuur om vir jou sondeskuld aan die kruis te betaal sodat jy, deurdat jy in Hom te glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal erf (Johannes 3:16). Jy sal, volgens sy belofte, op die laaste dag uit die dood opwek word en die ewige lewe ingaan saam met miljoene ander gelowiges (Openbaring 21:1-7).

2.3.1.b Weet watter Christelike karakter-eienskappe God in jou wil ontwikkel.

Die volgende karakter-eienskappe hoort by 'n Christen: (sien ook doelwit 2.3.3.a):
Onberispelik: (1 Timoteus 3:2; Titus 1:6; 2:7). Geen klag van nie-Christelike gedrag mag teen hom ingebring kan word nie.
Seksueel sedelik: (1 Timoteus 3:2; Titus 1:6). Die getroude moet aan die huweliksmaat lojaal en getrou wees, terwyl die ongetroude in 'n verhouding met die teenoorgestelde geslag onberispelik moet wees. Enige vorm van homoseksualitiet is onaanvaarbaar.
Gematig: (1 Timoteus 3:2; Titus 1:8). Selfbeheersd, nie gebind deur vleeslike en wêreldse begeertes of behep met die self nie.
Verstandig: (1 Timoteus 3:2; Titus 1:8). Nie geneig tot vinnige en oppervlakkige besluitneming nie (dit is 'n kenmerk van onvolwasse denke) maar wys, opmerksaam, oordeelkundig.
Gerespekteerd: (1 Timoteus 3:2). Tree beskaafd en eerbaar op, en staan bekend vir goeie gedrag en 'n geordende lewe.
Gasvry: (1 Timoteus 3:2; Titus 1:8). Onselfsugtig en bereid om jou seëninge met ander te deel.
Bekwaam om te onderrig: (1 Timoteus 3:2; Titus 1:9; 2 Timoteus 2:24-26). Om sonder argumentering die waarheid van God op 'n vriendelike wyse aan ander te kan oordra.
Sober: (1 Timoteus 3:3; Titus 1:7). Om nie aan alkohol, of enige ander verslawende of gewoontevormende middel, verslaaf te wees of dit te misbruik nie.
Vredeliewend: (1 Timoteus 3:3; Titus 1:7). Om nie strydlustig, aggressief, bakleierig, geneig tot fisiese geweld en dwarstrekkerig te wees nie, maar om liefdevol en verdraagsaam op te tree.
Maak nie rusie nie: (1 Timoteus 3:3). Om nie twissoekerig en aanmatigend te wees of argumente te ontlok nie.
Is nie geldgierig nie: (1 Timoteus 3:3; Titus 1:7). Oneerlike winsbejag, gierigheid of suinigheid met betrekking tot materiële seëninge mag nie voorkom nie.
Kan leiding neem: (1 Timoteus 3:4; Titus 1:6). Beginnende by die huisgesin moet die regte geestelike leiding op so 'n wyse gegee word sodat gesonde respek afgedwing word by die ander gesinslede.
Volwasse in die geloof: (1 Timoteus 3:6). Moenie onlangs eers tot geloof gekom het nie, maar reeds vir 'n geruime tyd gelowig wees, terwyl dit aan almal duidelik is dat die geloof eg is en groei toon.
Goeie reputasie buite die gemeente: (1 Timoteus 3:7). By die mense buite die gemeente moet hy as 'n goeie man bekend staan, sodat daar nie praatjies oor hom ontstaan nie.
Is nie eiesinnig nie: (Titus 1:7). Moet nie eiewillig en hardkoppig wees, of geneig om eie idees op ander af te dwing nie.
Is nie opvlieënd nie: (Titus 1:7). Is nie humeurig, kort van draad of fyngevoelig nie, en word nie maklik kwaad nie, maar is emosioneel selfbeheersd.
Is lief vir wat goed is: (Titus 1:8; Petrus 5:2). Jaag nie onheilige en sondige dinge na nie en koester ook geen begeerte daarna nie, maar begeer om in alles en onder alle omstandighede God se wil te doen, sonder dwang.
Regverdig: (Titus 1:8). Is onpartydig, en maak objektiewe beslissings volgens beginsels vir ons daargestel in God se Woord.
Vroom: (Titus 1:8). Peuter nie met die sonde nie, maar draai die rug daarop en lewe aan God toegewy (heilig).
Hou aan God se betroubare Woord vas: (Titus 1:9). Lewe uit God se Woord. Vind antwoorde en riglyne vir elke dag, elke situasie, elke oomblik daaruit. Staan in die geloof vas en wees in alles aan God se Woord gehoorsaam.
Is seker dat hy kind-en-erfgenaam van God is: Weet dat Christus waaragtig deel van sy lewe is (Openbaring 3:2), hy deur die Heilige Gees weer gebore is tot 'n nuwe skepsel (2 Korinthiërs 5:1), dat al sy sondes (verlede, hede, toekoms) vergewe is (Romeine 8:1; Kolosense 2:13,14), dat 'n nuwe band/verhouding tussen hom en God tot stand gekom het (Romeine 8:15) en dat hy nooit weer van God geskei sal word nie (Johannes 10:29).
Is met die Heilige Gees vervul: (Efesiërs 5:18). Word deur die Heilige Gees regeer en gelei in sy daaglikse lewe, en word deur Hom toegerus vir sy taak as Christen.
Is bereid om homself in God se Woord te bekwaam: (Kolossense 4:5-6; 1 Petrus 3:15). Om God se Woord reg te verstaan en om so vertroud daarmee te wees dat hy in staat kan wees om met wysheid vrae te beantwoord, medegelowiges te bemoedig en ongelowiges na Christus te lei.
Is opreg: (2 Korintiërs 1:19). Om nie skynheilig of 'n tweegesig te wees nie, maar voor en agter mense altyd dieselfde te wees.
Is 'n lewende brief van Christus: (2 Korintiërs 3:2-3). Om deur alle mense geken en herken (gelees) te word as verlos deur Christus, en om deur die krag van die Heilige Gees sodanig te lewe en die sonde in sy eie lewe te oorkom.
Is 'n mondstuk vir God: (2 Korintiërs 4:5; 1 Tessalonisense 2:13; 1 Johannes 1:1-6). Om wat hy van God deur Sy Woord en Gees hoor, net so aan ander oor te dra. Dra nie homself uit nie, maar Jesus Christus ons Here.
Is 'n ambassadeur van Christus: (2 Korintiërs 5:18-20). Om as Christus se verteenwoordiger op te tree. Hy is 'n gevolmagtigde om die boodskap van versoening uit te dra. Hierdie boodskap word aan hom toevertrou. Werk alleenlik in opdrag van God.
Vrymoedig: (Handelinge 19:8; 28:31). Om sonder huiwering met mense oor die Koninkryk van God te praat. Gebruik die vrymoedigheid, wat ook 'n kenmerk is van 'n Geesvervulde mens, nie om aardse koninkrykies te bevorder nie, maar die Koninkryk van God wat ewig bestaan.
Besef sy verantwoordelikheid teenoor alle mense: (Romeine 1:14-15). Om te weet dat mense sonder Christus vir ewig verlore is. Hy het 'n plig om hulle na die enigste Verlosser, Jesus Christus, te lei.
Is lief vir ander: (Romeine 13:8-10). Om niks aan 'n ander verskuldig te wees nie, behalwe om hulle lief te hê. Dra die liefde wat hy van God ontvang oor aan ander.
Ag die Evangelie hoër as sy eie lewe: (Handelinge 20:22-24). Om die lewe slegs as 'n geleentheid te beskou om sy primêre roeping, naamlik om die Evangelie van God se genade in Christus, uit te dra, te vervul.
Kyk na negatiewe eienskappe waarvan jy sal moet afstand doen, en na positiewe eienskappe wat jy sal moet aanvaar. Lees ook die meegaande Skrifgedeeltes (Matteus 5-7; Johannes 13:1-17; 15:1-17; Galasiërs 5:13-26; Efesiërs 4:17-6:4,9; Filipense 3:1-4:9; Kolossense 3:1-4:1).

2.3.1.c Verstaan die belangrikheid van 'n daaglikse stiltetyd vir persoonlike groei.

Stiltetyd is die geleentheid waartydens 'n mens, in die lig van die Woord van God, en in sy heilige en veilige teenwoordigheid, die geleentheid kry om dit te waag om jou diepste gevoellens en gedagtes te ontbloot, te weeg en te rangskik in volgorde van belangrikheid. Dit is die ruimte waarin die saad van nuwe waarhede in jou ontkiem. Hier kan jy jouself in die oë kyk, jou lewenspraktyke aan die wet van God meet en jou selfbeeld daarby aanpas. Groei vind hier plaas waar jy nuutgevonde waarheid jou eie maak en van verouderde leuens en halwe waarhede ontslae raak. Hier vind 'n mens innerlike genesing, nuwe hoop en visie. Hier staan jou "ek" teenoor die wêreld soos jou "ek" hom ken. Hier probeer jou "ek" sy wêreld kleinkry, verstaan, uitmekaar haal en weer aanmekaar sit. Hier probeer jou "ek" sy verhouding tot sy wêreld en sy Skepper verstaan. Stiltetyd is die herfs en lente van jou dag, waar jy jou winters verwerk en agter laat en jou somers bedink, beplan en begin (sien ook doelwit 2.2.3.a; 3.1.1.b,h; 3.2.3.b).

2.3.1.d Verstaan die begrip "sonde".

Sonde is 'n daad van mislukking - om jou doel te mis. Dit is om die verkeerde te doen of om te oortree - 'n aktiewe handeling. Dit is ongehoorsaamheid - 'n passiewe handeling (Jakobus 4:17); wetteloosheid (1 Johannes 3:4); ongeregtigheid (1 Johannes 5:17); 'n daad van ongeloof (Romeine 14:23); dwaasheid (Spreuke 24:9).
Oorsake van sonde: Sonde word veroorsaak deur Satan (Johannes 8:44); die mens se hart (Matteus 15:19,20); wellus (Jakobus 1:15; 4:1-4); Adam se ongehoorsaamheid (Romeine 5:12,16).
Soorte sonde: Nasionale sonde (Spreuke 14:34); persoonlike sonde (Josua 7:20); geheime sonde (Psalm 90:8); sonde uit verwaandheid (Psalm 19:13); openbare sonde (1 Timoteus 5:24); skaamtelose sonde (Jesaja 3:9); sonde tydens jonkheid (Psalm 25:7); publieke sonde (2 Samuel 24:10,17); onvergeeflike sonde (Matteus 12:21, 32; Johannes 8:24); onbedoelde sonde (Levitikus 4:2); bedoelde sonde (Hebreërs 10:26).
Gevolge van sonde: Blindheid (Johannes 9:41; 2 Korintiërs 4:3,4); slawerny (Johannes 8:34); onversoenbaarheid (1 Timoteus 3:1-7); dood (Romeine 6:23; Openbaring 21:8).
God se houding teenoor sonde: Hy weerhou mense van sonde (Genesis 20:6); straf sonde (Exodus 32:34); reinig van sonde (Jesaja 44:22; Esegiël 36:25; Sagaria 13:1; 1 Johannes 1:9); vergewe sonde (Exodus 34:7, 1 Johannes 1:9); dink nie meer aan sonde (Jeremia 31:34).
Christus se verhouding tot sonde: Hy bevry van sonde (1 Johannes 3:5); het geen sonde geken nie (2 Korintiërs 5:21); maak mense bewus van sonde (Johannes 15:22,24); het gesterf vir ons sonde (1 Korintiërs 15:3); het Homself geoffer vir ons sonde (Jesaja 53:5,6,10; Hebreërs 9:28; Matthëus 26:28); neem dit weg (Johannes 1:29); verlos sy mense van sonde (Matthëus 1:21); vergeef sonde (Matthëus 9:6); doen versoening vir sonde (Hebreërs 2:17); reinig van sonde (Hebreërs 1:3; 1 Johannes 1:7,9); maak ons vry van sonde (Openbaring 1:5).
Ons verantwoordelikheid teenoor sonde: Ons moet ons sonde erken (Psalm 32:5); bely (Psalm 51:3,4); bekommerd wees daaroor (Psalm 38:19); nie dien of gehoorsaam nie (Romeine 6:6,12); nie daaraan onderwerp nie (Romeine 6:14-22); aflê (Hebreërs 12:1); weerstaan (Hebreërs 12:4); bid vir bewaring van sonde (Psalm 19:13,14).
Hoe om sonde te bestry: Gebruik God se Woord (Psalm 119:11); plaas 'n wag voor die mond (Psalm 39:1); wandel in die Gees (Romeine 8:1-14); vermy slegte metgeselle (1 Timoteus 5:22); bely teenoor God (1 Johannes 1:8,9); beoefen liefde (1 Petrus 4:8); deur Christus ons Voorspraak (1 Johannes 2:1,2).
(Sien ook doelwit 1.1.1.c en 2.3.3.b).

2.3.1.e Verstaan hoe om versoeking te hanteer.

God versoek niemand nie, maar laat toe dat mense daardeur getoets word (Jakobus 1:2,13). Hier word die oorspronklike Griekse woord gebruik wat beide beproewing en versoeking beteken. Satan versoek die mens sodat hy teen God moet sondig. God laat versoeking toe ter wille van ons geestelike groei (Psalm 119:71,75; Jesaja 30:20,21; Johannes 12:27; 2 Korintiërs 1:8-10; 12:7-9; Hebreërs 5:8; Jakobus 1:12).
Kyk nou hoe die volgende persone in die Bybel versoeking hanteer het: Josef (Genesis 37; 39-50), Moses (Eksodus 2:11-3:10), Noag (Genesis 6:9-7:16), Jesus (Mattheus 4:1-11), Dawid (2 Samuel 7).
God beskerm ons ten tye van versoeking. In 1 Korintiërs 10:13 belowe Hy hierdie beskerming. Watter twee beloftes kry ons in 2 Korintiërs 1:8-10; 6:4-10 en Hebreërs 2:18? Lees en bespreek die volgende tekste: Deutronomium 31:8; Psalm 34:7; Jesaja 41:10; Johannes 15:18-21; 16:1-4,33; 17:14,15; Handelinge 14:21,22; Romeine 8:36-39; 1 Korintiërs 10:13; 2 Timoteus 3:12; 1 Petrus 5:7,8; 2 Petrus 2:9.

Die Bybel gee advies oor hoe om op versoeking te reageer:
Wees bly (Handelinge 5:41; Romeine 5:3; Jakobus 1:2); wees standvastig (Korintiërs 10:13; Jakobus 1:12); verkeer in gebed (Matteus 6:13); vlug weg van versoekings, moet dit nie probeer weerstaan nie (Spreuke 4:14,15; Matteus 26:41; Romeine 13:14; 1 Timoteus 6:10,11; 2 Timoteus 2:22); weerstaan Satan, moet nie van hom probeer wegvlug nie (Matteus 4:1-11; 2 Korintiërs 10:3-5; Efesiërs 6:10-18; 1 Petrus 5:2; Jakobus 4:7,8; Openbaring 12:11); word bewus van die versoeking (2 Korintiërs 2:11); verwyder die dinge wat Satan gebruik om jou mee te versoek (Genesis 39; Handelinge 14:5,6; 1 Korintiërs 10:14; 2 Timotheus 2:22); wees voorbereid om weerstand te bied (Efesiërs 6:13-17); soek goeie geselskap op (Spreuke 13:20; Lukas 22:55; 2 Timoteus 2:22). Sien ook doelwit 2.3.3.b.

2.3.1.f Ken die beginsels van sinvolle tydsbesteding.

God gee aan ons tyd om alles wat Hy van ons verwag, uit te voer. Eendag, voor die Groot Wit Troon (Openbaring 20:11-15), sal ons moet rekenskap gee van hoe ons ons tyd deurgebring het. Die meegaande Skrifgedeeltes getuig hiervan (Psalm 90:12; Prediker 3:1-8; Markus 13:33-37; Romeine 13:11,12; 14:12; 2 Korintiërs 5:10; Efesiërs 5:15,16). Ons probleem is nie die gebrek aan tyd nie, maar wat ons daarmee maak!

Kom ons kyk eers wat jy van suksesvolle tydsbesteding af weet, aan die hand van die volgende vrae. Skryf die antwoorde neer (jy gaan dit nodig kry in doelwit 2.3.3.c):
Het jy al ooit oor jou spesifieke missie/doel in hierdie lewe gedink? Wat sou jy graag voor die einde van jou lewe wou bereik? Is jy besig om op hierdie lewensmissie van jou af te stuur? Is jou lewensmissie in lyn met die doel van God met jou lewe? Het jy bepaalde doelwitte wat in lyn is met hierdie lewensmissie? Watter spesifieke stappe gaan jy neem om daardie doelwitte te bereik? Wat is die vyf hoogste prioriteite in jou lewe? Kom hulle ooreen met jou doelwitte? Rangskik hulle in orde van belangrikheid. Spandeer jy ook jou tyd ooreenkomstig hierdie prioriteitsvolgorde? Voel jy dikwels dat 'n dag te kort is en dat daar nie genoeg ure in 'n dag is om alles te doen wat jy graag wil doen nie? Kan jy bepaalde aktiwiteite identifiseer wat jou tyd mors en waarvan jy graag ontslae sou wou raak? Beskik jy oor 'n tydbestuurstelsel waarmee jy tevrede is? Gebruik jy 'n dagboek of dagbeplanner/ maandbeplanner/ jaarbeplanner?
Die basiese beginsels van sinvolle tydsbesteding is in hierdie vrae vervat. In jou nuwe verhouding met God gaan dit ook om nuwe keuses wat jy sal moet maak ten opsigte van die bestuur van jou tyd. Daarom sal jy waarskynlik 'n nuwe lewensmissie moet formuleer met nuwe doelwitte en nuwe planne en werkswyses om hierdie missie effektief na te streef (sien ook doelwit 2.3.3.c).

2.3.1.g Verstaan hoe om die wil van God te bepaal oor spesifieke sake.

Die uitdrukking "Wil van God" word in die Bybel op veral twee maniere gebruik. God se soewereine wil is God se geheime plan wat alles wat in die heelal gebeur, bepaal. God se morele wil is sy geopenbaarde bevele in die Bybel wat 'n mens leer hoe om te glo en te lewe.

God se morele wil:
Dit is 'n uitdrukking van God se karakter (Klaagliedere 3:13; Lukas 6:35,36; 2 Korintiërs 8:1-9; Efesiërs 5:1,2; Filemon 2:5-8; Hebreërs 12:2-4; 1 Petrus 1:15,16; 2:21-24; 1 Johannes 3:3,7);
Dit raak ons doelwitte: verheerliking van God (Klaagliedere 1:10; 1 Korintiërs 10:31; 2 Korintiërs 5:9; 1 Petrus 4:10,11); bediening van ander (Romeine 14:9; 1 Korintiërs 10:23); vervulling van Godgegewe verantwoordelikhede (Galasiërs 6:9-10; Efesiërs 5:22-6:9); evangelisering van verlorenes (1 Korintiërs 10:31-33; 2 Petrus 3:9); voortbring van die vrug van die Gees en doen van goeie werke uit dankbaarheid (Johannes 15:8; 1 Korintiërs 6:12; Efesiërs 2:10; Kolossense 1:10).
Dit raak ons gesindhede: God se wil vir ons gesindhede is liefde, nie sondige begeertes (Romeine 13:14); afhanklikheid, nie onafhanklikheid nie (Spreuke 3:5,6; Galasiërs 5:16); nederigheid, nie trots nie (Filipense 2:5-8; Jakobus 4:6); dankbaarheid, nie onvergenoegsaamheid nie (Kolossense 3:17); 'n skoon gewete, nie skuld nie (Romeine 14:22,23); integriteit, nie onverantwoordelikheid nie (Kolossense 3:17,22); ywer, nie luiheid nie (Kolossense 3:23); gewilligheid, nie dwang nie (1 Petrus 5:2); mededeelsaamheid, nie selfsugtigheid nie (1 Timoteus 6:17-19); onderdanigheid, nie hoogmoedig nie (1 Petrus 5:5,6); moedigheid, nie lafhartig nie (Matteus 10:26-28; Johannes 16:33).
Dit raak die middele waarmee ons ons doelwitte nastreef: God wil dat dit wettig moet wees (Efesiërs 5:1-14); dit moet wys wees (Lukas 14:28-32).
Dit raak die belangrikste besluit wat 'n persoon kan neem, naamlik om 'n oorgawe aan Christus te maak. Dit is God se begeerte dat almal hierdie gawe sal aanvaar (1 Timoteus 2:3-6; 2 Petrus 3:9-10).
Dit raak die gelowige se reaksie op God se wil: God begeer dat ons sy wil sal leer verstaan deur Bybelstudie (2 Timoteus 2:15); oordenking van sy Woord (Psalm 1:2; Josua 1:8); memorisering van sy Woord (Psalm 119:11); na mede-gelowiges te luister (Filipense 4:9; Galasiërs 6:6); gehoorsaamheid (Deutronomium 10:12,13; (Johannes 13:17).

Riglyne vir die gelowige wat na die morele wil van God soek:
Op areas, spesifiek aangespreek in die Bybel, moet daardie bevele en beginsels van God gehoorsaam word (1 Tessalonisense 4:3; 5:12-18).
Op areas waar die Bybel geen spesifieke bevele of beginsels gee nie, is die gelowige vry en verantwoordelik om sy eie manier van optrede te kies. Dit mag net nie teenstrydig wees met die basiese boodskap van die Bybel nie (Numeri 6; Deutronomium 8:6,7; 23:15,16; Matteus 20:1-16; 1 Korintiërs 7; 2 Korintiërs 9:7; Galasiërs). Dit moet egter met die regte gesindheid geskied (Spreuke 2:4,5,7; 8:17; 9:9,10; 11:2; 15:31; 19:20; Jakobus 1:5-8); die regte benadering deur God te vra vir wysheid (Matteus 7:7,8; Kolossense 1:9,10; Jakobus 1:5,6; 4:2,3); deur wysheid in die Skrif te soek (Josua 2; Nehemia 2:11-16; Psalm 19:7; 119:97-100; Lukas 14:28-32; 2 Timoteus 2:7; 3:15-17; 2 Petrus 1:19); deur wyse raadgewers te raadpleeg (Spreuke 11:14; 13:20; 15:22); deur wysheid vanuit die lewe self te soek (Spreuke 30:18-33).

God se soewereine wil:
Hierdie wil van God is verseker (Daniël 4:35; Handelinge 2:23; 4:27,28; 1 Petrus 1:20); geheim (Deutronomium 29:29; Psalm 115:3; Romeine 11:33,34; Jakobus 4:15), behalwe vir twee uitsonderings naamlik profesie (Amos 3:7; Matteus 24:6-30; Openbaring 6-19) en die eindbestemming van die verlostes en verlorenes (Johannes 3:16; 14:13; Openbaring 20:11-15; 21:8); volledig (Spreuke 21:1; 16:33; Efesiërs 1:11; 2 Tessalonisense 2:13,14; 1 Petrus 3:17); dit sluit nie beplanning uit nie, maar vereis nederige onderdanigheid aan sy wil (Spreuke 20:5; Handelinge 18:21; 19:21; Romeine 1:10; 15:32; 1 Korintiërs 16:5-7; Jakobus 4:13-16);

Riglyne waarvolgens na die soewereine wil van God gesoek kan word:
Omstandighede definieer die konteks van besluite en moet met wysheid hanteer word. Dit moet nie as tekens van God se individuele wil gelees word nie (Psalm 37:1; Joël 2:1-17; Amos 4:6-8; Handelinge 28:4,6; Filemon 15,16); oop deure is God se gegewe geleenthede tot diens en nie spesifieke leiding van God om binne te gaan nie (Handelinge 14:27; 1 Korintiërs 16:7-9; 2 Korintiërs 2:12,13; Kolossense 4:3); om "'n velletjie uit te sit" is 'n ongeldige praktyk (Matteus 12:38,39).

2.3.2 Gesindheidsdoelwit:

2.3.2.a Ervaar jou Christenskap as 'n aktiewe, persoonlike verhouding met die lewende God wat groei verg deur gekonsentreerde aandag.

Maak die kennis wat jy in doelwit 2.3.1.b opgedoen het omtrent jouself, jou verhouding tot God en jou leefwêreld, jou eie sodat jy van daaruit jou Christenskap kan ervaar as 'n aktiewe, persoonlike verhouding met die lewende God wat groei verg deur gekonsentreerde aandag.
Skets jouself vir jou met woorde, soos jy dink jy werklik is. Skryf dit neer. Watter Christelike karakter-eienskappe het God reeds in jou ontwikkel en watter eienskappe dink jy wil Hy nog in jou ontwikkel? Dink na oor jou stiltetyd. Watter persoonlike groei ervaar jy daardeur? Dink ook na oor hoe jy sonde in jou lewe hanteer en hoe jy versoekings benader.
Onthou dat jy nie volmaak hoef te wees nie, maar dat dit hier gaan om gesonde en stabiele groei. Raak stil voor God en wees saam met Hom bly oor jou oorwinnings oor versoekings, en bid om krag in jou nederlae.
Verstaan jy dat sinvolle tydsbesteding direk verband hou met sinvolle doelwitte en dat die nastrewing daarvan ook goeie medisyne is teen sondige praktyke en versoekings? Is jy instaat om God se wil te bepaal oor spesifieke sake en slaag jy daarin om jou doelwitte daarby aan te pas? Verstaan jy hoedat die wil van God aan die een kant en jou eie vleeslike begeertes aan die anderkant, as rigtinggewende kragte in jou lewe funksioneer? Slaag jy daarin om gekonsentreerde aandag aan die konflik tussen hierdie twee nature in jou, veilig tydens stiltetyd voor God te laat uitwoed? Soek iemand om jou in hierdie proses te help as jy nie alleen slaag nie en bid saam met hom.

2.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

2.3.3.a Begin om te bid dat God jou natuur sal verander volgens God se plan.

Die belangrikheid van jou geestelike groei kan nie oorbeklemtoon word nie. God vereis dit. Vra in gebed dat God jou sal verander volgens sy plan. Vra dat jy ook jou verantwoordelikheid in jou verhouding met God sal besef en dit sal nakom. Dink gedurende jou stiltetyd oor elkeen van die eienskappe wat in doelwit
2.3.1.b genoem word na, en weeg jou eie karaktereienskappe daarteen op. Dra jou swakhede in gebed aan God op, en bid hierdie eienskappe een-vir-een van God af.

2.3.3.b Begin om God se wil te gehoorsaam en begin om jou stapsgewys te distansieer van sondige praktyke soos God dit in jou lewe uitwys.

Meet jou tipiese maniere van doen, gedurende jou stiltetyd aan die wil van God waarvan jy bewus word uit die Skrifgedeeltes in doelwit 2.3.1.d,e,g. Verstaan jy dat jy met dade wat voortvloei uit ongehoorsaamheid moet breek? Ontdek die Bybelse alternatief (Efesiërs 4:25-5:5) en oefen dit as 'n nuwe gewoonte in (2 Kronieke 27:6; 1 Timoteus 4:7). Breek jou bande met die ketting van sonde deur daarteen weerstand te bied (Jakobus 4:7), en spits jou toe op selfbeheersing (Spreuke 10:19; 15:1; 17:14,26; 29:11; 2 Petrus 1:5-9). Maak dit wat jy doen/nie doen nie, en wat in stryd met die wil van God is, aan God bekend in gebed. Vra om vergiffenis daarvoor en vra ook dat God in jou sal werk om te wil en te werk na sy welbehae (Filipense 2:13).

2.3.3.c Formuleer 'n doelgerigte lewensplan.

Kyk weer na die antwoorde wat jy in doelwit 2.3.1.f geformuleer het. Probeer vir jou die saak uitmaak wat jy graag in die lewe wil bereik of doen. Probeer jou indink hoe daardie situasie moet wees en formuleer jou lewensmissie (byvoorbeeld om jou skeppingsopdrag in gehoorsaamheid aan God na te kom in alles wat jy doen, tot eer van God en tot uitbreiding van sy koninkryk in die lewens van mense).

Stel 'n paar langtermyn doelstellings vas in lyn met hierdie missie byvoorbeeld: om gereeld gesond te eet, genoeg te slaap, optimaal te ontspan en te oefen en my liggaam skoon te hou en te versorg (liggaam); om die geestelike groeiprogram op 'n deurlopende basis te implementeer (gees); om my verstand op 'n deurlopende basis optimaal te ontwikkel deur leer- en denkvaardighede te bemeester, my vakkundig te bekwaam om 'n beroep te kan beoefen, en deur dit gereeld optimaal te stimuleer deur die opdoen van algemene kennis op verskeie lewensterreine (verstand); om deurlopend aan 'n groeiende opbouende verhouding te werk met God, myself, gesinslede, familielede, mede gelowiges, naaste op ander lewensterreine (verhoudings); om volgens 'n gebalanseerde dag-, week-, maand-, kwartaal-, semester-, jaarprogram te lewe.
Stel nou korttermyn doelwitte (doelwitte moet realisties, uitvoerbaar, aan tyd gekoppel en meetbaar wees) vas wat jou sal help om jou langtermyn doelstellings te bereik. In hierdie doelwitte moet die wat, waar, wanneer en met watter effek -tipe vrae beantwoord word (byvoorbeeld die opstel van 'n gebalanseerde jaarprogram waarin tersake korttermyn doelwitte vervat is voor 1 Januarie 19--; of om my verhouding met God te laat groei deur doelwitte 2.1.1, 2.1.2 en 2.1.3 van die geestelike groeiprogram voor 30 Junie 19-- deur te werk en uit te voer).
Rangskik die korttermyn doelwitte in volgorde van belangrikheid. As hulle interafhanklik van mekaar is, rangskik hulle in chronologiese volgorde. Jou lewensmissie sal bepaal watter doelwitte die belangrikste is. Teken die datums waarop jy beplan om die doelwitte te bereik op jou jaarbeplanner aan. Indien daar van die doelwitte is wat moet oorstaan na 'n volgende jaar, moet jy hulle agter in jou dagboek aanteken op die datum waarop jy beplan om die volgende jaar se beplanning te doen.
Breek nou die korttermyn doelwitte, wat in die huidige jaar bereik moet word, af in take wat uitgevoer moet word ter bereiking van die onderskeie doelwitte. Hierdie take is baie spesifiek, en bied antwoorde op vrae soos wie, waarmee en voor wanneer. Rangskik die take in chronologiese volgorde en teken die datums waarop dit afgehandel moet wees aan in jou dagboek.
Die langtermyn doelstellings wat op 'n deurlopende basis aandag moet geniet, moet ook afgebreek word in die onderskeie aktiwiteite/take waaruit hulle bestaan. Hierdie aktiwiteite moet ook in jou dagboek aangeteken word.
Om gedissiplineerd te lewe beteken om gereeld (daagliks) en op vasgestelde tye, deur jouself bepaal, sekere dinge te doen byvoorbeeld: om elke dag vanaf 06h00 -06h30 stiltetyd te hou. Beplan, offer op en doen moeite om te lewe soos wat die Here dit van jou verwag en in sy Woord voorskryf. Hierdie Geestelike Groeiprogram sal aan jou die nodige leiding verskaf om te groei in 'n lewe van gehoorsaamheid aan die Woord.


2.4 GROEIAREA: GESIN
INHOUD

2.4.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken die verskil tussen die wêreld se plan en God se plan vir die huwelik.
b. Ken jouself as lewensmaat.
c. Ken jou lewensmaat.
d. Ken die verskille tussen man en vrou.
e. Verstaan dat daar persoonlikheidsverskille tussen individuele lewensmaats bestaan.
f. Besit 'n basiese kennis van wat die Bybel sê oor jou unieke rol as 'n gesinslid binne jou gesin.
g. Besit 'n basiese kennis van jou verantwoordelikhede ten opsigte van elke gesinslid.
h. Weet dat daar ook mense is wat dit verkies om ongetroud te bly.

2.4.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Begeer om liefde, beskerming, kameraadskap en verantwoordelikheid binne jou gesin te gee en te ontvang.
b. Aanvaar die persoonlikheidsverskille tussen jouself en jou huweliksmaat.

2.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Ondersoek die verskillende persepsies wat mans en vroue van mekaar het.
b. Ontdek watter soort mense jy en jou huweliksmaat is.
c. Neem die nodige stappe om jou rol en verantwoordelikhede binne jou gesin uit te leef.
d. Bid daagliks vir ander gesinslede en vir hulp om jou eie verantwoordelikhede binne jou gesin te kan nakom.
e. Inisieer ten minste een "net-ons-gesin"-aktiwiteit per maand.
f. Besoek gereeld eredienste saam met jou gesin.
g. Inisieer die hou van daaglikse huisgodsdiens.

2.4.1 Kennisdoelwitte:

2.4.1.a Ken die verskil tussen die wêreld se plan en God se plan vir die huwelik.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes rakende God se plan met die huwelik (Genesis 1:28; Spreuke 5:19; Maleagi 2:14,15; Efesiërs 5:21-33). Lees nou ook die meegaande Skrifgedeeltes om vas te stel hoe Satan en die sondige wêreld die huwelik wil vernietig (Levitikus 18:22-29; Matteus 5:27,28; 1 Korintiërs 6:18,19; 15:33; Efesiërs 5:3,4).

2.4.1.b Ken jouself as lewensmaat.

Elke mens is deur God as 'n unieke mens geskape. Ons verskil in temperament, karakter en persoonlikheid. Daar is ook liggaamlike en sielkundige verskille tussen man en vrou. Ons moet dit aanvaar en deeglik daarmee rekening hou. Verder is dit 'n groot voordeel dat almal nie dieselfde geskape is nie en verskillende begaafdhede het.
Aanvaar jouself: Wat dink jy van jouself? Om 'n beeld van jouself te kry, skryf neer hoe jy oor jouself dink (positiewe en negatiewe dinge). Hoor wat jou huweliksmaat daarvan sê. Hoe kan 'n swak selfbeeld jou lewe affekteer (sien doelwit 3.3.1.c)? Skryf neer wat die Here van jou dink volgens Johannes 3:16 en Johannes 15:9, en volgens Jesaja 43:4. Heg Hy net aan mense sonder foute soveel waarde volgens Romeine 5:8?
Jy is waardevol omdat God jou 'n waardevolle skepsel maak (sien doelwit 3.3.1.g): Jy ontvang wonderlike gawes waarmee jy vir ander baie kan beteken (1 Petrus 4:10; 2 Petrus 1:3,4). Die Here Jesus is self by jou om ander (ook jou huweliksmaat) na Hom te lei (Matteus 28:18-20). Jy is 'n bevoorregte kind van die Koning bo alle konings (Johannes 1:2-4). Jy is 'n nuwe mens (2 Korintiërs 5:17,18).
Hoe om vrede met jouself te maak: Maak vrede met jou Skepper. Wees dankbaar vir wie jy deur Sy genade is. Sê vir die Here dankie dat jy jy is as unieke mens. Sê vir die Here dat jy nie iemand anders wil wees nie omdat jy Hom as Skepper vertrou. Bid nou die woorde van Psalm 139:13-18.

2.4.1.c Ken jou lewensmaat.

Verduidelik aan jou lewensmaat dat jy met hierdie bepaalde doelwit van die geestelike groeiprogram besig is (as sy dit nog nie weet nie). Verduidelik aan haar dat jy haar graag beter sal wil verstaan en dat sy jou daarmee kan help deur die oefening by doelwit 2.4.1.b te doen en dan haar antwoorde met jou te bespreek. Verduidelik dat jy self die oefening reeds gedoen het en dat jy die resultaat graag met haar sal wil bespreek as sy daarin sou belangstel.
Aanvaar jou lewensmaat: Wat dink jy van jou lewensmaat? Om 'n beeld te kry van hoe jy jou lewensmaat sien, skryf ten minste vier positiewe dinge oor jou huweliksmaat neer. Wys vir jou maat watter positiewe dinge jy oor haar neergeskryf het.
Wat dink die Here van jou lewensmaat? Is dit dieselfde as wat Hy van jou dink? (Jesaja 43:4; Johannes 3:16; 15:9)? Hoe moet jy jou lewensmaat aanvaar? (Romeine 15:7).

2.4.1.d Ken die verskille tussen man en vrou.

Liggaamlike verskille tussen man en vrou:
'n Mens staan verstom oor die onkunde by mense oor die aard en werking van die menslike liggaam. Die onkunde is seker nog groter wanneer dit kom by die fisiologiese prosesse in die man en die vrou wat eie is aan hulle geslag. Verstaan jou eie liggaam en die van jou maat. Maak 'n studie van insiggewende boeke op hierdie gebied (byvoorbeeld die boek "Die huweliksdaad" van Tim en Beverley la Haye). Jy sal moontlik verbaas wees oor wat jy lees.

Sielkundige verskille tussen man en vrou:
Mans dink gewoonlik meer teoreties en vroue meer konkreet en persoonlik.
Mans dink gewoonlik meer algemeen en vroue meer in besonderhede. Die man sê byvoorbeeld: "Mense kan jou regtig omkrap as hulle wil". Hierop sal sy vrou byvoorbeeld vra: "Wie het dit gedoen ... wat het hy gesê ... en hoekom?"
Mans gee meestal met presies gekose woorde uiting aan hul kennis, terwyl vroue gewoonlik hul emosies en gevoelens verduidelik en ontlaai. Daarom stry mans dikwels oor die presiese woorde wat in 'n gesprek of vorige stryery gebruik is, terwyl vroue weer oor en oor dieselfde stories kan vertel om nog emosies en gevoelens in die verband te ontlaai.
Mans beleef meestal hul vroue se spontane meelewing in die seksuele daad as 'n liefdesverklaring van haar kant. Daarom is die seksuele vir die meeste mans 'n uiters belangrike saak in die huwelik. Natuurlik is kameraadskap vir hulle ook belangrik. Vroue beleef weer die tere, begripvolle en waarderende optrede van hulle mans teenoor hulle in die alledaagse lewe as 'n duidelike bewys van liefde. Hulle wil ook die liefdesverklaring telkens weer hoor in duidelike woorde uit hulle mans se monde. Dit sê nie dat die seksuele nie ook vir hulle belangrik is nie.

2.4.1.e Verstaan dat daar persoonlikheidsverskille tussen individuele lewensmaats bestaan.

Daar is verskillende temperamenttipes volgens die Sielkunde moontlik. Sommige mense is meer spontaan, ander meer selfversekerd, sensitief of gelykmatig. Dit is nie nodig om almal wat ons ontmoet, in kompartemente te plaas en om 'n ettiket aan elkeen te gee nie. Dit is egter nodig om begrip vir ons persoonlikheidsverskille te hê. Geen mens val in die kategorie van net een temperamenttipe nie, maar vertoon 'n mengsel van die eienskappe van twee, drie of al vier die temperamenttipes. Elkeen van hierdie temperamenttipes het tipiese sterk en swak eienskappe (sien doelwit 2.4.3.b).

2.4.1.f Besit 'n basiese kennis van wat die Bybel sê oor jou unieke rol as 'n gesinslid binne jou gesin.

Lees die volgende Skrifgedeeltes rakende die rolle van die onderskeie gesinslede en bestudeer die gedeeltes wat op jouself van toepassing is:
Rol van gesin teenoor God (Deutronomium 6:4-9; Josua 24:15c; Matteus 22:37-40; Johannes 16:24b; 1 Korintiërs 7:35; Efesiërs 5:21).
Rol van die man (Spreuke 18:22; 1 Korintiërs 7:3-5; 11:3; Efesiërs 5:22,23,25,28-30; 1 Petrus 3:7; 1 Timoteus 5:8).
Rol van die vrou (Spreuke 31:10-31; 1 Korintiërs 7:3; Efesiërs 5:21,22; 1 Petrus 3:1-6).
Rol van die kind (Eksodus 20:12; Spreuke 1:8; Efesiës 6:1-4,9).
Rol van die ouers (Spreuke 22:6; Efesiërs 6:4).

2.4.1.g Besit 'n basiese kennis van jou verantwoordelikhede ten opsigte van elke gesinslid.

Lees die volgende Skrifgedeeltes aandagtig deur en bestudeer die gedeeltes wat direk op jou van toepassing is:
Man teenoor vrou (Genesis 31:4-16; Spreuke 5:18,19; Maleagi 2:14,15; Matteus 19:3-9; Efesiërs 5:25-33; 1 Korintiërs 14:34,35; 1 Timoteus 5:8; 1 Petrus 3:7).
Vrou teenoor man (Spreuke 5:15-20; 31:11,12; Johannes 4:17,18; 1 Korintiërs 14:34,35; Efesiërs 5:33; 1 Timotëus 2:11-15; Titus 2:4; Hebreërs 13:4; 1 Petrus 3:5-6).
Ouers teenoor kinders (Genesis 25:28; Deutronomium 21:18-21; 1 Samuel 2:27-36; 1 Konings 15:26; Efesiërs 6:4; 2 Korintiërs 12:14; Titus 2:4,5; Hebreërs 11:23).
Kinders teenoor ouers (Eksodus 21:15; Levitikus 20:9; Spreuke 30:17; Efesiërs 6:1-3; 1 Timoteus 5:4; Hebreërs 12:9; 1 Petrus 5:5).

2.4.1.h. Weet dat daar ook mense is wat dit verkies om ongetroud te bly.

Indien jy nog ongetroud is, sal jy graag eendag wil trou of sal jy dalk ongetroud wil bly? Waarom? Indien jy 'n liefdesteleurstelling gehad het en dit nog nie verwerk het nie, moet jy daaraan aandag gee. Gesels met 'n predikant of pastorale berader hieroor. Bespreek die langtermyn implikasies van getroud wees en van ongetroud wees in terme van voor- en nadele daarvan met hom. Vra sy hulp om Genesis 2:18-25 met 1 Korintiërs 7:6-9 te vergelyk. Kyk ook saam na 1 Korintiërs 7:32-38.

2.4.2 Gesindheidsdoelwit:

2.4.2.a Begeer om liefde, beskerming, kameraadskap en verantwoordelikheid binne die gesin te gee en te ontvang.

Kennis van die huwelik alleen is nie genoeg nie en huweliksdade met 'n verkeerde gesindheid is nutteloos en kan selfs julle verhouding ernstig skaad. 'n Mens kan beswaarlik liefde, beskerming en kameraadskap ontvang as jy dit nie ook gee nie. Dit is noodsaaklik dat elke rolspeler in die huwelik en gesin sy verantwoordelikhede sal nakom. Wat is jou ervaring binne jou eie huwelik en gesin (waarvan jy kind is, aan die een kant, en waarvan jy ouer is, aan die ander kant) ten opsigte van hierdie aangeleentheid? Probeer om jou ware gevoelens hieroor te peil.
Bid en vra dat God die begeerte by jou sal werk en versterk om jou verantwoordelikhede na te kom, en om inisiatief te neem in die herstel van moontlike krake wat mag bestaan in die verhoudings tussen rolspelers binne jou huwelik en gesin.

2.4.2.b Aanvaar die persoonlikheidsverskille tussen jouself en jou huweliksmaat.

Jesus Christus is die enigste Een wat na sy mensheid volmaak is. Maar die Heilige Gees wil in elke gelowige die beeld van Jesus meer en meer laat verskyn.
Die swak eienskappe van jou temperament kan grotendeels verander en jou sterk eienskappe kan baie meer na vore gebring word - maar alleen deur die wedergeboorte en werking van die Heilige Gees (sien doelwit 1.3.1.c; 2.3.1.b).
Onthou die belangrike ingeskape verskille tussen jou en jou huweliksmaat. Dit is verskille wat jy deeglik in ag sal moet neem as julle byvoorbeeld iets bespreek of wanneer julle intiem met mekaar verkeer. Daarby het jou maat ook swakhede. Aanvaar haar met swakhede en al. As jy op Christelike wyse daarop reageer sal dit vir jou verrykende gevolge hê.
Kom ons bid dan om die werking van die Heilige Gees in die lewens van jou, jou huweliksmaat en ander gesinslede om julle gewillig te maak om julle steeds deur Hom tot verdere vernuwing te laat lei. Dan alleen sal julle elkeen tot by die punt kan kom waar julle God oor julleself en oor mekaar kan prys met die woorde van Psalm 139:14.

2.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

2.4.3.a Ondersoek die verskillende persepsies wat mans en vroue van mekaar het.

Doen moeite om die volgende vraelys saam met jou huweliksmaat deur te werk:
Die man maak 'n lys van die dinge wat mans oor die algemeen nie van vrouens kan verdra nie (byvoorbeeld te veel grimering).
Die man maak ook 'n lys van dit wat mans oor die algemeen van 'n vrou verlang (kenmerke van 'n ideale vrou in die oë van mans).
Die vrou maak 'n lys van die dinge wat vrouens nie van mans kan verdra nie (byvoorbeeld slordigheid).
Die vrou maak 'n lys van die dinge wat vrouens oor die algemeen van mans verlang (kenmerke van 'n ideale man in die oë van vrouens).
Begin by wat julle al by ander mans en vrouens in die samelewing gehoor het. Praat vir plus minus tien minute met mekaar oor dinge soos gewoontes, godsdiens, die seksuele, ensovoort.
Lees julle onderskeie lyste aan mekaar voor, om sodoende mekaar se persepsies te leer ken omtrent die algemene verskille tussen mans en vroue.

2.4.3.b Ontdek watter soort mense jy en jou huweliksmaat is.

Doen moeite om die volgende oefening saam met jou huweliksmaat te doen:

Lees die volgende aandagtig deur:
Die "spontane mens" word soms sanguinies genoem. Soms is hulle verkoopsmanne, onderwysers, sprekers of akteurs. Hulle sterkste eienskappe is veral hulle tipiese opgewektheid, entoesiasme, optimisme, vriendelikheid, wilskrag, spontaniteit, barmhartigheid, sorgeloosheid en 'n vermoë om die lewe te geniet. Hulle swakste eienskappe is 'n tipiese rusteloosheid. Hulle is oor die algemeen onprakties, ongedissiplineerd, besluiteloos, onbetroubaar, selfsugtig, emosioneel onstabiel. Hulle toon dikwels 'n gebrek aan wilskrag en staan bekend as kompromiemakers.
Die "selfversekerde mens" word soms choleries genoem. Hulle is dikwels sakemanne, produksieleiers, heersers, misdadigers. Hulle sterkste eienskappe is wilskrag, deursettingsvermoë, selfversekerd, optimisties, onafhanklik, produktief, praktiese leiers. Hul swakste eienskappe is dat hulle dominerend, ongenaakbaar, sarkasties, wreed, eiegeregtig, opvlieënd, onsimpatiek, emosieloos en hoogmoedig kan wees.
Die "sensitiewe mens" word soms melankolies genoem. Hulle is dikwels diplomate, boekhouers, tegnici, onderwysers. Hulle sterkste eienskappe is humor, betroubaarheid, kalmte, bekwaamheid, vriendelikheid, hulpvaardigheid, behoudendheid. Hulle swakste eienskappe is luiheid, selfsug, hardkoppigheid, suinigheid, besluiteloosheid, onbetrokkenheid, vreesagtigheid en ongemo-tiveerdheid.

Om vas te stel watter soort mens jy en jou huweliksmaat is, moet jy die volgende doen:

Sterk eienskappe:
Merk al die sterk eienskappe wat jy al by jouself opgemerk het deur dit in bogenoemde lyste te onderstreep.
Ruil boeke om en laat jou maat nou in jou boek jou sterk eienskappe waarvan jy nie bewus is nie, ook onderstreep. Met 'n regmerkie kan jou maat wys waar sy saamstem met dit wat jy reeds onderstreep het.
Tel die onderstreepte woorde en kyk onder watter temperament jy die meeste het en waar die tweede meeste is.
Voltooi nou: "Ek is veral 'n ... mens" [byvoorbeeld "Ek is veral 'n sensitiewe (meeste punte) gelykmatige (2de meeste punte) mens"]. "My lewensmaat is veral 'n ... mens."
Doen nou dieselfde met die lyste van swak eienskappe. Dit kom gewoonlik ooreen met die inligting volgens sterk eienskappe.

Gaan dink na oor wat jy nou leer van jouself en van jou huweliksmaat. Watter verskille tussen jouself en jou huweliksmaat sal jy in die toekoms meer in ag wil neem?

2.4.3.c Neem die nodige stappe om jou rol en verantwoordelikhede binne jou gesin uit te leef.

Skryf al jou verantwoordelikhede binne jou gesinsverband op papier neer. As jy daarmee klaar is kan jy jou lys vergelyk met doelwit 2.4.1.g om seker te maak dat jou lys volledig is. Vul die lys aan indien nodig. Beplan hoe jy effektief aandag gaan gee aan die verantwoordelikhede wat jy nog nie genoegsaam nakom nie.
Lees Matteus 26:41, Lukas 11:1 en 1 Tessalonisense 5:17 aandagtig deur en bid dan daagliks vir krag en leiding om jou eie verantwoordelikhede binne jou huwelik en gesin te kan nakom.

2.4.3.d Bid daagliks vir ander gesinslede en vir hulp om jou eie verantwoordelikhede binne jou gesin te kan nakom.

Dra die behoeftes, gebreke, sterkpunte en mooi eienskappe van jou gesinslede, sowel as jou eie verantwoordelikhede, tydens jou stiltetyd in gebed aan die Here op in belydenis, smeking, lofprysing en dankbaarheid.

2.4.3.e Inisieer ten minste een "net-ons-gesin"-aktiwiteit per maand.

Hou 'n dinkskrum (skryf elke gedagte wat in jou kop kom neer en groepeer hulle saam om aktiwiteite te vorm wat moontlik vir die doel kan werk) om aktiwiteite te identifiseer wat as "net-ons-gesin"-aktiwiteite kan dien. Aktiwiteite sal van gesin tot gesin verskil, onder andere na gelang van omstandighede, belangstelling en ouderdom van kinders. Nadat jy die aktiwiteite gekies het wat jy dink binne jou gesin sal werk, kan jy beplan hoedat jy die gedagte van 'n "net-ons-gesin"-aktiwiteit aan die res van die gesin gaan verduidelik.
Beplan 'n eerste "afskopaktiwiteit" waarvan jy seker is almal baie sal hou (onthou om realisties te wees ten opsigte van tyd, geld, en veral die fisieke en ander vermoëns en behoeftes van die onderskeie gesinslede) en voer dit uit.
Betrek, na afloop van die eerste "net-ons-gesin"-aktiwiteit, die ander gesinslede by 'n dinkskrum waartydens julle saam nog sulke aktiwiteite kan beplan en skeduleer.

2.4.3.f Besoek gereeld eredienste saam met jou gesin.

Doen spesiaal moeite om jou gesin gereeld na die eredienste van jou plaaslike kerk te nooi en te vergesel. "Gereeld" beteken ten minste een maal per week.

2.4.3.g Inisieer die hou van daaglikse huisgodsdiens.

Probeer om 'n daaglikse huisgodsdiens vir jou gesin te inisieer. As jou hele gesin nie gelowiges is nie, is dit raadsaam om eers enkel gesinslede te nooi om alleen saam jou stiltetyd te hou. Verduidelik tydens hierdie geleenthede die ideaal van 'n gesins-huisgodsdiens aan die ander, en dat julle saam vir wysheid en leiding moet bid hoe om die oorblywende lede van die gesin te betrek.
Onthou dat, alhoewel dit slegs 'n bietjie selfdissipline en orde van gelowige gesinne verg, huisgodsdiens in gesinne met ongelowige lede, baie konflik kan veroorsaak en daarom 'n ideaal is wat met groot omsigtigheid hanteer moet word, maar nogtans deurentyd nagestreef moet word.


2.5 GROEIAREA: GEMEENSKAP

INHOUD

2.5.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken twee beelde wat deur Christus gebruik word om gemeenskap van die gelowiges te beskryf.
b. Weet dat jy afhanklik is van die gemeenskap met ander gelowiges.
c. Verstaan wat die Christelike doop en die nagmaal behels.

2.5.2 Gesindheidsdoelwit:
a. Is oortuig daarvan dat dit belangrik is om in gereelde gemeenskap met ander gelowiges te wees ter wille van jou eie geestelike groei en beskerming.

2.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Woon kerkdienste gereeld by.
b. Is gedoop.
c. Neem deel aan die nagmaal.
d. Spandeer minder tyd met ou nie-Christen vriende en meer met Christen vriende.


2.5.1 Kennisdoelwitte:

2.5.1.a Ken twee beelde wat deur Christus gebruik word om gemeenskap van die gelowiges te beskryf.

Die Bybel gebruik twee beelde om die gemeenskap van gelowiges te beskryf, naamlik liggaam en gebou. Bestudeer nou die volgende Skrifgedeeltes en vrae en maak seker dat jy die beelde verstaan:
Wat is die liggaam van Christus en wie is die Hoof? Maak 'n lys van al die eienskappe van die liggaam van Christus. Hoe raak elke eienskap jou verhouding tot Christus en die kerk? (Romeine 12:3-8; 1 Korintiërs 12:12-31; Efesiërs 1:22,23; Efesiërs 5; 2:16; Kolossense 1:24).
Wat is die gebou van Christus en wie is die hoeksteen? Maak 'n lys van al die eienskappe van hierdie gebou. Hoe raak elke eienskap van die gebou jou persoonlik, jou verhouding tot Christus en die kerk? (Matteus 16:18; Efesiërs 2:19-22; 1 Petrus 2:4-10).

2.5.1.b Weet dat jy afhanklik is van die gemeenskap met ander gelowiges.

Gelowiges het mekaar nodig. Bestudeer die gegewe Skrifgedeeltes en maak seker dat jy die volgende drie vrae kan beantwoord:
Wat is gemeenskap van die gelowiges? Hoekom het jy ander gelowiges nodig? (Psalm 133:1-3; Spreuke 27:17; Johannes 17:21; Romeine 1:11,12; 1 Korintiërs 6:17; 12:12,13,20-25; 13:1-5; 14:1; 2 Korintiërs 8:1-9; Filipense 1:2-5; 2:4; Hebreërs 3:13; 1 Johannes 1:3).
Hoe word die gemeenskap van die gelowiges beoefen? (Handelinge 2:42; 1 Korintiërs 10:24; Galasiërs 6:2; Efesiërs 4:15,16; 5:19,20; Filipense 2:1,2; Kolossense 3:16; Hebreërs 3:13; 10:24,25; 1 Petrus 5:5,6).

2.5.1.c Verstaan wat die Christelike doop en die nagmaal behels.

Wanneer 'n persoon gedoop word, verklaar hy openlik (of word openlik verklaar) dat hy hom met die koninkryk, dood, begrafnis en opstanding van Christus identifiseer (of dat hy daarmee geïdentifiseer word) as Sy volgeling (en eiendom), en dat hy nou in aanraking gebring is met die werksterrein van die Heilige Gees.
Hierdie openlike identifikasie met Christus is een van die mees kritieke voorwaardes vir dissipel-wees (Lukas 9:26, 10:9-11). Met hierdie deel van sy mandaat sê Jesus dus dat ons dissipels moet maak deur hulle te help om hulleself openlik as sy volgelinge te identifiseer.
Wanneer 'n persoon in die openbaar gedoop word, identifiseer hy homself ook in die openbaar met die volk van God. Hy vereenselwig hom onder alle omstandighede met hulle. Hierdie verbintenis beteken dat die lede van die kerk nou die verantwoordelikheid het om hom in hul plaaslike liggaam te inkorporeer om hom te beskerm, te onderrig en te bedien.
Lees ook die meegaande Skrifgedeeltes oor verskillende fasette van die doop (Beveel deur: Matteus 28:19,20; Markus 16:15,16; Handelinge 10:46-48; 22:12-16. Bedien deur: Handelinge 2:1,41; 8:12,36-38; 9:17,18; 10:44-48; 18:8; 1 Korintiërs 1:14-17. Plekke: Matteus 3:13-16; Markus 1:5-10; Handelinge 2:5,41; 8:12; 10:44-48; 16:25-33. Dopelinge: Handelinge 2:41; 10:44-48; 16:15-33; 18:8; 1 Korintiërs 1:16. Eienskappe: Handelinge 1:5; 2:38,41; 10:47; 18:8; Efesiërs 4:5. Simbolies van: Joël 2:28,29; Johannes 1:32,33; 3:3,5,6; Handelinge 2:3,4,16-21,41; 10:44-48; Romeine 6:3,4,11; 1 Korintiërs 10:2; 12:13; Galasiërs 3:27,28; Titus 3:5; 1 Petrus 3:20,21).
Nagmaal word beskryf as (Lukas 22:17,19; Handelinge 2:42,46; 1 Korintiërs 10:16; 11:20), ingestel deur (Matteus 26:26-29), ter gedagtenis aan (Lukas 22:19,20), inleidend tot die Nuwe Testament (Matteus 26:28), middel tot Christelike gemeenskap (Handelinge 2:42,46), gedenkfees (1 Korintiërs 11:23-26), hou nie verband met gemeenskap met demone (1 Korintiërs 10:19-22), voorbereiding nodig (1 Korintiërs 11:27-34), geestelike betekenis (Johannes 6:26-58), eienskappe (Matteus 26:26-29; Lukas 22:19,20; Johannes 6:26-58; Handelinge 2:42,46; 1 Korintiërs 10:19-22; 11:23-34).

2.5.2 Gesindheidsdoelwit:

2.5.2.a Is oortuig daarvan dat dit belangrik is om in gereelde gemeenskap met ander gelowiges te wees, ter wille van jou eie geestelike groei en beskerming.

Lees 1 Korintiërs 12:20-25. Wat dink jy sal gebeur as 'n gesinslid hom van sy gesin afsonder? Wat dink jy sal gebeur as 'n gelowige hom van ander gelowiges afsonder en byvoorbeeld nie meer kerk toe gaan of enige vorm van gemeenskap met hulle het nie? Dit is baie belangrik dat jy die gemeenskap van heiliges sal ervaar. Probeer om in aanraking te kom met ander gelowiges binne situasies waarin hulle gemeenskap met hul Here en met mekaar beoefen.

2.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

2.5.3.a Woon kerkdienste gereeld by.

Doen moeite om die eredienste van jou kerk gereeld by te woon (Hebreërs 10:25).

2.5.3.b Is gedoop.

Is jy al gedoop? Waarom nie? As jy glo dat die bloed van Jesus Christus jou sonde afgewas het en dat Hy vir al jou skuld voor God betaal het, het jy die reg om 'n kind-en-erfgenaam van God genoem te word. Gaan gesels met jou leraar (dominee, pastoor, priester) hieroor sodat jy jou geloof in die openbaar kan bely en gedoop word (sien doelwit 2.5.1.c).

2.5.3.c Neem deel aan die nagmaal.

As jy gedoop is en jou geloof in Christus as jou persoonlike Verlosser in die openbaar voor die gemeente van Christus bely het, is jy ook gereed om die nagmaal te gebruik. Doen dit gereeld om jou geloof te versterk en om jou te herinner aan sy liggaam en bloed wat Hy vir jou gestort het (sien doelwit 2.5.1.c).

2.5.3.d Spandeer minder tyd met ou nie-Christen vriende en meer met Christen vriende.

Is dit nie waar dat jou nie-Christen vriende jou negatief beïnvloed ten opsigte van jou toewyding aan God en jou verhouding met medegelowiges nie? Is dit nie ook waar dat jou verhouding met 'n gelowige vriend of vriendin julle albei kan help om geestelik te groei nie?
Bid vir leiding en bystand, om in die volgende week biddende een tot drie Christen vriende te identifiseer, 'n besluit te neem om hulle meer gereeld te besoek en om meer daadwerklik aan 'n vriendskapsverhouding met hulle te werk.


2.6 GROEIAREA: GETUIENIS

INHOUD

2.6.1 Kennisdoelwitte:
a. Besit 'n basiese kennis van God se rol in die evangelisasie proses.
b. Besit 'n basiese kennis van die dinge wat ons nodig het om te weet om gelukkig te kan lewe en sterwe.
c. Ken die voorwaardes vir suksesvolle getuienis.
d. Weet waarom Christene moet getuig.

2.6.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Is daarvan oortuig dat nie-Christene verlore is.
b. Begeer om teenoor nie-Christene te getuig.

2.6.3 Aktiwiteitsdoelwit:
a. Getuig teenoor ander van dit wat jy self van Jesus Christus gehoor, gesien, gelees en ervaar het.


2.6.1 Kennisdoelwitte:

2.6.1.a Besit 'n basiese kennis van God se rol in die evangelisasie proses.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes deur wat handel oor die rol van God in die evangelisasieproses (Matteus 13:1-9,18-23; Johannes 1:12,13; 3; 4; Handelinge 1:8; 1 Korintiërs 3:5-9; 2 Korintiërs 4:6,7; Openbaring 3:20). Elke getuie moet getuig met die verwagting dat God se Woord nooit leeg na Hom terugkeer nie (Jesaja 55:8-11).

2.6.1.b Besit 'n basiese kennis van die dinge wat ons nodig het om te weet om gelukkig te kan lewe en sterwe.

Daar is drie basiese dinge wat ons nodig het om te weet om gelukkig te kan lewe en sterwe. Eerstens moet ons weet hoe groot ons sonde en ellende is. Tweedens moet ons weet hoe om van ons sonde en ellende verlos te word. Derdens moet ons weet hoe ons teenoor God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees.
Lees nou die meegaande Skrifgedeeltes aandagtig deur en dink goed na oor die inhoud daarvan (Psalm 50:14; Matteus 5:16; 9:12; 11:28-30; Johannes 9:41; 17:3; Handelinge 4:12; 10:43; Romeine 3:10; 6:13; Efesiërs 5:8,10; 2 Timoteus 2:15; 1 Petrus 2:12; 1 Johannes 1:9,10). Sien ook doelwit 1.1.1.c.

2.6.1.c Ken die voorwaardes vir suksesvolle getuienis.

Maak seker dat jy 'n kind-en-erfgenaam van God is (sien doelwit 1.3.1.a-c). Maak seker dat daar nie sonde in jou lewe is wat jy nog nie met 'n opregte hart aan God bely het nie (Hebreërs 7:27; 1 Johannes 1:9; 2:1-6). Maak seker dat jy met die Heilige Gees vervul is (Handelinge 1:8; Efesiërs 5:18). Sien ook doelwit 1.3.1.c; 4.3.1.c.
Getuig teenoor ander van dit wat jy self van Jesus Christus gehoor, gesien, gelees en ervaar het (2 Korintiërs 4:5; 1 Johannes 1:1-4). Praat met God oor sy mense voordat jy met sy mense oor God praat (Johannes 6:44; 15:7,8,16,17; 1 Johannes 5:14,15). Gaan en getuig! (Matteus 28:19,20; Johannes 17:8).

2.6.1.d Weet waarom Christene moet getuig.

Mense getuig nie omdat hulle dink hulle weet nie genoeg nie; dat hulle nie goeie sprekers is nie; omdat hulle bang is (1 Korintiërs 2:1-5); omdat hulle nie wil aanstoot gee nie (1 Korintiërs 1:21-24); omdat hulle wag totdat hulle gevra word (Matteus 28:19).
Dit is egter nie aanvaarbare verskonings nie. Ons moet getuig omdat dit Christus se opdrag aan ons is (Matteus 4:19; 28:19), baie mense verlore is (Romeine 10:13-15) en onder die oordeel van God staan (Openbaring 21:8) en nie kinders-en-erfgename van God is nie (Johannes 1:12). Om te getuig is voordelig vir ons eie geestelike groei (Johannes 4:34), en dit verheerlik God (Johannes 17:4; 15:8).

2.6.2 Gesindheidsdoelwit:

2.6.2.a Is daarvan oortuig dat nie-Christene verlore is.

Glo jy dat nie-Christene verlore is en dink jy dat daar ook 'n ander weg tot saligheid as Jesus Christus is? Lees die meegaande Skrifgedeeltes aandagtig deur (2 Kronieke 6:36; Psalm 14:3; 51:7; Matteus 13:41,42; 25:46; Johannes 3:3-8; 14:6; Romeine 3:10,23; 6:23; Efesiërs 2:1; 1 Johannes 5:12; Openbaring 21:8).

2.6.2.b Begeer om teenoor nie-Christene te getuig.

Antwoord "ja" of "nee" op die volgende vrae: Ken jy Jesus Christus as persoonlike Verlosser? Is dit waar dat elke gelowige kan en moet getuig? Is dit vir jou moeilik om stil te bly oor Jesus Christus? Is getuienis vir jou 'n swaar opdrag? Is jy 'n getuie vir Jesus Christus? Is jy dalk bang, ongehoorsaam of ondankbaar, of is jy net onverskillig oor ander se redding?. Vergelyk 'n "lewe met Christus" met 'n "lewe sonder Christus". Lees Efesiërs 4:17-5:5.
Probeer nou om die volgende vrae te antwoord aan die hand van die meegaande Skrifgedeeltes (Matteus 5:14-16; Lukas 10:3; Handelinge 1:8): Wat maak 'n mens as jy geen passie het vir die redding van ander mense nie? Hoe word Christus en sy belange vir my belangriker as my eie belange?

2.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

2.6.3.a Getuig teenoor ander van dit wat jy self van Jesus Christus gehoor, gesien, gelees en ervaar het.

Dink aan die konsekwensies van Matteus 10:32. Getuig aan ten minste een ander bekende Christen van jou verhouding met Jesus Christus en wat dit vir jou beteken. Wat het jy in die proses ervaar, en wat was die ander persoon se reaksie?


2.7 GROEIAREA: BEDIENING

INHOUD

2.7.1 Kennisdoelwitte:
a. Weet dat daar 'n verskil is in natuurlike talente en die gawes van die Gees.
b. Weet dat elke kind van God geestelike gawes ontvang as toerusting vir diens aan ander.
c. Weet dat God elkeen verantwoordelik hou vir die ontwikkeling en gebruik van sy geestelike gawes tot voordeel van die liggaam van Christus in die uitbreiding van Sy koninkryk.

2.7.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Wil graag jou geestelike gawes, natuurlike talente en aangeleerde vaardighede ontdek en gebruik tot verheerliking van God, tot voordeel van die kerk van Christus en vir die uitbreiding van Sy koninkryk.
b. Is opgewonde oor die feit dat elke Christen 'n spesifieke bediening in diens van Christus kan hê.

2.7.3 Aktiwiteitsdoelwit:
a. Begin om jou geestelike gawes, jou natuurlike talente en aangeleerde vaardighede te ontdek.


2.7.1 Kennisdoelwitte:

2.7.1.a Weet dat daar 'n verskil is tussen natuurlike talente en die gawes van die Gees.

Natuurlike talente en aangeleerde vaardighede mag nie met geestelike gawes verwar word nie. Eersgenoemde is dit wat God in sy vrymagtige genade aan alle mense skenk. Geestelike gawes is egter alleen die eiendom van die lede van die liggaam van Christus. Geestelike gawes is daardie gawes wat deur die Gees van God gegee is vir die verwerkliking van God se doel in die wêreld en vir die opbouing van die kerk, die liggaam van Christus.
Natuurlike talente kan egter deur God omskep word in geestelike gawes. Soms is daar geen direkte verwantskap tussen natuurlike talente en geestelike gawes nie. Laasgenoemde is uitsluitlik vir die bediening van die liggaam van Christus en nie tot beskikking van menslike aktiwiteite in die breëre sin nie.
Kyk of jy kan onderskei tussen natuurlike talente en geestelike gawes deur 'n paar van elk op te noem.

2.7.1.b Weet dat elke kind van God geestelike gawes ontvang as toerusting vir diens aan ander.

Aan elke gelowige word geestelike gawes gegee (Romeine 12:5,6; 1 Korintiërs 12:7; 1 Petrus 4:10). Hierdie gawes behoort aan God en word deur die Heilige Gees aan die gelowiges gegee om tot eer van God (1 Petrus 4:11) en tot opbou van ander gelowiges (1 Korintiërs 14:4,5,12) te gebruik.
Hier volg nou 'n breë uiteensetting van die gawes van die Heilige Gees soos wat dit in die Woord gegee word (1 Korintiërs 12; Romeine 12:3-8; Efesiërs 4:11,12):
Gawes van gesprekvoering (om God se waarheid bekend
te maak): profesie, lering, Woorduitleg, woorde van wysheid, woorde van kennis.
Gawes van diens (sodat God se werk gedoen word): diens, uitdeling, leierskap, administrasie, medelye, geloof, onderskeiding, bystand, gasvryheid.
Gawes van tekens (om God se outoriteit te bevestig): spreek in tale, uitleg van tale, wonders, genesing.
Spesiale gawes (om God se kinders toe te rus): apostels, profete, evangeliste, herders en leraars.

2.7.1.c Weet dat God elkeen verantwoordelik hou vir die ontwikkeling en gebruik van sy geestelike gawes tot voordeel van die liggaam van Christus en die uitbreiding van sy koninkryk.

God hou elkeen verantwoordelik vir die ontwikkeling en gebruik van sy geestelike gawes (1 Korintiërs 12:31; 14:1)

2.7.2 Gesindheidsdoelwit:

2.7.2.a Wil graag jou geestelike gawes, natuurlike talente en aangeleerde vaardighede ontdek en gebruik tot verheerliking van God en tot voordeel van die kerk en die uitbreiding van sy koninkryk.

Lees 1 Korintiërs 12:11 en kyk hoedat die Heilige Gees gawes aan jou as gelowige gee en wat die waarde is wat hierdie gawes vir jouself sowel as vir ander kan hê (1 Korintiërs 12:7,12-31; Efesiërs 4:12). Dra jou begeerte om jou geestelike gawes, natuurlike talente en aangeleerde vaardighede te ontdek en tot eer van God en tot voordeel van die kerk te gebruik, in gebed aan die Here op. Dank God vir die vermoëns en geleenthede wat Hy vir jou bied.

2.7.2.b Is opgewonde oor die feit dat elke Christen 'n spesifieke bediening in diens van Christus kan hê.

Elke ledemaat van die liggaam van Christus is belangrik. Elkeen het 'n spesifieke funksie en plek in die werking van die liggaam. Die leraar het nie alleen 'n bediening nie, maar elke gelowige het 'n bediening waartoe God hom roep! Word jy nie opgewonde oor die moontlikheid dat jy ook 'n spesifieke bediening tot eer van God kan hê nie?

2.7.3 Aktiwiteitsdoelwit:

2.7.3.a Begin om jou geestelike gawes, jou natuurlike talente en aangeleerde vaardighede te ontdek.

Maak 'n lys van wat jy dink jou geestelike gawes, natuurlike talente en aangeleerde vaardighede is (sien doelwit 2.7.1.b en 4.5.3.b).


2.8 GROEIAREA: LEEFWêRELD:

INHOUD

2.8.1 Kennisdoelwitte:
a. Verstaan dat jy as Christen-landsburger 'n sinvolle bydrae tot vrede in jou land en gemeenskap moet lewer.
b. Verstaan dat die werklikheid soos jy dit self sien nie altyd die volle werklikheid is nie.
c. Ken die konsekwensies daarvan dat God die Skepper is.
d. Word bewus van die verskeidenheid in God se skepping.
e. Verstaan die verskil tussen die Christen se taak en die wêreld se stryd.
f. Ken die Christen se verantwoordelikheid ten opsigte van sy volk se kultuur.
g. Verstaan wat kritiek behoort te wees.
h. Verstaan wat opvoeding behoort te wees.
i. Verstaan wat 'n leefwêreldbeskouing is.

2.8.2 Gesindheidsdoelwit:
a. Besit 'n openheid vir ander mense se sienings van die werklikheid.

2.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Leer ken die realiteite wat hulle afspeel op die ekonomiese, politieke, veiligheids- en sosiale terrein in jou land.
b. Leer ken die sienings van jou vriende omtrent die realiteite op die ekonomiese, politieke, veiligheids- en sosiale terreine in julle land.
c. Neem jou direkte omgewing waar met al jou sintuie.

2.8.1 Kennisdoelwitte:

2.8.1.a Verstaan dat jy as Christen-landsburger 'n sinvolle bydrae tot vrede in jou land en gemeenskap moet lewer.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes aandagtig deur (Matteus 5:9; Romeine 14:19; 2 Korintiërs 5:18-21; 1 Petrus 3:8-13).

2.8.1.b Verstaan dat die werklikheid soos jy dit self sien nie altyd die volle werklikheid is nie.

Op 'n dag het drie blinde manne in die bos gestap en op 'n groot "ding" (olifant) afgekom. Die een het aan sy slurp gevoel en gesê dat die ding 'n groot pyp is. 'n Ander het aan sy been gevoel en gesê dat die ding 'n groot stomp is. Die derde een het aan sy stert gevoel en gesê dat die ding 'n dik tou is. Al drie die manne was gedeeltelik reg en tog ver verkeerd.
Die volgende dinge kan onder andere 'n persoon se waarneming/beskouing van die werklikheid beïnvloed: politieke oortuiging, godsdienstige oortuigings, tradisie, persoonlike voorkeure, vorige goeie of slegte ervarings. Wanneer jy 'n opinie oor 'n saak moet vorm kan die volgende riglyne jou help: Moet nie te haastig tot 'n gevolgtrekking kom nie. Maak seker dat jou feite korrek is. Ondersoek (raadpleeg) meer as een primêre bron oor die aangeleentheid Probeer bepaal of jy dalk subjektief betrokke by die aangeleentheid is. Probeer bepaal in watter mate jy reeds deur ander beïnvloed of geïntimideer is. Raadpleeg die Woord van God oor hierdie saak.

2.8.1.c Ken die konsekwensies daarvan dat God Skepper is.

God het alles goed geskep (Genesis 1:1-31). Die skepping getuig van die Skepper se Goddelikheid (Romeine 1:20), almag (Jesaja 40:26,28), heerlikheid (Psalm 19:1), goedheid (Psalm 33:5,6), wysheid (Psalm 104:24), soewereiniteit (Openbaring 4:11). God kan sy belofte van 'n nuwe hemel en aarde waar sy wil sal heers, nakom (Jesaja 65:17-25; 2 Petrus 3:11,13; Openbaring 21:1-7). Hy kan ook sy belofte van ewige straf vir hulle wat nie in Hom glo nie, nakom (1 Korintiërs 6:9; Openbaring 21:8).

2.8.1.d Word bewus van die verskeidenheid in God se skepping.

Kyk na mense. Almal het dieselfde ledemate, tog lyk nie twee dieselfde nie. Kyk na die natuur, die verskeidenheid plante, diere en dinge. Lees Genesis 1:11,12,20-25 en erken die feit dat alles volgens hulle soorte geskape is.

2.8.1.e Verstaan die verskil tussen die Christen se taak en die wêreld se stryd.

Die wêreld van vandag gaan gebuk onder 'n onophoudelike stryd. 'n Stryd om probleme op te los: politieke, opvoedkundige, sosiale, ekonomiese, veiligheids-, geestelike, ekologiese, ideologiese, godsdienstige probleme, ensovoort.
Daar word vanuit verskeie oorde na oplossings vir hierdie probleme gesoek, in 'n strewe na 'n "beter wêreld vir almal". Die soekers na oplossings kan in twee groot katergorieë verdeel word, naamlik hulle wat in God drie-enig glo, en hulle wat nie in Hom glo nie.
Vir hulle wat in Hom glo, het God alles te make met die oplossing van die probleme. As hulle gehoorsaam aan God is, kan hulle van dag tot dag besig wees met die dinge en mense rondom hulle, 'n hoogs vervullende lewenstaak wees.
Hulle wat nie in God glo nie, is slegs op hulself aangewys vir die oplossing van hierdie probleme. Daarom bly hulle besig-wees met die dinge en mense rondom hulle, 'n stryd.
Daar is twee belangrike redes waarom dit vandag gebeur dat Christene hulself besig hou met die stryd, instede daarvan om hul Godgegewe taak in gehoorsaamheid uit te voer. Eerstens het Christene dikwels 'n eensydige of 'n eng beeld van "die wêreld" waarbinne hulle hierdie Godgegewe lewenstaak moet uitvoer.
Kom ons verduidelik eers hoeveel "wêrelde" daar in die wêreld is waarin ons leef en werk. Begin 'n mens om die sosiale probleme van ons wêreld te ondersoek, gaan daar vir jou 'n sosiale wêreld oop. Ondersoek 'n mens die politieke probleme van ons wêreld, gaan daar vir jou 'n politieke wêreld oop. So kan die persoon wat in God glo, in gehoorsaamheid met sy Godgegewe lewenstaak besig wees in 'n opvoedkundige wêreld, of in 'n ideologiese wêreld, of 'n ekonomiese wêreld, of 'n militêre wêreld, of 'n godsdienstige wêreld, ensovoort.
Tweedens is hulle ook dikwels onseker wat hulle Godgegewe lewenstaak is. Hulle raak daarom verstrengel in die planne of sogenaamde "oplossings" wat goddelose mense vir die probleme van hierdie wêreld aanbied.
Die een groot gemeenskaplike doelstelling van hulle wat nie in God glo nie, is om hierdie wêreld 'n beter plek vir almal te maak - omdat hulle dink daar is nie 'n lewe na die dood nie.
Kommuniste noem hierdie ideale wêreld waarna hulle strewe, utopia, waar elkeen sal werk volgens sy vermoë en sal gebruik volgens sy behoefte. Kapitaliste sien die ideale wêreld as 'n koopsentrum in elke hoek van die wêreld, wat oorvloei van verbruikersgoedere. Islam sien die ideale wêreld onder die heerskappy van Allah, en onder die politieke bestuur van Islam. Die Nuwe Era Beweging sien die ideale wêreld onder die heerskappy van die Nuwe Era Messias wat 'n heerlike koninkryk van die mens op hierdie aarde sal vestig, waarin alle mense in vrede, harmonie en eenheid sal lewe. Hierdie messias sal ongeëwenaarde wysheid en kennis, en wonderlike psigiese vermoëns besit, en alle kragte van die heelal sal onder sy bevel wees.
Die gemeenskaplike strewe in al die bogenoemde gevalle is 'n wêreld, sonder God, wat vir homself kan sorg. 'n Wêreld demokrasie, waar die stem van die volk die stem van God is. 'n Wêreld ideologie wat deur alle mense gedeel word. 'n Aardse koninkryk waarvan alle mense burgers is.
Christene word op verskeie maniere by die stryd om so 'n wêreld tot stand te bring betrek, terwyl hulle dink dat hulle met hulle Godgegewe taak besig is.
In Genesis 1:26-28 en 2:15 vind ons die Skeppingsopdrag van God: Bewoon hierdie aarde en bewerk dit. Heers daaroor en bewaar dit.
In Genesis 3-8 lees ons hoedat die mens ongehoorsaam aan God was deur na die leuen van die Satan te luister (Genesis 3:4-5).
Ons lees verder hoedat God hierdie aarde vervloek (Genesis 3:17-19) en hoedat Hy genade aan die mens bewys deur toe te sien dat die mens nie vir ewig op hierdie vervloekte aarde hoef te bly nie (Genesis 3:22-23).
Ons lees ook hoedat God alle mense, behalwe die Godvresende Noag en sy gesin, deur 'n oorstroming vernietig. In Genesis 9:1 herhaal God 'n deel van die Skeppingsopdrag: "Bewoon die aarde". In Genesis 11 lees ons hoedat die nageslag van Noag tot op 'n stadium almal bymekaar gewoon en dieselfde taal gepraat het. Hulle het beplan om 'n stad met 'n toring te bou waarvan die punt tot in die hemel reik, sodat hulle nie oor die aarde versprei nie. Die Here sê toe: "Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie. Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie. Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad" (Genesis 11:6-8).
Netso vind ons in die res van die Bybelse geskiedenis dat mense nie hierdie taak, wat deur God aan hulle opgedra is, kon nakom nie, omdat hulle (soos hulle voorouers Adam en Eva) soos God wou wees. Daarom vind ons in Mattheus 4:17 dat die eerste boodskap van Christus tydens sy openbare bediening was: "Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom!"
In Johannes 18:36 lees ons hoe Jesus Christus verduidelik dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, en dat sy koninkryk daarom nie deur stryd tot stand gebring kan word nie.
Maar waarom bly al hierdie pogings om ons wêreld 'n beter plek vir almal te maak 'n onsuksesvolle en desperate stryd?
Omdat hulle wat nie in God glo nie, probeer om die probleme van 'n deur-God-vervloekte wêreld, sonder God op te los! U moet onthou dat God hierdie aarde vervloek het na die sondeval (Genesis 3:17-19). Hy het tot op dag en datum nie daardie vloek opgehef nie!
Vanaf die sondeval wil mense soos God wees. Hulle wil hulle eie koninkryk bou. Hulle wil oor hulle eie lewens regeer. Dit was so in Adam se tyd. Dit was so in Noag se tyd. Dit was so in Petrus se tyd. Dit is ook so in ons tyd.
Hulle is slegs op hulleself aangewese. Hulle verwag nie die wederkoms van Jesus Christus nie; hulle besef nie dat die hemel en aarde bestem is vir die vuur nie; hulle leef nie in die verwagting dat die dag van God kom waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word nie; hulle verstaan nie dat God hierdie dag uitstel, omdat Hy geduldig met ons is, en nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie, maar dat almal hulle moet bekeer; hulle leef nie in die verwagting van God se nuwe hemel en aarde, waar sy wil sal heers nie (2 Petrus 3).
Hulle is oningeligte en onstandvastige mense wat aan hierdie beloftes van God 'n verkeerde uitleg gee. Hulle benader ons wêreld ook met hierdie gesindheid en daarom sal hulle lewens 'n ewige stryd wees. 'n Stryd tot hulle eie ondergang.

Wat moet ons wat in God glo dan doen?
Die Skeppingsopdrag wat God aan die mens gegee het staan nog. Ons moet steeds hierdie aarde bewoon, bewerk, bewaar en beheers (betuur). Maar ons moet dit doen as God se verteenwoordigers en ooreenkomstig sy wet (Genesis 1:26-28; 2:15; Eksodus 20:1-17).
Petrus probeer om almal wat dieselfde kosbare geloof as hy ontvang het, weer helder te laat dink (2 Petrus 3). Hy wil ons, wat in Jesus Christus as God en Verlosser glo, aan sy beloftes herinner. Hy doen dit om ons op ons hoede te stel, sodat ons nie meegesleur word deur die dwaling van beginsellose mense nie, en dat ons nie so van ons eie standvastigheid beroof word nie.
Daarom moet ons aanvaar dat 'n Nuwe Wêreldorde waarin daar vrede, geregtigheid en vryheid sal heers, nie kan slaag nie; verwag die wederkoms van Jesus Christus; besef dat die hemel en aarde bestem is vir die vuur; verwag die dag van God waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word; verwag God se nuwe hemel en aarde, waar sy wil sal heers; terwyl ons hierdie dinge verwag, moet ons ons daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom te lewe; neem toe in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus (2 Petrus 3:18); beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word (2 Petrus 3:13-15).

2.8.1.f Ken die Christen se verantwoordelikheid ten opsigte van sy volk se kultuur.

Kultuur is 'n moet-opdrag van God. Een volk se kultuur is nie beter as die van 'n ander nie. Elke volk het egter die verantwoordelikheid om die gevolge van sonde in sy eie kultuur te soek en reg te maak deur dit in lyn te bring met die Wet van God en met die skeppingsopdrag.
Kom ons toets ons kultuurskeppinge aan die volgende vrae (Eksodus 20:1-17): Is enigiets of -iemand vir jou belangriker as jou Skepper? Vereer of dien jy enigiets of -iemand anders meer getrou as jou Skepper? Misbruik jy die Naam van jou Skepper? Doen jy al jou werk getrou tot eer van God? Sonder jy God se dag vir jouself en hulle saam met jou, as 'n gereelde rusdag af? Eer jy jou ouers? Het jy respek vir jou eie en ander se lewens? Het jy respek vir jou eie en ander se huwelike? Het jy respek vir jou eie en ander se eiendom? Bevorder jy die waarheid? Gun jy ander ook wat jy jouself gun?
Om dan as verteenwoordigers van God ons taak in 'n veranderende wêreld enigsins te kan nakom, is dit noodsaaklik dat ons onsself volledig aan God sal oorgee omdat ons Hom met ons lewens vertrou.

2.8.1.g Verstaan wat kritiek behoort te wees.

Kritiek is die mondelinge of skriftelike beoordeling van 'n persoon of saak. 'n Deel van ons Godgegewe taak is om (onsself en) ons medemens te help om (onsself) homself en (ons) sy omstandighede te verbeter (kultuurtaak). Hiervoor is gesonde, opbouende kritiek noodsaaklik.
Ons kan nie die Skepping van God kritiseer nie. Ons kan egter wel die kultuur van die mens kritiseer. Om hierdie maaksels van mense konstruktief te kan kritiseer, het ek 'n maatstaf nodig. God gee vir ons 'n maatstaf waarmee ons ons kultuur kan meet, naamlik die Tien Gebooie (Eksodus 20:1-17).

2.8.1.h Verstaan wat opvoeding behoort te wees.

Die mens moet opgevoed word om die opdrag van God in gehoorsame verantwoordelikheid te kan uitvoer! Opvoeding is die doelgerigte begeleiding van die volwasse wordende tot volwassenheid, deur die meer volwassene. Dit is daarop gemik om die mens se regte verhoudings tot God, homself, sy naaste en die natuur te wek, te versterk en te suiwer.
As jy dus iemand wil opvoed, moet jy hom help om sy Skepper te ken, om homself, sy naaste en leefwêreld te sien soos sy Skepper dit sien, die skeppingsopdrag te verstaan, en om die Wet van God as maatstaf en riglyn te kan gebruik in die uitvoering van sy kultuurtaak.

2.8.1.i Verstaan wat 'n leefwêreldbeskouing is.

My leefwêreldbeskouing is soos 'n bril waardeur ek na mense en dinge rondom my kyk - wanneer en waar ek met my skeppingsopdrag (kultuurtaak) besig is.
'n Mens het 'n realistiese leefwêreldbeskouing na die mate waarin jy die Bybelse siening oor die verskillende fasette van jou leefwêreld invoeg in jou eie prentjie van jou leefwêreld.
'n Mens het 'n onrealistiese leefwêreldbeskouing na die mate waarin jy 'n gebrek aan Bybelse kennis het oor die verskillende fasette en elemente van jou leefwêreld, en tot die mate waarin jy die kennis wat jy wel het, nie invoeg in jou prentjie van jou leefwêreld nie.
Daar bestaan twee bronne van leefwêreld-kennis: Die Bybel en interaksie. In die Bybel praat die Skepper oor sy skepping. So leer ken ons ons leefwêreld wanneer ons die Bybel doelgerig en sistematies bestudeer.
Wanneer 'n mens met die dinge en mense rondom jou in interaksie verkeer, leer ken jy deur ervaring, die eienskappe van die dinge en mense. So leer ken 'n mens jou leefwêreld deur middel van interaksie. Hierdie kennis bly egter onvolledig, tensy ons God se kennis en perspektief op sake daarby invoeg tot 'n logiese geheel.
Omdat ons ons Godgegewe skeppingsopdrag/kultuurtaak in die leefwêreld moet gaan uitvoer, wil God hê dat ons hierdie wêreld moet sien soos Hy dit sien. Ons moet deur God se bril na hierdie wêreld kyk!
In die Bybel vind ek die Lig van God op ons wêreld (Johannes 1:1-9). Ons beskouing omtrent alles wat bestaan en 'n deel uitmaak van die wêreld waarin ons leef, moet bepaal word deur dit wat God vir ons daaromtrent laat opskryf het in die Bybel. Antwoorde op ons vrae (soos waar kom alles vandaan?; waar kom ek vandaan?; wat maak ek hier?; waarheen is ek op pad?) het God vir ons laat opteken in die Bybel.
Dit is dus duidelik dat 'n Bybelse en realistiese leefwêreldbeskouing voortvloei uit sistematiese en doelgerigte Bybelstudie.

2.8.2 Gesindheidsdoelwit:

2.8.2.a Besit 'n openheid vir ander mense se sienings van die werklikheid.

Mense wat in verhoudings met mekaar betrokke raak, verskil van mekaar. Mans, vrouens, etniese groepe, kinders uit dieselfde huis. Ons vind tussen mense kultuurverskille, politieke verskille, godsdiensverskille, verskille ten opsigte van opvoeding, ontwikkelingsfases, persoonlikheid, en ten opsigte van hul onderskeie sienings van die werklikheid.
Die twee voorwaardes vir die bestaan van enige suksesvolle verhouding is openheid en aanvaarding. Openheid oor jou selfbeskouing, leefwêreld beskouing en oor jou siening van die ander. Aanvaarding van die ander met sy verskille.
Voordat die een party in 'n verhouding dit kan waag om op 'n oop en eerlike wyse die ander negatief te kritiseer, moet hy op 'n ewe oop en eerlike wyse positiewe kritiek en aanvaarding aan die ander kommunikeer. Kritiek binne 'n verhouding waarin die twee partye nie mekaar se wedersydse aanvaarding beleef nie, is afbrekend van aard en vernietig die verhouding. Openheid ná die kommunikering van aanvaarding, lei tot meer openheid en aanvaarding.
Bid vir 'n gesindheid van liefde vir hulle met wie jy verhoudings deel. Vra dat die Heilige Gees jou sal lei om aan jou verhoudingsgenote te kommunikeer dat jy hulle as uniek geskape individue aanvaar en om op 'n oop, eerlike en opbouende wyse hul sonde uit te wys asook wat God se wil vir hul lewens is.

2.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

2.8.3.a Leer ken die realiteite wat hulle afspeel op die ekonomiese, politieke, veiligheids- en sosiale terrein in jou land.

Jy kan, aan die hand van die volgende vrae, die realiteite wat hulle op die ekonomiese, politieke, veiligheids- en sosiale terrein in jou samelewing afspeel leer ken: Wat gebeur? Waarom gebeur dit? Wie trek voordeel daaruit? Wat wil God hê moet ek doen?
Probeer om objektiewe en eerstehandse inligting te verkry deur verskillende koerante, tydskrifte en kundiges te raadpleeg. Bespreek jou siening omtrent die realiteite op die genoemde lewensterreine, met jou mede Christene.
Beoordeel hierdie realiteite aan die hand van die vrae in 2.8.1.f. Soek in die Skrif (teen die agtergrond van dit wat met jou bespreek is in doelwit 2.8.1.a-i) na dit wat God wil hê jy onder omstandighede moet doen.

2.8.3.b Leer ken die sienings van jou vriende omtrent die realiteite op die ekonomiese, politieke, veiligheids- en sosiale terreine in julle land.

Gesels spesiaal met jou vriende wat ander sienings as jy het omtrent die realiteite in julle samelewing. Die doel van sulke gesprekke moet nie wees om te argumenteer nie, maar om kennis te neem van ander se opinies en maniere van dink.

2.8.3.c Neem jou direkte omgewing waar met al jou sintuie.

Gaan saam met jou Christenvriende op een of meer staptoere en uitstappies waar julle saam in die natuur kan wees en die skoonheid van God se skepping met mekaar kan deel. Leer om weer te luister, te voel, te proe, te sien, te ruik en so die "vingerafdrukke" van die Skepper, wat sy skepping onderhou, waar te neem.

No comments:

Post a Comment