Friday 29 July 2011

GGP Deel 3

Geestelike Groeiprogram vir Dissipels en Dissipelmakers

DEEL 3 (Groeifase 3: 'Kinder Fase')

Dr. J. M. B. Eloff

Tweede Uitgawe 1994
Kopiereg 1994: Dr Johann Eloff
Posbus 71, Mansfield, QLD, 4122, Brisbane, Australie
Ó Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie mag in enige vorm gedupliseer word sonder die toestemming van die uitgewer nie.
Gedruk in Suid-Afrika.


Instituut
vir
Persoonlike Dissipelmaking
en
Geestelike Groeibegeleiding

Posbus 71, Mansfield, QLD, 4122
Brisbane, Australie


Geestelike Groeiprogram.

Kopiereg 1994:


Instituut
vir
Persoonlike Dissipelmaking
en
Geestelike Groeibegeleiding.

Ó Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie mag in enige vorm gedupliseer word sonder die toestemming van die uitgewer nie.


Tweede Druk, 1994.


Gedruk in Suid-Afrika.


INHOUD


3. GROEIFASE 3 (KIND) 1

3.1 GROEIAREA: WOORD 2

3.1.1 Kennisdoelwitte: 4
3.1.2 Gesindheidsdoelwitte: 11
3.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 12

3.2 GROEIAREA: GEBED 15
3.2.1 Kennisdoelwitte: 16
3.2.2 Gesindheidsdoelwitte: 20
3.2.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 21

3.3 GROEIAREA: PERSOONLIKE GROEI 25
3.3.1 Kennisdoelwitte: 27
3.3.2 Gesindheidsdoelwitte: 41
3.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 42

3.4 GROEIAREA: GESIN 47
3.4.1 Kennisdoelwitte: 49
3.4.2 Gesindheidsdoelwitte: 55
3.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 58

3.5 GROEIAREA: GEMEENSKAP 62
3.5.1 Kennisdoelwitte: 63
3.5.2 Gesindheidsdoelwitte: 74
3.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 75

3.6 GROEIAREA: GETUIENIS 79
3.6.1 Kennisdoelwitte: 80
3.6.2 Gesindheidsdoelwitte: 84
3.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 85

3.7 GROEIAREA: BEDIENING 87
3.7.1 Kennisdoelwitte: 88
3.7.2 Gesindheidsdoelwitte: 92
3.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 93

3.8 GROEIAREA: LEEFWêRELD: 95
3.8.1 Kennisdoelwitte: 96
3.8.2 Gesindheidsdoelwitte: 106
3.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 107


3. GROEIFASE 3 (KIND)

VOORWOORD

"Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge..." (1 Korintiërs 14:20)

Die geestelike kind gaan nou “skool toe”. Meer word van hom verwag en daar word ’n sterker hand oor hom gehou. Dissipline en verantwoording word aan hom bekend gestel. Hy het iemand nodig om baie aandag aan hom te gee, om hom met omtrent elke tree op die pad te help en ’n voorbeeld vir hom te wees. Hy het ’n behoefte aan sterk leiding en aan beginselvastheid van hulle wat aan hom leiding gee.

Die geestelike kind beleef amper onvermydelik as nuwe Christen ’n tyd waarin hy ’n afplatting in sy motivering ervaar. Hy verloor van die aanvanklike vuur. Daarom is die dissipelmaker in hierdie tyd sy primêre motiveerder.

In hierdie fase moet die dissipelmaker ’n bietjie minder soos 'n ma en meer soos 'n onderwyser begin optree. Soos 'n onderwyser moet hy nou die boodskap tuisbring dat daar sekere verwagte gedrag en sekere onaanvaarbare gedrag bestaan. Hy moet dus ’n atmosfeer van verantwoordelikheid aan die dissipel bekend stel.

3.1 GROEIAREA: WOORD

INHOUD

3.1.1 Kennisdoelwitte:
a. Weet wat God doen.
b. Weet dat Bybelstudie belangrik is vir ons geestelike groei.
c. Weet dat die Heilige Gees ons help om te verstaan wat God vir ons in die Bybel wil sê.
d. Weet dat elke Bybelboek in 'n bepaalde konteks geskryf is.
e. Weet waarom sommige die Bybel lees sonder om die boodskap daarvan reg te verstaan.
f. Neem kennis van verskillende tipes Bybelstudie.
g. Weet watter Bybelstudie hulpmiddels tydens sistematiese Bybelstudie gebruik kan word.
h. Weet hoe om sistematies Bybelstudie tydens stiltetyd te doen.
i. Ken die volgorde van die boeke in die Bybel.

3.1.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Aanvaar dat die Woord van God waar, absoluut, gesagvol, foutloos, onfeilbaar en geïnspireer is deur die Heilige Gees en deur die eeue heen onveranderd gebly het (ondanks verskillende vertalings).
b. Begeer dat die Heilige Gees, God se Woord vir jou
verstaanbaar sal maak.

3.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Doen sistematiese Bybelstudie tydens stiltetyd.
b. Luister na geestelike musiek en boodskappe op band, lees geestelike boeke en kyk waar moontlik na geestelike videos.
c. Dink weekliks goed na oor wat God vir jou doen, hoe jy Hom ervaar en oor die waarde van jou Bybelstudie.
d. Memoriseer 1 tot 2 belangrike Bybelverse per week.
e. Pas dit wat jy uit die Skrif leer in jou alledaagse lewe toe.


3.1.1 Kennisdoelwitte:

3.1.1.a Weet wat God doen.

Leer wat God doen, aan die hand van die volgende:

God is die Skepper van die heelal en van die mens (Genesis 1:1; 1 Petrus 4:19). God onderhou en bewaar sy skepping (Psalm 55:23; 121:1-3,7-8; 1 Petrus 5:7). God verwag gehoorsaamheid (Genesis 2:16-17; 3:17; Romeine 5:19). Hy maak versoening moontlik (Romeine 5:10; 2 Korintiërs 5:17-19). God eis ons liefde en diens (Eksodus 20:6; Matteus 20:26-28). God die Vader verhoor die gebede van Jesus Christus (Matteus 10:32; 11:25). Hy verhoor ook die gebede van gelowiges (Matteus 6:9-14; Johannes 16:23-26). Hy het die volgelinge van Jesus Christus lief (Johannes 3:35; 1 Johannes 3:1). Hy stuur sy Seun Jesus Christus om ons van ons sondes en die gevolge daarvan te verlos (Johannes 3:16). Die werk van Christus: (Matteus 5:17; Lukas 19:10; Johannes 6:38; 10:10,28,37,38; Romeine 5:8; Hebreërs 2:14-18; Jakobus 5:7,8; 1 Johannes 3:8).
Die werk van die Heilige Gees in die wêreld (Genesis 1:2; 2 Kronieke 36:22,23; Job 33:4; Jesaja 32:15; Johannes 16:8-15). Die werk van die Heilige Gees in Christus se bediening: (Matteus 3:16; 12:28; Lukas 1:35; 4:1,17; Romeine 1:4; 1 Timoteus 3:16; Hebreërs 9:14). Die werk van die Heilige Gees in die Bybel: (Handelinge 1:16; 28:25; Efesiërs 6:17; 2 Timoteus 3:16). Die werk van die Heilige Gees tussen gelowiges: (Miga 3:8; Lukas 11:13; Johannes 3:3,5,6; 14:16-26; 16:13,14; Handelinge 1:8; 2:17-41; Romeine 8:9-11,16; 14:17; 15:16; 1 Korintiërs 2:10-16; 12:3-11; Galasiërs 4:6; 5:22,23; 2 Tessalonisense 2:13; Hebreërs 10:15; 1 Johannes 2:20,27; 4:1-6). Die werk van die Heilige Gees in die kerk: (Handelinge 2:4; 8:29; 9:31; 13:2,4; 20:17,18; Romeine 15:16; 1 Korintiërs 12:9,13). Die werk van die Heilige Gees as Leermeester: (Jesaja 40:13,14; 1 Korintiërs 2:10,12,13; Efesiërs 1:16,17).

3.1.1.b Weet dat Bybelstudie belangrik is vir ons geestelike groei.

In Johannes 14:23 sê Jesus dat ons sy Woord sal bewaar as ons Hom liefhet. In vers 24 sê Hy dat sy Woord die Woord is van die Vader wat Hom gestuur het. Hoe kan ons die Woord van God bewaar as ons Hom nie ken nie? En hoe kan ons die Woord ken as ons Hom nie bestudeer nie? Omdat God met jou deur middel van die Bybel praat, is Bybelstudie baie belangrik vir jou geestelike groei (sien ook doelwit 2.1.1.j).
Bybelstudie help ons om God te leer ken (Matteus 11:25-27;), om ons sonde te ontdek (Spreuke 24:9; Romeine 14:23; Jakobus 4:17; 1 Johannes 3:4; 5:17), die gevolge van ons sonde te leer ken (Johannes 8:34; 9:41; Romeine 6:23 2 Korintiërs 4:3,4; 1 Timoteus 3:1-7), om van die smet van ons sonde skoongewas te word (Hebreërs 1:3; 1 Johannes 1:7,9; Openb.1:5), om sonde te oorwin (Psalm 39:1; 119:11; Romeine 8:1-14; 1 Timoteus 5:22; 1 Johannes 1:8,9; 2:1; 1 Petrus 4:8), om ons te versterk (Prediker 7:19; Jesaja 40:31; 41:10; Lukas 22:32; 2 Korintiërs 12:9; Efesiërs 3:16; 2 Timoteus 4:17), om ons lewens te rig (Psalm 119:9,11,105,133, Titus 2:5), om vrugbare lewens te lei (Spreuke 11:30; Galasiers 5:22,23), om reg te bid (Exodus 34:8; 1 Kronieke 17:16-27; Psalm 66:18,19; Spreuke 21:13; 28:9; Daniël 4:34,35; Esra 9:5; Nehemia 9:5; Matteus 6:5,6,7,14; 7:7-11; 18:19,20; 21:22; Markus 11:24; Lukas 11:5-8; 18:1-8,10-14; Johannes 14:13; Filipense 4:6; 1 Tessalonisense 5:17; 1 Timoteus 2:1-3,8; 1 Johannes 1:9; 5:14; Jakobus 1:5-7; 4:3; 5:15).

3.1.1.c Weet dat die Heilige Gees ons help om te verstaan wat God vir ons in die Bybel wil sê.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes (Johannes 12:48; 14:15-26; 15:26-27; 16:1-15; 17:17; 1 Korintiërs 2:1-15). Bestudeer dan Johannes 14:26; 15:26; 16:13; 17:17; Hebreërs 4:12; 1 Petrus 1:23; 2:2; Efesiërs 6:17.

3.1.1.d Weet dat elke Bybelboek in 'n bepaalde konteks geskryf is.

Omdat 30-40 persone betrokke was by die skryf van die Bybel oor 'n tydperk van omtrent 1500 jaar, en omdat die laaste skrywer omtrent 1900 jaar gelede reeds gesterf het, bestaan daar 'n definitiewe probleem ten opsigte van die verstaan van sekere gedeeltes van die Bybel. Daar bestaan 'n gaping tussen die manier waarop ons vandag dink en die woorde wat ons gebruik aan die een kant, en die manier van dink en die woorde wat die Bybelskrywers lank gelede gebruik het. Daar is taalgapings, kultuurgapings, geografiese gapings, geskiedkundige gapings tussen ons en hulle. Daarom is daar 'n behoefte aan Bybelinterpretasie.
Hoe meer jy uit die Bybel lees, hoe meer sal jy verstaan dat God daarin sy weg tot ons verlossing as mense bekend maak van begin tot einde. Moeilike gedeeltes moet daarom teen die agtergrond van hierdie oorkoepelende doel van die Bybel verstaan word.
Die Bybel moet verder verstaan word teen die agtergrond van die geskiedkundige omstandighede en gebeure wat afgespeel het tydens die skrywe van bepaalde Skrifgedeeltes (byvoorbeeld die feit dat die hele Palestina in die Nuwe Testamentiese tyd regeer en onderdruk is deur die Romeinse Ryk). Die persoonlike omstandighede van Bybelskrywers moet ook in ag geneem word (vergelyk Openbaring 1:9-10; Filipense 1:3-26).
Ook die kultuur en gewoontes van die land in die tyd waarin bepaalde Skrifgedeeltes geskryf is, moet in ag geneem word (vergelyk die boek Rut teen die agtergrond van Levitikus 25; Deutronomium 25).
Elke Bybelboek het 'n eie doel en plan. Die Heilige Gees het 'n bepaalde boodskap aan die mens met elke Bybelboek in gedagte gehad. Daarom moet elke vers teen die agtergrond van die verse wat dit onmiddellik voorafgaan en wat onmiddellik daarop volg, verstaan word.
Skrifgedeeltes moet volgens die korrekte betekenis van die betrokke woorde verstaan word. Dit is belangrik om te verstaan wat die woord in daardie tyd waarin dit neergeskryf is beteken het.
Skrifgedeeltes moet ook verstaan word teen die agtergrond van ander Skrifgedeeltes wat oor dieselfde saak of gebeurtenis handel (vergelyk Matteus 4:18-22; Markus 1:16-20; Lukas 5:1-11).

3.1.1.e Weet waarom sommige die Bybel lees sonder om die boodskap daarvan reg te verstaan.

Sommige mense lees die Bybel sonder om die boodskap daarvan reg te verstaan, soos in die geval van die Ethiopiër (Handelinge 8:30-31). Dit gebeur dikwels omdat niemand nog die Evangelie kort en bondig vir hulle verduidelik het nie! Daarom is dit belangrik dat diegene wat die Evangelie wel verstaan, dit aan ander moet verduidelik (Romeine 10:14). Om die Evangelie kort en bondig te kan verduidelik, sien doelwit 1.1.1.c.
Soms weet hulle nie dat die Heilige Gees hulle graag wil help om te verstaan wat God vir hulle wil sê nie! In Johannes 1 sien ons dat Jesus Christus die Woord van God is. In Johannes 14 lees ons dat Jesus (die Woord) na die Vader terug gegaan het om vir sy kinders plek in die huis van die Vader voor te berei (Johannes 14:1,2). Hy het belowe om ons nie alleen agter te laat nie. Hy het tot die Vader gebid om vir ons die Gees van die Waarheid (die Heilige Gees) te stuur (Johannes 14:16). Die Heilige Gees bly by ons en in ons (Romeine 8:9; 1 Korintiërs 12:3). Hy leer ons alles en herinner ons aan alles wat Jesus (die Woord) aan ons bekend gemaak het (Johannes 14:26).
Sommige mense weerstaan die Heilige Gees (Handelinge 7:51). Ander gaan soek regverdiging vir hul eie standpunte in die Bybel. Die Bybel dra nie noodwendig jou gedagtes en standpunte nie. Dit is die draer van God se onfeilbare Woord. God het daarin laat opskryf alles wat Hy wil hê jy van Hom, sy beloftes, sy wet, sy opdragte, sy skepping ensovoort moet weet. Maak dus seker dat jy nie jou eie gedagtes in die Bybel soek nie - soek die Woord van God in die Bybel.
Mense lees dikwels nie die teksvers of Skrifgedeelte binne konteks nie. Hulle lees nie die teksvers binne verband met die boodskap van die res van die Bybel, of teen die agtergrond waarbinne die betrokke vers of Skrifgedeelte geskryf is nie. So byvoorbeeld, het 'n sekere man die Bybel op 'n plek oopgemaak om 'n boodskap te kry. Hy lees toe die eerste vers wat hy sien: "En Judas het homself gaan ophang" (Matteus 27:5). Hy was effens verbaas en besluit om maar iets anders te soek. Die Bybel val toe oop en hy lees die volgende vers: "Toe sê Jesus vir hom: 'Gaan maak jy ook so.'" (Lukas 10:37). Nee, dink hy, dit kan nie wees nie en probeer nog 'n derde keer. Hy maak by Johannes oop en lees: "Wat jy moet doen, moet jy baie gou doen doen!" (Johannes 13:27).

3.1.1.f Neem kennis van verskillende tipes Bybelstudie.

Persoonlike Bybelstudie: Dit behels Bybelstudie tydens jou stiltetyd. Tydens hierdie Bybelstudie lees en bestudeer jy die Woord van God, sodat jy Hom beter kan leer ken, sowel as sy wil, reëls en beloftes. Hier kan gefokus word op die bestudering van Bybelboeke, -hoofstukke, -paragrawe, -verse, -woorde, -temas, -begrippe, -figure.
Gesinsbybelstudie: Op 'n geskikte tyd wanneer al die lede van die gesin tuis is, lei die vader of moeder die gesin in Skriflesing en aanbidding, terwyl die hele gesin deel neem.
Groepsbybelstudie: 'n Groep mense kom gereeld bymekaar met die primêre doel om saam Bybelstudie te doen en God te aanbid.
Dit kan goed wees om van verskillende Bybelstudie metodes gebruik te maak. 'n Paar metodes word later verduidelik (sien doelwit 3.1.1.h; 4.1.1.b). Hierdie onderskeie metodes behoort mekaar aan te vul. Dit kan van tyd tot tyd afgewissel word sodat God nuwe perspektiewe in Sy woord kan belig.

3.1.1.g Weet watter Bybelstudie hulpmiddels tydens sistematiese Bybelstudie gebruik kan word.

Verskillende Bybels: Die diepe betekenis van die Skrifgedeeltes wat gelees word, kan ontdek word met die gebruik van verskillende uitgawes of Bybelvertalings. Verskillende vertalings kan vergelyk word vir onder andere meer begrip en duidelikheid, om verskillende betekenisnuanses te beklemtoon en vir duidelikheid van werkwoordtye. Dit help om probleemverse (byvoorbeeld 1 Korintiërs 2:13) op te spoor, wat gewoonlik duidelik word deur die verskil in vertaling daarvan. Wanneer so 'n vers opgespoor word, moet 'n kommentaar geraadpleeg word. Deur die kruisverwysings van sommige vertalings na te gaan, help om te sien waar in die Bybel soortgelyke idees gebruik word.
Bybelkonkordansie: Dit is handig vir veel meer as net 'n versindeks. 'n Analitiese konkordansie gee die Griekse en Hebreeuse ekwivalente vir Afrikaanse of Engelse woorde. Dit help jou verse opspoor en versamel vir 'n temastudie. Dit kan die betekenis van 'n moeilike woord help opklaar en die betekenis van 'n ou bekende woord se betekenisveld verryk. Dit wys hoe 'n woord elders gebruik word en help om te onderskei tussen woorde waarvan die betekenis byna die selfde is.
Bybelse woordeboek: Dit bied 'n inleiding op elke boek van die Bybel, biografiese sketse van sekere Bybelkarakters, 'n opsomming van bepaalde leerstellings, geografiese, geologiese en politiese data, kaarte en modelle, argeologiese feite, diagramme van antieke stede, bibliografieë.
Inleidings: 'n Inleiding op die Ou en Nuwe Testament kan inligting verskaf wat nie in 'n Bybelse woordeboek te kry is nie.
Kommentare op Bybelboeke: 'n Bybelse kommentaar behoort gebruik te word om oplossings te soek vir onopgeloste teksprobleme, om jou eie studie resultate na te gaan en om jou eie Bybelstudie te verryk met verklarings en insigte. Dit mag nie die plek in neem van jou eie waarneming en interpretasie nie.
Die volgende Bybelstudie hulpmiddels word sterk aanbeveel: "The Open Bible"; "Life Application Bible"; "Die Bybel in Praktyk"; 'n Boek oor die kultuur-historiese agtergrond van die Bybel; 'n Bybelse kommentaar oor die Bybelboek wat bestudeer word; Verklarende Bybel.
Hierdie boeke is by die meeste Christelike boekwinkels beskikbaar. Die "Open Bible" het 'n inleiding op elke Bybelboek, 'n ensiklopediese indeks, 'n konkordansie, inligting omtrent argeologiese opgrawings, kultuur-historiese agtergrond van elke Bybelboek, 'n samevatting van die inhoud van elke Bybelboek, en ander bruikbare informasie alles in een boek vervat. Daarom kan dit sterk aanbeveel word.

3.1.1.h Weet hoe om sistematies Bybelstudie tydens stiltetyd te doen.

Die groot lekkerte van Bybelstudie is daarin geleë dat jy ewige waarhede ten opsigte van God se Woord ontdek. Dit is 'n avontuur om dit wat jy van God leer in jou eie lewe toe te pas en Sy teenwoordigheid in die van-dag-tot-dag-lewe te ervaar. Onthou, die doelwit van Bybelstudie is nie net om die Boek van God te leer ken nie, maar die God van die Boek! Om geestelik te kan groei is dit belangrik dat jy die Bybel sistematies en planmatig begin bestudeer. Met die bogenoemde in gedagte, kan die volgende Bybelstudie metode met vrug gebruik word (sien ook doelwit 2.3.1.c):

Bybelstudie tydens stiltetyd:
Ontspan liggaamlik. Laat jou arms en hande in jou skoot lê. Ontspan hulle doelbewus sodat dit voel asof dit swaarder word. Konsentreer daarop totdat jy die swaarheid in jou ledemate begin voel. Hou jou aandag vir 'n paar minute op hierdie oefening. Enige daling in jou liggaamlike spanningsvlak help om jou gees vir stilte voor te berei.
Ontspan psigies. Laat nou ook die spanningsvlak in jou innerlike daal. Vra jouself of daar enigiets is wat jou pla. Wag vir hierdie dinge om in jou gedagtes op te kom. Vertrou al hierdie dinge aan die Here toe. Glo dat dit Hy is wat dit van jou wegneem. Laat jou hart daarin rus dat jy weet Hy sorg vir jou. Bly hierin totdat jy ervaar dat jou hart "lig" word. Gaan maar aan met jou stiltetyd as hierdie dinge bly vassteek, maar maak 'n afspraak met iemand wat jy vertrou en praat hierdie dinge uit.
Begin jou Bybelstudie met gebed (Psalm 119:18; Johannes 16:13-15). Maak jou oë toe en praat met die Here. Vra dat Hy jou nou sal seën deur sy Woord en dat Hy in jou hart sal werk. Vra Hom om tot jou verstand, hart en lewe te praat deur die Bybel, en om jou te help om Hom te verstaan en te gehoorsaam.
Lees stadig biddend en met aandag deur 'n hoofstuk of meer of selfs net deur 'n paragraaf per geleentheid (indien jy 'n Bybelboek sistematies deurwerk). Herlees die gedeelte.
Vra jouself wat hierdie gedeelte beteken. Die volgende vrae mag help om die ware betekenis van die gedeelte te ontdek (Let wel: nie al die vrae sal vanuit elke gedeelte beantwoord kan word nie. Die vrae sal jou help om die Woord van God te bestudeer en nie die boek nie):
Wat is die hoofsaak van die gedeelte? Wie is aan die woord? Oor/met wie word gepraat? Wat is die sleutel teks in die gedeelte? Wat leer hierdie gedeelte my oor Jesus Christus? Lê die gedeelte 'n bepaalde sonde bloot wat bely en versaak moet word? Bevat die gedeelte enige opdrag om te gehoorsaam?
Bevat die gedeelte enige belofte wat op my van toepassing is? Bevat die gedeelte enige instruksie vir my om na te volg?
Kies een vers waarin die Here jou aanspreek of waarvan jy die meeste hou. Hou 'n geestelike dagboek. Skryf hierin neer wat God deur die Bybel aan jou kommunikeer.
Memoriseer gedeeltes van die Woord van God (Psalm 119:11), byvoorbeeld die vers waardeur die Here jou aangespreek het.
Bedink die Woord van God. Bid en vra die Here om die vers wat jy gekies het aan jou duidelik te maak.
Gehoorsaam die Woord van God (2 Timoteus 3:16; Jakobus 1:22). Dink na hoe jy die waarheid van die vers waardeur die Here jou aanspreek, toepas in jou eie lewe.
Stel 'n voorbiddingslys op in jou dagboek. Bid oor die dinge wat op jou hart is, oor dit wat God jou geleer het, en doen voorbidding vir die persone en sake op jou voorbiddingslys.

3.1.1.i Ken die volgorde van die boeke in die Bybel:

Daar is ses en sestig boeke in die Bybel. As jy die Bybel dus gemaklik wil gebruik, moet jy weet waar elke boek in die Bybel gevind word. Doen dus moeite om die volgorde van die boeke in die Bybel te leer. Dit is beskikbaar in die inhoudsopgawe. Kyk nou of jy die Skrifgedeeltes in doelwit 3.1.3.a sonder hulp van die inhoudsopgawe kan opsoek.

3.1.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.1.2.a Aanvaar dat die Woord van God waar, absoluut, gesagvol, foutloos, onfeilbaar en geïnspireer is deur die Heilige Gees en deur die eeue heen onveranderd gebly het (ondanks verskillende vertalings):

Die Woord van God is waar, absoluut, gesagvol, foutloos, onfeilbaar en geïnspireer deur die Heilige Gees en het deur die eeue heen onveranderd gebly. Die aanvaarding van hierdie feit sal slegs in jou groei na die mate waarin jy aktief tot sistematiese Bybelstudie oorgaan, en dit wat jy daaruit leer in die alledaagse lewe toepas.

3.1.2.b Begeer dat die Heilige Gees God se Woord vir jou verstaanbaar sal maak:

Raak gereeld voor 'n Bybelstudie sessie voor God stil, en bely jou sondes met berou, sodat die Heilige Gees die Woord aan jou duidelik kan maak. Lees 1 Korintiërs 2:10-15 deur.

3.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.1.3.a Doen sistematiese Bybelstudie tydens stiltetyd:

Doen persoonlike Bybelstudie oor die Bybelse begrip "Woord van God", aan die hand van die meegaande Skrifgedeeltes: Die Woord word ook genoem (Nehemia 8:3; Psalm 1:2; Johannes 5:39; Romeine 1:2; Hebreërs 4:12; Jakobus 1:21-23; Filipense 2:16; Openbaring 22:19).
Beskrywend van die Woord (Markus 7:13; Lukas 5:1; Handelinge 4:31; Romeine 9:6; Kolossense 1:25-27). Die Woord word ook beskrywe as (Psalm 19:7,8,11; 111:7,8; 119:142,151,160; Jesaja 40:8; 55:11; Handelinge 15:15; Efesiërs 5:26; Hebreërs 4:12; 2 Petrus 1:21).
Die Woord word vergelyk met (Psalm 119:105; Jeremia 5:14; 23:29; Matteus 13:18-23; Efesiërs 6:17).
Die Woord is 'n agent vir (Psalm 107:20; 119:130; Jeremia 15:16; Johannes 8:32; 20:31; Romeine 10;17; 2 Timoteus 3:15-17; 4:2; Hebreërs 11:3; Jakobus 1:18; 2 Petrus 3:5-7).
Regte houding teenoor die Woord (Psalm 119:161; Jesaja 66:2,5; Jeremia 23:28; Handelinge 4:29,31; 8:25; 11:1; 13:48; 17:11; 18:11; 2 Timoteus 2:15; Jakobus 1:22,23; 1 Petrus 3:1; Openbaring 1:9).
Die Woord is in die gelowige se lewe 'n (Psalm 119:9,11,47,97,133,162; Titus 2:5; 1 Petrus 1:23; 2:2). Hoe om die Woord nie te gebruik nie (1 Korintiërs 2:4,13; 2 Korintiërs 4:2; Openbaring 22:18,19).

3.1.3.b Luister na geestelike musiek en boodskappe op band, lees Christelike boeke en kyk waar moontlik na geestelike videos:

Maak 'n opname van geestelike bande, boeke en videos wat in besit van jou Christenvriende is, en bestudeer 'n seleksie daarvan. Deel dit wat hierdie bande, video's en boeke vir jou beteken het, met van jou Christenvriende.

3.1.3.c Dink weekliks goed na oor wat God vir jou doen, hoe jy Hom ervaar en oor die waarde van jou
Bybelstudie:

Dink weekliks vir omtrent 10 minute tydens jou stiltetyd goed na oor wat God vir jou doen, hoe jy Hom ervaar in jou daaglikse lewe en oor die waarde wat Bybelstudie vir jou het. Deel jou ervaring met 'n Christenvriend.

3.1.3.d Memoriseer een tot twee belangrike Bybelverse per week:

Memoriseer weekliks 'n paar belangrike Bybelverse wat die Heilige Gees tydens Bybelstudie onder jou aandag bring. Deel hierdie verse met 'n Christenvriend. Doen moeite om hierdie verse op 'n subtiele wyse in jou gesprekke te gebruik en te herhaal.

3.1.3.e Pas dit wat jy uit die Skrif leer in jou alledaagse lewe toe:

Dink baie goed na of jy dit wat jy uit die Skrif leer in jou alledaagse lewe toepas. Bespreek die probleme wat jy het met die toepaslikheid van die Skrifbeginsels wat jy geleer het, met 'n Christenvriend of predikant wat jou kan help en moontlike oplossings aan die hand sal kan doen.
Jy moet leer om te onderskei tussen Skrifgedeeltes wat altyd en universeel geldend is, of wat situasie gebonde is ten opsigte van bepaalde geleenthede, plekke, take, opdragte, ensovoort. Jy moet ook leer om te onderskei tussen die letterlike en simboliese betekenis of toepassing van Skrifgedeeltes.
Kyk na die volgende as voorbeelde: Situasiegebonde gedeeltes (Deutronomium 21:18-21; 23:1); Gedeeltes met simboliese betekenis (Matteus 13:1-23); Gedeeltes met letterlike betekenis (Matteus 13:36-43).
Vertel aan 'n Christenvriend wat jy die afgelope tyd uit die Woord geleer het, en hoe jy in jou alledaagse lewe daaraan uitvoering gegee het.

3.2 GROEIAREA: GEBED

INHOUD

3.2.1 Kennisdoelwitte:
a. Weet dat gebed weldeurdag, spesifiek en persoonlik moet wees.
b. Weet waarvoor 'n gelowige mag bid.
c. Weet watter liggaamshoudings met gebed ingeneem behoort te word.
d. Weet hoe om in die wil van God te bid.
e. Neem kennis van "sub-tipes" gebed.
f. Weet dat gebed ook 'n bediening kan wees.
g. Weet dat groei in alle ander areas van ons geestelike lewens afhanklik is van gebed.

3.2.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Begeer om meer volgens die wil van God te bid en in die teenwoordigheid van God te wees.
b. Is daarvan oortuig dat gebed ook 'n bediening kan wees.
c. Is daarvan oortuig dat gesonde groei in alle geestelike groei areas van gebed afhanklik is.

3.2.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Gebruik verskillende tipes gebed tydens kommunikasie met God.
b. Spandeer daagliks meer tyd in beplande kommunikasie met God.
c. Bid hardop in kleingroep situasies.
d. Bid spontaan gedurende die dag.
e. Bid oor meer as eie fisieke behoeftes - ook oor dit wat vir God belangrik is en vir die behoeftes van ander.
f. Begin met 'n gebedsbediening.


3.2.1 Kennisdoelwitte:

3.2.1.a Weet dat gebed weldeurdag, spesifiek en persoonlik moet wees.

As ons bid, behoort ons intelligent met God te kommunikeer en Hom nie te onteer en te beledig met 'n ydele herhaling van woorde sonder werklike betekenis nie (Matteus 6:7). Om 'n spesifieke antwoord te verwag moet daar spesifieke versoeke wees. Ons doen dit tog in al die ander areas van ons lewe. Alhoewel God byvoorbeeld graag aan ons gawes wil gee (Jakobus 1:5,17), gee Hy nie alles wat ons vra nie, maar wil Hy so gee dat ons blydskap volkome mag wees (Johannes 16:24). Hy wil hê dat ons Hom moet vra (Johannes 14:13). As ons meer spesifiek is sal ons meer dikwels weet wanneer ons spesifiek ontvang. Gaan die meegaande voorbeelde na (Genesis 18:20-33; 32:9-12; Rigters 6:36-40; 2 Konings 6:15-18; Matteus 7:7-11; Johannes 16:24; Filipense 4:6,7).

3.2.1.b Weet waarvoor 'n gelowige mag bid.

Hoe dink jy waarvoor mag 'n mens bid of nie bid nie? Ondersoek die meegaande Skrifgedeeltes om duidelikheid hieroor te verkry (1 Kronieke 4:10; 2 Kronieke 7:14; 14:11; Psalm 18:1; 22:1,2; 52:9; 143:8,9,10; 145:1,2; Matteus 5:44; 6:11; Markus 11:22,23,24; Filipense 4:6,7; 1 Johannes 5:14). Sien ook doelwit 3.2.1.d.

3.2.1.c Weet watter liggaamshoudings met gebed ingeneem behoort te word.

Dink jy daar is 'n verskil in betekenis tussen die verskillende moontlike liggaamshoudings tydens gebed? Gaan die meegaande Skrifgedeeltes in die verband na (Genesis 18:22,23; Eksodus 34:8; Josua 7:6; 1 Konings 8:54,55; 2 Konings 20:1,2; 1 Samuel 1:26; 1 Kronieke 17:16-27; Esra 9:5; Nehemia 9:4,5; Daniël 6:11; Matteus 26:39; Markus 11:25; Lukas 22:41; 1 Timoteus 2:8). Watter rol dink jy speel 'n mens se gesindheid in die keuse van 'n bepaalde liggaamshouding wanneer jy bid? Dink jy iemand betoon eerbied teenoor God as hy op sy rug lê en bid (tensy hy siek is), en watter liggaamshouding dink jy pas die beste by 'n eerbiedige gebed? In watter liggaamshouding bid jy meestal en onder watter omstandighede wissel jy dit af, indien wel?
God hoor ons gebede ongeag ons liggaamshouding. Tog vereis Hy altyd groot respek en eerbied. Hy is eerstens geïnteresseerd in wat in jou hart gebeur en nie soseer in jou liggaamshouding nie. Dit is belangrik om na God te kom met 'n nederige hart. Liggaamshouding is deel van jou kommunikasie met God. Kniel kommunikeer byvoorbeeld nederigheid. Mense sluit hulle oë om op God te konsentreer en eksterne stimuli uit te skakel.

3.2.1.d Weet hoe om in die wil van God te bid.

Christus het self regdeur die hele Johannes-Evangelie duidelik getoon dat dit vir Hom gegaan het om die wil van sy Vader te doen. In Matteus 26:39 wys Hy daarop dat die gewilligheid en begeerte dat die wil van die Here in ons lewens volmaak moet word, die fondament van al ons gebede moet wees. Dit moet altyd in my gebede belangriker wees dat God se wil moet geskied, as dat ek moet kry wat ek in my gebede vra.
God openbaar sy wil in sy Woord. Wanneer enigiets in sy Woord belowe is, weet ons dat dit ook sy wil is om daardie belofte waar te maak. As ek dan God se beloftes in gebed aan Hom voorhou, en ek kom die voorwaarde wat Hy daaraan koppel na, kan ek weet dat Hy my gebede sal verhoor (Johannes 15:7,8; 1 Petrus 3:1-3).
Ook deur die leiding van die Heilige Gees kan ons die "wil van God" te wete kom. Daar is baie dinge wat ons nodig het wat nie direk deur enige bepaalde belofte gedek word nie, maar selfs dan laat die Gees van God ons nie in onkunde omtrent sy wil nie (Romeine 8:26,27; 1 Johannes 5:14,15).
Die Here Jesus het ons geleer hoe ons moet bid. In die "Ons Vader" gebed leer Hy ons baie duidelik wat die inhoud van ons gebede behoort te wees (Matteus 6:9-13). In hierdie model-gebed het die Seun van God vir ons geleer dat die Naam, Ryk en die wil van die hemelse Vader altyd eerste in ons gebede moet staan. Gebed is nie in die eerste plek 'n middel om selfsugtig in ons eie behoeftes te voorsien nie, maar 'n middel in ons hande om die saak van ons Hemelse Vader op aarde mee te dien. Moet ons nie skaam word as ons dink hoe min plek en tyd ons aan die Naam, die Ryk en die wil van God in ons gebede gee nie? Onthou net dat God reeds weet wat al jou behoeftes is nog voordat jy Hom daarvan kan vertel.

3.2.1.e Neem kennis van "sub-tipes" gebed.

Memoriseer Matteus 6:9-13 en probeer om hierdie gebed van Christus te ontleed. Watter bedes in die "Onse Vader" hou met God verband, watter hou met die mens verband en waaroor gaan dit daarin? Kyk hoe word daar in die gebed onderskei tussen die fisieke en geestelike behoeftes van die mens. Kan jy aanbidding van God, sondebelydenis en voorbidding in die gebed aantoon?
Vanuit al die gebede in die Skrif kan die volgende basiese elemente onderskei word: Lofprysing en aanbidding van God, sondebelydenis, danksegging, voorbidding vir ander en vir myself.
So 'n gebed kan ons 'n formele gebed noem omdat dit 'n bepaalde struktuur het, en onderskei kan word van 'n informele gebed wat geen bepaalde struktuur het nie.
Lofprysing en aanbidding is gebed waarin God verheerlik word, en waarin sy Naam geprys word oor Wie Hy is en wat Hy doen. In ons lofprysing moet ons sy grootheid en majesteit onthou en Hom met eerbied en ontsag nader. Die gesindheid moet uit ons hart kom, en dit moet ook uit ons stemtoon en die houding van ons liggaam spreek (Eksodus 15:1-21; 2 Samuel 22; Psalm 63:1-8; Daniël 2:19-23; Matteus 11:25,26; Lukas 1:46-55; 4:8; Efesiërs 3:20,21; 1 Timoteus 1:17; 1 Petrus 1:3-5).
Veral tydens lofprysing en aanbidding word die bidder bewus van God se heiligheid en van sonde in sy eie lewe. Belydenis van sonde vloei daarom dikwels voort uit lofprysing. Nadat Jesaja die heiligheid van die Here in die tempel beleef het, het hy in Jesaja 6:5 uitgeroep dat hy verlore en onrein is. Nadat hy berou oor sy sonde gehad het en dit bely het pleit hy om vergifnis (Psalm 32; 51; 66:18; Markus 11:25; Lukas 15:17-21; 18:9-14; 1 Johannes 1:8-10). Berouvolle belydenis is altyd nodig vir vergifnis (1 Johannes 1:9) en daarom moet ons elke dag ons sonde en skuld bely.
Die woord danksegging spreek vanself. Die gelowige dank God vir sy redding, voorsiening in daaglikse behoeftes, vir gebedsverhoring, God se genade, sy liefde, vir vreugde, ensovoort. Hoe dink jy op watter manier kan mens jou dankbaarheid aan die Here en aan die mens bewys? (Daniël 6:10; Psalm 105:1; Lukas 17:11-19; Romeine 1:21; Efesiërs 1:15,16; Filipense 4:6; Kolossense 3:17; 1 Tessalonisense 5:18).
Voorbidding word in groter detail onder doelwit 3.2.1.f bespreek. Dit gaan hier om ons en ons medemens se liggaamlike en geestelike behoeftes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend te maak (Filipense 4:6).

3.2.1.f Weet dat gebed ook 'n bediening kan wees.

Bestudeer Johannes 17 en kyk vir wie en waarvoor Christus voorbidding gedoen het. Maak 'n lys van sake waarvoor voorbidding gedoen is. Lees ook verskillende gebede in die Pauliniese briewe en probeer nagaan waarvoor Paulus die meeste voorbidding gedoen het (Efesiërs 1:15-23; 3:14-21; Kolossense 1:9-14). Lees die boek Daniël en let op hoe sy gebed die groot Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud het.
Gebed word 'n bediening wanneer daar op 'n gereelde daaglikse basis voorbidding vir andere gedoen word. Wanneer daar vir ander ingetree word deur gebed, getuig dit van 'n hart wat omgee vir ander. Jy staan as't ware tussen so 'n persoon(e) en God met versoeke ter wille van hulle. Jy identifiseer jou met hulle vir wie jy bid. Ons moet onthou dat Satan, die vyand van die mens, kragteloos teen voorbidding is. Ons moet ook onthou om vir gebeure, omstandighede sowel as vir individue voorbidding te doen.

3.2.1.g Weet dat groei in alle areas van ons geestelike lewens afhanklik is van gebed.

God is primêr verantwoordelik vir geestelike groei. Die Skrif leer dat al drie Persone van die Godheid betrokke is by ons geestelike groei: Die Vader (Johannes 15:2; 17:17; 1 Tessalonisense 5:23), die Seun (Galasiërs 2:20; Efesiërs 5:26,27; Kolossense 1:22; Hebreërs 2:11; 10:10; 13:12), en die Heilige Gees (2 Korintiërs 3:18; Romeine 5:5; 8:13; Galasiërs 5:22,23; Efesiërs 1:17). Die Heilige Gees verkry prominensie in die proses van geestelike groei.
Tog sluit dit nie die verantwoordelikheid van die gelowige uit nie. Ons groei wanneer ons God gehoorsaam en ons gedagtes, begeertes, krisisse, behoeftes, drome, probleme ensovoort met Hom deel in gebed. God stel in elkeen van ons belang en is aktief en kreatief betrokke by alles wat ons dink en doen. Gebed is ons verantwoordelikheid in die proses waardeur God ons herskep en nuut maak ooreenkomstig die beeld van Christus. Omdat ons groei bid ons en omdat ons bid groei ons. Aan die inhoud van ons gebede, gesindheid waarmee ons bid en tipiese patroon en frekwensie van ons gebede kan ons geestelike groei "gemeet" word.

3.2.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.2.2.a Begeer om meer volgens die wil van God te bid en in die teenwoordigheid van God te wees.

Wat het jy tot dusver ervaar ten opsigte van die verhoring van jou gebede en wat het dit vir jou beteken? Stem jy saam dat God belowe om gebede, wat ooreenkomstig sy wil gebid word, te verhoor? (1 Johannes 5:14). Die mens is totaal afhanklik van God en 'n verhouding tussen God en mens kan net en moet deur gesprek (gebed) lewenskragtig gehou word.
Bid tot God dat Hy hierdie begeerte in jou hart sal werk en versterk.

3.2.2.b Is daarvan oortuig dat gebed ook 'n bediening kan wees.

Het jy dit wat in doelwit 3.2.1.g bespreek is aanvaar en jou eie gemaak? As jy dit nie aanvaar en jou eie gemaak het nie, moet jy dit wat jou onseker maak en laat twyfel indringend bespreek met 'n Christenvriend of predikant. Dit gaan hier om die wese van jou diens aan God. As jy apaties staan teenoor 'n gebedsbediening, is daar iets radikaal verkeerd in jou verhouding met God en medemens. Bid om die leiding van die Heilige Gees en dat Hy hierdie oortuiging in jou hart sal werk.

3.2.2.c Is daarvan oortuig dat gesonde groei in alle geestelike groei areas van gebed afhanklik is.

Aanvaar jy die feit dat, alhoewel God primêr verantwoordelik vir ons geestelike groei is, ons mede-verantwoordelik daarvoor is (sien doelwit 3.2.1.g)? Daarom moet ons ook gereeld oor die geestelike groei in ons lewens met God kommunikeer. Dit is deel van ons verantwoordelikheid.
Bid nou dat God die begeerte meer en meer by jou sal werk en versterk om met Hom te kommunikeer oor jou geestelike groei.

3.2.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.2.3.a Gebruik verskillende tipes gebed tydens kommunikasie met God.

Beoefen al die verskillende tipes (sien doelwit 3.2.1.e) gebed en deel dan jou ervaring met 'n Christenvriend.

3.2.3.b Spandeer daagliks meer tyd in beplande kommunikasie met God.

Lees hoedat Christus 'n voorbeeld van gereelde gemeenskap met God in Markus 1:35 aan ons stel. Onthou dat gereelde tyd saam en kommunikasie met iemand nodig is om 'n verhouding te ontwikkel. Jy is as Christen in 'n geestelike stryd betrokke (Efesiërs 6:10-20) en benodig daaglikse versterking wat jy alleenlik verkry wanneer jy tyd saam met God deurbring. Geestelike voedsel kan nie gestoor en opgepot word nie.
Kies 'n tyd wanneer jy wakker, helder en ontspanne is. Niks anders mag in daardie tyd ingedruk word nie. Vroeg in die oggend het definitiewe voordele. Kies 'n stil en rustige plek waar niemand kan pla nie en gaan elke dag na daardie selfde plek toe (sien ook doelwit 3.1.1.h).
Wanneer jy bid, word vir 'n oomblik stil voor die Here deur aan Hom te dink, wie Hy is en wat Hy doen. Wissel jou gebed af deur op verskillende maniere te bid. Mik vir kwaliteit eerder as kwantiteit tyd. Laat God toe om hierdie stiltetyd as 'n gereelde dissipline in jou lewe in te bou. Vra Hom om jou aanhoudend dors en honger vir gemeenskap met Hom te maak. Dit word weer gestimuleer deur indiepte Bybelstudie (sien doelwit 2.2.3.a; 2.3.1.c; 4.1.1.b).

3.2.3.c Bid hardop in kleingroep situasies.

Omdat dit vir sommige mense moeilik is om hardop voor ander te bid, kan jy begin deur hardop in jou binnekamer te bid sodat jy gewoond daaraan kan raak om jou stem onder gebed te hoor.
Dit sal jou help om te begin om hardop voor ander te bid sonder om verleë te voel, as jy eers probeer om hardop saam met 'n Christenvriend te bid. Bid eers net 'n eenvoudige "Heer, dankie" gebed. Bespreek voor die gebed eers die dinge waarvoor julle dankbaar is. Noem een spesiale ding waarvoor jy dankbaar is. Onthou dat dit God is teenoor wie ons dankbaar is en dat dit Hom behaag as ons dankie sê.
Leer ook op dieselfde manier om "Here, help" gebede te bid soos Dawid in Psalm 109:26. Begin hierna om voorbidding vir ander te doen. Probeer ook om in jou gebede uitdrukkinge van jou eie liefde vir en aanbidding van die Here in te sluit deur net te sê: "Ek is lief vir U Here".
Daar is niks mee verkeerd om gebede voor te berei, dit te skryf, te memoriseer en daarna te bid nie. Hierdeur word ook vrymoedigheid verkry om voor ander te bid. Berei 'n kort gebed voor om met jou volgende byeenkoms saam met jou Christenvriend te bid. Doen dieselfde met die verskillende elemente van die formele gebed (sien doelwit 3.2.1.e). Lei jou Christenvriend in 'n kettinggebed (ook genoem gespreksgebed) waartydens beide van julle deelneem deur kort insette te maak sonder om amen te sê, opgevolg deur die ander se insette, jou eie insette, die ander se insette, stilte terwyl julle wag op dit wat die Here op jul harte lê, weer insette totdat beide van julle klaar gebid het, waarna amen gesê word.

3.2.3.d Bid spontaan gedurende die dag.

God is oral en ons as gelowiges kan oral met Hom praat. Ons hoef nie altyd ons oë toe te maak wanneer ons bid nie. Om jou oë toe te maak help net dat jou aandag nie afgetrek word nie en dat jy beter konsentreer. Ek kan met God praat terwyl ek motor bestuur, werk, in 'n geselskap is, in 'n trein of bus ry. Leer dit aan om gereeld deur die dag met God te praat.

3.2.3.e Bid oor meer as jou eie fisieke behoeftes - ook oor dit wat vir God belangrik is en vir die behoeftes van ander.

Probeer om in die kettinggebed/gespreksgebed (sien doelwit 3.2.3.c) saam met jou Christenvriend meer op God as op julle eie fisieke behoeftes te konsentreer. Gaan jou vriend daarin voor om ook vir die behoeftes van ander te bid.
Leer om in die gespreksgebedsituasie spesifieke gebedsversoeke verkieslik vooraf te verkry, sodat dit voorberei en uitgedeel kan word. Leer ook om gebedsversoeke te selekteer vanuit die familiekring, vriendekring, plaaslike kerkkring, kerk in breër verband, werkskring, omgewing, leiers (1 Timoteus 2:1-4), landsake, buitelandse gebeure, ensovoort.
Verkry meer agtergrond en inligting oor elke versoek vooraf voordat voorbidding gedoen word. Maak gebedsversoeke spesifiek en duidelik eerder as algemeen. Een persoon kan alleen vir die saak op die gebedskaart voor hom bid, of julle kan eers saam vir 'n saak bid voordat na 'n volgende oorgegaan word. Hou rekord van gebedsversoeke. Maak "gebeds-kaarte" waarop elke versoek geskryf word met inligting soos die datum, versoek(e), verhoring (antwoord verkry), datum van verhoring, ensovoort.

3.2.3.f Begin met 'n gebedsbediening.

Begin met jou eie gebedsbediening. Dink aan persone in die Bybel wat voorbidding gedoen het en wat verhoor is. Toe Abraham gebid het, is Lot gered (Genesis 19:29). Toe Hiskia gebid het, het God Sanherib laat wegdraai (2 Konings 19). Jesus genees siekes in antwoord op voorbidding (Matteus 15:22; 17:15). 'n Engel het Petrus uit die gevangenis bevry as antwoord op verenigde gebed (Handelinge 12:1-17). Die vroeë kerk floreer as Paulus vir hulle intree (Romeine 1:9; Efesiërs 1:15-19; 3:14-19; Filipense 1:3-11). Die ernstige gebed van 'n regverdige het groot krag en wonderlike resultate (Jakobus 5:17,18).
Gaan die voorbidding van Jesus, Petrus, Paulus en andere na en rig dan jou eie voorbidding daarvolgens in. Begin met jou bediening deur vir ander in te tree, deur Skrifgedeeltes deur te bid. Bid byvoorbeeld vir 'n lid van jou gesin (Efesiërs 1:16-19), vir die kategete (Efesiërs 3:14-16), vir 'n Christenvriend (Filipense 1:9-11), vir leiers (1 Timoteus 2:1-4), ensovoort.


3.3 GROEIAREA: PERSOONLIKE GROEI

INHOUD

3.3.1 Kennisdoelwitte:
a. Verstaan hoe om God se prioriteite vir jou lewe te ontdek.
b. Besit 'n basiese begrip van die Bybelse beginsel van rentmeesterskap.
c. Verstaan hoedat jou selfbeeld jou gedrag beïnvloed.
d. Weet dat teenspoed en teleurstelling 'n normale deel is van die Christelike lewe.
e. Verstaan die basiese Bybelse beginsels rakende persoonlike finansies en die basiese beginsels rakende die opstel van 'n persoonlike begroting.
f. Weet dat jou liggaam die tempel van God is.
g. Weet hoe God jou sien.
h. Weet meer van Satan en watter wapenrusting tot jou beskikking is om hom te beveg.
i. Besit 'n basiese begrip van die Bybelse beginsel van restitusie.

3.3.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Begeer dat God Christus-gelykvormige kwaliteite en eienskappe deel van jou karakter en lewenstyl sal maak.
b. Ervaar hoedat jou lewenstyl grootliks 'n effek het op die vrug in alle areas van jou geestelike groei.
c. Sien en waardeer jouself soos God jou sien en waardeer.
d. Aanvaar teenspoed en teleurstelling as 'n normale deel van die Christelike lewe.

3.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Maak stiltetyd 'n nie-onderhandelbare prioriteit elke dag.
b. Kommunikeer ook spontaan met God deur die dag.
c. Bied effektief weerstand teen Satan en sonde deur die vaardige hantering van die wapenrusting van God.
d. Begin om prioriteite te bepaal in jou daaglikse beplanning.
e. Stel 'n eenvoudige persoonlike begroting op vir die maand.
f. Begin met 'n gereelde program van fisieke oefening en gesonde dieet.
g. Gee jouself aan God oor as 'n aanneemlik offer.


3.3.1 Kennisdoelwitte:

3.3.1.a Verstaan hoe om God se prioriteite vir jou lewe te ontdek.

'n Prioriteit het eintlik te make met die chronologiese volgorde waarin belangrike dinge gedoen moet word. Die vraag is dus gewoonlik: "Watter een sal ek eerste doen?"
Die prioriteitsvolgorde waarin doelwitte wat ons kies bereik moet word en take/aktiwiteite verrig moet word, word bepaal deur ons waardes of waarde sisteem.
Lees die meegaande verse waarin dit wat volgens God prioriteit behoort te geniet, geskryf staan (Levitikus 19:18; Deutronomium 6:4,5; Miga 6:8; Matteus 22:37-40; Handelinge 24:16; 2 Korintiërs 4:5).
Hieruit blyk dat ons hoogste belang eers by God lê en dan by ons medemens. Daar is drie prioriteite wat deur elke Christen in sy lewe aanvaar moet word: Ons toewyding aan God en Christus (Matteus 6:24; 10:37-39); ons toewyding aan die liggaam van Christus (Johannes 13:34,35; 17:21-23); ons toewyding aan die taak wat God ons gee om uit te voer (Efesiërs 4:11,12).
Dit beteken dat ons as belangrikste prioriteite in ons daaglikse lewens, tyd met God alleen nodig het, tyd met God deur die liggaam van Christus (medegelowiges) nodig het en tyd met God in ons werk nodig het.

3.3.1.b Besit 'n basiese begrip van die Bybelse beginsel van rentmeesterskap.

Van die vroegste dae het die mens offers van dank aan God gebring (Genesis 4:4,5). Die offer en die gesindheid van die offeraar is nooit van mekaar losgemaak nie (Hebreërs 11:4). Die manier en gesindheid waarop geoffer is, was 'n weerspieëling van 'n gebrekkige of van 'n volkome oorgegewe verhouding tussen die een wat offer en die Een aan Wie geoffer is. Dit is belangrik dat elke bydrae tekenend moet wees van volkome oorgawe aan die Here God (Matteus 26:6-13; Markus 12:41-44).
Ons moet onthou dat ons niks het wat nie aan die Here behoort nie (Levitikus 25:23; Psalm 24:1; 50:9-13; Haggai 2:8). Hy deel uit soos Hy wil (Eksodus 3:17; Deutronomium 8:18). Hy skenk soms met 'n ongelyke hand (1 Samuel 2:7) sodat die wat het kan gee aan die wat nie het nie (Eksodus 16:16-18; 1 Korintiërs 12:20-25; 2 Korintiërs 8:12).
Ons is dus niks meer as rentmeesters of bestuurders van dit wat die Here aan ons sorg toevertrou het nie. Hy mag dus alles van ons eis (Markus 10:21). Hy maak soms van ons besittings gebruik sonder om ons toestemming te vra (Lukas 5:1-3), maar nooit sonder dat Hy ons oorvloedig daarvoor beloon nie (Lukas 5:4-9).
As rentmeesters is ons hoogste prioriteit om die Here uit ons besittings te vereer (Eksodus 34:20; Deutronomium 16:16; Spreuke 3:9,10; 28:27; Markus 10:9,10; Lukas 6:38; 2 Korintiërs 9:6).
Ons gee dus dankoffers omdat ons ons lewens en al ons besittings en geleenthede en vermoëns uit genade van God ontvang het (1 Kronieke 29:14; 1 Korintiërs 4:7), omdat Hy dit alles eintlik maar net aan ons geleen het (Matteus 22:21; 25:14; Lukas 16:2) en omdat ons God beroof as ons ons offers van Hom terug hou (Maleagi 3:8).
Ons offer aan God volgens wat ons van Hom ontvang het (1 Korintiërs 16:2), volgens dit wat ons in ons harte voorgeneem het (2 Korintiërs 9:7) en volgens dit wat God beveel (Maleagi 3:10).
Onder die Ou Verbond is meer as 'n tiende vereis (Matteus 17:24-27). Hierdie Ou Verbond loop tot op Golgota (Matteus 27:51; Markus 15:38; Lukas 23:43; Johannes 19:30). Christus het egter die wet van Moses met al sy gebooie en bepalinge volbring (Efesiërs 2:15; Kolossense 2:14; Hebreërs 9:10).
Die tiende het dus, soos die besnydenis, saam met die Ou Verbond verdwyn. Dit beteken egter nie dat die gelowiges onder die Nuwe Verbond, wat hulle bydraes betref, geringer sal presteer nie. Al verskil is dat die gelowiges nou nie meer uit dwang gee nie (2 Korintiërs 9:5,7), maar wel uit dankbaarheid.
Dit is baie belangrik dat ons ons dankoffers met 'n goeie gesindheid moet gee (Deutronomium 15:10; 2 Korintiërs 9:7). Dit moet uit dankbaarheid (Psalm 116:12,17,18; 2 Korintiërs 9:5), met gewilligheid (Eksodus 20:4; 2 Korintiërs 8:2-4), met blymoedigheid (2 Korintiërs 9:7), mildelik (2 Korintiërs 8:2) en uit liefde (2 Korintiërs 8:7) geskied.
Die Here beloof deurgaans dat Hy hulle wat hul dankoffers getrou en met die regte gesindheid gee, veelvuldig sal seën. Tog moet ons nie vra wat ons sal ontvang nie maar eerder wat ons moet gee (Deutronomium 6; Spreuke 3:9-10; Maleagi 3:10; Lukas 6:38; 2 Korintiërs 9:6).

3.3.1.c Verstaan hoedat jou selfbeeld jou gedrag beïnvloed.

Daar is ongelukkig baie Christene wat 'n swak selfbeeld het terwyl die Skrif sê dat ons tot alles in staat is deur Christus wat ons krag gee (Filipense 4:13). Ons wêrelds-gegronde selfbeeld hang gewoonlik af van ons fisieke aantreklikheid, ons vaardighede en ons belangrikheid of status in die oë van ander mense.
In Matteus 22:37-40 is Christus se gebod aan ons dat ons God bo alles moet liefhê en daarna ons naaste soos onsself. Hoe kan ons ons naaste liefhê as ons nie onsself liefhet nie, en hoe kan ons onsself liefhê as ons nie 'n goeie selfbeeld het nie? Ons moet onsself dus sien soos God ons sien (sien ook doelwit 3.3.1.g). God het ons goed geskape (reg vir Sy doel, as wenners). Hy sou nie mislukkings skape nie. God kan van ons elkeen kosbare mense maak wat soos oorwinnaars lewe. Kosbaar vir homself en vir ander.
Die gemiddelde mens het 'n groot probleem om homself as oorwinnaar te sien. God het ons as oorwinnaars geskape, nie teenoor ander mense nie, maar om die wedloop van die lewe te wen (Romeine 8:37).
'n Swak selfbeeld kan aan die volgende eienskappe herken word: Oorbewustheid van 'n gevoel dat jy niemand is nie. Kritiese jaloesie teenoor almal. 'n Geneigdheid om te skinder. 'n Geneigdheid tot selfverkleinering en om skepties te staan teenoor die bereikbaarheid van ander se doelwitte. 'n Gebrek aan moed en oortuiging wat daartoe lei dat met alles en almal saamgestem word. Voortdurende foutvindery met ander. Gedurige pogings om ander te beïndruk. 'n Onvermoë om liefde te gee.
Baie mense misluk omdat hulle verwag om te misluk. Hulle gee hulself oor aan vrese in plaas van geloof. Hulle het geen doelwit vir hulle lewens nie en het 'n algehele misverstand van wat sukses is.
'n Goeie selfbeeld kan aan die volgende eienskappe herken word: 'n Gevoel van waarde, ongeag die status van andere in die geselskap. Oop en eerlike kommunikasie met vriende en geliefdes oor persoonlike onderwerpe soos byvoorbeeld kind-en-erfgenaam van God wees, en vrymoedigheid om vir hulle liefde te gee. 'n Geneigdheid om nie griewe te dra nie. Doelgerigtheid. Die vermoë om gemaklik en jouself in enige geselskap te wees. Die geneigdheid om ander te aanvaar soos hulle is sonder om te probeer om hulle te verander.
Ons reeds gevormde negatiewe selfbeeld kan verander deur op te hou om onsself te bejammer. Ons moet leer om uit God se genade te leef. Daarvoor moet ons die afgode uit ons harte verwyder en God die kosbaarste skat van ons lewens maak. Ons moet ons sterk punte in Christus erken en daarvolgens optree. Ons moet die feit aanvaar dat ons niks sonder Christus kan doen nie (Johannes 15:5) en dat ons nie bekwaam in onsself is nie (2 Korintiërs 3:5-6). Ons moet nie ons brein met negatiewe data voer deur komplimente te verwerp nie. Ons moet 'n doel in die lewe hê, liefde uitdeel en ons op ander se behoeftes toespits. Niks bou so baie aan 'n mens se selfbeeld as wanneer jy weet jy beteken vir iemand anders iets nie. Die persoon wat liefde gee, vind meer baat daarby as die een wat dit ontvang.
Onthou dat God vir jou as gelowige sê dat jy lewend is, die sonde afgesterwe het, vergewe is, geregverdig is, 'n kind-en-erfgenaam van God is, 'n koningskind is (sien ook doelwit 2.3.1.a). Waar wil jy 'n beter basis vir 'n goeie selfbeeld kry?

3.3.1.d Weet dat teenspoed en teleurstelling 'n normale deel is van die Christelike lewe.

Lees Jakobus 1:2-4 en 1 Petrus 1:3-9 saam met die dissipel deur. Noem terugslae en teleurstellings op wat jy al persoonlik ervaar het. Hoe het jy dit ervaar en verwerk en watter lesse het jy daaruit geleer?
Een ding moet 'n mens goed verstaan, naamlik dat teleurstellings en terugslae nie 'n mens se lewe hoef te verwoes nie. Watter effek hulle op jou lewe het, hang af van hoe jy daarop reageer. Aan een groot waarheid kan ons as gelowiges vashou: daar is niks wat in ons lewe gebeur waarvan ons hemelse Vader nie weet nie (Matteus 10:29). Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Korintiërs 10:1-13).
Lees ook die meegaande verse deur en bespreek dit met 'n Christenvriend (Lukas 12:4-7; 2 Korintiërs 12:6-10; Jakobus 1:2-4,12-18; 1 Petrus 1:3-9).

3.3.1.e Verstaan die basiese Bybelse beginsels rakende persoonlike finansies en die basiese beginsels rakende die opstel van 'n persoonlike begroting.

Geld is 'n groot faktor in ons lewens. As 'n mens nie genoeg daarvan het nie, kan die lewe onaangenaam wees. Iemand het eendag gesê: "Onthou geld is nie alles nie." En toe antwoord sy vriend: "Dis reg, maar die ding wat tweede kom, is baie ver agter!" Hierdie laaste opmerking is ongelukkig tekenend van 'n lewenshouding wat baie mense se lewens ontsier. Geld, besittings en rykdom en die gevolglike aansien en sekuriteit en weelde speel so 'n groot rol in hulle lewens dat ander, belangriker dinge hulle betekenis verloor. Die omgekeerde kan ook waar wees: die gebrek aan geld en die gevolglike armoede bring soveel frustrasie en ellende dat daar van ware lewens-en huweliksgeluk nie sprake kan wees nie.
Ons moet ons aardse besittings in die regte perspektief sien. Dit is nie 'n doel op sigself nie. Dit is 'n middel om ons in staat te stel om 'n sinvolle en gelukkige lewe tot eer van God te leef. Wat is die sin van ons bestaan? Om God en ons naaste lief te hê en te dien. Dan is ons ook waarlik gelukkig. God gee aan ons van sy geld en goed. Ons is sy bestuurders (sien ook doelwit 3.3.1.b). Ons moet sy goed tot sy verheerliking en in sy diens gebruik (Deutronomium 8:7-20; Spreuke 30:8,9; Matteus 6:19-21, 31-34; Lukas 12:13-21; 18:18-30; Filipense 4:11-19; 1 Timoteus 6:6-11,17-19).
Antwoord nou die volgende vrae eerlik teenoor jouself: Lewe jy binne jou perke? Spandeer jy jou geld op die regte dinge? Kry jy volle waarde vir die geld wat jy spandeer? Is jy in staat om op 'n gereelde basis te spaar? Is jy in staat om gereeld jou finansiële verpligtinge na te kom (skuld)? Word jou skuld groter of kleiner? Is jy in staat om onverwagte uitgawes te kan betaal? Werk jy in die rigting van spesifieke finansiële doelwitte? Is jou kinders verseker van goeie onderwys en opleiding? Maak jy voldoende voorsiening vir die behoeftes van jou gesin in die geval van dood of ongeskiktheid? Maak jy voldoende voorsiening vir aftrede? As jy oor sommige van hierdie vrae onseker is, het dit nou tyd geword om die saak reg te stel.

Kyk nou na die volgende basiese beginsels vir die opstel van 'n begroting:
Daar is talle mense wat nooit daarin slaag om 'n balans tussen inkomste en uitgawes te handhaaf nie. Indien die inkomste die uitgawes gereeld oorskry is daar in wese nie 'n probleem nie. Maar dit is 'n toedrag van sake wat vir gewone mense soos ons slegs 'n droombeeld is. Indien die uitgawes die inkomste gereeld oorskry is daar teenspoed. Die droombeeld word 'n drogbeeld. Dit is dus gebiedend noodsaaklik om die balans tussen inkomste en uitgawes te handhaaf. Tog is daar 'n paar faktore wat die saak vandag vir ons bemoeilik.
As gevolg van inflasie is daar 'n neiging dat die koopkrag van ons werklike inkomste afneem. Ons beskik oor baie duur verbruiksgoedere wat oor die algemeen as noodsaaklikhede beskou word (TV-stel, yskas, ensovoort). Ons is dus baie meer kwesbaar vir relatief groot onvoorsiene en onbeplande uitgawes. Daar is gedurig die versoeking om bokant ons finansiële vermoëns te lewe. Die twee vernaamste "sondebokke" is reklame en die beskikbaarheid van krediet. Aan die een kant word ons oorweldig met basuinagtige oproepe om al hoe meer te verbruik en al hoe meer te besit. Aan die ander kant word ons verseker dat ons nie nou geld (inkomste) nodig het ten einde ons materiële en aardse benodighede te bekom nie; en 'n ieder en 'n elk is bereid om die geld (teen 'n prys) aan ons voor te skiet.
Inkomste is min of meer 'n gegewe. Daar kan op die korttermyn baie min, of niks, daaraan gedoen word nie. Die voordeel is dat die vooruitskatting van ons gesinsinkomste baie noukeuring kan wees. Ons weet vooraf presies wat ons netto inkomste (verdienste minus aftrekkings) sal wees. Daar is geen grade van vryheid nie. Ons verdienste is reeds vasgelê en die aftrekkings is nie onderhandelbaar nie.
Uitgawes is egter 'n perd van 'n ander kleur. Ek is, saam met lede van my gesin, die bepaler van ons uitgawes. Die grade van vryheid is oneindig. As ons brood wil eet kan ons 'n bruinbrood (die goedkoopste), 'n witbrood (duurder) of 'n Franse brood (die duurste) koop! Ek (en die lede van my gesin), en niemand anders ter wêreld nie, is die aanstigter(s) en ophitser(s) van ons uitgawes. Daar is natuurlik die noodsaaklike lewensbehoeftes waarvoor voorsien moet word. Daar is ook die gemeenskap wat sekere eise ten opsigte van ordentlikheid en fatsoenlikheid stel. Maar, as ons mooi daaroor dink, is daar binne die raamwerk van al hierdie noodsaaklikhede, nog altyd die speelruimte om die goedkoopste of die duurste te koop. 'n Groot deel van die meeste van ons se uitgawes word nie aan noodsaaklikhede bestee nie. Daar bestaan altyd die speelruimte om òf te koop òf om nie te koop nie.
Omdat daar soveel grade van vryheid ten opsigte van uitgawes bestaan, word dit baie moeilik om 'n noukeurige vooruitskatting van ons uitgawes te maak. Dit is egter, soos ons later sal aandui, nie onmoontlik nie. Dit is belangrik dat, ten einde 'n balans tussen ons inkomstes en uitgawes te handhaaf, ons vertrekpunt altyd ons netto inkomste moet wees. Dit is die veranderlike wat die hoogtemerk of ewewigspunt van ons uitgawes bepaal.
'n Begroting is niks anders as die tabellering van die verwagte toekomstige inkomste en uitgawes nie. Dit kan vir enige tydperk opgestel word. In die geval van die gesinsbegroting word aanbeveel dat daar maandeliks begroot moet word.

'n Suksesvolle gesinsbegroting is onderhewig aan die volgende algemene voorwaardes:
Die implementering en benutting van 'n gesinsbegroting verg 'n mate van inspanning, toewyding en volharding. Dit dien geen doel om die gesinsbegroting slegs vir 'n paar maande op te stel en dan te laat vaar nie. Die voordele van die gesinsbegroting kom eers na ses tot twaalf maande na vore. Daar moet dus 'n sekere erns met die saak wees.
Minstens die man en die vrou, en verkieslik ook die groter kinders, moet daarby betrokke wees . Dit beteken dat daar 'n sekere openhartigheid betreffende geldelike sake binne die gesin moet wees. 'n Man wat byvoorbeeld nie wil hê sy vrou moet weet wat sy inkomste is nie, kan maar vergeet om 'n gesinsbegroting op te stel. Dit beteken ook verder dat daar vanaf die "my-geld"- na die "ons-geld"-benadering oorgegaan moet word. Hierdie probleem kom dikwels voor waar beide die man en die vrou 'n verdienste het. "Dit is my geld want ek het daarvoor gewerk!" "Dit is jou geld want jy het daarvoor gewerk!" Daar moet besef word dat die totale inkomste van die gesin, ongeag wie dit verdien het, in beginsel die hele gesin toekom. Vir doeleindes van die gesinsbegroting is dit dus "ons-geld".
Navorsing oor huweliks- en gesinsverhoudings dui daarop dat geldelike sake een van die primêre oorsake vir konflik is. Om derhalwe te verwag dat die opstel van die gesinsbegroting - veral gedurende die eerste paar maande - nie tot spanning, konflik, frustrasie (en somtyds selfs rusie) sal lei nie, is te veel gevra. Om sodanige spanning, konflik en frustrasie te vermy of te bekamp is daar 'n paar absolute voorvereistes. Benewens die "my-geld"- en "ons-geld"-benadering, moet daar 'n algemene benadering van billikheid, redelikheid, bedagsaamheid, toegewendheid en onselfsugtigheid wees. 'n Kind wat byvoorbeeld sê: "Ek weet Pa het 'n nuwe pak klere nodig; ek weet Ma het 'n nuwe rok nodig; ek weet daar is nie geld nie maar ek moet 'n nuwe fiets kry want Kosie het 'n nuwe fiets", het duidelik nie die gewenste benadering nie.
'n Beter verstandhouding oor geldelike sake, gemoedsrus en, van die grootste belang, finansiële onafhanklikheid is maar net 'n paar voordele wat uit 'n effektiewe gesinsbegroting voortspruit.
Inkomste: Soos reeds genoem, is die vertrekpunt die netto inkomste van die gesin. Ons begin dus met die gesinsbegroting deur die netto inkomste in tabelvorm onder mekaar te skryf.

Uitgawes:
Soos reeds genoem, is die noukeurige bepaling van die verwagte uitgawes, veral aan die begin, nie 'n maklike taak nie. Ons gaan dit egter stap vir stap deurwerk. Let daarop dat vaste uitgawes soos pensioenbydraes, mediese fonds en huispaaiemente reeds van die bruto salaris afgetrek is en nie meer ter sprake kom nie. Let ook daarop dat die onderstaande slegs as 'n algemene voorbeeld dien - elke gesin het 'n unieke patroon van uitgawes wat deur hulle besondere leefwyse en omstandighede bepaal word.

Stap 1: Bepaal al die uitgawes wat noodsaaklik en verpligtend is en wat nie onderhandelbaar is nie en waarvan die presiese bedrag bekend is. Dit sluit uitgawes soos huurkooppaaiemente, assuransiepremies, ensovoort in. Let daarop dat dit noodsaaklik is om volledige rekords by te hou. Koopvereniging-,
slaghuis-, en kredietkaartrekenings val ook in hierdie kategorie.

Stap 2: Bepaal al die uitgawes wat noodsaaklik en verpligtend is en wat nie onderhandelbaar is nie en waarvan die presiese bedrag nie bekend is nie. Dit sluit uitgawes soos telefoon- en water-en-ligte-rekenings in. Ons moet nou 'n bedrag skat. Dit word gedoen op grond van die bedrae wat ons in die verlede betaal het. Het u 'n lêer waar u verlede jaar se rekeninge hou? (byvoorbeeld: April - R179,07; Mei -R186,63; Junie - R130,09; Julie - R 94,70; Augustus - R164,63; September - R183,69).
Kom ons kyk daarna en bespreek dit. Die bespreking gaan min of meer soos volg: Man: "Junie en Julie is heelwat minder as die ander maande maar ons was toe op vakansie. Kom ons kyk liewer net na die ander maande. Dit lyk vir my asof R180 omtrent reg sal wees." Vrou: "Maar ek het verlede maand 'n hele paar keer vir Tannie Bets in Kaapstad gebel."
Kind: "En ek het baie vir Annetjie gebel toe ons saam aan die geskiedenisprojek gewerk het." Man: "Goed! Kom ons maak dit R190, dan is ons veilig. Maar julle weet ons telefoonrekening is baie hoog. Ons sal regtig moet kyk of ons nie 'n bietjie minder of korter kan praat nie."

Stap 3: Nadat al die noodsaaklike en verpligte uitgawes bepaal of beraam is, kom ons by die uitgawes wat slegs ten dele noodsaaklik en verpligtend is. Ons het byvoorbeeld brandstof vir die motor nodig maar, afhangend van 'n hele paar faktore, is daar baie meer speelruimte. As gevolg hiervan wissel hierdie uitgawes gewoonlik meer as dié wat reeds genoem is, maar terselfdertyd kan ons ook stappe neem om dié uitgawes in toom te hou ("Dit lyk my ons kan daardie naweek in Warmbad maar hierdie maand vergeet."). Op daardie stadium is dit ook wenslik om te kyk hoe sake staan. Ons maak dus 'n sommetjie: Netto inkomste (R2,035) minus noodsaaklike en verpligte uitgawes (R1,635) = Saldo (R400). Dit beteken dat daar R400 beskikbaar is vir besteding onder stap 3 en die hiervolgende stappe.

Stap 4: Bepaal hoeveel kontantgeld gedurende die maand benodig word. In elke gesin is daar insidentele en periodieke uitgawes (busgeld, brandstof, groente, melk en koerante) waarvoor kontant betaal word en hiervoor moet voorsiening gemaak word. Die ervaring sal leer wat min of meer maandeliks benodig word.

Stap 5: Maak voorsiening vir onvoorsiene uitgawes. Ek kan u die versekering gee dat daar nooit 'n enkele maand sonder onvoorsiene uitgawes is nie. Ons praat natuurlik nie hier van rampspoedige groot uitgawes nie, maar slegs van die alledaagse klein uitgawes. Die ervaring sal leer wat realisties benodig word.

Stap 6: Maak voorsiening vir besparing. Hierdie item is absoluut noodsaaklik. Daar is sekere uitgawes wat jaarliks (of selfs oor 'n hele paar jaar) eenmalig voorkom en wat te groot is om in een maand te betaal (vakansie, belastingaanslag, motorherstelwerk, ensovoort). 'n Neseier wat deur middel van besparing daargestel is bied baie meer speelruimte binne die maandelikse begroting en ook die geleentheid om die individuele (en wisselende) behoeftes van die gesinslede op 'n billiker en meer doeltreffende wyse te bevredig. Dit bied ook groter finansiële sekuriteit met die gepaardgaande gemoedsrus en vertroue.

Stap 7: Hierdie stap bring ons by die uitgawes wat nòg noodsaaklik, nòg verpligtend is. Dit sluit 'n wye reeks van moontlikhede in: vermaak, onthaal, 'n nuwe paar skoene, CD-speler. Soms is die skeidslyn tussen die noodsaaklike en die nie-noodsaaklike taamlik vaag. Soms is iets vir een lid van die gesin noodsaaklik terwyl dit vir die ander nie noodsaaklik is nie. Dit is juis hierdie uitgawes wat in die volle sin van die woord onderhandelbaar is. Let ook daarop dat hierdie stap heel aan die einde kom.
Nadat die verwagte uitgawes bepaal is - hopelik sonder te veel ontwrigting - moet die inkomste en uitgawes teenoor mekaar afgestem word. Dit is die mees kritiese handeling in die hele oefening. Uit die staanspoor kan dit duidelik gestel word dat die kanse, veral met die eerste paar keer wanneer 'n gesinsbegroting opgestel word, dat die "boeke gaan balanseer" maar skraal is. Gewoonlik is die uitgawes baie meer as die inkomste. Aangesien daar bitter min aan die inkomstekant gedoen kan word is daar net een uitweg: die uitgawes moet besnoei word.

Hier volg 'n paar wenke ter besnoeiing van die uitgawes:
Begin met die nie-noodsaaklike, nie-verpligte uitgawes (stap 7) en probeer om hulle af te skaal, hou in gedagte dat ons heelwat speelruimte het en die snoeiskêr maar kan inlê. Skaal die besparing (stap 6) af maar probeer om onder alle omstandighede 'n klein bedraggie daar te behou. Skaal die onvoorsiene uitgawes (stap 5) 'n bietjie af, maar nie tot dieselfde mate as die besparing nie. Skaal die kontantgeld (stap 4) 'n bietjie af maar onthou dat ons onvermydelik in die loop van die maand kontantgeld sal benodig. Kyk baie krities na die uitgawes wat slegs ten dele noodsaaklik en verpligtend is (stap 3); dikwels lê hier heelwat geleenthede vir besnoeiing.
Op hierdie stadium gaan ons terug en bepaal waar ons nou, met inagname van die besnoeiings, staan. Indien ons te veel besnoei het kan ons nou die boeke laat balanseer deur hier en daar 'n byvoeging te maak.
Indien die boeke nog nie balanseer nie moet ons helaas een van die volgende doen: Skaf die besparing af. Sny van die ander uitgawe-items tot die been, maar hou in gedagte dat daar sekere uitgawes is wat ons net nie kan vermy nie.

Indien die boeke, na voorgenoemde optrede, nog nie balanseer nie het ons ongelukkig probleme en sal ons een of meer van die volgende moet doen:
Verhoog die inkomstekant deur geld te leen, ('n oortrokke bankrekening, bedelbrief aan Pa, ensovoort). Onthou dat hierdie lening 'n noodsaaklike en verpligte uitgawe vir die volgende maand word (ons kan dit onmiddellik as 'n uitgawe op volgende maand se gesinsbegroting aanbring) en ook addisionele uitgawes (rente) kan meerbring. Een ding wat ons onder alle omstandighede moet vermy is om geld op die "swartmark" te leen.
'n Rekening word slegs gedeeltelik, of gladnie, betaal nie. Nou moet onthou word dat hierdie agterstallige bedrag 'n hoë prioriteit noodsaaklike en verpligte uitgawe vir die volgende maand word.
Kyk baie krities na die begroting en begin planne vir volgende maand en die daaropvolgende maande beraam - indien daar goedere op bestelling is (wat addisionele uitgawes in die toekoms sal meebring) kan dit gekanselleer word. Het ons nie miskien te veel assuransiepolisse nie? Is daar nie miskien vaste noodsaaklike en verpligte uitgawes wat na heroorweging, en in die lig van ons finansiële posisie, nie werklik so noodsaaklik is nie?
Kom tot die besef dat ons, as gevolg van ons ongedissiplineerde finansiële optrede in die verlede, tans in hierdie finansiële penarie is. Indien ons ses maande gelede met ons gesinsbegroting begin het sou ons in alle waarskynlikheid die krisis kon vermy het.
Op hierdie stadium is die gesinsbegroting vir die eersvolgende maand opgestel. Waarskynlik het die meeste van ons, as gevolg van ervaring en 'n realistiese en gedissiplineerde finansiële benadering, nie al die drama wat hierbo beskryf is nie. Dit beteken egter nie dat ons nou met selfvoldaanheid kan terugsit nie. Finansiële beplanning, met inbegrip van die gesinsbeplanning, is 'n deurlopende taak.
In die loop van die maand moet die beplande uitgawes telkens teenoor die begroting afgestem word en daar moet 'n daadwerklike poging wees om binne die begroting te bly. Die uitgawes moet nie die verwagte (begrote) bedrae oorskry nie. Ons sal vind dat dit nie altyd die geval is nie, en dat dit nie altyd so maklik is nie. Indien een bedrag oorskry word, moet daar onmiddelik besnoeiing by 'n ander aangebring word; indien nie, sal die boeke nie balanseer nie.
Waar daar sprake van skattings was moet die saak ook dopgehou en aangepas word. Byvoorbeeld, ons het R190 vir die telefoonrekening begroot. Nou kom die rekening en dit is R180. Daar is nou 'n surplus van R10. Hierdie surplus kan nou by 'n ander uitgawe-item (verkieslik onder besparings) toegevoeg word.
Namate die maand vorder en die verskillende aanpassings gemaak word, begin ons met die voorbereiding vir die opstel van die volgende maande se begroting. Die huidige maand se begroting (met inbegrip van die aanpassings) word as basis gebruik. Foute of onrealistiese bedrae - wat òf te hoog òf te laag was - word reggestel. Op hierdie wyse word dieselfde proses herhaal ten einde 'n volledige gesinsbegroting vir die volgende maand op te stel.
Na 'n paar maande sal ons vind dat ons meer bedrewe word en al hoe nader aan die kol is. Ons sal ook vind dat die opstel van die gesinsbegroting minder tyd in beslag neem. Benewens dit sal ons vind dat daar meer wedersydse welwillendheid en vertroue tussen lede van die gesin ontstaan. Ons sal gaandeweg ook die vrugte van ons arbeid begin pluk namate die balans tussen ons inkomste en uitgawes gehandhaaf word. Ons mag selfs vind dat dit pret is!

3.3.1.f Weet dat jou liggaam die tempel van God is.

Lees 1 Korintiërs 3:9-22 en 6:12-20 aandagtig deur.
Die hoë bestemming van die liggaam is om 'n tempel van die Heilige Gees te wees. Wat in 1 Korintiërs 3:16,17 van die gemeente gesê is, word nou van toepassing op die liggaam van die enkel gelowige gemaak. As geheel is die gemeente 'n tempel van die Heilige Gees, en as onderdeel van die tempel is die liggaam van elke gelowige die woonplek van die Heilige Gees. Ons moet dus begryp dat ons nie eiewillig oor ons eie liggame beskik en ongebonde kan lewe asof alles ons geoorloof is nie. Veeleer moet ons liggame versorg word en heilig bewaar word as eiendom van God en as tempel van die Heilige Gees. Wie hom deur die geloof aan Christus verbind het, is voortaan in Christus (Efesiërs 1:3-14,20). Ons is duur gekoop en daarom eiendom van God. Daarom moet alle inspanning daarop gerig wees om God te verheerlik in die liggaam en in die Gees (Romeine 12:1). Dus, die hele mens moet ten volle daarop gerig wees om God te verheerlik (Filipense 1:20).

3.3.1.g Weet hoe God jou sien.

God sien die geredde mens as sy kind (Johannes 1:12; Romeine 8:15; 1 Johannes 2:28-3:10), as kosbaar (Efesiërs 1:3-14), as sy erfgename (Romeine 8:17), as objek van sy liefde (Johannes 3:16), as iemand wat dood is vir sonde, maar lewend is vir God (Romeine 6), as beeld van Homself (Genesis 1:26). Sien ook doelwit 2.4.1.b.
Vanuit God se optrede teenoor jou kan jy agterkom hoe God jou sien (Romeine 3:21-31; Efesiërs 1:3-14; 2:1-22).
Jy is van sondeskuld vrygespreek (Romeine 3:24); nie veroordeel nie (Romeine 8:1); vry van die bose kringloop van sonde en dood (Romeine 8:2); deur Christus aanvaarbaar vir God (1 Korintiërs 1:2); heilig en verlos (1 Korintiërs 1:30); 'n nuwe mens omdat jy aan Christus behoort (2 Korintiërs 5:17); in Christus met ander gelowiges verenig (Galasiërs 3:28); met al die seëninge van die Gees geseën (Efesiërs 1:3); heilig en onberispelik voor God (Efesiërs 1:4); kind van God (Efesiërs 1:5); deel van die volk van God (Efesiërs 1:10,11); eiendom van God (Efesiërs 1:13); saam met Christus uit die dood opgewek en het saam met Hom 'n plek in die hemel (Efesiërs 2:6); kry deel aan wat God belowe het (Efesiërs 3:6); kan met vrymoedigheid en vertroue na God gaan (Efesiërs 3:12); deel van die liggaam van Christus (Efesiërs 5:29,30); bevry van jou sondige natuur (Kolossense 2:11); gaan die ewige heerlikheid ontvang (2 Timoteus 2:10). Jou liggaam sal weer lewend gemaak word (1 Korintiërs 15:22; Johannes 6:40).

3.3.1.h Weet meer van Satan en watter wapenrusting tot jou beskikking is om hom te beveg.

Daar is drie bronne waaruit sonde voortspruit, naamlik vriendskap met die wêreld en vyandskap met God (Jakobus 4:4), ons eie welluste (Jakobus 4:1) en die duiwel (Jakobus 4:7). In Efesiërs 6:10-20 lees ons dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Kom ons lees wat die Bybel oor Satan en hierdie magte leer: Titels (Genesis 3:4; Matteus 12:24; 13:19; Lukas 10:18; Johannes 8:44; 14:30; 2 Korintiërs 4:4; 6:15; Efesiërs 2:2; 6:12; 1 Petrus 5:8; Openbaring 9:11; 12:10; 20:2).
Gevolge deur hom veroorsaak (Genesis 3:1-7; Jesaja 14:12-20; Esegiël 28:14-19; Johannes 8:44; Openbaring 12:7-9).
Sy karakter (Genesis 3:1; Job 1:9; Lukas 8:29; Johannes 8:44; 2 Korintiërs 11:3,14; Efesiërs 2:2; 1 Timoteus 3:6; Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:9; 1 Johannes 2:13; Openbaring 12:9).
Sy mag (1 Samuel 16:14; Matteus 25:41; Lukas 22:3; Johannes 8:44; Handelinge 13:10; 2 Korintiërs 4:4; 1 Timoteus 3:7; 1 Johannes 3:10; Openbaring 20:7,8).
Sy aanslag op kinders van God (1 Kronieke 21:1; Job 2:4,5,7; Sagaria 3:1; Markus 4:15; Lukas 4:6-8; 22:31; Johannes 13:2,27; 2 Korintiërs 11:3,14,15; 2 Tessalonisense 2:3,4).
Sy metodes (Genesis 3:1; Matteus 4:6; Lukas 13:16; 2 Korintiërs 2:11; 11:14).
Sy strategie (Verdraai die Skrif - Matteus 4:6; aap God na met seks - 1 Korintiërs 6:12-20; misleiding - 2 Korintiërs 11:14).
Sy operasionele gebied is okkultisme, spiritisme, waarsêery (glasie, sterrewiggelary, palmlees, kaartlees, teekoppie lees, dolosgooiery), towerkuns, bygeloof, afgodery, satanisme.
Sy bestemming (Matteus 25:41; Markus 3:27; Johannes 12:31; 16:11).
Weerstand van die gelowige teen hom: Matteus 4:1vv; 1 Korintiërs 10:20; 2 Korintiërs 2:11; 11:3; Efesiërs 4:27; Filipense 4:8,13; Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8,9; 1 Johannes 2:13; Openbaring 12:10,11).
Christus se oorwinning oor hom (Genesis 3:15; Matteus 4:1-11; 8:31; Markus 3:27,28; Lukas 10:18; Johannes 4:4; Kolossense 2:14,15; Jakobus 4:7; 1 Johannes 3:8).
Die gelowige se wapenrusting (Efesiërs 6:10-20).

3.3.1.i Besit 'n basiese begrip van die Bybelse beginsel van restitusie.

Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes (Eksodus 22:1; Levitikus 6:5-7; 2 Samuel 12:1-6; Lukas 19:1-10).

3.3.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.3.2.a Begeer dat God Christus-gelykvormige kwaliteite en eienskappe deel van jou karakter en lewenstyl sal maak.

Bedink weer die karaktereienskappe van die Christus-gelykvormige persoon (sien doelwit 2.3.1.b) nadat jy die meegaande Skrifgedeeltes deurgelees en 'n lys van hierdie eienskappe gemaak het (Johannes 13:1-17; 15:1-17; Galasiërs 5:13-26; Filipense 3:1-4:9; Kolossense 3:1-17). In hoe 'n mate vertoon jou lewe bogenoemde karaktereienskappe? Identifiseer die leemtes in jou karakter en bid dat God hierdie eienskappe in jou persoonlikheid sal verwerklik.

3.3.2.b Ervaar hoedat jou lewenstyl grootliks 'n effek het op die vrug in alle areas van jou geestelike groei.

In watter mate affekteer jou algemene lewenstyl die vrug van jou gebed, getuienis, gemeenskap, bediening en ander areas van jou persoonlike groei? Jou alledaagse lewe tussen vriende en vreemdelinge moet in lyn moet wees met dit wat jy bid en getuig. Dit mag nie anders wees as wanneer jy tussen medegelowiges is of met 'n spesiale bediening besig is nie. Jy moet dus versigtig wees om nie 'n dubbele lewe te lei soos 'n huigelaar nie (Matteus 23:27). Bid dat God aan jou sal duidelik maak watter effek jou alledaagse lewe op jou geestelike groei het, en om jou te help dat die nuwe mens in jou sal groei en die ou mens sal verdwyn.

3.3.2.c Sien en waardeer jouself soos God jou sien en waardeer.

'n Mens moet dit wat in doelwit 3.3.1.g genoem is eers glo en aanvaar voordat jy jouself kan sien en waardeer soos God jou sien en waardeer. Daarom moet jy deeglik nadink oor dit wat jy oor jouself en oor God se siening van jouself geleer het in doelwit 3.3.1.g. Wat beteken dit vir jou? Dank God vir die voorreg om mens te kan wees soos God jou laat mens wees. Wees spesifiek in jou gebed deur spesifieke eienskappe en gevoelens wat jy van God teenoor jouself leer ken het, in jou gebed te noem. Sê aan God dat jy dit glo en aanvaar, en dat jy jouself in die toekoms in hierdie nuwe lig gaan sien en waardeer.

3.3.2.d Aanvaar teenspoed en teleurstelling as 'n normale deel van die Christelike lewe.

Jy sal teenspoed en teleurstelling net as 'n normale deel van die Christelike lewe kan aanvaar indien jy aanvaar dat God jou baie lief het (Johannes 3:16), dat jy vir Hom iemand baie spesiaal is, dat Hy 'n besondere plan met jou lewe het, en dat net jy op 'n sekere plekkie in God se plan-legkaart inpas. Jy sal ook moet aanvaar dat jy onder andere deur teenspoed en teleurstelling as gelowige gevorm word en dat jou geloof daardeur getoets en getemper (1 Petrus 1:6,7) word. Bid dat God hierdie aanvaarding by jou sal werk en versterk.

3.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.3.3.a Maak stiltetyd 'n nie-onderhandelbare prioriteit elke dag.
Dink aan dit wat jy in doelwit 3.3.1.a geleer het, naamlik dat God die hoogste plek op ons prioriteitslys moet beklee, dat ons verhouding met Hom dus ons hoogste prioriteit behoort te wees en dat ons stiltetyd saam met Hom daarom ook 'n daaglikse en nie-onderhandelbare prioriteit behoort te wees.
Dink jy nie daarom dat jy jou op 'n gereelde grondslag 'n sekere tyd van elke dag moet afsonder om stiltetyd te hou nie? Besluit vooraf hoeveel stiltetyd jy elke dag graag aan kommunikasie met God wil afstaan (15, 20, 30, 60 minute).
Kom in die gewoonte om daagliks (naweke ingesluit) hierdie afspraak met God na te kom en om by die volle tydsduur wat jy vooraf beplan het te hou. Dit sal in die begin moeilik sal wees om jouself te dissiplineer om in hierdie patroon te kom. As jy net vir 21 dae kan volhard, sal jy gou nie meer sonder hierdie tyd saam met God kan of wil klaarkom nie. Met verloop van tyd sal jy selfs 'n begeerte ontwikkel om die tydsduur van jou stiltetyd te verleng. Teken jou stiltetye vir die jaar vooruit op jou dagboek aan, sodat jy jou daaglikse program daarby kan aanpas.

3.3.3.b Kommunikeer ook spontaan met God deur die dag.

Onthou dat gereelde goeie daaglikse kommunikasie enige verhouding stimuleer. Dit geld ook vir ons verhouding met God. Dink jy nie dat jou diens aan God 'n lewenswyse behoort te word nie? Ervaar jy God as 'n Persoon wat deur sy Gees binne-in jou woon? (Johannes 17:21-23; 1 Korintiërs 6:19). Wil jy nie daarom soms gedurende die dag met Hom kommunikeer nie?
As jy nie so voel nie, onthou dan dat waar jy gaan, God ook saam met jou gaan (Matteus 28:20) en dat jy gerus dwarsdeur die dag met Hom kan praat om raad en leiding te vra, om sondes te bely, om dankie te sê, om Hom te prys vir sy grootheid en wonderwerke en om voorbidding te doen vir hulle met wie jy kontak het. Jy kan dit doen terwyl jy ry, terwyl jy in 'n geselskap is of besig is om te werk. Dit gaan in die begin miskien 'n bietjie konsentrasie verg, maar jy sal gou agterkom dat so 'n verhouding met God baie opwindend is.

3.3.3.c Bied effektief weerstand teen Satan en sonde deur die vaardige hantering van die wapenrusting van God.

Onthou wat jy in doelwit 2.3.1.d,e en 3.3.1.h geleer het. Vra die Heilige Gees tydens jou stiltetyd om jou bewus te maak van sonde in jou lewe waarvan jy miskien nie eers bewus is nie (Johannes 16:8-11). Bely jou sondes by name voor die Here insoverre jy dit kan onthou. Vra om vergifnis met 'n gesindheid van berou (1 Johannes 1:8,9). Werk 'n strategie uit oor hoe jy van sondige praktyke wat gereeld in jou lewe voorkom gaan afstand doen (sien ook doelwit 4.3.1.f).
Bestudeer dan die wyse waarop Jesus die Satan gedurende sy versoeking hanteer het in Matteus 4:1-11. In vers 10 leer ons watter drie beginsels Jesus toegepas het: Hy het die Satan direk aangespreek. Hy het die Satan in sy eie Naam (Jesus Christus) aangespreek en beveel om sy aktiwiteite te staak. Hy herinner die Satan dat Hy hom aanspreek met die outoriteit van die Woord van God. Jesus haal dan ook uit die Skrif aan.
In ons stryd om die Satan te weerstaan, is dit noodsaaklik om die Bybel goed te ken. Spreek die Satan aan en lig hom in dat jy as kind-en-erfgenaam van God deur die bloed van Jesus Christus afgewas is en dat Satan geen reg oor jou lewe meer het nie (Openbaring 12:11). Lees Efesiërs 6:10-20.

3.3.3.d Begin om prioriteite te bepaal in jou daaglikse beplanning.

Maak 'n lys van al jou daaglikse aktiwiteite en gebruik dan, aan die hand van dit wat jy in doelwit 3.3.1.a geleer het, die ABC-tegniek (A vir hoogste, B vir tweede hoogste en C vir derde hoogste prioriteite, ensovoort) om te sien aan watter aktiwiteite jy die hoogste waarde heg. Kyk of jy kan motiveer waarom jy hierdie keuse gemaak het. So kan jy dan bepaal waaraan jy werklik die hoogste waarde heg.
Identifiseer een probleemsituasie waar jou eie prioriteite bots met dit wat ander van jou verwag, en soek die wil van God aangaande daardie saak. Vul dan die meegaande "prioriteite waarderingstabel" in deur die aantal ure wat jy per week aan elke aktiwiteit bestee voor die aktiwiteit op die lys in te vul:
(Slaap ...; Werk ...; Eet ...; Gesinsaktiwiteite ...; Reis ...; Studie ...; Kuiers ...; Bybelstudie ...; Sport ...; Ontspanning ...; Gebed ...; Oefen program ...; Bad ...; Gemeenskap met ander gelowiges ...; Bediening ...; Aantrek ...; Huis/tuin/motoronderhoud en herstelwerk ...; Skeer of grimeer ...; Ander ...).
Elke mens het 168 ure per week beskikbaar. Nadat jy die aantal ure in die oop spasie langs die aktiwiteit neergeskryf het, sal jy 'n idee begin kry hoe jy jou tyd spandeer. Nadat jy die aangetekende ure op die meegaande lys opgetel het, is die verskil tussen jou antwoord en die 168 beskikbare ure, verlore tyd.
Dink nou weer aan die twee grootste prioriteite in Matteus 22:37-40. In hoe 'n mate kom dit in jou lewe tereg, te oordeel aan jou weeklikse tydspandering. Watter aktiwiteite in jou daaglikse program word gewoonlik die eerste gekanselleer? Ten gunste van watter aktiwiteite geskied dit gewoonlik?
Begin om gereeld prioriteite aan jou verwagte daaglikse aktiwiteite toe te ken deur eerstens 'n lysie te maak van dinge wat op daardie dag gedoen moet word, en tweedens die aktiwiteite in daardie lysie in volgorde van belangrikheid te rangskik (die belangrikste aktiwiteit hoef nie noodwendig in tyd eerste aandag te kry nie, maar moet die mees definitiewe aandag verkry en kan beslis nie oorstaan na 'n volgende dag nie). Daarna moet jy besluit teen watter tyd die belangrikste aktiwiteite aandag moet kry.

3.3.3.e Stel 'n eenvoudige persoonlike begroting op vir die maand.

Kyk weer na doelwit 3.3.1.e en probeer dan om 'n eenvoudige persoonlike begroting op te stel vir die maand.

3.3.3.f Begin met 'n gereelde program van fisieke oefening en gesonde dieet.

Dink jy nie ook dat dit belangrik is om, indien jy gesond wil wees, 'n gesonde liggaam wil hê en fisiek goed wil voel, jy 'n gesonde dieet behoort te volg en gereelde fisieke oefening behoort te doen nie? Dit is van die moeilikste dinge om mee vol te hou, maar dit is deur en deur ons verantwoordelikheid om die tempel van die Heilige Gees op te pas en te versorg.
Besoek 'n dieetkundige, maar verkieslik ook 'n geneesheer om die regte dieet aan jou voor te skryf en jou vordering te monitor. 'n Verkeerde dieet kan jou liggaam beskadig en die entoesiasme en gewilligheid om gesond te eet demp.
In verband met fisieke oefening, is daar 'n legio moontlikhede wat wissel van informele en nie-kompeterende aktiwiteite (soos onder andere stap, draf, fietsry, oefenfiets, roei, tennis, muurbal, en gimnasium) tot formele en georganiseerde kompeterende sport.
Neem 'n daadwerklike besluit oor hoe jy fisiek wil oefen. Verkry deskundige advies oor die spesifieke oefenprogram wat jy gekies het. 'n Verkeerde oefenprogram en metodes kan die liggaam beskadig en die entoesiasme en gewilligheid om te oefen demp.

3.3.3.g Gee jouself aan God oor as 'n aanneemlike offer.

Gaan kyk weer na doelwit 1.3.1.b,c; 2.3.1.a; 3.3.1.g,h en 3.3.3.c, en maak seker dat jy wel hierdie waarhede in jou persoonlike lewe aanvaar en toepas. Maak teen hierdie agtergrond, 'n lys van al jou positiewe eienskappe (soos God jou sien) en lees dit elke dag vir ten minste 21 opeenvolgende dae.
Stel ook 'n lys van al jou negatiewe eienskappe saam en onderskei tussen die wat kan verander en die wat nie kan verander nie. Bid gereeld tydens stiltetyd tot God om spesifieke negatiewe eienskappe en praktyke waarvan jy bewus is en wat kan verander, in jou te verander en om aanvaarding in jou hart te werk ten opsigte van die spesifieke eienskappe wat nie kan verander nie. Noem die eienskappe op die naam en werk met God saam deur nie op te hou bid voordat God se werk in jou voltooi is nie.
Lees Romeine 12:1,2 en gee jouself daagliks as 'n aanneemlike offer in Christus, aan God oor.


3.4 GROEIAREA: GESIN

INHOUD

3.4.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken die basiese Bybelse beginsels wat nodig is om in vrede saam met 'n ongelowige huweliksmaat te lewe.
b. Weet dat die huwelik as 'n onbreekbare band ingestel is en ken God se standpunt insake egskeiding en hertroue.
c. Weet dat man en vrou voor God gelyk is.
d. Ken die rol van die man in die huwelik.
e. Ken die rol van die vrou in die huwelik.
f. Verstaan dat verhoudings binne die gesin groot prioriteit moet geniet.
g. Verstaan dat die gesin die kern kan vorm van 'n bedieningsplan.
h. Weet hoe om rein, diskreet en met die regte liefde op te tree teenoor die teenoorgestelde geslag, buite die huwelik.
i. Weet hoe om korrek en verantwoordelik op te tree teenoor jou kinders en jou vorige huweliksmaat, indien jy geskei is.
j. Ken die eienskappe van 'n gesonde gesin.

3.4.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Aanvaar jou huweliksmaat as die persoon deur wie God vervulling wil gee aan jou spesifieke behoeftes as unieke individu.
b. Begeer om lojaal en getrou te bly aan jou huweliksmaat.
c. Ervaar 'n weersin teenoor seksuele wanpraktyke.
d. Aanvaar kinders as unieke gawes van God wat in die volgende geslag diensknegte vir God kan wees.
e. Aanvaar jou ouers/voogde as die persone deur wie God vervulling wil gee aan jou spesifieke behoeftes as unieke individu.
f. Ervaar 'n gesindheid van respek, gehoorsaamheid en dankbaarheid teenoor jou ouers/voogde en 'n begeerte om van hulle te leer.
g. Is oortuig dat 'n huwelik met 'n ongelowige teen God se wil is en benader potensiële huweliksverhoudings in hierdie lig.

3.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Ontdek die rol van die man en die vrou in die huwelik.
b. Spandeer beplande kwaliteit tyd (daagliks, weekliks, maandeliks, jaarliks) met jou huweliksmaat.
c. Spandeer beplande kwaliteit tyd (daagliks, weekliks, maandeliks, jaarliks) met individuele gesinslede en met die gesin as groep.
d. Stel 'n gesinsbegroting op en hou daarby.
e. Begin 'n program van persoonlike dissipelmaking met jou kinders met die oog op hulle geestelike groei.
f. Leer jou kind om geld as 'n verantwoordelike rentmeester te bestee.
g. Doen met entoesiasme mee aan huistake.
h. Pas God se beginsels aktief toe in die hofmaak proses.


3.4.1 Kennisdoelwitte:

3.4.1.a Ken die basiese Bybelse beginsels wat nodig is om in vrede saam met 'n ongelowige huweliksmaat te lewe.

Bestudeer 1 Korintiërs 7:10-16,39,40 en 1 Petrus 3:1,2. Skryf die beginsels wat in hierdie Skrifgedeeltes vervat is neer. Bestudeer ook wat vir God onder bepaalde omstandighede aanvaarbaar is (egskeiding of voortgesette huwelik), aan die hand van 1 Korintiërs 13; 2 Korintiërs 6:14-18; 1 Petrus 3:1.

3.4.1.b Weet dat die huwelik as 'n onbreekbare band ingestel is en ken God se standpunt insake egskeiding en hertroue.

Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes en lê veral klem op aspekte soos onbreekbaarheid van die huwelik, onaanvaarbaarheid van egskeiding, waarom egskeiding wel in sekere gevalle toegelaat word, hertroue en die aanmoediging van versoening (Deutronomium 22:13-19,28,29; 24:1-4; Ester 1:10-22; Hosea 2:1-22; Maleagi 2:13-16; Matteus 5:27-32; 19:1-12; Markus 10:1-12; Lukas 16:18; Romeine 7:2,3; 1 Korintiërs 7:11-16,39,40; Efesiërs 5:31).

3.4.1.c Weet dat man en vrou voor God gelyk is.

As skepsele na die beeld van God is man en vrou voor Hom gelyk (Genesis 1:27b). Vir God is die een nie belangriker as die ander nie. Op grond van elkeen se unieke geskapenheid vertrou Hy aan elkeen 'n rol toe binne die huwelik. Hulle verteenwoordig Hom elkeen op 'n unieke manier in mekaar se lewens.

3.4.1.d Ken die rol van die man in die huwelik.

Kyk na doelwit 2.4.1.f; 3.4.3.a. Die man se rol is deur God aan hom toegesê (1 Korintiërs 11:3; Efesiërs 5). God is die Hoof van Christus. Christus is die Hoof van die man. Die man is die hoof van die vrou. Die vrou is 'n hulp vir die man. Die man is dus verantwoording aan God verskuldig vir sy optrede teenoor sy vrou. Die man moet sy vrou geestelik lei (1 Korintiërs 14:35). Hy moet 'n voorbeeld wees ten opsigte van sy verhouding met God, en sy vrou se geestelike behoefte in hulle verhouding eerste stel.
Die man moet sy vrou liefhê (Efesiërs 5:25). Hierdie liefde moet onvoorwaardelik (Romeine 5:8), ewig (Johannes 13:1), onselfsugtig (Filipense 2:6,7), allesoorheersend (Romeine 8:39), doelgerig (Efesiërs 5:26,27), selfopofferend (Johannes 15:13), en sigbaar (Johannes 13:12-15) wees.
Die man is dus volgens Efesiërs 4 en 5 'n liefdevolle dienskneg-leier. Hy vervul sy rol binne die raamwerk van die onderlinge verbond tussen hom en sy lewensmaat, sowel as binne die raamwerk van God se verbond met hulle. Wat hulle ookal doen moet daarop gerig wees om beide hierdie verbonde te versterk en nie in gevaar te stel nie.

Praktiese liefde vir jou vrou:
Sê in woorde dat jy haar liefhet. Leer om haar behoeftes raak te sien en daarop te reageer. Ondersteun haar in haar (huis) werk en ander take. Moet nooit haar swak punte met ander mense bespreek nie. Weier om haar op ongunstige wyse met ander te vergelyk. Weier om van haar af weg te gaan wanneer sy huil. Luister na haar. Respekteer haar as vrou.
Tree bedagsaam en teer teenoor haar op. Moet haar nooit slaan of hardhandig hanteer nie. Spreek gereeld waardering uit vir wie sy is en wat sy doen. Sê dankie en asseblief! Moet nooit spot met iets wat sy nie kan verander nie. Laat haar toe om werklik jou lewe, planne en strewes met jou te deel. Demonstreer aan haar dat jou liefde vir haar voortvloei uit jou verhouding met Jesus Christus.
As man moet jy jou vrou versorg, beskerm en aan haar sekuriteit bied (Efesiërs 5:28,30; 1 Timoteus 5:8). Jy moet aan haar finansiële en materiële sekuriteit, sowel as fisieke en emosionele beskerming bied. Jy moet begrip vir jou vrou hê (1 Petrus 3:7). Jy moet haar buie en frustrasies verstaan, haar belangrik laat voel, sê dat jy haar liefhet en presies sê wat jy van haar waardeer. Jy moet aan jou vrou erkenning gee (Spreuke 31:28,29). Jy moet haar talente erken, haar pogings waardeer, bedagsaam teenoor haar optree en haar laat verstaan dat jy haar aanvaar soos sy is.

3.4.1.e Ken die rol van die vrou in die huwelik.

Kyk na doelwit 2.4.1.f; 3.4.3.a. Volgens Efesiërs 5:21,22 moet vrouens aan hulle mans onderdanig wees. Onderdanigheid beteken nie dat sy 'n vloerlap is met wie die man kan maak wat hy wil nie; dat sy nie met haar man moet praat as hy iets verkeerds doen nie; dat sy moet stilbly as sy oor iets ongelukkig voel nie; dat sy nie haar talente mag gebruik nie en heeldag net by die huis moet sit, huishou en kinders oppas nie; dat sy minderwaardig teenoor die man is nie.
Onderdanigheid beteken egter dat sy só teenoor haar man ingestel is, dat sy hom met respek en uit liefde moet bystaan met hulp en diens in dit wat reg is. Nie uit dwang nie. Sy is dus 'n gewillige medewerker met respek (Efesiërs 5; 1 Petrus 3) binne die raamwerk van die verbond tussen haar en haar lewensmaat, sowel as binne die raamwerk van die verbond wat God met hulle het.
Die vrou moet haarself versorg sodat sy aantreklik en mooi is, veral van binne (1 Petrus 3). Sy moet 'n kwaliteit verhouding met die Here handhaaf, die kinders saam met haar man opvoed, daartoe bydra dat die kinders ook vir die man lief bly, die man in sy besluitneming en planne bystaan en vertrou en hom in sy beroep ondersteun.
Sy moet na haar man se probleme en frustrasies luister en hom laat voel dat hy vir haar belangrik is en dat sy hom in sekere opsigte bewonder.
Die vrou lewer dus haar eie, unieke, kreatiewe bydrae in die span wat sy saam met haar man vorm. Man en vrou help mekaar dus om waarlik man en waarlik vrou te wees.

3.4.1.f Verstaan dat verhoudings binne die gesin groot prioriteit moet geniet.

Kyk weer na doelwit 3.3.3.d. Maak 'n lys van 5 aktiwiteite waaraan jy die meeste tyd spandeer. Rangskik dit in volgorde van belangrikheid en skryf langs elke aktiwiteit die tyd (in ure of minute) wat jy weekliks aan elkeen spandeer, neer. Is jou verhouding tot God bo aan die lys? Is jou gesinsaktiwiteite tweede? Hoeveel tyd spandeer jy per week saam met jou huweliksmaat en kinders/ouers? Dink jy dat jy, in verhouding, enigsins genoeg tyd saam met jou gesin spandeer? Hoe bring jy tyd saam met jou gesin deur en wat beteken dit vir julle?

3.4.1.g Verstaan dat die gesin die kern kan vorm van 'n bedieningspan.

Die geestelike groei van jou gesinslede is jou eerste en grootste verantwoordelikheid ten opsigte van persoonlike dissipelmaking. Jy kan die lede van jou gesin wat die Here werklik liefhet, inspireer om self dissipelmakers te word wat ander persone kan begelei in hul geestelike groei. So kan een gesinslid byvoorbeeld as geestelike groeileier optree vir 'n ander gesinslid en 'n ander weer vir 'n vriend of buurvrou. Julle huisgodsdiens kan so ingerig word dat dit julle gesin se bediening as persoonlike dissipelmakers ondersteun.

3.4.1.h Weet hoe om rein, diskreet en met die regte liefde op te tree teenoor die teenoorgestelde geslag, buite die huwelik.

Lees in jou eie tyd die hele boek Hooglied deur. Kyk hoe word die hartstogtelike verliefdheid van die twee bemindes beskryf. Kyk hoe besing hulle mekaar se liggame. Daar is nie sprake van 'n beheptheid met seks of van 'n voorhuwelikse seksuele verhouding soos 'n proefhuwelik nie (Hooglied 3:5; 8:3,4,6,7). Kyk hoe word hulle hunkering na mekaar beskryf.
Waar kom sondige begeertes vandaan? (1 Timoteus 1:5; 4:12; Titus 1:15; Jakobus 1:27; 1 Johannes 3:3,4).

3.4.1.i Weet hoe om korrek en verantwoordelik op te tree teenoor jou kinders en jou vorige huweliksmaat, indien jy geskei is.

Verstaan jy dat egskeiding in sy wese die gevolg daarvan is dat mense in hul ongehoorsaamheid saamgevoeg het wat God nie wou saamvoeg nie, of dat een of beide van hulle se verhouding met God so agteruit gegaan het dat hy/hulle, in ongehoorsaamheid, dit wat God saamgevoeg het, skei? (sien doelwit 3.4.1.b). In beide gevalle is sonde die oorsaak van egskeiding en begin die korrekte optrede dus by skuldbelydenis en versoening met God (Matteus 20:39; Romeine 13:8-13).
Die korrekte optrede impliseer verder dat 'n geskeide persoon sy gewese huweliksmaat moet vergewe (Matteus 18:21,22; Lukas 17:3,4; 2 Korintiërs 2:7-10; Efesiërs 4:32; Jakobus 5:15,16).
Jou verantwoordelikheid teenoor jou kinders uit 'n gebroke huwelik is net so groot en selfs groter as voor die egskeiding. Jy moet baie vir hulle bid en baie liefde en verdraagsaamheid teenoor hulle bewys. Jy moet hulle geestelike groei meer as ooit op die voorgrond stel. Dit kan van groot hulp wees as jy byvoorbeeld die geestelike groeiprogram in hulle lewens kan implementeer.

3.4.1.j Ken die eienskappe van 'n gesonde gesin.

Aanpasbaarheid: Gesinslede besit hierdie eienskap wat voortvloei uit 'n vaste vertroue in die liefdevolle beheer van God in hulle lewens (Efesiërs 1). Daarom is hulle instaat om buigsaam te wees. Dit vloei voort uit 'n nederige bewustheid van hulle beperkings, dat hulle nie volwasse in alle groeiareas is nie en daarom weet dat hulle verandering nodig het. Hulle besef dat hulle nie hulle fundamentele identiteit van hul slim planne, idees en sukses verkry nie, maar van Christus. Hulle besef ook dat hulle nie persoonlik met hulle idees verweef is nie. Hulle lewensdoel is om die wil van God te doen en daarom is hulle voortdurend oop vir die leiding van God (Matteus 12:25; Romeine 14:15-21; 1 Korintiërs 13; 2 Korintiërs 13:11; Efesiërs 2:1-5; 4:1-6; Kolossense 3:1-21; Hebreërs 12:14,15; 1 Petrus 3:8-12; 5:1-7; Jakobus 3:13-18; 4:1-3,6-17). Die vrug van aanpasbaarheid is om as 'n gesin saam te werk om God se plan vir hulle gesinsituasie uit te voer. Daarom moet elke gesinslid nederig en oop wees.
Kommunikasie: Kommunikasie kan 'n verhouding stimuleer tot groei, maar daar kan ook met woorde gewond word (Spreuke 15:23; 18:4,21; 29:11; Galasiërs 4:6; Efesiërs 4:15,29; Filipense 2:14-16; 1 Tessalonisense 5:14).
Verbondenheid: Dit behels 'n lewenslange belofte in die huwelik. Dit veronderstel dat die dinge wat God as belangrik vir die verhouding ag, prioriteit geniet. Dit behels volharding tydens ‘n groeigeleentheid, groeiproses waarin negatiewe ervarings vir die partye dien. Hierdie verbintenis is soms moeilik, veral as die een party nie die ander aanvul nie. Die partye is nie sonder sonde nie en daarom neem hierdie verbondenheid tyd om te groei.
Aanmoediging: Dit is voortdurend nodig vir partye om as agente van God te werk in mekaar se lewens (Galasiërs 5:13; Efesiërs 4:16; Filipense 2:3,4; Hebreërs 10:24).
Duidelike roldefinisie: Gesinslede moet 'n helder visie van hulle eie en ander se "posbeskrywings" hê. Hulle is in hierdie opsig aan mekaar verantwoording verskuldig.
Gedeelde tyd: Lees Deutronomium 6 aandagtig deur.
Godsdienstige oriëntasie: Die gesin se hoër agenda moet wees om mekaar te begelei in hulle geestelike groei na die beeld van Christus. Die lewe word deur ouers beskou as 'n geleentheid om hulle kinders in 'n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing te onderrig (Deutronomium 6:1-9; 8:1-20; Josua 24:15; Spreuke 1:8,9; 3:1,2; 7:1-3; 22:6; Kolossense 3:16; 1 Petrus 3:15-17).
Uitdrukking van waardering: God wil dat gesinslede mekaar sal aanspoor deur hulle waardering uit te druk.
Sosiale hegting: Die gesin behoort geheg te wees aan iets groter as die gesin self. Die gesin behoort ingebed te wees in die liggaam van Christus. 'n Gesin moet oop en benaderbaar wees. Hulle moet selfs bereid wees om hulle probleme te openbaar in 'n soeke na hulp en insette deur die liggaam van Christus, om in hulle lewens en verhoudings te werk. Die gesin is tot 'n hoër agenda geroep, naamlik om ook 'n voertuig van God se seën aan ander te wees. Hulle moet 'n missie hê om as sout, lig en verteenwoordigers van God op te tree, om sodoende 'n invloed op die groter gemeenskap te hê. Die gesin leef dus nie selfsugtig binne hulle vier mure nie.

3.4.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.4.2.a Aanvaar jou huweliksmaat as die persoon deur wie God vervulling wil gee aan jou spesifieke behoeftes as unieke individu.

Die korrekte uitlewing van 'n interpersoonlike en intieme verhouding begin by die regte verstaan van liefde. Dink goed na oor die volgende stelling in die lig van die onderstaande Skrifgedeeltes: "Aanvaarding begin by liefde. Liefde begin by die God!" (Deutronomium 30:19,20; Hooglied 4:6; Maleagi 2:14; Johannes 3:16; 4:7,16-18; Romeine 5:8; 12:15; 1 Korintiërs 13:8; Galasiers 6:2; Efesiërs 4:15; 5:29; Hebreërs 12:5,6). Deel dit wat jy van jou huweliksmaat waardeer met haar (sien doelwit 2.4.1.c). Bid dat die Here hierdie gesindheid van aanvaarding teenoor jou huweliksmaat by jou sal werk en versterk.

3.4.2.b Begeer om lojaal en getrou te bly aan jou huweliksmaat.

Wat is jou siening van die begrippe "lojaal" en "getrou"? Stem jy daarmee saam dat huwelikstrou en lojaliteit veral in krisistye getoets word? (Johannes 15:13; Galasiërs 6:2; 1 Korintiërs 13:8).
Bid dat die Here jou lewensmaat altyd meer aantreklik vir jou sal maak en die begeerte tot lojaliteit en getrouheid by jou sal werk en versterk.
As daar enigiemand anders is wat 'n geheime plek in jou hart verower het en wat enigsins jou huweliksverhouding kan bedreig, moet jy dit eerlik met God uitpraat en van Hom bid om hierdie gevoelens te verander. Onthou dat verkeerde dade begin met die koestering van verkeerde gedagtes.
As daar 'n geheime liefde in jou lewe is, moet jy dit dringend met 'n vertroueling gaan deel en hulp kry by 'n professionele huweliksberader.

3.4.2.c Ervaar 'n weersin teenoor seksuele wanpraktyke.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes saam met die dissipel deur en vra aan hom hoe hy seksuele losbandigheid in films, tydskrifte en ander openbare plekke ervaar. Vra ook aan hom hoedat dit sy verhouding met die Here en met sy huweliksmaat beïnvloed wanneer hy aan hierdie invloede blootgestel word (Levitikus 18:6-18; Deutronomium 23:17; 27:21; Romeine 1:26,27; 1 Korintiërs 5:1-5). Bid saam met hom dat God 'n voortdurende weersin teenoor seksuele wanpraktyke by hom sal opwek.

3.4.2.d Aanvaar kinders as unieke gawes van God wat in die volgende geslag diensknegte vir God kan wees.

Hoe voel jy ten opsigte van jou kinders? Beleef jy hulle as 'n gawe van God of beleef jy hulle dalk as 'n ontydige ergernis? (Genesis 33:4). Erken jy dat jou kinders in sonde ontvang en gebore is (Psalm 51:7) en dat jy dus kan verwag dat hulle daarom ook soos sondige mense sal optree?
Is jy bereid om geduldig met hulle te wees en om hulle te vergewe, net soos God die Vader met ons geduldig is en ons keer op keer weer vergewe (1 Johannes 1:8-10)? Maak seker dat jy nie uit misplaasde liefde jou kinders hulle sonde toelaat sonder om hulle daarvan te verseker dat hulle ook verantwoording aan God verskuldig is nie (Romeine 6:23).
Besef jy ook dat jou kinders, net soos jy, die soenverdienste van Christus moet verstaan, en dat jy die een is wat dit aan hulle behoort te verduidelik? (sien doelwit 1.1.1.c). Weet jy wat jou as ouer te doen staan om te kan verseker dat jou kind(ers) diensknegte van God kan wees? (sien doelwit 3.4.1.g).
Lees Johannes 1:12,13; 3:16 en Handelinge 1:8 aandagtig deur. Bid tot God oor jou ervarings met en gevoelens oor jou kinders deur Hom te loof, te dank en te smeek.

3.4.2.e Aanvaar jou ouers/voogde as die persone deur wie God vervulling wil gee aan jou spesifieke behoeftes as unieke individu.

Aanvaar jy, teen die agtergrond van doelwit 2.4.1.f, jou ouers/voogde en ervaar jy hulle as die persone deur wie God vervulling wil gee, gee en gegee het, aan jou spesifieke behoeftes as unieke individu? Uit hierdie vraag mag baie mooi en lelike ervarings, herinneringe en gevoelens na vore kom. Deel dit met 'n Christenvriend wat sal verstaan en wat met begrip en empatie daarna sal luister. Lees Genesis 18:19; Deutronomium 4:9; 6:6,7; 21:18-21; 2 Korintiërs 12:14; Hebreërs 11:23 en dra jou gevoelens aan God op in gebed.

3.4.2.f Ervaar 'n gesindheid van respek, gehoorsaamheid en dankbaarheid teenoor jou ouers/voogde en 'n begeerte om van hulle te leer.

Ervaar jy 'n gesindheid van respek, gehoorsaamheid en dankbaarheid teenoor jou ouers/voogde en het jy 'n begeerte om van hulle te leer? Uit hierdie vraag mag ook baie mooi en lelike ervarings, herinneringe en gevoelens na vore kom. Deel dit met 'n Christenvriend wat met begrip en empatie daarna sal luister. Onthou dat, in die geval waar jou ouers reeds oorlede is, jy as kind steeds met jou ervarings en herinneringe moet saamleef. Die gesprek bly dus steeds relevant.
Lees Deutronomium 30:2; Prediker 12:1 en Efesiërs 6:1-3. Maak seker dat jy verstaan dat bogenoemde gesindheid by die regte verhouding tot God begin. Dra daarom jou gevoelens aan God op in gebed.

3.4.2.g Is oortuig dat 'n huwelik met 'n ongelowige teen God se wil is en benader potensiële huweliksverhoudings in hierdie lig.

Dink mooi na oor jou gevoelens ten opsigte van 'n huwelik met 'n ongelowige, teen die agtergrond van doelwit 3.4.1.a. Hierdie gevoelens mag voortspruit uit vorige ondervinding in hierdie verband, of dit mag verband hou met 'n potensiële huweliksverhouding waarby jy op die oomblik betrokke is.
Lees 2 Korintiërs 6:14-18 deur, dra jou gevoelens en praktiese situasie aan God op en vra sy leiding in die verband.

3.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.4.3.a Ontdek die rol van die man en die vrou in die huwelik.

Ontdek, aan die hand van die volgende vraelys, die rol van die man en vrou in die huwelik, en vergelyk daarna jou antwoorde met doelwit 3.4.1.d,e:
Die vrou word vandag totaal deur die man gedomineer, oorheers en misbruik, daarom moet vroue saamstaan en hulleself bevry van hierdie oorheersing (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
In vergelyking met mans is alle vroue minderwaardig (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
Man en vrou is gelyke venote in ons huwelik (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
In alle huwelike is dit altyd die vrou wat die swaarste kry. Sy moet die steunpilaar in die huis wees, sy moet kook, was en stryk, sy moet die kinders versorg, sy moet vir die huis en tuin sorg, sy moet die kinders opvoed. As die man haar nie wil help met haar verantwoordelikhede nie, is dit sy verdiende straf as sy nie sy minnares wil wees nie (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
'n Vrou gee seks om liefde te kry. 'n Man gee liefde om seks te kry (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
As die vrou ongelukkig is oor haar situasie moet sy met haar man daaroor praat en hom duidelik laat verstaan wie die baas in die huis is (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
As 'n vrou 'n slegte opvoeder en 'n slegte moeder is, is dit haar man se skuld (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
Vroue mag nie self 'n beroep/werk aanvaar nie. Hulle moet by die huis bly en kinders grootmaak (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
Die enigste manier waarop vroue gelukkig kan wees, is wanneer hulle hulle mans domineer (waar/onwaar, motiveer u antwoord).
* Wat beteken "onderdanig" in Efesiërs 5:21,22?

3.4.3.b Spandeer beplande kwaliteit tyd (daagliks, weekliks, maandeliks, jaarliks) met jou huweliksmaat.

Hou jou eie dinkskrum-oefening om aktiwiteite te identifiseer wat as "net-ons-twee"-aktiwiteite kan dien. Aktiwiteite sal van huwelik tot huwelik verskil, onder andere na gelang van omstandighede, belangstelling en ouderdom van huweliksmaats. Nadat jy die aktiwiteite gekies het wat jy dink binne jou huwelik sal werk, kan jy beplan hoe hy die gedagte van 'n "net-ons-twee"-aktiwiteit aan jou huweliksmaat gaan verduidelik. Beplan en implementeer 'n eerste "afskopaktiwiteit", waarvan jy seker is albei van julle baie sal hou (onthou om realisties te wees ten opsigte van tyd, geld, en veral die fisieke en ander vermoëns en behoeftes van beide huweliksmaats).
Betrek, na afloop van die eerste "net-ons-twee"-aktiwiteit, jou huweliksmaat by 'n dinkskrum waartydens julle saam nog sulke aktiwiteite kan beplan en skeduleer.

3.4.3.c Spandeer beplande kwaliteit tyd (daagliks, weekliks, maandeliks, jaarliks) met individuele gesinslede en met die gesin as groep.

Het dit wat in doelwit 2.4.3.e beplan is, geslaag, en is dit op julle gesin se gereelde program aangebring? Maak ook afsprake vir soortgelyke geleenthede saam met individuele gesinslede.

3.4.3.d Stel 'n gesinsbegroting op en hou daarby.

Maak om 'n sukses van doelwit 3.3.1.e, met die klem op gesinsdeelname.

3.4.3.e Begin 'n program van persoonlike dissipelmaking met jou kinders met die oog op hulle geestelike groei.

Implementeer die Geestelike Groeiprogram in die lewens van jou kinders (sien doelwit 4.7.1.c). Voeg dit as 'n doelstelling in jou lewenstrategie (sien doelwit 2.3.3.c) in en skeduleer dit op die korrekte wyse.

3.4.3.f Leer jou kind om geld as 'n verantwoordelike rentmeester te bestee.
Maak seker dat jou kinders verstaan dat jy hard vir jou geld werk, en dat daarmee in hulle behoeftes voorsien moet word. Hulle het dus almal 'n groot verantwoordelikheid as rentmeesters (sien doelwit 3.3.1.b) ten opsigte van die besteding van die gesin se geld in belang van die gesin. Dit is maar 'n klein oefening in die leerproses aangaande rentmeesterskap. Hulle moet verstaan dat ons uiteindelik aan God moet rekenskap gee oor hoe ons die vermoëns, middele en geleenthede wat ons in die algemeen van Hom ontvang het, bestee het.
Leer jou kinders dat God aan elkeen 'n gesonde verstand gegee het en dat ons dit moet gebruik deur ook gesonde ekonomiese beginsels na te kom (soos dat goedkoop koop dikwels duur koop kan wees, dat 'n mens maar altyd kan onderhandel vir 'n laer prys, navraag moet doen om die beste en laagste prys te bekom en dat 'n mens oor die algemeen moet probeer om eerlik en sonder skuld te lewe).

3.4.3.g Doen met entoesiasme mee aan huistake.

Probeer om saam met jou gesin 'n lys van moontlike huistake, wat deur beide ouers en kinders verrig kan word, te maak. Aan elkeen moet verduidelik word wat presies van hom verwag word (die wanneer en hoe) en dat dit hier om 'n spanpoging gaan. Dat kind(ers) moet gehelp en gelei word om deel te hê aan die keuse van hierdie take. Beklemtoon die feit dat jyself met entoesiasme aan hierdie huistake moet meedoen, onder andere as voorbeeld vir die ander gesinslede.

3.4.3.h Pas God se beginsels aktief toe in die hofmaakproses.

Kyk weer na dit wat jy uit die studie van Hooglied (doelwit 3.4.1.h) geleer het en hoe jy hierdie Skrifbeginsels kan toepas in jou verhoudings met die teenoorgestelde geslag.


3.5 GROEIAREA: GEMEENSKAP

INHOUD

3.5.1 Kennisdoelwitte:
a. Neem kennis van die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon.
b. Neem kennis van verskillende genadegawes van die Gees.
c. Weet dat jy 'n waardevolle lid is van die liggaam van Christus en waarlik deur God gebruik kan word in die lewens van ander.
d. Ken die kenmerke van die ware kerk.
e. Weet aan watter vereistes 'n Bybelstudie groepleier moet voldoen en ken die eienskappe van en kommunikasie binne die suksesvolle Bybelstudiegroep.

3.5.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Begeer om die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon te besit.
b. Is daarvan oortuig dat jy kosbaar is vir die liggaam van Christus.
c. Begeer om deur God gebruik te word.

3.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Is formeel lidmaat van 'n kerk en het begin deelneem aan gemeentelike aktiwiteite.
b. Begin 'n Bybelstudiegroep.
c. Begin om medegelowiges te dien en te bemoedig.


3.5.1 Kennisdoelwitte:

3.5.1.a Neem kennis van die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon.

Ontdek self die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon deur die onderstaande Skrifgedeeltes aandagtig deur te lees. Stel 'n lys van die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon op (Handelinge 19:8; 20:22-24; 28:31; Romeine 1:14,15; 8:1,15; 13:8-10; 1 Korintiërs 13:11; 14:20 2 Korintiërs 1:19; 3:2,3; 4:5; 5:1,18-21; Galasiërs 5:22,23; Efesiërs 5:18-21; Kolossense 2:13,14; 3:5-17; 1 Timoteus 3:2-7; 2 Timoteus 2:24-26; Titus 1:6-9; 2:7; Hebreërs 5:12-14; 1 Petrus 3:15; 5:2; 1 Johannes 2:14; Openbaring 3:2). Vergelyk jou lys met dié in doelwit 2.3.1.b.

3.5.1.b Neem kennis van verskillende genadegawes van die Gees.

Neem self kennis van verskillende gawes van die Gees, deur die meegaande Skrifgedeeltes te bestudeer, en gee veral aandag aan aspekte soos wie almal gawes ontvang, wat die doel met die gawes is, watter gawes jy ontvang het en hoe jy dit gebruik. Maak 'n lys van al die gawes (Romeine 12:3-8; 1 Korintiërs 12; Efesiërs 4:7,8,11-13; 1 Petrus 4:10,11).

3.5.1.c Weet dat jy 'n waardevolle lid is van die liggaam van Christus en waarlik deur God gebruik kan word in die lewens van ander.

Ontdek self dat jy 'n waardevolle lid van die liggaam van Christus is en waarlik deur God gebruik kan word in die lewens van ander, deur die meegaande Skrifgedeeltes te bestudeer (Romeine 12:6; 1 Korintiërs 12:7,25; Efesiërs 1:3-14; 4:11,12; 1 Petrus 1:18,19; 4:10).

3.5.1.d Ken die kenmerke van die ware kerk.

Wat verstaan jy onder die begrip "kerk"? Lees die meegaande Skrifgedeeltes (Romeine 16:5; 1 Korintiërs 3:16; 12:27,28; Galasiërs 6:16; Efesiërs 1:22,23; 2:19; 4:12; 5:22-32; Kolossense 1:13; Hebreërs 12:23; 1 Petrus 2:5).
Leer ken die oorsprong, doel, wese en basiese kenmerke van die kerk, deur die volgende Skrifgedeeltes te bestudeer: Oorsprong van die kerk (Matteus 16:18; Handelinge 2:41,47; Galasiërs 3:28; Efesiërs 2:19-20; 1 Petrus 5:2). Doel van die kerk (Matteus 28:18-20; 2 Korintiërs 13:1-10; Efesiërs 3:21; 4:11-16; 2 Timoteus 2:1-2). Die wese van die kerk (1 Korintiërs 12:12-15). Die kenmerke van die kerk (Eenheid - 1 Korintiërs 10:32; 11:16; Efesiërs 4:4-6. Heiligheid - 1 Korintiërs 1:22; Efesiërs 1:4; Tessalonisense 2:13. Algemeenheid - Matteus 28:19,20; Handelinge 1:8. Apostolisiteit - Lukas 10:16; 2 Korintiërs 5:20).
Die drie eienskappe waaraan die ware kerk geken kan word, is die suiwer bediening van die Evangelie, sakramente en tug. Die redes waarom 'n gelowige betrokke by die plaaslike gemeente moet wees, word onder andere gevind in die meegaande Skrifgedeeltes (Handelinge 2:42-47; 20:7; 1 Korintiërs 12:25; Efesiërs 5:25; Hebreërs 10:25; 1 Petrus 5:1-3).

3.5.1.e Weet aan watter vereistes 'n Bybelstudie groepleier moet voldoen en ken die eienskappe van en kommunikasie binne die suksesvolle Bybelstudiegroep.

Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as 'n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, 'n arbeider wat hom nie vir sy werk hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15).
'n Vyeboom dra vye, nie lemoene nie. Ons pluk vye van 'n vyeboom. Dieselfde geld ook vir ons wat in diens van God staan. Ons word geken aan ons dade. Omdat die Bybel God se gedagtes, wil en woord dra, is dit belangrik dat ons onsself aan God sal gee as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is, sodat God ons kan verander deur ons denke te vernuwe (Romeine 12:1,2).

Hoe lyk 'n Bybelstudiegroepleier?:
Die Bybelstudiegroepleier dien as 'n geestelike leier binne die Bybelstudiegroep. In die Nuwe Testament word die eienskappe van 'n geestelike leier omskryf. Die eienskappe het hoofsaaklik te doen met die persoon se etiese en morele waardes, temperament, gewoontes, geestelike en psigiese volwassenheid en -gawes.
Gaan die onderskeie Skrifgedeeltes na (sien ook doelwit 2.3.1.b), en identifiseer die eienskappe van 'n Bybelstudie groepleier (Markus 10:45; Lukas 10:27; Galasiërs 2:20; Filipense 2:14-16; Kolossense 1:13; 1 Timoteus 3:1-13; Titus 1:6-9, 2:7-8; 1 Korintiërs 15:9,10; 2 Korintiërs 1:19; 3:2-3; 4:5; 5:18-20; 13:5; Handelinge 19:8; 20:22-24; 28:39; Romeine 1:8,14-15; 13:8-10; Efesiërs 5:18; Kolossense 4:5-6; 1 Petrus 1:14-16; 2:9; 3:15; 1 Johannes 2:6; 5:11-13).
Een blinde kan nie 'n ander lei nie (Lukas 6:39). Netso kan 'n Bybelstudie groepleier ook nie vir iemand iets gee wat hy self nie het nie. Daarom is dit belangrik dat jy geestelik gesond moet groei op weg na geestelike volwassenheid. Lees in die inleidende hoofstuk hoe om hierdie Geestelike Groeiprogram te gebruik, en begin om doelgerig en behoefte georiënteerd op 'n gedissiplineerde wyse aandag te gee aan jou eie gesonde geestelike groei, in die gesindheid van Psalm 139: 23,24 en 2 Korintiërs 13:5,11.
Dit is ook nodig om psigies gesond te wees. Verdedigingsmeganismes (rasionalisering, kompensering, projektering, regressie, repressie, substitusie, negativisme) kan jou as groepleier oneffektief maak. Genoeg selfkennis en -insig (sien doelwit 3.3.1.c en 2.3.1.a,b), sodat jy verstaan waarom jy op sekere maniere optree, kan jou effektiwiteit as groepleier aanhelp. Aanvaar jouself as iemand wat in Christus alleen volmaak is en nie deur jou eie prestasie ander se erkenning en guns hoef te probeer verwerf nie. Dit is nodig dat jy vrede in jou hart moet hê oor wie jy is, waarheen jy op pad is, hoe jy daar gaan kom, wat reg en verkeerd is en volgens watter maatstaf reg en verkeerd gemeet moet word. Daarsonder kan jy nie as stabiele mens daadwerklike leiding gee nie, en sal jy voortdurend verwar word deur invloede van buite. Daarsonder kan jy ook nie soepel genoeg wees om funksionele koersaanpassings ter wille van doelbereiking te maak wanneer die omstandighede dit vereis nie. Dit is nodig dat jy sal erken dat jy jou doen en late aan God en medemens sal moet verantwoord.
Jou sukses as groepleier sal grootliks afhang van jou vermoë om individuele lede se vrae en behoeftes te identifiseer, jou verhouding met die groep (sien doelwit 5.7.1.e) en of jy 'n toepaslike leierskapstyl (sien doelwit 4.7.1.b) vir die groep gebruik.
As groepleier sal jy oor 'n deeglike kennis van Bybelstudie metodiek (sien doelwit 3.1.1.h en 4.1.1.a,b) moet beskik, die Woord moet ken, die Bybel kundig kan gebruik en erns maak met gereelde stiltetye (sien doelwit 2.3.1.c en 3.2.3.b). Jy hoef nie 'n deskundige te wees nie, maar jy moet deeglik voorbereid wees en die gedeelte wat behandel word goed verstaan.
Jy moet as groepleier die rol vertolk van 'n meningsvormer, inspireerder, diplomaat, inisieerder, fasiliteerder, bemiddelaar, inligtingsoeker, spanningsbreker, konflikhanteerder (sien doelwit 5.8.3.c), rigtinggewer, luisteraar (sien doelwit 4.4.3.g), kontroleerder, praktikus, gevoelsevalueerder ensovoort.
Jou gesindheid is baie belangrik. Bid vir 'n liefdevolle gesindheid (sien doelwit 5.8.3.c) teenoor elke groeplid. Ondersoek jou eie motiewe en bid dat dit slegs tot eer van God mag wees (sien doelwit 5.7.1.c).

Die suksesvolle Bybelstudiegroep:
"En nou bly geloof, hoop, liefde - hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde" (1 Korintiërs 13:13). Paulus evalueer die volwassenheid en suksesvolheid van 'n groep, nie op grond van die hoeveelheid geestesgawes wat in die groep teenwoordig is nie, maar op grond van die graad van geloof, hoop en liefde wat in die groep tot uitdrukking kom. Die geestesgawes het wel 'n funksie, maar die belangrikste is geloof, hoop en liefde. Veral die liefde. Dit geld vir die gemeente, maar ook vir die kleiner groep gelowiges, soos die Bybelstudiegroep.
Hoe lyk 'n Bybelstudiegroep? 'n Bybelstudiegroep is 'n unieke gemeenskap van gelowiges waar God beter leer ken word, liefgekry word en waar geleer word om Hom met groter toewyding te dien. Dit is 'n dinamiese eenheid van 'n paar persone wat ervaar dat hulle op 'n spesiale wyse aan mekaar en aan die groep behoort. Hier vind doeltreffende wisselwerking en egte, eerlike, oop kommunikasie tussen lede plaas, sonder voorbehoud.
Hulle is gerig op 'n gemeenskaplike doel. Lede word deur persoonlike behoeftes gemotiveer om aan die groep te behoort, tot die mate waarin hulle persoonlike behoeftes in lyn met die groep se doelwitte is. Lede word deur 'n samehorigheidsgevoel saamgebind, voel tot 'n mate afhanklik en verantwoordelik vir mekaar en oefen 'n positiewe invloed op mekaar uit.
Die groepskohesie wat die lede aan mekaar bind, word versterk deur hulle gehoorsaamheid in woord en daad aan die Here, deur die mate waarin lede behoeftebevrediging ervaar en deur die wyse waarop hulle begelei word tot gemeenskaplike dienslewering na buite.
Daar kan verskeie doelwitte nagestreef word deur 'n Bybelstudiegroep, byvoorbeeld geestelike toerusting (2 Timoteus 3:16,17), aktiewe deelname van groeplede rondom die Bybel en onder die leiding van die Heilige Gees sodat elke groeplid God kan verheerlik (1 Korintiërs 10:31), geestelik kan groei (1 Petrus 2:2), gemeenskap van die heiliges kan ervaar (Handelinge 1:62). Dit is dus 'n geestelike tuiste, veral vir jong Christene.
'n Bybelstudiegroep is dus 'n studiegroep, groeigroep, omgee-gemeenskap, 'n meedeelgroep, 'n diensgroep en 'n liefdesgroep. Die groeplid kyk na die inhoud van die Bybel deur die oë van ander en ontdek hoe die Skrif direk op sy persoonlike lewe van toepassing is, ervaar ondersteuning van ander wat graag wil hê dat hy geestelik moet bly groei, beleef dat hy deel word van die liggaam van Christus, sien positiewe verandering in mekaar se lewens en word geïnspireer om God opreg te aanbid.
Uit die Here se Woord vind ons sekere riglyne oor hoe groeplede se verhoudings met mekaar onderling moet wees. Gaan die onderskeie Skrifgedeeltes na, en identifiseer die eienskappe van 'n Bybelstudiegroep (Romeine 12:10,16; 13:18; 14:13,19; 15:5,7,14; Kolossense 3:9,12,13,16; Efesiërs 4:1,2,32; 5:19,21; Jakobus 4:11; 5:9,16; Galasiërs 5:13, 6:2; 1 Tessalonisense 4:18; 1 Petrus 4:9; 1 Korintiërs 12:25; Hebreërs 3:13).
'n Bybelstudiegroep is dus aan mekaar toegewy. Dit beteken om aan mekaar lojaal te wees, kameraadskap te beoefen, deur die liefde van Christus aan mekaar gebind te wees (Romeine 12:10).
'n Bybelstudiegroep bewys aan mekaar eerbied en stel vir mekaar hierin die voorbeeld. Dit beteken om mekaar se goeie naam en reputasie te beskerm en in stand te hou, te respekteer en mekaar te bewonder ter wille van wat Christus vir elkeen gedoen het (Romeine 12:10).
'n Bybelstudiegroep is eensgesind. Dit beteken om met dieselfde gesindheid en strewe God se wil te soek en te doen (Romeine 12:16; 15:5).
Hulle is vir mekaar lief met dieselfde liefde waarmee Christus hulle liefhet. 'n Selfopofferende, dienende liefde (Romeine 13:8; 1 Tessalonisense 3:12; 1 Petrus 1:22; 1 Johannes 3:11,23; 1 Johannes 4:7,11,12; 2 Johannes :5).
Hulle veroordeel mekaar nie maar aanvaar mekaar ongeag die feit dat hulle hulle nie almal in dieselfde fase van geestelike groei (baba-, kinder-, adolessente- volwasse fase) bevind nie (Romeine 14:13).
Hulle is ywerig in die dinge wat onderlinge vrede en opbou bevorder. Hulle is sensitief vir iets wat hulle mede-lede miskien aanstoot kan gee. Moontlik mag dit iets wees wat nie voor God sondig is nie, maar wat 'n lid, wat miskien nog nie ver op die geloofspad gevorder het nie en wat miskien onlangs tot geloof gekom het, tot struikeling kan wees. Hulle bid saam oor so 'n saak en ondersoek die Woord van die Here hieroor. Hulle vermy verder argumente oor sake wat niks met hulle verlossing en saligheid te make het nie (Romeine 14:19).
Hulle aanvaar mekaar soos hulle is, vir wie en wat hulle is, omdat Christus hulle aanvaar soos, vir wie en wat hulle elkeen is, uitgesluit hulle sonde en sondige karaktereienskappe. Hulle help mekaar om enige sonde of sondige eienskap in die krag van die Heilige Gees te bowe te kom (Romeine 15:7).
Hulle help mekaar op die regte pad. Hulle aanvaar vir mekaar verantwoordelikheid, en vermaan mekaar in liefde wanneer van die regte pad, volgens God se Woord, afgewyk word, sodat al die lede in woord en daad 'n Christelike lewenswandel sal openbaar (Romeine 15:14).
Hulle dra vir mekaar sorg en help mekaar waar daar tekortkominge is. Hulle dra mekaar se belange op die hart (1 Korintiërs 12:25; Galasiërs 6:2).
Hulle dien mekaar en is vir mekaar tot diens in die gestalte van 'n dienskneg soos wat Jesus Homself aan ons diensbaar gestel het (Galasiërs 5:13; Kolossense 3:12).
Hulle dra mekaar se laste, lewe met mekaar mee en staan mekaar met raad en daad by. Hulle gee getrou uitvoering aan die wet van God naamlik om mekaar lief te hê. As die een lid ly, ly al die lede saam, en as die een lid bly is, is al die lede saam met hom bly (Galasiërs 6:2; Kolossense 3:12).
Hulle verdra mekaar en gaan, ter wille van die eenheid van die groep, en die eer van Christus, beskeie, vriendelik en geduldig met mekaar om (Efesiërs 4:1,2; Kolossense 3:12).
Hulle is goedgesind teenoor mekaar en handhaaf onderling 'n goeie gesindheid, waar daar geen ruimte vir kwade gevoelens is nie (Efesiërs 4:32; Kolossense 3:12).
Hulle is hartlik teenoor mekaar en is uit die hart, sonder enige gedwongenheid, innig en opreg met mekaar (Efesiërs 4:32).
Hulle vergewe mekaar en hou nie iets teen 'n ander nie, selfs al is hulle te na gekom. Hulle onthou dat God hulle in Christus vergewe het toe hulle nog sondaars was (Efesiërs 4:32; Kolossense 3:13).
Hulle sing onder mekaar en hou die Here se eer só voor oë, dat hulle samesyn 'n loflied tot Sy eer word (Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16).
Hulle is aan mekaar onderdanig, wil nie self op 'n troontjie sit nie, maar weet dat Christus die enigste Koning is. Hulle besef dat, sodra hierdie verhouding tussen hulle en hulle Koning, Jesus Christus, werklikheid is, dit moontlik is om die ander hoër as hulleself te ag (Efesiërs 5:21).
Hulle lieg nie vir mekaar nie, maar praat slegs die waarheid. Hulle hang die waarheid aan en bevorder dit, want hulle besef dat God hulle vader is en dat Hy die Waarheid is. Hulle weet dat die Satan die vader van die leuen is. Daarom pas onwaarhede en halwe waarhede, wat alles maar net leuens is, nie in 'n Bybelstudiegroep nie (Kolossense 3:9).
Hulle leer en onderrig mekaar. Hulle skerp mekaar voortdurend op in kennis met betrekking tot die volle rykdom van God se Woord, sodat 'n veragtering van kennis nie by die lede sal ontstaan nie (Kolossense 3:16).
Hulle troos mekaar in 'n troostelose wêreld, met soveel teleurstellings en probleme (1 Tessalonisense 4:18). Hulle doen dit deur saam troos uit die Here se Woord te vind. Hulle herinner mekaar aan God se belofte van 'n nuwe hemel en aarde, waar die wil van God sal heers - die erfdeel van hulle wat vlekkeloos, onberispelik, en in vrede met God is (2 Petrus 3:13,14) en wat met die wederkoms van Christus ons woonplek sal word (Johannes 14:1,2).
Hulle spoor mekaar aan en aanvaar vir mekaar verantwoordelikheid deur toe te sien dat die ander lede nie van God afvallig word en in sonde verval nie (Hebreërs 3:13).
Hulle praat nie kwaad van mekaar nie en krenk nie 'n ander lid se persoon of eer deur woorde voor of agter die persoon se rug nie. As hulle van mekaar praat, doen hulle dit uitsluitlik tot opbouing van mekaar en die groep in geheel (Jakobus 4:11).
Hulle kla nie oor mekaar nie en veroordeel geen lid by hulleself of by 'n ander nie. Hulle speel nie oor 'n ander regter nie omdat daar net een Regter is naamlik God. Hulle praat dit in liefde met die betrokke lid uit as iets van 'n lid hulle pla. Wat hulle nie so kan regstel nie laat hulle aan God oor (Jakobus 5:9).
Hulle bely hulle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar. Hulle gesels vrymoediglik met 'n lid oor dit waar hulle hom te na gekom het of waar hulle voel hy hulle te na gekom het. Hulle kom ooreen om vir mekaar oor die spesifieke saak te bid en vergewe mekaar soos wat Christus hulle vergewe het. Hierdie gesindheid heel verhoudinge en bring geestelike genesing (Jakobus 5:16).
Hulle is gasvry teenoor mekaar en ontvang mekaar met blydskap, opregte vriendelikheid en hartlikheid, en gee selfs huisvesting, of enige bystand, waar nodig (1 Petrus 4:9).
Onthou dat Christene nie effektief in afsondering kan groei nie. Ons het mekaar nodig. Ons almal is lede van Christus se liggaam, en Hy is die Hoof van ons almal. Hy lewe en ons het die verantwoordelikheid om uit dankbaarheid tot Sy eer te lewe. Hierdie lewe word binne die groep sigbaar wanneer die eienskappe van die suksesvolle Bybelstudiegroep beoefen en uitgeleef word.

Kommunikasie binne die suksesvolle Bybelstudiegroep:
Die kommunikasie binne die Bybelstudiegroep asook binne die grotere groepsverband (byvoorbeeld die gemeente), is 'n totaal unieke proses in vergelyking met ander kommunikasieprosesse (1 Tessalonisense 1:2-5). Dit is nie bloot net kommunikasie met woorde tussen mense nie, maar tussen God en mens, mens en God, en tussen mens en mens deur totale betrokkenheid. Dit is ook meer as bloot woorde.
God is die Hoofkommunikator in die proses. Hy kommunikeer deur Sy Woord en die Heilige Gees. Hy kommunikeer nie net met die groepleier nie, maar met elke lid afsonderlik. Ons moet onthou dat die groepleier ook 'n lid van die groep is soos enige ander lid. Hy is nie belangriker as die ander lede nie, maar God roep hom tot hierdie spesifieke diens om deur hom leiding aan die groep te gee. God kommunikeer met die groep in geheel wanneer die groep byeen is deur Sy Woord en Gees en deur die onderlinge kommunikasie van die individuele lede.
Die groep kommunikeer met God deur gebed. Op hierdie wyse antwoord die groep op die Woord van God. Die groeplede kommunikeer as individue met God afsonderlik, en die groep kommunikeer as geheel met God wanneer die groep byeen is, deur gebed (waarby elke lid betrek is), samesang en 'n gesindheid van eenheid (soos dit tot uitdrukking kom in die verhouding van die lede onderling, naamlik een van hart en siel (Handelinge 4:32).
Die lede kommunikeer met mekaar onder leiding van die Heilige Gees rondom God se Woord. God bly dus steeds die Hoofkommunikator. Selfs by die onderlinge kommunikasie bly die groep aan God onderworpe. Die groepleier kommunikeer met die lede op so 'n wyse dat hy leiding aan hulle kan gee, dienende, terwyl hy as lid self aan God onderdanig is. Hierdeur word enige magsposisie, of selfverheffing bo die ander lede, uitgeskakel, en bly hy gelykwaardig met die res van die groep, en aan God onderdanig. Kommunikasie binne die groep onder die lede is meer as blote woorde. Dit behels 'n gesindheid en lewenshouding van liefde en eenheid (Johannes 13:35). Hierdeur word die groep dan ook 'n medium waardeur 'n getuienis na buite uitgedra word.
Wanneer groeplede na mense buite die groep uitreik (1 Tessalonisense 1:7,8), word die kommunikasieproses op so 'n besondere wyse herhaal, dat daar as't ware seldeling plaasvind, waartydens nuwe groepe tot stand kom. Die lid wat na buite uitreik, dien dan as leier van die nuwe groep wat deur sy uitreiking tot stand kom, terwyl hy self nog lid bly van die oorspronklike groep. Dit lei tot groei en lewenskragtigheid binne die liggaam van Christus.

Verdere praktiese wenke met betrekking tot kommunikasie tydens groepsbybelstudie:
Groepsbybelstudie is nie 'n preekgeleentheid nie. Die Bybelstudie groepleier lewer nie 'n preek nie aangesien dit nie sy funksie is om die Woord van die Here amptelik te proklameer nie. Hy funksioneer as gespreksleier in die groep.
Groepsbybelstudie is 'n gespreksgeleentheid rondom die Here se woord (Handelinge 17:2; 18:28; 2 Timoteus 2:5; 3:14-17). Die groepleier is nie aan die woord nie, aangesien die Here self deur Sy Woord aan die woord is. Daarom moet die groepleier op so 'n wyse leiding gee dat eie-, of mense-mening nie die Woord van die Here verdring nie.
Al die lede van die groep moet betrek word. Groepsbybelstudie is 'n gespreksgeleentheid waartydens al die lede geleentheid kry om aan die gesprek deel te neem. Die groepleier moet die gesprekvoering so reël, dat al die lede deel word van die gesprek - ook diegene wat geneig is om binne die groep op die agtergrond te tree, of stil van geaardheid is.
Dit is 'n geleentheid om, onder die leiding van die Heilige Gees, by mekaar uit die Here se Woord te leer (Johannes 3:15; Handelinge 6:10; 1 Korintiërs 2:4). Die Bybelstudiegroepleier het slegs 'n funksionele rol om die gesprek tydens groepsbybelstudie ordelik te laat verloop aangesien die Heilige Gees self die leiding neem tydens Bybelstudie. Elke lid moet hom deur die Heilige Gees laat lei en daarom is dit noodsaaklik om voortdurend te bid om vervulling met die Heilige Gees. Vervulling met die Heilige Gees is om deur die Heilige Gees gelei en beheers te word, en om deurgaans in die Gees te wandel.
Niemand mag die groep oorheers nie. Aangesien die Heilige Gees die leiding neem en elke lid hom laat lei en beheers deur die Gees, is daar vir geen lid, selfs die groepleier, geen ruimte om die groep te oorheers nie.
As iemand 'n ander mening huldig, behoort daar na hom geluister te word en behoort bespreking toegelaat te word. Soms gebeur dit dat een of meer van die lede 'n spesifieke teks, of gedeelte, uit die Here se Woord anders verstaan as die res van die groep. Moenie die betrokke lid/lede ignoreer of stilmaak nie. Ook mag geen argumentasie ontstaan nie, maar die lid/lede moet sy/hulle siening gee en dan moet daar biddend in die Here se Woord gesoek word na die korrekte uitleg.
Niemand mag van mening wees dat hy al die antwoorde het nie. Indien onsekerheid oor 'n antwoord of bepaalde uitleg ontstaan of voortbestaan, onderneem om te gaan vasstel wat die korrekte antwoord is by persone wat oor die nodige kennis beskik en daarvoor bekend is dat hulle die Woord van die Here suiwer uitlê. Met die volgende byeenkoms kan die korrekte antwoorde gegee word.
Vrae wat op argumentasie kan uitloop behoort vermy te word. Vrae soos: "Waar het Kain 'n vrou gekry?"; "Het God die opstand van Satan teen Hom beplan?". Hierdie tipe vrae dra geensins by tot enige iemand se heil of saligheid nie, maar lei eerder tot spekulasie, twis en skeuring. Aanvaar dat daar sake is waarvoor God geen duidelike openbaring gegee het nie, asook sake waaroor Sy besluite nie vir ons bestem is om te weet nie.
Groeplede moet geleer word om op 'n mooi manier te bevraagteken en om aan mekaar tyd te gee om oor bepaalde vrae na te dink. Beklemtoon die positiewe in besprekings. Die groepleier kan "oop" vrae (wat nie "ja" of "nee" as antwoord het nie), wat om die sentrale gedagte sentreer, vra om die gesprek te stimuleer.

Vereistes vir 'n suksesvolle Bybelstudiegroep:
Elke groep gaan deur bepaalde ontwikkelingstadiums ("forming", "storming", "norming", "performing"). Identifiseer die fase waarin die groep hom bevind en begelei hom deur al die fases totdat die groep effektief funksioneer.
Dissipline in die groep is belangrik. Die leier en lede moet nie laat kom, Bybels vergeet, vergeet om met gebed te open, onvoorbereid wees, met mekaar raas, lees voordat almal die plek het, 'n haastigheid in liggaamstaal openbaar, mekaar se name vergeet, te vinnig en onduidelik praat, van die punt afdwaal, skinder, dubbele standaarde handhaaf, afbrekende opmerkings maak, die byeenkomste ongereeld bywoon nie. Die groep moet nie langer vergader as wat aanvanklik ooreengekom is nie. Die plek, tyd en duurte van byeenkomste moet vir alle lede aanvaarbaar wees. Die groep moet by die ooreengekome doel bly en moet Skrif-, belydenisskrifte- en kerkgebonde wees. Die handhawing van hierdie dissipline is in die eerste plek die groepleier se verantwoordelikheid.
'n Bybelstudiegroep moet nie groter as agt persone wees nie. Groter groepe loop die gevaar dat subgroepe kan ontstaan en veroorsaak dat alle lede nie persoonlik genoeg betrokke raak nie. Wanneer 'n groep meer as agt lede het, moet dit verdeel in 'n tweede groep, onder leiding van die onder groepleier.
Die plasing van groeplede is belangrik tydens byeenkomste. Hulle moet verkieslik in 'n sirkel sit sodat hulle oogkontak kan maak. Die plek waar byeenkomste gehou word moet nie klinies en koud wees nie, maar moet 'n gesellige warm atmosfeer skep. Daar moet genoeg gerieflike sitplekke vir almal beskikbaar wees. Werkbare reëlings moet getref word vir die versorging van klein kindertjies, indien van die groeplede kindertjies het.

3.5.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.5.2.a Begeer om die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon te besit.

Kyk weer na die lys van die eienskappe van 'n geestelik volwasse persoon soos wat dit in doelwit 3.3.2.a saamgestel is. Kyk weer kortliks na die betekenis van elke eienskap. Vergelyk hierdie eienskappe met jou lewe. Waar en in watter mate skiet jy te kort? Word stil in gebed en vra met opregtheid dat God bogenoemde eienskappe in jou lewe sal begin waar maak, sowel as vir krag en wysheid om ook jou verantwoordelikhede met betrekking tot hierdie eienskappe te kan nakom.

3.5.2.b Is daarvan oortuig dat jy kosbaar is vir die liggaam van Christus.

Enige vorm van minderwaardige gevoelens is teenstrydig met die Woord van die Here (1 Korintiërs 12:12-31). Weet, glo en beleef jy dat jy, soos alle ander gelowiges, aan Christus verbind is? Bestudeer Johannes 15:1-11. Weet, glo en beleef jy dat alle gelowiges aan mekaar verbind is en dat jy daarom ook so aan hulle verbind is? Lees 1 Korintiërs 12:12-27. Sê vir jouself dat jy baie werd is, belangrik is en dat daar iets vir jou is om in die kerk te doen.

3.5.2.c Begeer om deur God gebruik te word.

Bid dat God hierdie gesindheid in jou lewe sal werk en versterk.

3.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.5.3.a Is formeel lidmaat van 'n kerk en het begin deelneem aan gemeentelike aktiwiteite.

Behoort jy aan 'n Christelike kerk? (sien doelwit 1.5.3.a). In watter drie aktiwiteite binne die plaaslike gemeente stel jy die meeste belang? Wat is die vyf belangrikste behoeftes van die plaaslike gemeente in volgorde van belangrikheid, en by watter drie aktiwiteite binne die gemeente was jy gedurende die laaste twee jaar die meeste betrokke? Hoe beplan jy om persoonlik by enkele aktiwiteite in die gemeente betrokke te raak? Motiveer hierdie keuse, en hoe dit korrespondeer met die behoeftes van die gemeente. Gesels met jou plaaslike leraar oor maniere waarop jy in die kerk se aktiwiteite betrokke kan raak (sien doelwit 3.5.3.b).

3.5.3.b Begin 'n Bybelstudiegroep.

Jy kan op die volgende wyse te werk gaan in die inisiëring van 'n Bybelstudiegroep (sien ook doelwit 3.5.1.e):
Maak die saak met God uit of Hy jou roep om 'n Bybelstudiegroep te begin. Besluit wat die doel met die byeenkomste sal wees. Vra ook aan Hom om jou te lei in die identifisering van die regte persone om na die byeenkomste te nooi. Besluit op 'n tyd en plek waar die byeenkomste kan plaasvind. Plaas al hierdie besonderhede op uitnodigingskaartjies, maak afsprake met die geïdentifiseerde persone, besoek hulle, nooi hulle en laat die uitnodigingskaartjies by hulle. Gee genoeg tyd aan elkeen om goed te besin, maar gee ook aan hulle 'n afsnydatum waarop hulle jou moet antwoord.
Onthou dat al die lede van die groep nie ewe ver in hul geestelike groei gevorder het op al die terreine van groei nie. Dit hoef egter nie 'n probleem te wees nie, aangesien hulle mekaar dan juis beter kan leer en ondersteun. Wat egter wel belangrik is, is dat daar in almal se geestelike behoeftes voorsien sal word en dat daar veral op die onderlinge gemeenskap gekonsentreer moet word. Daarom word daar aanbeveel dat jy as groepleier 'n evaluering van hulle geestelike behoeftes moet maak voordat jy met die keuse van Bybelstudie materiaal voortgaan. Lees meer hieroor in die inleidende hoofstuk onder die opskrif "Hoe word die Geestelike Groeiprogram gebruik?"

Praktiese inkleding van jou eerste Bybelstudiegroep byeenkoms:
Bid vooraf en gereeld vir die groeplede. Berei jouself deeglik voor (ook op moontlike probleem-vrae). Bestudeer weer doelwit 3.5.1.e en maak seker dat al die genoemde vir 'n suksesvolle Bybelstudiegroep nagekom word.
Sing vooraf lekker saam. Stel nuwe lede aan mekaar bekend. Wys sitplekke vir hulle aan. Maak seker dat elkeen 'n Bybel, notaboek en pen het. Heet almal welkom. Doen die nodige meedelings, gelukwensings en gee die nodige terugvoer. Open met gebed waartydens die leiding van die Heilige Gees gevra word. Lei die lede in 'n gesprek oor hulle behoeftes en verwagtinge ten opsigte van die byeenkomste (let op hulle behoeftes aan erkenning, aanvaarding, om oor geloofsprobleme te praat, geestelik te groei, geloofservarings te deel, om te behoort, ensovoort). Spel die doel van die Bybelstudiegroep duidelik uit. Sluit 'n ooreenkoms van vertroulikheid met mekaar.
Lees die Skrifgedeelte (gee elkeen kans om 'n vers, paragraaf of gedeelte te lees of om 'n rol wat in die gedeelte voorkom te lees). Gebruik een van die studiemetodes soos uiteengesit in doelwit 3.1.1.f, 3.1.3.a en 4.1.1.a,b. Die gedeelte word deeglik deurgepraat totdat almal dit begryp. Gee 'n kort samevatting aan die einde van julle bespreking waarin die slotsom van die groep saamgevat word, sowel as hulle besluite en voornemens as antwoord op God se Woord. Sluit af met gebed en sang. Tref daarna reëlings vir die volgende byeenkoms.

Skriftelike ooreenkoms:
Daar word sterk aanbeveel dat die persone wat wel besluit om deel van die Bybelstudie groep te word, 'n onderlinge geskrewe ooreenkoms met mekaar moet aangaan. Die doel van so 'n skriftelike ooreenkoms is om die groeplede tot doelgerigte Bybelstudie en effektiewe funksionering te motiveer deur die lede aan besluite en doelstellings te bind, by wyse van 'n skriftelike ooreenkoms. Groeplede ontwikkel onderlinge vertroue as hulle weet waar hulle met mekaar staan. Elkeen moet presies weet waarvoor hy homself inlaat en wat van hom verwag word.

Die volgende elemente kan deel uitmaak van so 'n ooreenkoms:
Name, vanne, adresse, telefoonnommers van die lede van die groep; besonderhede van die groepleier en onder-groepleier; besonderhede van die ontmoetingsplek(ke) en -tye (datum, tyd, tydsduur); tot wanneer die groep beplan om te bestaan (bereiking van 'n bepaalde doelwit, datum); 'n onderneming om in hierdie vasgestelde tyd konstruktief besig te wees met Bybelstudie alleen; voorwaardes waaronder ander by die groep kan aansluit (byvoorbeeld: die persoon sal deur een van die lede in die betrokke stof wat ons behandel, onderrig word tot waar ons op daardie stadium is; die persoon sal ons groep se doelstellings tot eer van die Here deel; die persoon sal bereid wees, en bewys dat hy bereid is, om die prys van dissipelskap te betaal, naamlik selfopoffering ter wille van Jesus Christus volgens Lukas 14:25-35); besonderhede van dissiplinêre stappe indien 'n lid sou nalaat om Bybelstudie byeenkomste by te woon, en/of een of meer van die doelstellings verontagsaam (bv: onmiddellik vasstel waarom hy nie die byeenkomste bywoon nie en/of die doelstellings verontagsaam; indien 'n struikelblok soos vervoer of siekte hom in die weg lê, sal die groep onmiddellik help sodat hy weer die byeenkomste kan bywoon; indien hy in die geloof veragter, agter 'n vals profeet verdwaald geraak het, aanvegtinge van die duiwel ervaar, lou of koud geword het teenoor die Here, sal die groep saam met hom bid en die Woord van die Here ondersoek sodat hy weer in Christus met die res van die groep een kan word; hom opnuut verseker van Christus en ons liefde vir hom; indien hy die wêreld of 'n valse Christus liewer kry as vir Jesus die Christus, sal ons hom skriftelik kennis gee dat hy nie langer lid van ons groep mag wees nie, en terselfdertyd ook verseker van volgehoue voorbidding vir hom; die gewese lid se naam sal op die groep se gebedslys geplaas word vir daaglikse voorbidding; nadat hy tot inkeer gekom het, sal hy weer in die groep opgeneem word nadat die voorwaardes nagekom is, soos in die geval van 'n persoon wat nuut by die groep wil aansluit); besonderhede van die doel van die groep (bv: om te groei tot geestelike volwassenheid deur die Geestelike Groei Program deur te werk; elke lid as 'n groepleier te bekwaam om 'n eie groep tot stand te bring); 'n onderneming om die suiwer Evangelie te behou, te bevorder en te versprei tot eer van die Here Jesus Christus, tot opbou van sy kerk en tot uitbouing van sy koninkryk; handtekeninge van onderskeie groeplede.
Die ideaal is dat die Bybelstudiegroep met verloop van tyd sal ontwikkel in 'n geestelike groeigroep (sien doelwit 3.7.1.f op bladsy 211).

3.5.3.c Begin om medegelowiges te dien en te bemoedig.

”Diens" beteken liefdevolle handelinge teenoor jou naaste (Matteus 20:28; Handelinge 2:18; Romeine 12:7). Is daar behoeftes aan diens in jou Bybelstudiegroep? Bepaal 'n strategie hoe jy in sommige van die behoeftes kan voorsien. Om iemand te bemoedig, (die Griekse woordjie beteken om te waarsku, te adviseer, te onderrig) beteken om iemand anders se gedrag te beïnvloed deur hom aan te moedig om volgens Bybelse beginsels te lewe en ag te slaan op Bybelonderrig (Handelinge 20:31; Kolossense 3:16; Romeine 12:8).
Lei die Bybelstudiegroep daarin en gaan die lede daarin voor om onder mekaar met diens en bemoediging te begin, wat verder na ander gelowiges uitgebrei kan word. Is jy betrokke by persoonlike diens aan ander? Dank die Here vir sulke geleenthede en bid vir jou dienswerk.


3.6 GROEIAREA: GETUIENIS

INHOUD

3.6.1. Kennisdoelwitte:
a. Ken twee benaderings om die Evangelie aan iemand te verduidelik.
b. Weet hoe om 'n persoonlike getuienis in 3 tot 5 minute te lewer.
c. Ken die basiese beginsels waaraan 'n persoonlike getuienis moet voldoen.
d. Kan die vyf mees algemene besware van nie-Christene teen Christenskap beantwoord.
e. Weet hoe mense dikwels reageer wanneer hulle die Evangelie hoor.
f. Weet hoe om iemand wat hom pas tot God bekeer het, geestelik te versorg.

3.6.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Is daarvan oortuig dat jou eie getuienispogings vrugteloos is sonder God se volle betrokkenheid.
b. Word nie ontmoedig deur geen of negatiewe reaksie nie.
3.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Begin om jouself openlik te identifiseer as Christen waar jy leef en werk.
b. Bid vir geleenthede om Christus met spesifieke kennisse te deel.
c. Begin om geleenthede te gebruik om spontaan te getuig.
d. Begin om "Geboortesorg" toe te pas met iemand wat hom pas tot God bekeer het.
e. Skryf jou persoonlike getuienis neer.


3.6.1 Kennisdoelwitte:

3.6.1.a Ken twee benaderings om die Evangelie aan iemand te verduidelik.

Daar kan 'n direkte en indirekte benadering gevolg word om die Evangelie van Jesus Christus aan iemand te verduidelik.
Wanneer die direkte benadering gevolg word, beteken dit gewoonlik dat die getuie die persoon so gou moontlik en op direkte wyse met die kern van die Evangelie konfronteer. Dit geskied gewoonlik in die vorm van 'n vraag of 'n stelling. Tipiese vrae wat gewoonlik met hierdie benadering direk en vroeg in die gesprek gevra word ("Ken jy Jesus Christus as persoonlike Verlosser?"; "Is jy seker waar jy die ewigheid gaan deurbring?"; "Is jy seker dat jy hemel toe gaan as jy vandag sou sterf?"; "Kan ek vir 'n oomblik met jou oor Jesus Christus praat?"; "Is jy deur Jesus Christus gered?") het ten doel om die persoon so gou moontlik voor 'n keuse te stel aangaande Christus. Die direkte benadering kan met vrug gevolg word wanneer die tyd min is en dit na alle waarskynlikheid die enigste kontak met die betrokke persoon sal wees.
Met die indirekte benadering word probeer om eers 'n vertrouensverhouding met die betrokke persoon te vestig, voordat 'n saak so persoonlik soos iemand se verhouding met Jesus Christus aangeraak word. Die bedoeling is steeds om die Evangelie van Jesus Christus aan die betrokke persoon te verduidelik en om hom uiteindelik daartoe te lei om 'n besluit oor Jesus Christus te neem. Aangesien hierdie benadering meer tyd in beslag neem, bestaan dit gewoonlik uit meer as een gesprek.
Die inhoud van beide benaderings moet min of meer dit wat in doelwit 1.1.1.c vervat is, behels.

3.6.1.b Weet hoe om 'n persoonlike getuienis in 3 tot 5 minute te lewer.

'n Persoonlike getuienis is soos wanneer iemand (wat van 'n ongeneeslike siekte genees is) aan 'n ander persoon (met dieselfde ongeneeslike kwaal) vertel waar om genesing te vind. So 'n getuienis moet tussen 3 tot 5 minute lank wees en uit drie hoofpunte bestaan. Eerstens hoe jou lewe daar uitgesien het voordat jy tot 'n ontmoeting met Jesus Christus gekom het (1 tot 2 minute). Tweedens wat daartoe aanleiding gegee het dat jy tot 'n ontmoeting met Christus gekom het (1 tot 2 minute). Derdens hoe jou lewe na hierdie ontmoeting verander het en wat Jesus Christus tans vir jou beteken (1 tot 2 minute). So 'n getuienis moet verkieslik 'n treffende inleiding en slot hê en die kern van die blye boodskap van verlossing in Jesus Christus insluit. Nadat jy die getuienis gelewer het moet die wat dit gehoor het weet hoe en waarom om Jesus Christus as Verlosser aan te neem. Na 'n getuienis moet hulle aandag dus nie meer by jou vorige slegte lewe wees nie. Hulle moet ook nie beïndruk wees met hoe spesiaal jy nou is nie, maar wel oor hoe spesiaal ons Here is!

3.6.1.c Ken die basiese beginsels waaraan 'n persoonlike getuienis moet voldoen.

Jou taak is om te getuig en God se taak is om mense te bekeer (Johannes 6:44; 16:7-11). Vertrou die Heilige Gees om op sy unieke manier (wat vir mense onverstaanbaar en onverklaarbaar is) wedergeboorte en herskepping in iemand se lewe te bewerk (Johannes 1:12,13; 3). Voordat jy met mense oor God praat, moet jy met God oor sy mense praat (2 Korintiërs 10:4,5; 1 Tessalonisense 1:5). Sien mense as kosbare individue vir wie Christus liefhet en gesterf het (Johannes 3:16). Wees vriendelik, aangenaam en positief wanneer jy getuig (Spreuke 12:18; Efesiërs 4:29; Kolossense 4:5,6). Vermy argumente (2 Timoteus 2:16,23-26). Bly op die spoor van die Evangelieboodskap.
Wanneer iemand afwykende vrae vra, bly by jou onderwerp en hou steeds jou doel voor oë, naamlik om die Evangelie aan hom deur te gee. Wees sensitief en moenie die blye boodskap in iemand se keel af wurg nie (Kolossense 4:3). Gebruik die Skrif want dit dra meer gesag as jou eie woorde (Jesaja 55:10-12; Hebreërs 4:12). Vra ook vrae en wees gereed om te luister. Wees jouself.
Kommunikeer aan die persoon die noodsaaklikheid dat hy 'n besluit oor sy verhouding met Jesus Christus sal moet neem. Gee aan hom die geleentheid daarvoor indien hy gereed is. Maak seker dat hy eers die koste bereken voordat hy sy lewe in die Hand van God oorgee (Matteus 10:16-40). Bestudeer die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou in Johannes 4, as 'n voorbeeld van hoe Hy in 'n getuienis situasie opgetree het.

3.6.1.d Kan die vyf mees algemene besware van nie-Christene teen Christenskap beantwoord.

Eerste beswaar: "Ek glo nie in God nie". "Ek kan God nie sien nie, daarom glo ek nie in Hom nie". "Alleen dit wat bewysbaar is, is werklik". 'n Persoon met so 'n beswaar kan as volg benader word: "Ek kan nie vir jou bewys dat God bestaan nie, maar kan jy bewys dat Hy nie bestaan nie? Terwyl ons nie kan bewys of God bestaan of nie bestaan nie, laat ons oor Jesus praat. Daar bestaan nie twyfel dat Hy 2000 jaar gelede op aarde geleef het nie. Tog is Hy die beste bewys dat God wel bestaan. Hy het self gesê "Hy wat my gesien het, het die Vader gesien." (Johannes 14:9).
Tweede beswaar: "Ek glo nie daar is 'n hel nie." Verduidelik dat dit 'n sielkundige feit is dat mense dikwels dit wat hulle die meeste vrees, die sterkste ontken. Vra of hy nie dalk die bestaan van die hel ontken omdat hy diep in sy binneste vrees dat as daar dalk so 'n plek is, hy daarheen sal gaan nie.
Derde beswaar: "Christus is nie die enigste Weg tot God nie". Verduidelik dat, alhoewel jyself ook sou wou dink dat daar baie weë na God is, die feite van die geskiedenis en die Skrif jou forseer om te glo dat Jesus Christus die enigste Weg is. As Christus met die stigters van ander wêreldgodsdienste vergelyk word, vind ons dat net Jesus se koms al eeue tevore in besonderhede voorspel is (Lukas 24:27). Net Jesus het gesê dat Hy vanaf God na die wêreld gekom het (Johannes 3:13). Net Hy het beweer dat Hy sondeloos is (Johannes 8:46), dat Hy self God is (Johannes 5:17,18; 10:33; 14:9,10). Net Hy het uit die dood opgestaan soos Hyself voorspel het (Markus 16:6; Lukas 18:33) en het daarop aanspraak gemaak dat Hy die enigste Weg tot die Vader is (Johannes 14:6). Net Jesus het kom sterf om ons sondeskuld te dra, sodat ons met God versoen kon word (Jesaja 53:5).
Wanneer 'n mens die godsdienste van die wêreld bestudeer, is dit duidelik dat daar nêrens voorsiening is vir die vergiffenis van sonde nie, behalwe in Jesus Christus, die gekruisigde. Alle wêreldse godsdienste het 'n selfverlossingsleer, waarvolgens die mens deur sy eie verdienste en van sy eie kant moet probeer om God te vind. Net Christus maak erns met die werklikheid van die sonde van die mens en die gevolge daarvan. Net Hy leer dat die mens nie deur sy eie toedoen met God versoen kan raak nie. Net die ware God neem inisiatief om die mense wat gesondig het te soek en te red. Hy doen dit deur sy hand in Christus (Immanuel, dit is "God met ons") uit te steek om hulpelose sondaars te verlos van hul sonde en van die gevolge daarvan.
Vierde beswaar: "Wat van die heidene wat nooit van Christus gehoor het nie?" Verduidelik, dat ons in die Bybel (Romeine 1:18-23) leer dat alle mense God duidelik in sy skepping geopenbaar sien. In Romeine 2:14,15 staan daar geskrywe dat, al het die heidene nooit van God gehoor nie, God in hulle 'n wet geplaas het. Hulle leef egter nie in gehoorsaamheid aan hierdie innerlike wet nie. Dit gebeur dikwels dat hulle van nature weet dat hulle iets nie behoort te doen nie, maar tog doen hulle dit. God oordeel so 'n mens volgens die lig wat hy ontvang het. Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word (Romeine 2:12). Die heidene wat nooit van Christus gehoor het nie, sal nie veroordeel word op grond van die feit dat hulle Christus verwerp het nie. Hulle sal veroordeel word weens die oortredinge van die wet wat God van nature in hulle binneste geplaas het. Ons wat wel gehoor het, sal geoordeel word volgens wat ons gehoor het. As ons nie daarop ag slaan nie, sal dit vir die heidene verdraagsamer wees in die oordeelsdag as vir ons (Matteus 11:21-23).
Vyfde beswaar: "Jesus was maar net 'n besondere mens". Vra aan iemand met hierdie verweer of hy met feite kan bewys dat Jesus net 'n mens was, en wat so besonders aan Hom as mens was. Verduidelik verder dat Jesus verbasende aansprake oor Homself gemaak het (dat Hy God is - Johannes 5:17,18; 10:30,33; dat Hy deur sy Vader na hierdie wêreld gestuur is - Johannes 3:13; 16:28; dat Hy lank voor sy geboorte reeds bestaan het - Johannes 8:58; dat Hy sondeloos is - Johannes 8:29,46; dat Hy sondes vergewe - Markus 2:1-12; dat Hy dit aanvaar wanneer Hy aanbid word - Johannes 20:28). Hierdie aansprake moet of waar of vals wees. As ons dit as waar aanvaar moet ons daarvolgens reageer. As ons dit as vals aanvaar, moet ons daarvolgens reageer. Veronderstel dat hierdie uitsprake vals was, dan moet Jesus 'n leuenaar wees. Leuns word gewoonlik vertel terwille van bepaalde voordele wat die leuenaar daaruit verkry. Wanneer die leuen geen voordeel meer inhou nie, word daar gewoonlik van afstand gedoen. Selfs in die aangesig van die dood het Jesus bely dat dit wat Hy oor Homself getuig het (Johannes 5:18-47) die waarheid is.
Jesus se werke toon dat Hy meer as net 'n besondere mens was, en in staat is om al sy beloftes aan ons (Openbaring 21:3,4) na te kom. Hy het sy mag oor natuurwette getoon (Matteus 8:23-27; Johannes 6:16-21), oor siekte (Matteus 9:1-8; Johannes 4:43-5:16), oor Satan en demone (Matteus 8:28-34) en oor die dood (Matteus 9:18-26). As jy dan nie in Hom wil glo opgrond van dit wat Hy getuig het nie, glo dan op grond van dit wat Hy gedoen het! (Johannes 14:11).

3.6.1.e Weet hoe mense dikwels reageer wanneer hulle die Evangelie hoor.

Mense reageer soms negatief of oënskynlik glad nie op die kommunikering van die Evangelie aan hulle (Johannes 6:60; 7:10-24,45-52; 8:21-59; 9; Handelinge 4:1-22; 6:8-15; 13; 14). Tog keer God se Woord nooit leeg na Hom terug nie (Jesaja 55:11).

3.6.1.f Weet hoe om iemand wat hom pas tot God bekeer het, geestelik te versorg.
Bestudeer doelwit 3.7.1.c deeglik.

3.6.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.6.2.a Is daarvan oortuig dat jou eie getuienispogings vrugteloos is sonder God se volle betrokkenheid.

Wat is God se rol tydens die lewering van 'n persoonlike getuienis? (Johannes 1:13; 15:26; 16:14,15; Romeine 8:9; 1 Korintiërs 3:5-8; 12:13). Maak seker dat jy alle geloof in jouself en jou eie vermoëns totaal ondergeskik stel aan God (1 Korintiërs 1:18-31). Bid dat God jou diep onder die besef van jou eie onmag en van God se almag sal bring.

3.6.2.b Word nie ontmoedig deur geen of negatiewe reaksie nie.

Moet nie ontmoedig moet word omdat almal nie die Woord van God glo nie (Johannes 1:9-11; Matteus 13:1-9,18-23), want die saad wat nou geplant word mag na baie dae of selfs jare ontkiem en begin groei en vrug dra. Die Woord van die Here keer nooit leeg na Hom terug nie Jesaja 55:11).

3.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.6.3.a Begin om jouself openlik te identifiseer as Christen waar jy leef en werk.

Verdedig die saak van jou Here teenoor hulle wat saam met jou leef en werk. Staan praktyke van die sondige natuur (Galasiërs 5:19) en dit wat strydig is met die Wet van God (Exodus 20:1-17) teen op 'n sensitiewe, liefdevolle maar ferm manier. Kruisig hierdie praktyke in jou eie lewe. Lewe deur die Gees en laat toe dat die Gees ook jou gedrag bepaal (Galasiërs 5:22-26). Jy moet besef dat jy nog baie foute voor dieselfde mense vir wie jy teregwys sal maak, en dat hulle hulleself sal probeer verontskuldig deur te sê dat jyself ook skuldig is. Dit moet jou nie ontmoedig nie. Dit is deel van die proses van geestelike groei. Voordat jy nie bereid is om openlik die saak van Christus te verdedig nie, kan jy ook nie in jou geestelike lewe groei nie. Lees Lukas 9:23-27.

3.6.3.b Bid vir geleenthede om Christus met spesifieke kennise te deel.

Bid tydens jou stiltetyd vir spesifieke kennisse (by die werk, sport, vereniging waar jy betrokke is of saam met wie jy leef) dat die Here hulle harte sal voorberei en aan jou die geleentheid sal gee om die blye boodskap van Jesus Christus met hulle te deel. Bid ook vir jouself, dat God sekere karaktereienskappe wat tipies van jou ou sondige natuur is, sal verander sodat dit nie jou getuienistaak sal verongeluk nie (1 Petrus 3:13-22).

3.6.3.c Begin om geleenthede te gebruik om spontaan te getuig.

Gesels met 'n Christenvriend oor gebeure by die werk of in jou alledaagse lewe wat jou pla omdat dit strydig is met die wil van God of omdat dit die Naam van God oneer aandoen. Bid vir die betrokke persoon(e) en besluit hoe jy die persoon moet benader (sien doelwit 3.6.1.a). Gaan voort om teenoor die persoon te getuig.
Bespreek jou ervaring van die gesprek en die ander persoon se reaksie na die tyd met jou Christenvriend. Bid weer vir die ander persoon en dank God vir die geleentheid om as sy verteenwoordiger te mag leef.
Getuig spontaan (biddend) in soortgelyke situasies. Onthou, om spontaan te kan getuig, moet jy 'n onberispelike lewe lei, moet jou Bybelstudie en gebedslewe gesond wees en moet jy gereeld gemeenskap met ander gelowiges hê.

3.6.3.d Begin om "Geboortesorg" toe te pas met iemand wat hom pas tot God bekeer het.

Wanneer die Here jou gebruik het om iemand na Hom te lei, of wanneer jy 'n pasgebore Christen ontdek wat nie geestelik behoorlik versorg word nie, moet jy "geboortesorg" op hierdie persoon toepas, deur Groeifase 1 van hierdie Geestelike Groeiprogram met die persoon deur te werk. Sien ook doelwit 3.7.1.c.

3.6.3.e Skryf jou persoonlike getuienis (3 tot 5 minute lank) neer.

Skryf (ooreenkomstig die beginsels in doelwit 3.6.1.b,c) jou getuienis neer. Lees dit aan jouself voor. Maak seker dat God die middelpunt van die getuienis vorm en dat sy Naam daardeur verheerlik word.


3.7 GROEIAREA: BEDIENING

INHOUD

3.7.1 Kennisdoelwitte:
a. Dra kennis van verskillende tipes bedieninge.
b. Weet wat dit beteken om 'n "wêreld Christen" te wees.
c. Weet hoe om 'n persoon wat pas tot bekering gekom het, in sy geestelike lewe te help.
d. Verstaan dat jou beroep 'n bedieningsveld kan wees.
e. Verstaan watter karaktereienskappe deel van jou persoonlikheid moet word om 'n lewende brief van Christus te kan wees binne werksverband.
f. Weet hoe om 'n geestelike groeigroep te begin.

3.7.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Is bereid om 'n dienskneggestalte aan te neem.
b. Is begerig om jou beroep getrou en as 'n bedieningsgeleentheid te benader.
c. Is daarvan oortuig dat jou bediening ten volle afhanklik is van God se betrokkenheid, maar is ook bereid om jou eie verantwoordelikhede te aanvaar.

3.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Ontdek watter rol God wil hê jy in die gemeenskap moet vervul.
b. Raak betrokke by 'n bediening en kerklike projekte.
c. Groei in die karaktereienskappe wat betrekking het op jou bedieningswerk.


3.7.1 Kennisdoelwitte:

3.7.1.a Dra kennis van verskillende tipes bedieninge.

Leer van watter verskillende tipes bedieninge daar in die Bybel sprake is, deur die meegaande Skrifgedeeltes te bestudeer (Handelinge 6:4; 20:24; Romeine 11:13,14; 1 Korintiërs 12:5; 2 Korintiërs 3:7-11; 5:18; 1 Petrus 4:10,11; 9:12). Kyk ook na die ooreenkomste en verskille tussen genadegawes en bedieninge in 1 Korintiërs 12:4,5.

3.7.1.b Weet wat dit beteken om 'n "wêreld Christen" te wees.

Sê kortliks wat jy onder die begrip "wêreld Christen" verstaan. Lees Matteus 9:36-38. Watter rede hou Jesus aan sy dissipels voor om te bid dat die Here arbeiders sal uitstuur om te oes? Wat dink jy sal die gevolge wees as daar nie gebid word vir die uitvoering van die Groot Opdrag nie? Lees Matteus 28:18-20. Wat sal die gevolge sal wees as daar nie dissipels van mense gemaak word om te help om hierdie Groot Opdrag uit te voer nie? Lees Handelinge 1:8. Wat sal die gevolg wees as Christene in die algemeen, en meer spesifiek jyself, nie gewillig is om hierdie opdrag uit te voer nie?
Probeer nou om, na aanleiding van die bogenoemde, die begrip "wêreld Christen" te omskryf (1 Korintiërs 3:3).

3.7.1.c Weet hoe om 'n persoon wat pas tot bekering gekom het, in sy geestelike lewe te help.

Wanneer iemand tot bekering gekom het moet hy, indien moontlik, binne 24 uur opgevolg word (sien doelwit 3.6.3.d). Daarna moet daar aan hierdie persoon geleenthede gegee word om geestelik te groei. Dit kan gedoen word deur, met sy samewerking, 'n geestelike groeikurrikulum vir hom op te stel en deur te werk (sien inleidende hoofstuk en doelwit 5.7.1.b).

3.7.1.d Verstaan dat jou beroep 'n bedieningsveld kan wees.

Jou beroep behoort diens aan God (1 Korintiërs 10:31), aan jouself (1 Tessalonisense 4:11; 2 Tessalonisense 3:10; Titus 3:14), en aan jou naaste te wees (Handelinge 2:32,44; 1 Korintiërs 9:14; 2 Korintiërs 12:14; 1 Timoteus 5:4). Die terrein van jou beroep kan ook 'n bedieningsterrein te wees (Efesiërs 6:5-8; Kolossense 3:22-25).

3.7.1.e Verstaan watter karaktereienskappe deel van jou persoonlikheid moet word om 'n lewende brief van Christus binne werksverband te kan wees.

Bestudeer die volgende eienskappe en maak seker dat jy elkeen goed verstaan en ook waarom dit in die werksituasie nodig is:
Nederigheid (2 Samuel 22:36; Matteus 11:29; Galasiërs 5:22; 6:1; Efesiërs 4:1,2; Filipense 2:1-11; Kolossense 3:12; 1 Tessalonisense 2:7; Timoteus 6:11; 2 Timoteus 2:24,25; Titus 3:1,2; 1 Petrus 3:1-4);
Ywerigheid (Deutronomium 4:9; 6:7,17; Spreuke 4:23; 10:4; 12:24; Romeine 1:14, 15; 10:1; 12:11; 15:18-25; 1 Korintiërs 14:12; 2 Korintiërs 7:11; Filipense 3:4-16; 2 Timoteus 4:1-5; Titus 2:14; 2 Petrus 1:5-10);
Getrouheid (2 Kronieke 34:12; Nehemia 13:13; Jeremia 23:38; Spreuke 11:13; 14:5; 25:13; 27:6; Matteus 24:45; Lukas 16:10-12; 3 Johannes 5);
Gehoorsaamheid (Handelinge 5:29,36,37; Romeine 6:17; 15:18; 2 Korintiërs 2:4; Efesiërs 6:5; Hebreërs 13:17; 1 Petrus 1:22).

3.7.1.f Weet hoe om 'n geestelike groeigroep te begin.

Bestudeer die Bybelstudiemetodes wat in hierdie handleiding genoem word sowel as die ander gedeeltes wat oor Bybelstudie handel (sien doelwitte 3.1.1.f,g,h; 4.1.1.a,b). Bestudeer ook doelwit 3.5.3.b ten opsigte van die inisiëring van 'n Bybelstudiegroep en doelwit 5.7.1.b ten opsigte van die raamwerk waarbinne persoonlike dissipelmaking met die oog op geestelike groei plaasvind, deeglik.
Vra die Here tydens jou stiltetyd om jou baie duidelik te lei en om persone (nie meer as sewe nie) aan jou uit te wys vir wie jy moet nader met die doel om hulle vir een jaar in groepsverband te begelei in hulle geestelike groei. Indien jy reeds 'n Bybelstudiegroep lei kan jy die lede van hierdie groep nader.
Wanneer die Here die persone aan jou uitgewys het, kan jy begin om 'n basiese vriendskapsverhouding met hulle aan te knoop (sien doelwit 5.7.1.e). Dit behoort nie nodig te wees indien julle lank reeds saam lede van 'n Bybelstudiegroep was nie. Praat met elkeen afsonderlik oor die noodsaaklikheid van geestelike groei wanneer die tyd daarvoor ryp is.
Nooi die persone, net soos by die inisiëring van 'n Bybelstudiegroep (sien doelwit 3.5.3.b), vir 'n geestelike groeigroep byeenkoms. Behandel die inleiding van die Geestelike Groeiprogram (bladsy 1-8) by die eerste byeenkoms met hulle.
Laat die selfevalueringsvraelyste by elkeen van die persone afsonderlik met hulle instemming en nadat hulle verklaar het dat hulle graag die stand van hul eie geestelike groei wil evalueer. Motiveer elkeen afsonderlik om beslis die voltooide vraelyste na die tweede byeenkoms saam te bring.
Gesels tydens hierdie tweede byeenkoms met die teenwoordige persone in die algemeen oor hulle ervaringe tydens die invul van die vraelyste. Vra of hulle iets van hulself geleer het.
Bespreek nou met hulle die gedagte van 'n geestelike groeigroep waarin hulle mekaar, onder jou leiding, in hulle geestelike groei gaan bystaan.
Stel 'n ooreenkoms, soortgelyk aan dié vir Bybelstudiegroepe, op en laat elkeen dit huistoe neem vir oorweging en ondertekening. Dit is baie belangrik dat elke lid hom tot hierdie ooreenkoms sal verbind. Indien hy nie daarvoor kans sien nie, moet hy liewer uit die groep weg gelaat word.
Gee by die derde byeenkoms geleentheid aan die lede om van die selfevalueringsvraelyste se vrae waarmee hulle probleme gehad het, met mekaar te bespreek. Dit gee aan julle die geleentheid om mekaar op 'n meer persoonlike manier beter te leer ken. Dit kan ook as ysbreker dien om die geestelikegroeiverhouding tussen julle te begin vestig. Maak tydens hierdie gesprekke (julle sal waarskynlik verskeie gespreksessies nodig hê om al die vorms deur te werk) seker dat elkeen al die vrae baie goed verstaan. Moedig hulle aan om elkeen notas op die vraelyste te maak wat hulle kan help in die daarstelling van 'n geestelike groeikurrikulum wat aan sy besondere behoeftes sal voldoen. Moenie deur die gesprekke jaag nie. Verduidelik aan hulle dat dit reeds deel van die proses van geestelike groei is. Dit verskaf die geleentheid om mekaar te leer ken en te vertrou. Tydens hierdie gesprekke moet daar 'n behoefte by hulle groei om vir ten minste een volle jaar doelbewus saam aan hulle geestelike groei aandag te gee onder jou leiding. Wanneer die gesprekke afgehandel is, kan jy aan hulle verduidelik hoe om hul eie geestelike profiele op te trek deur eenvoudig 'n kruisie onder die 1, 2, 3 of 4 op die toepaslike profielkaarte te trek (linkerkantste antwoord op die selfevalueringsvraelys = 1; tweede van links = 2; derde van links = 3; regterkantste antwoord = 4). Die kruisies word verbind om 'n profiel te vorm.
Gee aan die groeplede geleentheid om hulle onderskeie profielkaarte met die res van die groep te bespreek. Help hulle om bepaalde tendense aan mekaar uit te wys wat op die profielkaarte getoon word (het hy byvoorbeeld deurgaans lae aktiwiteitswaardes en hoe kenniswaardes? Stem die lae aktiwiteitswaardes ooreen met lae gesindheidswaardes? Het hy deurgaans gemiddelde gesindheids-waardes terwyl sy kenniswaardes hoog is?).
Verduidelik aan die groep dat alle 1 en 2 en sommige 3 antwoorde aandag verdien. Gee aan hulle geleentheid om die gemeenskaplike doelwitte te identifiseer waaraan almal aandag behoort te skenk.
Laat hulle uit hierdie gegewens 'n voorlopige geestelike groei kurrikulum saamstel wat waarskynlik gedeeltelik aan almal se geestelike behoeftes sal voldoen.
Ander doelwitte wat nie deur die groep hanteer gaan word nie, moet individueel deur lede deurgewerk word tydens stiltetyd.
Groeigroeplede kan probleme wat hulle met doelwitte wat hulle individueel tydens hulle stiltetyd deurwerk ondervind, met jou as groepleier bespreek. Let daarop dat elke groeplid sy eie handleiding sal benodig.
Bespreek die voorlopige kurrikulum met die groep. Wysig dit saam met hulle waar nodig.
Maak seker dat doelwit 3.5.1.e; 3.5.3.b; 3.7.1.f; 4.7.1.c en 5.7.1.b beslis deel van julle kurrikulum uitmaak en dat doelwitte 2.5.1.a,b; 2.5.2.a; 4.5.1.a,c; 4.5.3.a en 5.5.2.a in die groeigroep nagestreef word.
Laat die groep hulle ooreenkoms, om saam hierdie kurrikulum deur te werk, herbevestig. Indien daar op hierdie stadium persone is wat wil onttrek moet hulle dit doen.
Maak ook seker dat julle gereelde afsprake vir geestelike groeigroep byeenkomste maak. Probeer om nooit langer as een uur aan 'n gespreksessie te wy nie. Wissel die tye en plekke af vir gespreksessies sodat dit nie vervelig word nie. Sommige kan in 'n studeerkamer gedoen word, en ander terwyl julle 'n ent gaan stap of oor 'n middag- of aandete. Dit hang van die aard van die doelwit wat op daardie stadium tersake is af. Maak dit egter deel van julle normale lewensprogram sodat dit nie veeleisend word en negatief ervaar word nie.
Dit mag vir almal van julle nodig wees om iets op julle normale programme weg te laat om tyd in te ruim vir hierdie geestelike groei gesprekke. Dit is 'n aktiewe besluit wat deur elke lid geneem moet word.
Die ideaal is dat elke lid van die groeigroep ook met 'n proses van persoonlike dissipelmaking sal begin sodra hy gereed is (sien doelwit 4.7.1.c).

3.7.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.7.2.a Is bereid om 'n dienskneggestalte aan te neem.

Bedink die meegaande Skrifgedeeltes (Matteus 11:1-6; Lukas 22:24-30; Johannes 13:1-20; Filipense 2:1-11). Let op die eienskappe van 'n dienskneg wat Jesus tydens sy aardse lewe getoon het. Dink aan drie redes waarom dit vir Jesus nodig was om op hierdie wyse 'n dienskneggestalte aan te neem. Op watter maniere kan ons die voorbeeld van ons Meester navolg?

3.7.2.b Is begerig om jou beroep getrou en as 'n bedieningsgeleentheid te benader.

Kyk watter bedieningsmoontlikhede daar in jou beroepsituasie bestaan, en watter belangrike invloed jou Christelike optrede en karakter op die lewens van medewerknemers kan hê.
Bid oor die eise wat jou werkomstandighede aan jou as Christen stel.
Benader hierdie werksituasie ook as groeigeleentheid, en moet nie moedeloos word wanneer jy foute maak nie. Maak dit gereeld met God en hulle teenoor wie jy gefouteer het reg.

3.7.2.c Is daarvan oortuig dat jou bediening ten volle afhanklik is van God se betrokkenheid, maar is ook bereid om jou eie verantwoordelikhede te aanvaar.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes aandagtig deur (Johannes 15:4,5; 1 Korintiërs 3:59) en bid dat God hierdie gesindheid in jou sal werk en versterk.

3.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.7.3.a Ontdek watter rol God wil hê jy in die gemeenskap moet vervul.

Ontdek jou rol in die samelewing deur weer na jou gawes, talente en sterkpunte te kyk (sien doelwit 2.7.3.a).
Kies biddend een gawe en talent waaraan jy voorkeur verleen en wat jy glo jou toerus vir spesiale diens aan God en medemens. Probeer om te motiveer waarom jy hierdie keuse gemaak het en beplan dan 'n bediening.

3.7.3.b Raak betrokke by 'n bediening en kerklike projekte.

Doen navraag by jou plaaslike leraar of kerkraadslede oor al die aktiwiteite wat in die gemeente plaasvind. Bespreek die aktiwiteite met die leraar.
Vind uit hoe jy met jou gawes en talente in die gemeente van diens kan wees, asook wat die leraar aanbeveel oor hoe jy betrokke moet wees.
Beywer jou veral om 'n Bybelstudiegroep te begin (sien doelwit 3.5.3.b), of as jy reeds by een betrokke is, om dit na 'n geestelike groeigroep te laat ontwikkel (sien doelwit 3.7.1.f)
As die Here dit op jou hart lê, moet jy baie besondere aandag gee aan die moontlikheid om 'n geestelik minder volwasse mede-Christen in sy geestelike groei te begelei (sien doelwit 4.7.1.c).
Onthou dat jy deur die Here gebruik kan word om die proses van persoonlike dissipelmaking en geestelike vernuwing in jou gemeente te inisieer.

3.7.3.c Groei in die karaktereienskappe wat betrekking het op jou bedieningswerk.

Praat eerstens gereeld tydens stiltetyd met God oor jou eie karakter. Vra tweedens dat God jou tekortkominge baie spesifiek aan jou sal uitwys in jou Bybelstudie en tydens interaksie gebeure waarby jy daagliks betrokke is. Vra derdens baie spesifiek dat God die nodige karaktereienskappe in jou sal ontwikkel wat deel van jou persoonlikheid moet word om 'n lewende brief van Christus te kan wees binne werksverband (sien doelwit 3.7.1.e) en op ander terreine (sien doelwit 2.3.1.b). Dank God laastens vir die vordering wat jy maak ten opsigte van probleemeienskappe in jou lewe.


3.8 GROEIAREA: LEEFWêRELD:

INHOUD

3.8.1 Kennisdoelwitte:
a. Verstaan wat menseregte behels.
b. Verstaan wat regering behels.
c. Kan onderskei tussen verskillende regeringsvorme.
d. Verstaan wat privaatbesit beteken.
e. Ken die verskillende komponente waaruit ekonomie bestaan.
f. Verstaan jou eie verantwoordelikheid teenoor die ekonomie.
g. Kan tussen verskillende ekonomiese sisteme onderskei.
h. Ken die maniere waarop 'n surplus verdeel kan word.
i. Verstaan wat inflasie is.
j. Verstaan wat vryheid beteken.

3.8.2 Gesindheidsdoelwit:
a. Begeer om die leefwêreld te verstaan waarin God verteenwoordig moet word.

3.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Identifiseer praktyke in die samelewing wat strydig is met Eksodus 20:1-17.
b. Neem kennis van die verband tussen menslike lyding en ongehoorsaamheid aan God.


3.8.1 Kennisdoelwitte:

3.8.1.a Verstaan wat menseregte behels.

Interaksie tussen die gemotiveerde mens en sy leefwêreld, laat die vraag na menseregte ontstaan. Voorbeeld (A. Ralph Epperson. The Unseen Hand. An introduction to the conspiratorial view of history. Publius Press. USA. 1985): Elke persoon in die volgende tabelle word met 'n letter voorgestel, bly op dieselfde eiland, verbruik dieselfde hoeveelheid maar produseer nie dieselfde hoeveelheid nie. Almal produseer soveel hulle kan, en daar is geen vermorsing nie. Alles wat geproduseer word, word verbruik:



PERSOON
PRODUKSIE
VERBRUIK

EENHEDE

A
1,200
500
B
750
500
C
600
500
D
400
500
E
300
500
F
250
500
G
0
500
TOTAAL
3,500
3,500


In hierdie ekonomiese model produseer individu A, B en C meer eenhede as wat hulle verbruik, terwyl D, E en F meer eenhede verbruik as wat hulle produseer. G is volledig afhanklik van die res. Hy is gewillig maar glad nie instaat om te produseer nie. Sommige individue het dus 'n surplus (rykdom) geproduseer (produksie oorskry verbruik) en ander het 'n tekort geproduseer, (verbruik oorskry produksie). Dit kan as volg geïllustreer word:


[1]PERSOON
PRODUKSIE EENHEDE
SURPLUS
TEKORT
VERBRUIK
A
1,200
700

500
B
750
250

500
C
600
100

500
D
400

100
500
E
300

200
500
F
250

250
500
G
0

500
500
TOTAAL:
3,500
1,050
1,050
3,500



[1] 3.8.1.a vervolg.


Sekere individue is in verskillende grade afhanklik van die res van die individue in die model. Bedink die volgende vrae kortliks: Het individu G die reg om die ander te dwing om op die eiland te bly? Het G die reg om die ander te dwing om te produseer wat hy nodig het? Het D, E, F, G 'n reg tot die surplus van A, B, C?
Daar is net twee maniere waarop die surplus van A, B, en C verdeel kan word: met hulle toestemming of sonder hulle toestemming.
Beantwoord die volgende vrae kortliks: Indien D, E, F en G vra dat A, B en C hul surplus vrywillig met hulle moet deel, en laasgenoemde weier, het eersgenoemde dan die reg om die goedere van laasgenoemde af te neem? Sluit die reg tot eiendom die reg om jou eiendom te beskerm in? Het D, E, F en G die reg om A, B en C se eiendomsreg weg te stem tydens 'n demokratiese stemming - net omdat almal gelyke geleentheid gekry het om hul opinies te lug? Word bogenoemde reg wanneer die demokratiese vergadering 'n regering genoem word? Word dit reg wanneer die meerderheid besluit dat almal sal doen wat die meerderheid ook al besluit? Het die minderheid enige regte?
Gestel die meerderheid skep 'n regering om die surplus van die produsente te neem, en die produsente besluit om die volgende seisoen slegs dit wat hulle verbruik te produseer (500 eenhede elk). Die surplusse en tekorte vir die volgende seisoen sal soos volg daar uitsien:



PERSOON
PRODUKSIE EENHEDE
SURPLUS
TEKORT
VERBRUIK
A
500
150

350
B
500
150

350
C
500
150

350
D
400
50

350
E
300

50
350
F
250

100
350
G
0

350
350
TOTAAL:
2,450
500
500
2,450



Die totale produksie het dus afgeneem van 3,500 eenhede tot 2,450 eenhede. Elke individu se deel het afgeneem van 500 eenhede tot 350 eenhede.
Beantwoord die volgende vrae kortliks: Het die produsente die reg om slegs dit wat hulle verbruik te produseer? Het die meerderheid die reg om die minderheid te forseer om net so produktief as die vorige seisoen te wees? Sal die gebruik van geweld hulle beter laat produseer? Het die meerderheid die reg om A, B en C in hul werkplek te hou, al sou hul verkies om dit te verlaat? Watter insentief moet die mens dan aanmoedig om te werk: Vrees of Wins?
Kom ons aanvaar, vir die doel van die argument, dat mense wel regte het. Menseregte sou hul oorsprong of by die mens self hê, of by iets/iemand buite homself, byvoorbeeld die Skepper.
Sommige redeneer dat menseregte hul oorsprong by die regering het. Volgens hierdie benadering stel die mens die regering daar om aan die mens regte te gee. Hieruit volg dat die regering regte aan mense kan toeken en van mense kan wegneem. Die probleem met hierdie benadering is dat regerings verander, en daarmee saam kan die regte van mense verander en selfs verdwyn. Daarom waarsku William Penn teen hierdie benadering: "If men will not be Governed by God, they then must be governed by tyrants".
Ons aanvaar egter dat regte aan die mens verleen word deur die Skepper alleen. Hierdie regte is daarom onvervreembaar. Dit mag nie van hom weggeneem word deur enigiets- of iemand anders as die Een wat dit in die eerste plek aan hom verleen het nie.
Ons aanvaar verder dat die mens slegs een reg het: die reg om te lewe. Die mens is geskape met bepaalde basiese behoeftes (byvoorbeeld aan kos). Hy moet dus lewensmiddele produseer om sy Godgegewe lewe mee in stand te hou. Indien hy nie dit wat hy produseer (sy eiendom) kan behou nie, sal hy sterf. Die mens behoort dus die reg te hê om die eiendom te produseer wat hy benodig om sy lewe te onderhou (lewensmiddele) en om die produk van sy arbeid te behou.
Uit hierdie argument sou 'n mens dus kon aflei dat die mens geskape is met die reg tot lewe, die reg tot produksie van lewensmiddele, en die reg tot eiendom van geproduseerde lewensmiddele.
Alle mense is geskape met dieselfde regte. Hierdie regte is beskerm solank elke individu die gelyke regte van ander individue erken. Geen individu, of groep, het die reg om die individu se reg tot lewe, produksie van lewensmiddele en eiendom van geproduseerde lewensmiddele, hom te ontneem nie. Hieruit volg dat die individu die reg het om sy regte te beskerm. Hierdie reg word die reg tot selfbeskerming genoem.
Ons kan egter nie van menseregte praat sonder om ook in dieselfde asem van menseverantwoordelikhede te praat nie. Elkeen van die bogenoemde "regte" is eintlik verantwoordelikhede. Hierdie verantwoordelikhede spruit voort uit die skeppingsopdrag: Bewoon (lewe), bewerk (produseer lewensmiddele), bewaar (behou geproduseerde lewensmiddele), beheers (beskerm verantwoordelikhede).
Iemand behoort dus nie sy "regte" te gaan opeis nie. Hy behoort 'n appél op die verantwoordelike persoon se verantwoordelikheid teenoor God en God se skepsel, te maak.
Voorbeeld: 'n Dagloner werk in persoon X se tuin. Aan die einde van die dag sê persoon X dat hy nie nou geld het nie, en dat die dagloner môre sy geld kan kom haal. Die dagloner kan op twee maniere reageer: Hy eis sy dagloon onmiddellik, gepaardgaande met vergeldende stappe, of hy hou 1 Timoteus 5:18 aan die werkgewer voor: "Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors se bek toebind nie. Die arbeider is geregtig op sy loon". Ons verkies dus om van die mens se verantwoordelikheid (eerder as "reg") tot selfbeskerming, te praat.

3.8.1.b Verstaan wat regering behels.

'n Groep individue kan hulle verantwoordelikheid tot selfbeskerming kollektief (gesamentlik) uitoefen teenoor 'n bedreiging van buite. Regering is die samevoeging van individuele regte tot selfbeskerming, om deur middel van krag, individuele regte te beskerm.
Mense kan slegs die regte wat hulleself het aan 'n regering toeskryf. 'n Regering kan dus nie meer regte hê as wat individue het nie. Daar moet altyd versigtig te werk gegaan word wanneer mag aan 'n regering gegee word. Die vraag is altyd hoeveel mag aan 'n regering gegee kan word voordat dit insigself 'n vyand van menseregte word.
Indien 'n regering byvoorbeeld die individu se reg om lewensmiddele te produseer en te behou wegneem, ontneem hy die individu die moontlikheid op lewe. George Washington het glo gesê dat regering 'n mag is soos vuur. Dit is 'n gevaarlike dienskneg en 'n gevreesde meester. 'n Huisbewoner wat graag sy huis warm wil maak, bring vuur tot aan die binnekant, maar bou 'n kaggel daar rondom sodat dit nie die huis moet vernietig nie. Die vuur is beide voordelig en gevaarlik. Die mens moet sy natuur leer ken en homself teen die gevolge daarvan beskerm.
Hulle wat 'n regering daarstel, moet om dieselfde rede strukture daarstel om die regering binne behoorlike perke te hou - anders kan 'n regering die mag hê om die individu, sowel as die totale volk te vernietig.
Een van die strukture wat 'n regering binne behoorlike perke kan hou, is 'n grondwet. 'n Regering behoort slegs daardie mag te hê wat in 'n grondwet benoem word. Dit behels daardie magte wat spesifiek deur die volk aan die regering toegesê word. So 'n regering is 'n regering van vry mense.
'n Regering kan ook alle mag hê, behalwe dit wat uitdruklik deur die volk in die grondwet verbied is. So 'n regering is die regering van slawe.
'n Regering bestaan nie om die mens teen homself te beskerm nie, of om rykdom te verdeel vanaf een groep individue na 'n ander groep nie of om voordele aan een groep toe te sê ten koste van 'n ander nie.
'n Regering bestaan slegs om individuele regte tot lewe, produksie van lewensmiddele en die behoud van geproduseerde lewensmiddele te beskerm. "There are no necessary evils in government. Its evils only exist in its abuses. If it would confine itself to equal protection, and, as Heaven does its rain, showers its favors alike on the high and the low, the rich and the poor, it would be an unqualified blessing"

3.8.1.c Kan onderskei tussen verskillende regeringsvorme.

Voorbeeld: 'n Brutale skurk ry die klein dorpie binne op sy perd, dwing die beskeie winkelier tot 'n skietgeveg en skiet hom dood. Die Vrederegter (wetsverteenwoordiger) hoor die skoot en maak sy verskyning. Hy vra aan die skare wat gebeur het, en hulle vertel die storie. Hy neem die skurk in hegtenis en plaas hom in die dorp se tronk.
In die dorp se kroeg spring 'n individu op 'n tafel (aktivis) en spoor die massa aan om die wet in hul eie hande te neem (anargie), en die skurk self te verhoor.
Die massa besluit (demokrasie) dat dit die regte prosedure is om te volg, en beweeg in die straat af op pad na die tronk (gepeupel). By die tronk eis hulle dat die skurk aan hulle oorhandig moet word. Die gepeupel besluit met 'n meerderheidstem (demokrasie) dat die skurk moet hang.
Die Vrederegter verskyn voor die massa (demokrasie) en verduidelik dat die skurk die reg tot 'n verhoor in 'n hof het (regstaat). Die aktivis sê in sy teenargument dat die meerderheid gespreek het, en dat die skurk moet hang. Die Vrederegter verduidelik dat dit sy taak is om die regte van die individu te beskerm, onskuldig of skuldig. Hy het die reg om homself in 'n hof te verdedig. Hy verduidelik verder dat die wil van die meerderheid nie daardie reg van die individu kan wegneem nie. Die vrederegter oortuig die demokrasie dat hy daar is om ook hulle regte te beskerm (regstaat).
Beantwoord die volgende vrae kortliks: Is daar 'n regeringsvorm wat minderheidsregte beskerm? Is daar 'n regeringsvorm wat beide die sterke en die swakke beskerm?
Daar is basies net twee regeringsvorme: Regering deur God (Teokrasie); regering deur mense.
God besluit self wanneer Hy 'n Teokratiese regering wil vorm. Die mens het daar geen beheer oor nie.
Daar is verskillende tipes regering deur die mens:
Anargie - regering deur niemand; diktatorskap/monargie - regering deur een mens; oligargie - regering deur 'n paar mense; demokrasie - regering deur die meerderheid.
Anargie: Anargie is meesal 'n "regeringsvorm" in oorgang van een regeringsvorm na 'n ander regeringsvorm. Anargie word veroorsaak deur diegene wat die bestaande regeringsvorm wil vernietig sodat dit deur die regeringsvorm van hul keuse vervang kan word.
Monargie/Diktatorskap: Dit is te betwyfel of daar ooit 'n ware diktatorskap/monargie bestaan het. Dit word algemeen aanvaar dat elke monarg/koning/diktator meesal 'n klein groepie adviseurs het wat hom toelaat om te regeer, solank hy dit na hul goeddunke doen. Ons kan dus aanvaar dat elke monargie/diktatorskap eintlik 'n oligargie is.
Demokrasie: Ons sou kon redeneer dat 'n manier om die mag van 'n regering te beperk, 'n demokratiese regeringstelsel sou kon wees. 'n Demokrasie is waar die meerderheid regeer. Besluite word deur middel van 'n meerderheidstem geneem. In 'n ware demokrasie is daar geen minderheidsregte nie. 'n Demokratiese regeringsvorm word tradisioneel beheer deur 'n klein regerende oligargie. Die volk in 'n demokrasie word gekondisioneer om te glo dat hulle inderdaad die besluitnemende krag in die regering is.
Die enigste ware vorm van regering is dus 'n oligargie - regering deur 'n klein minderheid.
Daar is 'n regeringstelsel wat die regte van minderhede en meerderhede beskerm, naamlik 'n regstaat. In 'n regstaat word ooreenkomstig 'n grondwet regeer deur middel van die wet. In die regstaat berus die mag in 'n geskrewe grondwet. Hierin is die mag van die regering beperk, en die regte van die minderheid sowel as die meerderheid verskans. Die volk behou dus die maksimum hoeveelheid mag. Daar is verder ook beperkinge gestel op die regte van minderhede en meerderhede.
Die regstaat erken die feit dat die mens bepaalde onvervreembare regte het en dat 'n regering daargestel word om hierdie regte te beskerm, selfs teen die meerderheid. Die regstaat moet oortuigend teenoor die demokrasie optree. Dit kan slegs oorleef indien die volk die belang en geldigheid van die regstaat konsep erken. As die volk die regstaat omver wil gooi, het hulle wel die mag, maar nie die reg nie. Dit is net so belangrik dat 'n individu teen die massa/meerderheid beskerm moet word as teen 'n diktator. In 'n demokrasie maak mag reg. In 'n regstaat maak reg mag; perk die wet die regering in. Die vraag moet nooit wees wie reg is nie, maar wel wat reg is.

3.8.1.d Verstaan wat privaatbesit beteken.

Gestel ons aanvaar argumentsonthalwe dat alle mense ewe veel verbruik, maar dat alle mense nie ewe veel produseer nie, sou dit beteken dat sommiges meer produseer as wat hulle verbruik, en andere minder.
Die die reg tot privaatbesit is die reg van die individu om meer te produseer as wat hy verbruik en om te behou wat hy produseer. Dit is die sleutel tot maksimale produksie. Mense wat kan behou wat hulle produseer, sal altyd meer produseer as hulle van wie die produksie weggeneem word (selfs al is dit ten voordele van die gemeenskap).

3.8.1.e Ken die verskillende komponente waaruit ekonomie bestaan.

Is daar 'n ekonomiese stelsel wat beide die sterke en die swakke beskerm? Is daar 'n ekonomiese stelsel waarin mense kan behou wat hulle produseer?
Verbruikersgoedere is goedere wat vir verbruik bestem is. Kapitaalgoedere is goedere wat gebruik word in die vervaardiging van verbruikersgoedere. Dit is produksiemiddele. Dit kan geïdentifiseer word deur te vra wat daarmee vervaardig kan word.
Die Bruto Binnelandse Produk (BBP), is die somtotaal van alle kapitaalgoedere + verbruikersgoedere in 'n land. Die verkryging van verbruikersgoedere is nie alleen afhanklik van kapitaalgoedere nie, maar ook daarvan dat iemand die kapitaalgoedere gebruik (arbeid). Menslike inspanning is dus die sleutelbestanddeel in 'n kapitalistiese ekonomie.

3.8.1.f Verstaan jou eie verantwoordelikheid teenoor die ekonomie.

Dit is die reg van elke individuele lid van die samelewing om lewensmiddele te produseer. Dit is ook sy verantwoordelikheid, volgens die skeppingsopdrag. Elke samelewing benodig verbruikersgoedere ten einde die lewens van die individue waaruit dit bestaan, in stand te hou. Daarom benodig 'n samelewing die maksimale produktiewe inspanning van al die lede van daardie samelewing.
Daar is slegs twee maniere waarop verbruikersgoedere geproduseer kan word: Deur individue te dwing om te produseer, deur middel van vrees, of deur 'n ekonomiese klimaat te skep waarin individue aangemoedig word om die maksimum te produseer, deur middel van wins. Wanneer individue deur middel van vrees gedwing word om te produseer, gebruik hulle minimum produktiewe inspanning, is die BBP kleiner en verlaag die lewenstandaard. Wanneer individue deur middel van wins aangemoedig word om te produseer, gebruik hulle maksimum produktiewe inspanning, is die BBP groter en verhoog die lewenstandaard.

3.8.1.g Kan tussen verskillende ekonomiese sisteme onderskei.

Kapitalisme: Enige ekonomiese sisteem waarin kapitaalgoedere gebruik word in die vervaardiging van verbruikersgoedere, is 'n kapitalistiese sisteem. 'n Vryemark-, Sosialistiese en Fasistiese ekonomiese stelsel is verskillende vorme van Kapitalisme.
In 'n Vryemarkstelsel, word kapitaalgoedere deur privaat eienaars besit en beheer. In 'n Sosialistiese stelsel, behoort die kapitaalgoedere aan die staat, en word beheer deur die staat. In 'n Fasistiese ekonomiese stelsel, behoort kapitaal goedere aan privaat eienaars, maar word beheer deur die staat.
In watter een van die bogenoemde drie ekonomiese stelsels kan beide die swakke en sterke beskerm word? Watter voorwaardes moet nagekom word om beide die swakke en sterke te kan beskerm?

3.8.1.h Ken die maniere waarop 'n surplus verdeel kan word.

Ons het reeds gesien dat daar slegs twee maniere is waarop die surplus van A B en C (sien doelwit 3.8.1.a) verdeel kan word (met hulle toestemming, of sonder hulle toestemming).
Liefdadigheid is wanneer jy jou surplus op 'n vrywillige basis met diegene in die samelewing deel wat weinig of niks produseer nie. Welsyn is wanneer jou surplus onder dwang met diegene in die samelewing wat min of niks produseer nie, gedeel word. Diefstal is wanneer individue D, E, F en G individueel of gesamentlik die eiendom van A, B en C neem.
Oorlog is wanneer D, E, F en G byvoorbeeld 'n nasie is, en met geweld die eiendom van 'n ander nasie (A, B en C) van hom kom afneem.
Wanneer een persoon se eiendom geneem word om deur 'n ander gebruik te word, word dit plunder genoem. As 'n regering dieselfde doen en die mag het om die aktiwiteit te wettig, word dit wettige plundering genoem, byvoorbeeld: As 'n regering die eiendom van 'n individu neem en dit aan iemand anders gee aan wie dit nie behoort nie, of as 'n regering voorregte aan een groep gee ten koste van 'n ander.
Hoe kan 'n regering wettige plundering toepas? Die gebruik van demokrasie kan 'n metode wees om die eiendom van die minderheid te plunder. Die meerderheid regeer, en daar is geen vraag of dit wat die meerderheid wil reg of verkeerd is nie.
'n Outokrasie en 'n oligargie kan beide die mag besit om die eiendom van die meerderheid te plunder.

3.8.1.i Verstaan wat inflasie is.

Inflasie veroorsaak dat 'n mens geld in jou mandjie dra en goedere in jou beursie. Dit laat jou toe om in 'n duurder woongebied te woon sonder om te trek. Dit is die prys wat ons betaal vir al die regeringsvoordele wat ons gedink het gratis is. Is inflasie die vermindering in die waarde van geld, of is dit die verhoging van die algemene vlak van pryse? Beantwoord die volgende vraag kortliks: Wat veroorsaak inflasie? Verhoogde vraag na verbruikersgoedere, of verhoogde produksiekoste of gebrek aan kompetisie tussen produsente?
Inflasie word veroorsaak deur die vinniger toename in die hoeveelheid geld in omloop, as in die Bruto Binnelandse Produk (BBP) wat daarmee gekoop kan word.
Wat is die gevolg van inflasie? Die verhoging in pryse! Voorbeeld: Dink aan 'n skaal met al die geld in omloop in 'n land in een bakkie, en die totale BBP van die betrokke land in die ander bakkie. Indien meer geld in omloop geplaas word (sonder om meer BBP te produseer) en in die geldbakkie geplaas word, sal daar gevind word dat die skaal nie swaai nie maar steeds balanseer! Die waardes in die twee skaalbakkies bly dus altyd gelyk, ongeag die wisseling in hoeveelhede geld in omloop en BBP beskikbaar in die land.
As die BBP minder word, verhoog die vraag, word die beskikbare geld in verhouding meer, en gaan die pryse op (inflasie verhoog). As geld meer word, word die beskikbare BBP in verhouding minder, verhoog die vraag en die pryse gaan op (inflasie verhoog). As die BBP meer word, word die beskikbare geld in verhouding minder, die vraag neem af en pryse daal (inflasie daal). As die geld minder word, word die beskikbare BBP in verhouding meer, verlaag die vraag en pryse daal (inflasie daal).
Daar is diegene wat beweer dat inflasie 'n gereedskapstuk in die hande van hulle is wat mag wil behou of wil bekom, deurdat hulle die waarde van geld manipuleer deur die hoeveelheid beskikbare geld (en/of die grootte van die BBP) te manipuleer.

3.8.1.j Verstaan wat vryheid beteken.

Vryheid: "Liberty is the only thing you cannot have unless you are willing to give it to others". Ons kan vryheid definieer as regte met verantwoordelikhede. Hierteenoor kan ons bandeloosheid definieer as regte sonder verantwoordelikhede.
As ons aanvaar dat die Skepper-God, wat aan ons lewe geskenk het ook vryheid (regte met verantwoordelikhede) aan ons gee, kan ons die volgende vraag saam met Thomas Jefferson vra: "Can the liberties of a nation be secure when we have removed a conviction that these liberties are the gift of God?". Die Skepper het aan ons die Tien Gebooie (Eksodus 20:1-17) gegee as riglyne ten opsigte van die regte van ander. Hierdie gebooie is in die negatief gestel, met die doel om grense aan die individu te stel. Mense wat hulle aktiwiteite binne die grense van die Wet van God hou, bedreig nie die regte van ander nie - en bedreig nie hul vryheid tot die uitoefening van hierdie regte nie.
'n Gehoorsame mens verleen dus vryheid tot die uitoefening van Godgegewe regte aan sy naaste. Die ongehoorsame mens ontneem dus sy naaste die vryheid tot uitoefening van sy Godgegewe regte/ verantwoordelikhede. 'n Mens kan dus slegs aan 'n ander vryheid gee deur self gehoorsaam aan God se Wet te wees.

3.8.2 Gesindheidsdoelwitte:

3.8.2.a Begeer om die leefwêreld te verstaan waarin God verteenwoordig moet word.

Dit is belangrik dat Christene nie met oogklappe deur die lewe sal gaan nie. Daar moet altyd 'n begeerte in hul harte wees om dit wat Christus aan ons geleer het in die praktyk toe te pas. Daarom moet elke Christen daarna strewe om in voeling met die werklikheid rondom hom te bly en om sy besondere rol te vertolk. Hy moet daarteen waak dat ander hom nie deur leuens en halwe waarhede manipuleer en by goddelose planne betrek, terwyl hulle nie in 'n gesindheid van liefde die eer van God en die voordeel van hul naaste soek nie (sien doelwit 3.8.1.a-j).
Bid dat God die begeerte in jou sal werk en versterk om op 'n baie spesiale manier die leefwêreld te verstaan waarin jy God moet verteenwoordig.

3.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

3.8.3.a Identifiseer praktyke in die samelewing wat strydig is met Eksodus 20:1-17.
Identifiseer (aan die hand van die besprekingsvrae in 2.8.1.f) praktyke in jou gemeenskap, wat strydig is met die Wet van God. Verkry objektiewe en eerstehandse inligting deur verskillende koerante, tydskrifte en kundiges te raadpleeg.

3.8.3.b Neem kennis van die verband tussen menslike lyding en ongehoorsaamheid aan God.

'n Indikasie van die intensiteit van menslike lyding kan afgelei word van faktore soos die egskeidingsyfer, sterftes by geboorte, daaglikse per kapita kalorievoorsiening, toegang tot skoon drinkwater, bevolkings-aanwas, ensovoort (sien doelwit 4.8.1.a).
Leer ken (aan die hand van hierdie indikators en die vrae in 2.8.3.a) die invloed van menseregte, regering, privaatbesit, verdeling van surplus, inflasie en vryheid (sien doelwit 3.8.1.a-j) op menslike lyding in jou samelewing. Probeer om objektiewe en eerstehandse inligting te verkry deur verskillende koerante, tydskrifte en kundiges te raadpleeg. Gaan die feite tot jou beskikking na, en kyk in hoeveel gevalle van menslike lyding, ongehoorsaamheid aan die Wet van God die oorsaak is.

No comments:

Post a Comment