Thursday 28 July 2011

GGP Deel 4

Geestelike Groeiprogram vir Dissipels en Dissipelmakers

DEEL 4 (Groeifase 4: 'Adolessente Fase')

Dr. J. M. B. Eloff

Tweede Uitgawe 1994
Kopiereg 1994: Dr Johann Eloff
Posbus 71, Mansfield, QLD, 4122, Brisbane, Australie
Ó Alle regte voorbehou. Geen deel van hierdie publikasie mag in enige vorm gedupliseer word sonder die toestemming van die uitgewer nie.
Gedruk in Suid-Afrika.


INHOUD

4. GROEIFASE 4 (ADOLESSENT) 1

4.1 GROEIAREA: WOORD 2
4.1.1 Kennisdoelwitte: 3
4.1.2 Gesindheidsdoelwitte: 6
4.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 6

4.2 GROEIAREA: GEBED 9
4.2.1 Kennisdoelwitte: 10
4.2.2 Gesindheidsdoelwitte: 12
4.2.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 13

4.3 GROEIAREA: PERSOONLIKE GROEI 14
4.3.1 Kennisdoelwitte: 16
4.3.2 Gesindheidsdoelwitte: 30
4.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 31

4.4 GROEIAREA: GESIN 35
4.4.1 Kennisdoelwitte: 37
4.4.2 Gesindheidsdoelwitte: 57
4.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 58

4.5 GROEIAREA: GEMEENSKAP 65
4.5.1 Kennisdoelwitte: 66
4.5.2 Gesindheidsdoelwitte: 68
4.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 69

4.6 GROEIAREA: GETUIENIS 83
4.6.1 Kennisdoelwitte: 85
4.6.2 Gesindheidsdoelwitte: 107
4.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 109

4.7 GROEIAREA: BEDIENING 111
4.7.1 Kennisdoelwitte: 112
4.7.2 Gesindheidsdoelwitte: 117
4.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 118

4.8 GROEIAREA: LEEFWêRELD 120
4.8.1 Kennisdoelwitte: 121
4.8.2 Gesindheidsdoelwitte: 127
4.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte: 130


4. GROEIFASE 4 (ADOLESSENT)

VOORWOORD

"Vermaan die jonger mans soos jou broers... en die jonger vroue soos jou susters, in alle eerbaarheid." (1 Timoteus 5:1,2)

Die adolessent begin om verantwoordelikhede te aanvaar. Hy het nou ’n bietjie meer beweegruimte nodig. ’n Bietjie meer kans om te probeer, te misluk en om self uit sy mislukking op te staan. Die las moet ’n bietjie groter gemaak word om sy innerlike krag te ontwikkel. Meer verantwoordelikhede moet aan hom toevertrou word sodat hy ervaring en wysheid kan opdoen en kan voel hoe dit voel om ’n taak te voltooi. Hy het dus in die algemeen ’n behoefte aan innerlike krag, ervaring en verantwoordelikheid.

In hierdie fase vertolk die dissipelmaker die rol van afrigter om krag en verantwoordelikheid by die dissipel te ontwikkel. Hy het teen hierdie tyd oorgenoeg boekgeleerdheid en dit het tyd geword om hom ’n kans te gee om homself te bewys. Die dissipelmaker moet kantlyn toe beweeg en hom aanmoedig om te doen wat hy weet reg is. Maak dinge maar 'n bietjie moeilik vir hom, terwyl beide van julle weet dat dit vir sy eie beswil is. As dinge te rof raak neem jy hom uit die wedstryd en versorg sy wonde, wys hom waar hy foute gemaak het en stuur hom terug op die veld.

Die geestelike adolessent se primêre motiveerder is hyself. Hy begin ’n wil ontwikkel om aan God gehoorsaam te wees.


4.1 GROEIAREA: WOORD

INHOUD

4.1.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken die elemente ter sprake by Bybelstudie.
b. Weet hoe om die verskillende Bybelstudie metodes toe te pas.

4.1.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Begeer om die Woord van God beter te leer ken deur middel van sistematies en effektiewe Bybelstudie.
b. Word beïndruk deur die betroubaarheid van die Woord in alledaagse lewensgebeure.

4.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Bestudeer die Woord van God deur middel van sistematiese en effektiewe Bybelstudie.
b. Bepeins die Woord van tyd tot tyd.
c. Bestudeer 'n seleksie van boeke oor die Bybel se kultuurhistoriese agtergrond.
d. Lei ander in die bestudering van die Woord.


4.1.1 Kennisdoelwitte:

4.1.1.a Ken die elemente ter sprake by Bybelstudie.

Die volgende elemente is onontbeerlik vir sinvolle Bybelstudie:
Gebed (Psalm 119:18; Johannes 16:13-15). Lees jou Bybel op 'n verantwoordelike wyse (vergelyk doelwit 3.1.1.d,e). Hou 'n geestelike dagboek. Skryf hierin neer wat God aan jou kommunikeer deur die Bybel. Memoriseer gedeeltes van die Woord van God (Psalm 119:11). Bedink die Woord van God. Gehoorsaam die Woord van God (2 Timoteus 3:16; Jakobus 1:22).

4.1.1.b Weet hoe om die verskillende Bybelstudie metodes toe te pas.

Bestudeer die volgende Bybelstudie metodes (sien ook doelwit 3.1.1.h):

Bestudering van Bybelhoofstukke:
Daar is 1,189 hoofstukke in die Bybel. As 'n mens 'n hoofstuk per dag neem, kan 'n intense studie van die hele Bybel in 'n bietjie meer as drie jaar gedoen word. Daar kan as volg te werk gegaan word:
Lees die hoofstuk aandagtig en soek die hooftemas. Gee aan die hoofstuk 'n opskrif wat die belangrikste boodskap daarvan saamvat. Lees weer deur die hoofstuk, en som die hoofgedagtes op. Vra en antwoord dieselfde vrae as by Bybelstudie tydens stiltetyd (sien doelwit 3.1.1.h). Gee aandag aan praktiese en teologiese probleme in die hoofstuk. Gebruik 'n konkordansie om die betekenis van sleutelwoorde in die probleemgedeeltes te vergelyk met hul betekenis in ander Skrifgedeeltes. Vergelyk so die Skrif met die Skrif om die ware betekenis van die probleemgedeeltes te ontdek. Onthou om die hoofstuk te bestudeer teen die agtergrond van die voorafgaande en daaropvolgende hoofstukke.

*Bestudering van paragrawe:
'n Paragraaf is 'n aantal gedagtes rondom 'n bepaalde tema op skrif. Wanneer 'n skrywer die klem verskuif van een tema na 'n ander, begin hy gewoonlik met 'n nuwe paragraaf. Die bestudering van die Bybel volgens paragrawe, word dikwels "analitiese Bybelstudie" genoem.
Ontdek die hoofgedagte van die paragraaf deur die paragraaf versigtig deur te lees. Om die verhouding tussen die belangrike gedagtes in die paragraaf te vind, kan die paragraaf in jou eie woorde oorgeskryf word. Identifiseer die hoofpunte, en die gedagtes wat daaronder resorteer, en skryf dit nou tematies neer byvoorbeeld: Hoe om nie te bid nie - Matteus 6:5,7,8 (skynheilig in die openbaar, 6:5; met ydele herhaling, 6:7,8). Hoe om te bid - Matteus 6:6,9-13 (in privaatheid tot jou hemelse Vader, 6:6; volgens die voorbeeld van Christus, 6:9-13). Vergelyk die hoofgedagtes in die paragraaf met ander Skrifgedeeltes waar dit ook bespreek word deur dit in 'n konkordansie op te soek.

Bestudering van Bybelverse:
Wanneer historiese gedeeltes van die Bybel bestudeer word, mag elke vers net een eenvoudige betekenis hê. Baie Bybelverse is egter vol en ryk aan Bybelse waarhede. Sulke verse vereis meer indringende studie. Daar is verskeie maniere waarop 'n vers bestudeer kan word. Bestudeer dit deur middel van werkwoorde of naamwoorde in die vers, deur die persoonlikhede betrokke, of deur die belangrike waarhede daarin geopenbaar.
Bybelverse kan ook volgens "interaksie-elemente" bestudeer word. Aksie is die fisies waarneembare beweging van materie. Interaksie vind plaas wanneer 'n aksie, uitgevoer deur 'n akteur, waargeneem word deur 'n ander akteur. Interaksie-elemente wat by interaksie betrokke is, is akteurs, rigting van aksie, tydstip van aksie, tydsduurte van aksie, intensiteit van aksie, oorsaak van aksie, gevolg van aksie. Deur die verskillende interaksies in 'n vers te identifiseer, en daarna die interaksie-elemente, kan die ryke inhoud van 'n vers daaruit gedelf word soos silwer uit 'n silwermyn (Spreuke 2:4).

Bestudering van Bybelboeke:
Lees die boek deur om die algemene boodskap van die boek te verstaan. Lees die boek nou verskeie kere, en vra elke keer 'n relevante vraag terwyl jy die antwoorde neerskryf namate jy vorder. Die eerste keer kan daar gevra word wat die sentrale tema van die boek is, en wat die sleutelvers is. Die tweede keer kan gekyk word hoedat die hoofgedagte van die boek ontwikkel word. Die derde keer kan gevra word wat van die outeur en sy omstandighede gesê word met die skrywe van die boek. Die vierde keer kan gevra word wat gesê word van die mense aan wie die boek geskryf word sowel as van hulle omstandighede en probleme. Die vyfde keer kan gesoek word na die hoofindelings van die boek deur paragrawe te identifiseer en aan hulle opskrifte te voorsien. Met volgende lesings kan na ander informasie opgelet word, byvoorbeeld sleutelwoorde wat telkens herhaal word.

Bestudering van Bybelwoorde:
Bestudering van Bybelwoorde deur middel van 'n konkordansie, help om Bybelse leerstellings en beginsels te ontdek.

Bestudering van Bybeltemas:
In stede van woorde word temas bestudeer wat deur 'n aantal woorde met dieselfde betekenisveld, omskryf word. So kan beloftes, opdragte ensovoort bestudeer word.

Simbole en kleurmetode:
Wanneer jy Bybelstudie doen kan jy gebruik maak van kleure en simbole om sekere gedeeltes te merk. Die waarde daarvan lê daarin dat dit die hantering van die Bybel makliker maak en dat dit groot waarhede wat reeds ontdek is duidelik laat uitstaan.
Hoe 'n mens te werk gaan, sal van persoon tot persoon verskil. Dit is raadsaam om groot temas te kies en dit konsekwent met dieselfde kleur te merk, byvoorbeeld rooi (vir Christus en sy bloed gevloei), blou (vir hemelse temas), pers (vir koningskap), groen (vir geestelike groei), geel (vir beloftes), oranje (vir reëls), ensovoort.
Belangrike temas kan ook met simbole gemerk word, byvoorbeeld I (inspireer), E (ewig), L (liefde), G (geloof), + (sterwe van Jesus), # (geestelike oorlogvoering), ! (lofprysing en aanbidding), ô (die mens), ensovoort.

4.1.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.1.2.a Begeer om die Woord van God beter te leer ken deur middel van sistematiese en effektiewe

Bybelstudie.
Daar lê nog dieper waarhede in die Bybel opgesluit waaruit jy verryk kan word. Watter gevoel ervaar jy ten opsigte van Bybelstudie? Probeer om dit te identifiseer wat veroorsaak dat Bybelstudie nie die verrykende ervaring vir jou is wat dit behoort te wees nie. Bid tot God dat Hy hierdie begeerte in jou hart sal werk en versterk.
God is 'n 'n God van orde. Deur die Woord van God sistematies te bestudeer, kan jy die boodskap en wil van God vir jou lewe duideliker en suiwerder bepaal. Sodoende kan jy met al die fasette van die boodskap van die Woord kennis maak en verhoed dat jy net by geselekteerde tekste stil staan. Jy kan sodoende ook die Bybel beter leer ken.

4.1.2.b Word beïndruk deur die betroubaarheid van die Woord in alledaagse lewensgebeure.

Dink goed na oor die betroubaarheid van die Woord van God in alledaagse lewensgebeure, na aanleiding van die getuienis wat ons in die Bybel kry (Matteus 6:25-34; Johannes 15:7,8,16,17; Romeine 12:1,2; Galasiërs 5:16; Efesiërs 6:10; 1 Petrus 3:1-3).

4.1.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.1.3.a Bestudeer die Woord van God deur middel van sistematiese en effektiewe Bybelstudie.

Onderneem ’n tematiese Bybelstudie oor die Wese van God, aan die hand van die meegaande Skrifgedeeltes:
Name: Genesis 1:1; 2:4; 14:18-22; 15:2,8; 21:33; 28:3; Eksodus 3:14; 6:3; 34:14; Deuteronomium 33:27; Joshua 3:10; Psalm 80:7; Jesaja 43:3,14,15; Jeremia 32:18; Jona 1:9; Matteus 6:26; 1 Timoteus 1:17; 6:15; Jakobus 1:17.
Maniere van verskyning: Genesis 16:7-13; 32:30; Exodus 34:5-7; 40:34,35; Numeri 12:6-8; Deuteronomium 5:22-26; Habakuk 3:3.
Sy natuur: Deuteronomium 6:4; Johannes 4:24; 17:1-3; 2 Korintiërs 13:14.
Sy eienskappe: Exodus 34:6,7; Numeri 23:19; Deuteronomium 32:22,34-41; 1 Konings 8:27; 2 Samuel 7:22; Psalm 5:5,6; 89:14; 117:2; 139:7-12; Jesaja 40:13-25,28; 48:3,5; 57:15; Jeremia 32:17,27; Klaagliedere 3:22,23; Johannes 1:18; Handelinge 15:18; Romeine 11:33,34; 1 Petrus 1:17; 1 Johannes 3:20; 4:8,16; Openbaring 4:8.
Menslike uitdrukkings oor Hom: Genesis 6:6,7; 49:24; Exodus 33:21-23; 34:14; Deuteronomium 32:26,27; Jeremia 44:26; Psalm 2:4; 78:65.
Titels: Psalm 18:35; 47:2,7,8; 96:10,13; 121:3-8; Jesaja 40:12,22,26.
Sy werke beskryf as: Psalm 66:3; 86:8; 92:5; 104:24; 139:14.
Sy optrede beskryf as: Psalm 18:30; 86:11; 103:7; 145:17; Jesaja 55:8,9; Habakuk 3:6; Romeine 11:33; Openbaring 15:3.
Sy goedheid: Exodus 18:9; 34:6; Psalm 31:19; 52:1; 65:4; 86:5; 145:7,9; Jeremia 31:14; Matteus 5:45; Handelinge 14:17.
Sy liefde: Jeremia 31:3; Johannes 3:35; Romeine 5:5,8; 2 Korintiërs 9:7; Efesiërs 2:4,5; 2 Tessalonisense 2:16; 3:5; Titus 3:4; 1 Johannes 2:5,15-17; 3:1,2; 4:7-12,16,18-21.
Sy mag: Jeremia 51:15; Psalm 21:13; 59:16; 66:7; 145:11; Lukas 1:35; 11:20; 2 Korintiërs 6:14; 13:4; Efesiërs 1:19,20; Filippense 2:13.

4.1.3.b Bepeins die Woord van tyd tot tyd.

Bepeins die wese van God (sien doelwit 4.1.3.a) en bespreek dit met 'n Christen vriend. Leer uit hierdie oefening om gereeld die waarhede wat uit jou Bybelstudie na vore kom, te oordink en met ander gelowiges te deel.

4.1.3.c Bestudeer 'n seleksie van boeke oor die Bybel se kultuurhistoriese agtergrond.

Dit is belangrik om die kultuurhistoriese agtergrond van die Bybel te bestudeer (sien doelwit 3.1.1.d). Doen dus moeite om meer aandag aan hierdie aspek van Bybelstudie te gee (sien doelwit 3.1.1.g).
Die volgende boeke word aanbeveel: "The New Testament Environment", E. Lohse; "Die Dekor van die Nuwe Testament", S. Duvenhage; "New Testament Times", M.C. Tenny; "The Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible", M.C. Tenny.
Hou ook gedurigdeur jou oë en ore oop vir nuwe boeke oor die kultuurhistoriese agtergrond van die Bybel wat deur mede-Christene aanbeveel word. Bespreek dit met hulle.

4.1.3.d Lei ander in die bestudering van die Woord.

Begin ’n Bybelstudiegroep deur hierdie Geestelike Groei Program te implementeer (sien doelwit 3.5.1.e; 3.5.3.b; 3.7.1.f; 4.7.1.c).


4.2 GROEIAREA: GEBED

INHOUD

4.2.1 Kennisdoelwitte:
a. Neem kennis van die inhoud van gebede in die Bybel.
b. Weet dat jy jouself by geleentheid vir 'n tyd lank in gebed moet afsonder.
c. Weet wanneer en hoe om te vas.
d. Weet hoe om deur die Heilige Gees te bid.

4.2.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Staan verwonderd oor die krag van gebed.
b. Begeer diepgaande kennis oor en ervaring in gebed.

4.2.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Pas dit wat in doelwit 4.2.1.a geleer is op jou eie gebedslewe toe.
b. Sonder jouself gereeld af in gebed.
c. Vas volgens Bybelse riglyne.
d. Loof, prys en dank God gereeld tydens gebed.
e. Noem jou sonde by name voor God en ervaar sy vergifnis.
f. Bid in verskillende liggaamshoudings.
g. Lei by geleentheid groepe in gebed.


4.2.1 Kennisdoelwitte:

4.2.1.a Neem kennis van die inhoud van gebede in die Bybel.

Dit is belangrik om kennis te neem van die inhoud van gebede wat in die Bybel opgeskryf is, omdat ons daaruit die wie-, hoe-, wat-, waar- en wanneer aspekte van gebed leer ken. Omdat Bybelfigure ook mense soos ons was, leer ons uit hulle gebede dat ons nie alleen met bepaalde begeertes, behoeftes, vrese, verwagtings en teleurstellings worstel nie, maar dat mense van die vroegste jare af reeds daarmee gekonfronteer is. Ons leer ook daaruit hoedat God op hulle gebede gereageer het, en dit laat ons in verwondering oor die krag van gebed. Kennis van gebede in die Bybel kan dus 'n uiters verrykende ervaring vir die groeiende bidder wees.
Bestudeer gebed in die boek Handelinge. Let daarop dat dit 'n verhaal van konstante oorwinning is. Bedink die rol wat gebed in die boek speel. Let daarop dat God daagliks die wat gered is by die kerk gevoeg het (Handelinge 2:47; 4:4; 5:14; 6:7). Let ook op die verskil in die groei van die kerk van daardie tyd en van die kerk van vandag. Een van die redes vir hierdie verskil word in Handelinge 2:42 en 6:4 gevind. Hierdie kerk was 'n biddende kerk. 'n Kerk wat volhard het in gebed! Almal het gebid! Gebed was die kenmerk van die Apostels se bediening. 'n Bediening waarin hulle al hulle aandag aan gebed en die bediening van die Woord bly gee het.
Bestudeer ook die boek Daniël op dieselfde manier en let daarop hoedat Daniël se gebede die gang van die geskiedenis beïnvloed het.
Bestudeer nou ook ander gebede in die Bybel aan die hand van die meegaande Skrifgedeeltes (Genesis 4:13-15; 15:1-6; 17:18-21; 18:20-32; 20:17; 21:14-20; 24:12-52; 25:21-26; 32:9-12,24-30; Exodus 2:23-25; 3:7-10; 8:9-13; 15:24,25; 32:31-35; Numeri 12:11-14; 27:15-17; Deuteronomium 3:23-25; 34:1-4; Josua 7:6-9; Rigters 6:36-40; 13:8-15; 15:18,19; 16:29,30; 1 Samuel 1:10-17; 7:5-12; 23:10-13; 2 Samuel 2:1; 7:18-29; 1 Kronieke 4:10; 5:18-20; 1 Konings 3:6-14; 17:20-23; 18:36-38; 19:4; 2 Konings 6:17-23; 13:1-5; 19:15-19; 20:1-11; 2 Kronieke 13:14; 14:11; 15:12-15; 18:31; 20:5-12,27; 30:27; 33:12,13; Esra 8:21,23; 9:6-15; Nehemia 1:4-11; Psalm 9:17-20; 25:16; Jeremia 14:7-10; 42:1-6; Esegiël 4:12-15; Daniël 2:17-23; 9:3-19; Jona 2:1-10; Habakuk 1:1-4; 3:1-19; Matteus 6:9-13; 8:2,3,5-13; 11:25,26; 26:39,42,44; 27:46; Lukas 1:13; 18:13; 23:34,42,43,46; Johannes 11:41,42; 12:28; 17:1-26; Handelinge 4:24-31; 9:40; 10:1-33; 12:5-12; 28:8; Romeine 8:26,27; 2 Korintiërs 1:9-11; 12:8,9; Efesiërs 3:14,21; 1 Timoteus 2:1,2; Jakobus 5:17,18).

4.2.1.b Weet dat jy jouself by geleentheid vir 'n tyd lank in gebed moet afsonder.

Dit is nodig om jou by geleentheid in gebed af te sonder volgens die voorbeeld van Christus (Matteus 14:23; Lukas 5:16; 9:18; Markus 1:35). Kyk ook na doelwit 1.2.1.a, 2.2.1.b en 3.2.1.g vir ander belangrike redes in die verband.

4.2.1.c Weet wanneer en hoe om te vas.

Die begrip "vas" beteken om vrywillig volledig of gedeeltelik sonder voedsel en sekere vloeistowwe te bly. Daar word onder bepaalde omstandighede gevas en dit gaan gepaard met bepaalde geestelike aktiwiteite soos gebed, sondebelydenis, rou en selfverloëning. Dit is veral daarop gerig om leiding van God en oorwinning oor versoekings te verkry.
Daar is baie voorbeelde in die Bybel van persone wat gevas het. Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes tydens stiltetyd en bedink daarna die konsep (Exodus 34:27,28; 1 Konings 19:8; 1 Samuel 1:7; 7:5,6; 31:11-13; 2 Samuel 12:16; Rigters 20:26; Nehemia 1:4; 9:1,2; Ester 4:16; Psalm 69:10; 35:13; Jesaja 58:1-14; Daniël 6:9,18-20; 9:3; Joël 2:12; Jona 3:5-8; Sagaria 7:5-7; Matteus 4:1-11; 6:16-18; Markus 2:18; Lukas 2:36,37; Handelinge 13:2,3; 2 Korintiërs 6:4,5; 11:27).

4.2.1.d Weet hoe om deur die Heilige Gees te bid.

Hoe bid ons deur die Heilige Gees? Die Heilige Gees word in sy volheid gegee aan die wat God gehoorsaam (Handelinge 5:32). Dit dui op diegene wat hulle eie wil onderdanig gestel het aan die wil van God. As hierdie absolute oorgawe aan God gemaak is, oefen God oor ons gebedslewe en elke ander deel van ons lewe beheer uit. Hy skenk selfs aan sommige, as 'n spesiale gawe van sy Gees, 'n ongewone taal om tot Hom te bid (1 Korintiërs 12:10; 14:2).
Jy moet as gelowige besef dat jy uit jou eie onbevoeg is en nie weet wat en hoe om te bid nie en daarom totaal afhanklik is van die Heilige Gees vir voorbidding (Romeine 8:26). Wanneer jy bid, tree die Heilige Gees vir jou in (Romeine 8:27). Om deur die Gees te bid moet jy voort-durend deur die Heilige Gees vervul wees (Efesiërs 5:18; sien ook doelwit 4.3.1.c). Bestudeer die Woord van die Here daagliks en ernstig (Johannes 6:63; Efesiërs 5:18,19; Kolossense 3:16). Die onsigbare Gees van God doen sy werk deur die sigbare Woord van God. As ons onsself in harmonie met die denke van God hou deur die daaglikse studie van sy Woord en deur volgehoue gehoorsaamheid aan sy Woord, sal die Heilige Gees ons in ons gebede lei. Gebed deur die Gees sal dus altyd met die woord/wil/wet van God ooreen stem (Judas :20).

4.2.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.2.2.a Staan verwonderd oor die krag van gebed.

Gaan stel vas hoeveel en hoe gereeld God sy beloftes (sien doelwit 4.6.1.g) in jou lewe waarmaak (teen die agtergrond van doelwit 4.2.1.a). Bedink hierdie wonderlike werking van God in jou lewe. Loof, prys en dank die Here vir hierdie wonderdade in jou lewe. Bid dat God jou nog meer sal oortuig van die krag wat daar in gebede is.

4.2.2.b Begeer diepgaande kennis oor en ervaring in gebed.

Vra die Here in gebed om 'n diepe begeerte en verlange na intieme gemeenskap met Hom in jou diepste binneste te bewerk en om 'n begeerte in jou te wek en te versterk vir meer kennis oor gebed. Vra Hom om jou nog meer bewus te maak van die nood waarin die wêreld verkeer, asook van die behoeftes van andere, sodat dit jou daartoe sal beweeg om jou gereeld te wil afsonder in gebed.

4.2.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.2.3.a Pas dit wat in doelwit 4.2.1.a geleer is op jou eie gebedslewe toe.

Werk die notas wat jy tydens jou studies van gebed in doelwit 4.2.1.a gemaak het deur en stel praktiese wenke vir jou eie gebedslewe daaruit saam. Begin daarna om dit in jou eie gebedslewe toe te pas.

4.2.3.b Sonder jouself gereeld af in gebedsessies.

Gaan dadelik daartoe oor om gereeld te bid op 'n plek waar niemand sal steur nie, en waar dit stil is (sien doelwit 2.3.1.c; 3.1.1.b,h; 3.1.3.a; 3.2.3.a,b; 3.3.3.a).

4.2.3.c Vas gereeld volgend Bybelse riglyne.

Bedink die redes waarom 'n mens van tyd tot tyd vas (sien doelwit 4.2.1.c) en stel vas of dit vir jou nodig is om tot so 'n stap oor te gaan. Indien nodig kan jy gerus daarmee voortgaan. As jy nie slaag nie, gesels met 'n Christen vriend oor die probleem en gaan probeer weer.

4.2.3.d Loof, prys en dank God gereeld tydens gebedsessies.

Dit is belangrik dat 'n gelowige God gereeld loof, prys en dank. Gee pertinent daaraan aandag indien hierdie aspek van jou gebedslewe nog nie ten volle ontwikkel het nie. Neem vrymoedigheid om God by sommige stiltetyd geleenthede net te loof en te prys, sonder om enigsins iets vir jouself of ander te vra. Val dit jou nie op in hoe 'n mate jy hierdeur 'n reiniging van jou diepste menswees ervaar nie?

4.2.3.e Noem jou sonde by name voor God en ervaar sy vergifnis.

Bely, op grond van 1 Johannes 1:9, gereeld jou sondes voor God, wetende dat Hy getrou en regverdig is, dat Hy ons sondes vergewe en ons reinig van alle ongeregtigheid. Ons ervaar soms nie hierdie vergiffenis nie, selfs al het God vergewe. Bely jou sondes by die naam en baie spesifiek voor God sodat jy vergiffenis ook meer persoonlik kan ervaar. Vra ook aan Hom dat die Heilige Gees vergete sondes aan jou sal openbaar.

4.2.3.f Bid in verskillende liggaamshoudings.

Wissel ook jou gebedshouding af (sien doelwit 3.2.1.c).

4.2.3.g Lei by geleentheid groepe in gebed.

Identifiseer geleenthede waar jy geleentheid sal kry om 'n groep in gebed te lei, byvoorbeeld 'n Bybelstudiegroep. Berei jou daarvoor voor. Konsentreer eers net op een element van die gebed. Hou dit eenvoudig. Gebruik, namate jy daaraan gewoond raak om groepe in gebed te lei, ook verskillende gebedstipes en elemente (sien doelwit 2.2.1.c en 3.2.1.e) in sulke gebede.


4.3 GROEIAREA: PERSOONLIKE GROEI

INHOUD

4.3.1 Kennisdoelwitte:
a. Besit 'n deeglike kennis van jou eie sterkpunte en beperkinge ten opsigte van jou geestelike groei.
b. Weet dat God se wil nie altyd maklik of aangenaam is nie.
c. Weet wat dit beteken om "met die Heilige Gees vervul te wees".
d. Verstaan jou taak as Christen landsburger.
e. Weet dat jy 'n doelgerigte konstruktiewe lewensplan moet hê wat onder die leiding van die Heilige Gees saamgestel is, waarin die wil van God vir jou lewe vervat is en waarin jou geestelike groei gedissiplineer word, waarom dit nodig is en hoe om so 'n plan saam te stel.
f. Verstaan hoe om sonde in jou eie lewe en in die samelewing te bestry.

4.3.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Is bereid om jou eie wil aan God se wil te onderwerp, al is dit nie altyd maklik of aangenaam nie.
b. Is positief ingestel teenoor beproewing en sien dit as geleentheid vir geestelike groei.

4.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Maak God se prioriteite die sleutel van jou besluitnemingsprosesse.
b. Bou geleidelik meer aan jou geestelike sterkpunte en werk doelgerig aan jou geestelike beperkinge.
c. Beplan, vir persoonlike finansiële gemoedsrus, deur 'n effektiewe huishoudelike begroting op te stel waarin die "Keiser kry wat hom toekom, en God wat Hom toekom".
d. Beoefen effektiewe tydsbestuur waarin God se prioriteite verreken is.
e. Is besig om alle persoonlike gewoontes wat skadelik is vir jou geestelike groei, in te kort en om nuwe gewoontes wat jou geestelike groei sal bevorder, in te oefen.
f. Volhard konsekwent met die instandhouding van jou liggaam as tempel van God deur 'n gesonde oefenprogram en dieet te volg, en vasgestelde doelwitte in die verband te bereik.
g. Lewe 'n lewe wat deur die Heilige Gees beheers word.


4.3.1 Kennisdoelwitte:

4.3.1.a Besit 'n deeglike kennis van jou eie sterkpunte en beperkinge ten opsigte van jou geestelike groei.

Trek ’n profiel van jou eie geestelike lewe, aan die hand van die inhoud in doelwit 2.3.1.b, 3.5.1.a en 4.5.3.b.

4.3.1.b Weet dat God se wil nie altyd maklik of aangenaam is nie.

Lees Genesis 12:1-5 (God se wil met Abraham), Genesis 37:12-39:23 (God se wil met Josef), Eksodus 3; 4:1-17 (God se wil met Moses) en die laaste hoofstukke van die Evangelies (God se wil met Jesus) deur, en bedink dan die implikasies en die doel van God se wil in elkeen van hierdie persone se lewens. Wat het alles vir jou duidelik geword uit die Skrifgedeeltes? Watter verband, ooreenkomste of verskille het die gebeure in die Skrifgedeeltes met jou lewe? Sou jy jou lewe anders wou laat verloop het as jy 'n keuse gehad het? Wat het jy alles tot nou toe uit die pad wat God sover vir jou beskik het, geleer?
God se wil is nie altyd maklik of aangenaam nie. Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes in die verband (Matteus 5:23,27,28,38-48; 6:24-34; 7:1-5; Romeine 13:5; Kolossense 3:22-24; 1 Petrus 2:13,14,19). Bedink dan die stryd om te groei wat Paulus in Romeine 7:14-25 beskryf en let op die feit dat oorwinning in hierdie stryd moontlik is, volgens vers 25. Bedink ook die stelling dat ons as gelowiges 'n lewe ooreenkomstig die hoë roeping waarmee ons geroep is moet lewe (Efesiërs 4:1), en dat daardie lewe die lewe van Christus moet reflekteer (Kolossense 3:8-12).

4.3.1.c Weet wat dit beteken "om met die Heilige Gees vervul te wees."

Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes oor die vervulling met die Heilige Gees:
Ter inleiding: (Lukas 24:49; Johannes 14:15; 15:1-8; Handelinge 1:8; 4:8-20; Galasiërs 2:11-14; Efesiërs 5:1-21; 1 Johannes 1:5-7; 2:4-6).
Waarom gelowiges opgeroep word om met die Gees vervul te word: (Johannes 3:1-8; 16:13,14; Handelinge 1:8; Romeine 8:4,8; 1 Korintiërs 2:11-16; Galasiërs 5:22,23; Efesiërs 5:11; 1 Petrus 1:16).
Wie die Heilige Gees is: ('n Persoon - Lukas 12:10; Johannes 16:13; Handelinge 5:31; 13:4; 14:26; 20:28; 1 Korintiërs 12:11; Efesiërs 4:30. Hy is God - Handelinge 5:3,4).
Wat die Heilige Gees doen: (Johannes 14:16,17; 15:26; 16:7-14; Handelinge 1:8; Romeine 8:15,16,26-28; 2 Timoteus 1:7,8).
Wat dit beteken om met die Heilige Gees vervul te wees: (Oorgawe aan die Gees - Efesiërs 5:10,17. Regering deur die Gees - Psalm 119:11. Voortdurende gehoorsaamheid aan die Heilige Gees - Efesiërs 4:22-24. Kragvervulling deur die Gees - Handelinge 1:8; 4:20. Christus beheers jou lewe - Galasiërs 2:20; Filippense 1:21).

Hoe kan jy, na aanleiding van die bogenoemde inligting, met die Heilige Gees vervul word? Onthou dat God die vervulling met sy Gees self bewerk ("word vervul" in Efesiërs 5:18 staan in die passiewe vorm wat aandui dat God daarvoor verantwoordelik is). Ons verantwoordelikheid begin by 'n positiewe wilsbesluit om God toe te laat om ons lewens te beheers. Bely jou sondes (elke keer wanneer jy sondig) en vra vergiffenis en breek met daardie sondes. Vra die Here vir krag om Hom te gehoorsaam en vir duidelike leiding deur sy Woord. Maak erns met Bybelstudie (die Gees werk, lei en beheer ons lewens deur sy Woord). Werk aan die vernuwing van jou denke om sy wil te doen (Romeine 12:1,2).
Hoe sal jy weet dat jy met die Heilige Gees vervul is? Kyk na die meegaande kenmerke van 'n Geesvervulde persoon: 'n Lewe van gehoorsaamheid aan God se Woord (Johannes 14:21,23,24). Maak erns daarmee om met sondes te breek en in die waarheid te lewe (Johannes 16:8-15). Goeie verhoudings (Efesiërs 5:21-6:3). Vrugte van die Gees sal in jou lewe sigbaar wees (Galasiërs 5:22,23). Loof, prys en dank God (Efesiërs 5:19,20). Getuig (Handelinge 1:8). Bewaar die eenheid onder gelowiges (Efesiërs 4:3). Is aktief betrokke by die werksaamhede van die kerk (Romeine 12:3-8; 1 Korintiërs 12; Efesiërs 4:11-16). Groei geestelik deur gebed, Bybelstudie en gemeenskap met ander Christene (Efesiërs 4:12-16). Gee jouself in diens van die Here en gebruik die gawes wat die Heilige Gees vir jou gee tot voordeel van die gemeente (1 Korintiërs 12:4-7; 2 Korintiërs 8:1-5). Word deur die Gees gelei (Romeine 8:14).

4.3.1.d Verstaan jou taak as Christen landsburger.

Dit is elke Christen landsburger se roeping en taak om as profeet, priester en koning op te tree (vergelyk die kultuuropdrag in doelwit 1.8.1.a-h).
As profete word ons geroep om die beginsels van die Woord van God te glo, te verkondig en om daarvan en daarvolgens te getuig. Hierdie getuienis moet op alle terreine van die lewe plaasvind.
As priesters word ons geroep om die troue Verbondsgod, wat ons almal hier die lig laat sien het, lief te hê, te aanbid, te dien en om sy Naam orals en altyd te verheerlik. Terselfdertyd moet ons ook ons medemens liefhê, help en dien waar ons kan en waar dit nodig mag wees. Die liggaam van Christus (die kerk) moet gebou word en die evangelie moet aan die heidene uitgedra word.
As konings is dit ons taak om eerstens oor die ou mens (eie ek) in ons eie lewens beheer te kry. Dit kan ons alleen doen as ons onsself volledig aan die Gees toewy en Hom onvoorwaardelik gehoorsaam. Maar dit is ook ons taak om beheer te hê oor ons bodem, dit te beskerm en te bewaar sodat ons nageslag ook daarop 'n bestaan sal kan maak en God se koninkryk kan bevorder. Die natuurlike hulpbronne moet bewaar en verstandig benut word. Hiermee saam is dit noodsaaklik om deur middel van wetenskaplike navorsing en tegniese verwerking rou materiaal te omskep en te rafineer tot instrumente wat gebruik kan word om ons en ons naaste se lewenstandaard te verhoog, te beskerm en te bestendig. Hierdie resultaat van wetenskap en tegniek moet egter nooit die mens beheers of vernietigend gebruik word om God se skepping en skepsels mee te verwoes nie.
Uit die bogenoemde lei ons af dat ons, as beelddraers van God, sekere regte het, maar terselfdertyd ook sekere pligte en verantwoordelikhede (sien doelwit 3.8.1.a). Ons mag nie net eise stel nie, maar ons moet ook gewillig wees om hard te werk en mededeelsaam te wees. Ons moet poog om 'n harmonieuse samelewing te help bou waar elkeen so menswaardig moontlik kan lewe. Dit beteken egter nie dat almal eners hoef te probeer wees of eenvormig moet optree nie. Daar moet ruimte wees vir individualiteit, eiesoortigheid, verskeidenheid en eenheid.

4.3.1.e Weet dat jy 'n doelgerigte konstruktiewe lewensplan moet hê wat onder die leiding van die Heilige Gees saamgestel is, waarin die wil van God vir jou lewe vervat is en waarin jou geestelike groei gedissiplineer word, waarom dit nodig is en hoe om so 'n plan saam te stel.

Dit is nodig om kennis te neem van kritieke werklikhede wat as rigtinggewende kragte jou as Christen se gedrag beïnvloed, voordat dit vir jou moontlik is om 'n sinvolle lewensplan, waarin God se wil vir sy mense en sy wêreld verreken is, te kan uitwerk.

Persepsies:
Mense is geneig om dieselfde dinge verskillend waar te neem. Kyk na die voorbeeld van die drie blindes wat deur 'n bos stap en op 'n dooie olifant afkom (sien doelwit 2.8.1.b). Sien jy hoedat hulle persepsies van die werklikheid verskil? Dink aan nog voorbeelde hiervan uit die gewone lewe.
Dit gebeur daarom dat mense in dieselfde gemeenskap in verskillende "wêrelde" leef omdat hulle die lewe in daardie gemeenskap deur verskillende "brille" waarneem. Die politikus leef byvoorbeeld in 'n "politieke wêreld", die polisieman in 'n "wet-en-orde wêreld", die joernalis in 'n "informasie wêreld" en die predikant in 'n "geestelike wêreld".
Mense is dus geneig om dieselfde dinge verskillend waar te neem, en om ooreenkomstig hierdie verskillende (dikwels verkeerde) persepsies op te tree.

Ervaring:
Een van die redes waarom mense die werklikheid verskillend waarneem, is omdat hulle dit wat hulle waarneem aan die hand van hulle voorafkennis (verkry deur vorige goeie of slegte ervarings) interpreteer.
Iets daarvan word in die meegaande voorbeeld deur Samuel Escobar beskryf: “Samuel Escobar tends to enlighten the mind. He puts the total world population into a town consisting of only 100 inhabitants. Statistically 67 inhabitants will be poor and 33 wil be wealthy in various degrees. From the 100, 7 will be from North America. These 7 will be spending half of the money available, they will eat one-seventh of the food available and they will have 10 times more doctors to consult than the rest. The majority of the more privilaged (33) will be Christians. Their average monthly income will be $2,400 over the $180 of the rest (67). Some of the 33 will have a missionary calling towards the 67. They will proclaim the gospel to the poor, but the poor will be aware of the fact that the 33 waste more food than they can ever hope to eat. They worship in expensive buildings while most of the 67 don't even have a roof over their heads. The 33 save money in the banks while the rest haven't enough money for their basic needs. In the meantime we want to convince them that our Master is the Servant of all servants and He expects the same from His followers. The 33 are the rich minority and we sometimes forget that the question remains: can the 67 ever forget it?"
In hierdie voorbeeld ervaar "die wat het" die situasie as bevredigend, omdat hulle geen noemenswaardige materiële behoeftes het nie. Aan die ander kant ervaar "die wat nie het nie" die situasie as uiters onbevredigend, omdat daar nie in hulle behoeftes voorsien word nie.
As daar 'n magstryd binne hierdie klein gemeenskap sou ontstaan, sou "die wat het" die situasie waarskynlik as bedreigend ervaar, omdat hulle onder die indruk is (persepsie) dat hulle baie het om te verloor. "Die wat nie het nie" sal aan die ander kant waarskynlik die situasie as 'n uitdaging ervaar, omdat hulle onder die indruk verkeer (persepsie) dat hulle niks het om te verloor nie, maar baie om te wen. Hoe ervaar jy die situasie in die gemeenskap waar jy leef?
Mense ervaar dus die werklikheid verskillend, en tree ooreenkomstig hierdie verskillende ervarings op.

Vrees:
Skryf enigiets neer wat jy baie graag wil hê en wat baie belangrik vir jou is (aspirasie)... Skryf nou enigiets neer wat jy vrees (bedreiging) jou lewenskwaliteit mag verlaag... Skryf enigiets neer wat jy vrees (bedreiging) dit vir jou onmoontlik gaan maak om dit wat jy baie graag wil hê en wat baie belangrik vir jou is (aspirasie), te bereik... Skryf neer hoe jy teenoor hierdie bedreiging reageer...
Wanneer jy byvoorbeeld onverwags in die bos op 'n leeu afkom, kan jy een van 'n paar dinge doen. Jy kan vlug, veg, oorgee of niks doen nie. Afhangende van wat die leeu in gedagte het, sal sommige van hierdie reaksies destruktief wees en sommige konstruktief. As hy op jag is, sal vlug 'n konstruktief aktiewe reaksie wees, maar kaalhand veg 'n destruktief aktiewe reaksie, en oorgee 'n destruktief passiewe reaksie. As hy nie op jag is nie, sal dit waarskynlik 'n konstruktief passiewe reaksie wees as jy niks doen nie.
Dui nou aan of jou reaksie op die bedreiging wat jy hierbo beskryf het, konstruktief aktief of -passief of destruktief aktief of -passief is. Is hierdie soort reaksie tipies van jou lewenstyl? 'n Persoon se vrees vir dit wat sy lewenskwaliteit en aspirasies bedreig, beïnvloed dus sy gedrag.

Relatiewe ontneming:
Kyk na Davies se teorie van rewolusie: “Revolution is most likely to take place when a prolonged period of rising expectations and rising gratifications are followed by a short period of sharp reversal during wich the gap between expectations and gratifications becomes intollerable. The frustration that develops when it is intense and widespread in society seeks outlet in violent action. If the frustration is sufficiently widespread, intense and focused on government, the violence becomes a revolution that displace irrevocably the ruling government and change markedly the powerstructure of the society."

Grafiese voorstelling van relatiewe ontneming:


                                                                                                                 x   persepsie van moontlikheid
                                                                                                                                     onrealisties goed
                      
realistiese         
persepsie van   
moontlikheid    x 
            
realistiese        x           
persepsie van 
werklikheid     

x     persepsie van werklikheid
                                         onrealisties sleg



Davies beskryf die invloed van onrealistiese verwagtinge op die gedrag van 'n gemeenskap. 'n Gemeenskap bestaan egter uit individue. 'n Individu se persepsie van dit wat moontlik is, kan onrealisties goed wees, en sy persepsie van wat werklik is kan onrealisties sleg wees. Insoverre individue dit wat hulle as moontlik sien, as baie naby ervaar aan dit wat hulle as werklik sien, is hulle vergenoegd met hulle omstandighede. In die mate waarin individue se siening van dit wat moontlik is onrealisties goed is, of hulle siening van wat werklik is onrealisties sleg is en hulle die twee as onbereikbaar vêr van mekaar ervaar, raak hulle tot so 'n mate onvergenoegd met hulle omstandighede (relatiewe ontneming) dat hulle tot destruktiewe gedrag kan oorgaan. Hulle kan destruktief teenoor hulleself, hulle gesinslede, hul eiendom, God of ander persone en hulle eiendom optree.
Kyk nou weer na jou aspirasie wat jy hierbo neergeskryf het. Is jou siening van die moontlikheid nie dalk onrealisties goed nie, en is jou siening van die werklikheid nie dalk onrealisties sleg nie? Dink na oor die volgende stelling teen die bogenoemde agtergrond: "Ek is 'n potensiële moordenaar."
Is daar faktore (politici, media, vriende, vyande) in jou gemeenskap aanwesig wat jou persepsies van moontlikhede en werklikhede sodanig beïnvloed dat dit onrealisties goed of sleg word?
Mense wat dus die moontlikhede waarna hulle strewe as onbereikbaar vêr van die werlikhede waaruit hulle lewens bestaan, ervaar, word soms so onvergenoegd met hulle omstandighede dat hulle hul tot destruktiewe gedrag wend.

Houding:
Die houding van 'n mens teenoor die lewe in die algemeen, beïnvloed sy gedrag. Kyk na die volgende tipiese emosies van 'n positiewe en negatiewe houding:
Negatief: besluiteloosheid, twyfel, bekommernis, oorversigtigheid, negatiwiteit, oueragtigheid, kinderagtigheid, snobisme, ingeperktheid, leuenagtigheid, verontregtheid, vrees, destruktiewe gedagtes, skuld, reaktiwiteit, middelmatigheid, belangeloosheid, gegriefdheid, bitterheid, partydigheid, meerderwaardigheid, minderwaardigheid, oneerlikheid.
Positief: beslistheid, geloof, vertroue, positiwiteit, erns, nederigheid, aanvaarding, groei, ontmoeting, konstruktiewe gedagtes, vryheid, pro-aktiwiteit, volwassenheid, gerigtheid, waagmoedigheid, onpartydigheid, vergewingsgesindheid, eerlikheid.
Merk daardie gevoelens wat deel is van jou algemene gesindheid teenoor die lewe. Het jy oor die algemeen 'n positiewe of 'n negatiewe gesindheid?
'n Negatiewe houding is destruktief. Geen "wenpunte" word aangeteken met 'n negatiewe houding nie.

Konklusie:
Jy het nou gesien dat die gedrag van die meeste mense bepaal word deur hulle eie persepsies, ervarings, vrese, gevoelens van ontneming en houdings (die skatte van hul harte). Jy behoort ook nou die destruktiewe potensiaal in jou eie lewe raak te sien (indien jy sulke skatte in jou hart bewaar instede van die wil van God vir jou lewe).
Keuse:
Gelukkig is dit nie die einde van die saak nie. Ons het nie nodig om die slagoffers van ons omstandighede te wees nie. Kyk na die volgende skematiese voorstelling van die "gemaksone", die "dorsland" en die "groeipunt".



“GEMAKSONE”

                                                                         “GROEIPUNT”

“DORSLAND


Die "gemaksone" is waar mense voel dat hulle God nie nodig het nie. Die "dorsland" is waar mense voel dat hulle deur God verlaat is. Daar is 'n opoffering wat gemaak moet word om van die mag van hierdie invloede bevry te word. Ons moet die "gemaksone" en "dorsland" opoffer en na die "groeipunt" oor beweeg.
Die "groeipunt" is aan die voet van die kruis van Jesus Christus. Hier besef 'n mens dat ryk en arm dieselfde voor God is (Spreuke 22:2); dat ons almal sondaars is en God se genade en vergiffenis nodig het (Romeine 6:23); dat God ons so lief het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16); dat ons na die beeld van God geskape is, as sy spesiale verteenwoordigers waar ons leef, werk en speel (Genesis 1:26-28).
Op die "groeipunt" leer ons om dinge te sien soos God dit sien; laat 'n mens die slegte ervarings van die verlede agter, deur hulle te vergewe wat jou kwaad aangedoen het; oorkom 'n mens jou vrees vir daardie dinge wat jou lewenskwaliteit en die bereiking van jou aspirasies bedreig, omdat ons oorwinnaars is in Christus en omdat niks God daarvan kan weerhou om die kroon van die lewe, wat hy aan die wat Hom liefhet belowe het, te gee nie (Jakobus 1:12); leer 'n mens om nie te strewe na onrealistiese dinge nie, maar om jou seëninge te tel, omdat jou oë hier oopgaan vir die pyn en lyding van andere; aanvaar 'n mens die gesindheid van Christus wat gekom het om te dien en nie om gedien te word nie (Filippense 2:5-8); offer 'n mens jouself as 'n lewende, heilige en welgevallige offer aan God, verbind tot sy diens (Romeine 12:1); aanvaar 'n mens God se nuwe waardes waarvolgens jy 'n lewe van dankbaarheid kan leef tot sy eer (Eksodus 20:1-17).
Moenie dat die wêreld jou in sy vorm vasvang nie, maar beweeg oor na die "groeipunt" waar God jou sal verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy instaat wees om die wil van God te verstaan - wat voor Hom goed, aanvaarbaar en volmaak is (Romeine 12:2). Ons het 'n keuse!

Produktiwiteit:
'n Produktiewe lewe veronderstel dat jy die beginsels van die groeipunt aanvaar, en dat jy weet hoe om jou prioriteite prakties uit te leef. Op die terrein van menseverhoudinge beteken 'n produktiewe lewe dat jy bereid moet wees om persoonlik verantwoordelikheid te aanvaar vir jou toekoms, vir jou standpunte, vir jou houding en vir jou reaksie op dit wat ander mense en dinge jou aandoen. Dit beteken ook om ingelig, met openheid en begrip binne die ruimte waarin jy leef te streef na ware ontmoeting met ander.
Dink na oor die volgende stellings: "The future belongs to those who genuinely wish to make a contribution that will serve everyone's best interests." "A lot can be achieved by the ordinary man in the street. We are daily in contact with each other and basic decency, respect, good manners and courtesy cost nothing but achieve a lot." "Proper understanding requires first of all that everyone, Black and White, rich and poor, should undergo a radical and permanent change of heart. If we do not regard and treat one another as made in God's image and entrusted with basic rights and duties, no attempt at finding solutions to our problems can hope to endure. This means that we should first of all strive for new attitudes rather than new structures." 'n Produktiewe lewe beteken om positief te werk aan oplossings. Om positief te werk aan oplossings, beteken dat jy 'n lewensplan moet ontwikkel waarin probleme wat jou lewe beïnvloed, aangespreek word. Om 'n lewensplan te kan realiseer, moet jy weet wat jou lewensmissie is, wat die lewensprioriteite is waarvolgens jy dit wil bereik, jou beplanning volgens jou prioriteite doen, en jou lewe volgens jou beplanning inrig.

Lewensplan:
As jou tipiese optrede baie reaktief en dikwels destruktief van aard is, moet jy duidelik daarvan kennis neem dat destruktiewe gedrag dikwels op die afwesigheid van 'n doelgerigte en konstruktiewe lewensplan dui. 'n Lewensplan waarvolgens doelgerigte en konstruktiewe pro-aktiewe optrede moontlik is, sal 'n groot verskil aan jou lewenstyl maak. 'n Motor kan byvoorbeeld alleen veilig na 'n vreemde bestemming bestuur word as 'n mens jou oë op die beplande pad hou wat, volgens die padkaart, daarheen lei. Sonder 'n doelgerigte en konstruktiewe lewensplan kan jy heel moontlik by die verkeerde eindbestemming aan die einde van jou lewe uitkom (soos iemand wat sy lewe lank teen die sporte van die leer van sukses uit swoeg, en wanneer hy bo uitkom besef dat sy leer al die jare teen die verkeerde muur gestaan het en dat die tyd om is).
Hy wat misluk om te beplan, beplan om te misluk! 'n Positiewe houding word gebou op die aanvaarding van 'n positiewe lewensmissie. 'n Positiewe lewe word gebou op die uitvoering van 'n positiewe lewensplan. Om 'n lewensplan te kan formuleer waarin dit waar is, sal jy jouself eers met die groeipunt moet identifiseer. Jy sal gewillig moet wees om God-gerig, mens-gerig en ingelig te lewe. Jy sal ingelig moet wees omtrent die wil van God vir sy mense en sy wêreld. As jy daarin kan slaag, kan jy werklik op die groeipunt leef!

Jy sal jouself ook in een van die kategorieë van die volgende werkverrigtingsmodel moet kan plaas:
Jy doen die regte dinge verkeerd: Jy het 'n breë visie vir jou toekoms, is resultaatgeoriënteerd, pas goed in by veranderde omstandighede, maar vermors beskikbare hulpbronne.
Jy doen die verkeerde dinge verkeerd: Jy het 'n beperkte visie vir jou toekoms, is taak georiënteerd, pas swak in by veranderde omstandighede en vermors beskikbare hulpbronne.
Jy doen die verkeerde dinge reg: Jy het 'n beperkte visie vir jou toekoms, is taak georiënteerd, pas swak in by veranderde omstandighede, maar vermors nie beskikbare hulpbronne nie.
Jy doen die regte dinge reg: Jy het 'n breë visie vir jou toekoms, is resultaatgeoriënteerd, pas goed in by veranderde omstandighede en vermors nie beskikbare hulpbronne nie.

Dit het tyd geword dat jy die regte dinge reg begin doen in jou persoonlike lewe. Daarom gaan jy nou stapsgewys gelei word om jou eie lewensplan te ontwikkel wat aan hierdie standaarde voldoen. Jy kan gebruik maak van die inligting wat in vorige gedeeltes reeds bespreek en neergeskryf is:

Stap 1: Formuleer 'n lewensmissie wat jy as jou eie aanvaar en wat die sin van jou lewe uitspel. In 'n missie word 'n duidelike prentjie van die ideale profiel waarheen 'n persoon (of organisasie) moet groei of ontwikkel verwoord. Dit verskaf riglyne, help doelbereiking aan deurdat dit die verwysingsraamwerk verskaf waarbinne sinvolle doelbegrensing moontlik is, skep 'n uitdaging waarna gestreef moet word, verleen stukrag, verleen 'n wenvoorsprong, lê die grondslag vir waardes, konstitueer kritiese suksesfaktore, vestig begrip by, en die ondersteuning van ander persone en verskaf die moontlikheid om jou (of die organisasie) se dienste en "kliënte" te posisioneer. 'n Missie beskrywe dus dit wat jy (of 'n organisasie) behoort na te strewe. Dit kan in werklikheid nie bereik word nie, want dan verval jou bestaansreg (of die bestaansreg van die organisasie).
Die missie van die meeste organisasies verwoord hulle bedoeling om 'n spesifieke produk(te) koste-effektief vir 'n bepaalde mark(te) te produseer, of om 'n spesifieke diens(te) koste-effektief aan 'n bepaalde mark(te) te lewer. Hieruit kan ons iets leer vir die verwoording van jou lewensmissie. Hopelik gaan dit vir jou om meer in die lewe as om 'n paar dienste of produkte aan 'n paar mense of instansies te lewer. Jou lewensmissie behoort die antwoord te verwoord op die vraag: "Waarom bestaan ek?"
Kyk na die volgende voorbeelde van 'n lewensmissie:
"Ek bestaan om altyd nader aan die beeld van Christus te groei wanneer ek in interaksie verkeer met God, myself, my medemens en my leefwêreld." "Ek bestaan om God te verheerlik deur Hom in gehoorsaamheid te verteenwoordig in die lewens van my medemens en in my leefwêreld" (Genesis 2:26). "Ek bestaan om God te verheerlik deur die deel van sy skepping wat Hy aan my toevertrou in gehoorsaamheid te bewoon, te bewerk, op te pas en te bestuur" (Genesis 1:28). "Ek bestaan om altyd meer te kan toe neem in die genade en kennis van my Here en Verlosser, Jesus Christus, sodat ek vlekkeloos en onberispelik voor God en in vrede met Hom bevind sal word wanneer Hy weer kom." (2 Petrus 3). "Ek bestaan om myself altyd meer aan God te gee as lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is, deur Hom toe te laat om my te verander deur my denke te vernuwe" (Romeine 21:1,2). "Ek bestaan om God-gerig te lewe deur sy wil vir sy mense en sy wêreld te ken en op my unieke manier in gehoorsaamheid aan Hom uit te leef" (Miga 6:6-8).
Formuleer nou jou lewensmissie in jou eie woorde deur die volgende sin te voltooi: "Ek bestaan om...." (sien doelwit 2.3.3.c).

Stap 2: Maak 'n realistiese ontleding van die kritieke werklikhede wat in jou persoonlike lewe as rigtinggewende kragte funksioneer (jou persepsies, ervaring, vrees, gevoelens van ontneming, houding, bladsy 251-256), en skryf elkeen neer. Skryf ook neer wat jy omtrent elkeen wil doen.

Stap 3: Maak 'n realistiese ontleding van die die kritieke werklikhede wat as rigtinggewende kragte in jou samelewing funksioneer (sien doelwit 4.8.1.a,c) op ekonomiese-, politiese-, sosiale-, veiligheids-, godsdienstige terrein), en skryf die probleemsituasies kortliks neer. Skryf ook neer wat jy omtrent elkeen wil doen.

Stap 4. Wanneer die reeks aktiwiteite wat tot realisering van 'n missie lei in aktiwiteitsgroepe geklassifiseer word, kan afgebakende doelstellings geformuleer word. So 'n doelstelling is gewoonlik deurlopend van aard. 'n Doelstelling begin met "om... wat te bereik, deur wat te doen, vir wie, waar, namens wie, teen wanneer, met waarmee en ten einde watter effek te bereik", en die antwoorde op hierdie vrae is algemeen.
Kies of jy in die "gemaksone", "dorsland" of op die "groeipunt" wil lewe. Skryf nou neer wat jy kan doen om deel van die groeipunt te word ten opsigte van elkeen van die kritieke werklikhede wat jy in stap 2 en stap 3 neergeskryf het. Formuleer hierdie gedagtes in doelstellings. Kyk ook na die doelstellings in groeifase 5 van hierdie Geestelike Groeiprogram en besluit watter van hierdie doelstellings jy graag by jou lewensplan wil inkorporeer.

Stap 5: Wanneer die reeks aktiwiteite wat tot die realisering van 'n doelstelling lei, in aktiwiteitsgroepe geklassifiseer word, kan afgebakende doelwitte geformuleer word. 'n Doelwit is 'n bepaalde faset van 'n doelstelling wat uitvoerbaar en bereikbaar is. Dit is duidelik gespesifiseer. Die resultaat, teiken, sperdatum, metode en hulpmiddels word spesifiek uitgespel. Dit sluit ook die standaard waaraan die resultaat moet voldoen, sowel as die verantwoordelike instansie in. 'n Doelwit begin met "om... wat te bereik, deur wat te doen, vir wie, waar, namens wie, teen wanneer, met waarmee en ten einde watter effek te bereik", en die antwoorde op hierdie vrae is baie spesifiek. Die resultaat is op 'n spesifieke datum meetbaar volgens spesifieke standaarde soos tyd, hoeveelheid, koste, kwaliteit ensovoort.
Skryf nou neer wat jy omtrent elkeen van die doelstellings in stap 4 gaan doen. Formuleer dit wat jy gaan doen in doelwitte.

Stap 6: Prioretiseer eers die doelstellings van stap 4 en die doelwitte van stap 5. Die opstel van jou lewensplan eindig hier. Elke doelwit is 'n projek wat uitgevoer moet word, met 'n spesifieke begin en einddatum. Kies nou die belangrikste doelwit van die belangrikste doelstelling wat eerste uitgevoer moet word. Kyk na doelwit 5.8.1.g hoe om so 'n projek te beplan en uit te voer. Lees Spreuke 16:3.
Vergelyk nou die lewensplan wat jy in 2.3.3.c geformuleer het met die plan wat jy so pas opgestel het. As die eerste plan elemente bevat wat nog tersake is en wat jy in die nuwe plan oor die hoof gesien het, kan jy dit in die nuwe plan inwerk.

4.3.1.f Verstaan hoe om sonde in jou eie lewe en in die samelewing te bestry.

Maak 'n studie van die meegaande Skrifgedeeltes: Erken sonde (Psalm 32:5). Wees vol angs daaroor (Psalm 38:18). Bely dit (Psalm 51:3,4; 1 Johannes 1:8,9). Moet dit nie dien of gehoorsaam nie (Romeine 6:6,12). Onderwerp dit (Romeine 6:14-22). Lê dit af (Hebreërs 12:1). Weerstaan dit (Hebreërs 12:4). Bly weg daarvan (Psalm 19:13). God se Woord help daarteen (Psalm 119:11). Beheer die tong (Psalm 39:1). Wandel in die Gees (Romeine 8:1-14). Vermy slegte vriende (1 Timoteus 5:22). Beoefen liefde teenoor God (1 Petrus 4:8). Kry 'n Voorspraak (1 Johannes 2:1).

4.3.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.3.2.a Is bereid om jou eie wil aan God se wil te onderwerp, al is dit nie altyd maklik of aangenaam nie.

Lees Filippense 2:12-14, en bid dat God jou wil sal vernuwe sodat God se wil jou wil sal word, dat jy jou sodoende nie onwillig soos 'n slaaf aan die wil van God onderwerp nie, maar as vry man wie se wil ooreenkom met die van sy Here.

4.3.2.b Is positief ingestel teenoor beproewing en sien dit as geleentheid vir geestelike groei.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes biddend tydens jou stiltetyd deur, en nooi God om jou as Afrigter wat altyd in beheer is (Psalm 103:13,14; 1 Korintiërs 10:13) te oefen om net die diepste mate van geloof in jou lewe te bewerk (Psalm 119:71; Romeine 5:3-5; 12:5-11; Jakobus 1:2-4; 1 Petrus 1:7; 5:10; Openbaring 3:19) in die wete dat daar geen oorwinning sonder teenspoed is nie (1 Korintiërs 9:24-27).

4.3.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.3.3.a Maak God se prioriteite die sleutel van jou besluitnemingsprosesse.

Gaan kyk weer na jou lewensdoelwitte en maak dan seker dat jou prioriteite met God se prioriteite ooreenkom (sien doelwit 1.1.1.c, paragraaf 1; 3.3.1.a). Indien nie, moet jy jou eie doelwitte in die regte prioriteitsvolgorde stel, en jou lewensplan (sien 4.3.1.e) dienooreenkomstig aanpas.
Aangesien dit nie help dat 'n mens prioriteite bepaal en dan daarvan vergeet nie, kan jy gerus God se prioriteite (sien doelwit 1.1.1.c, paragraaf 1) êrens (voor in jou dagboek of Bybel) neerskryf, sodat jy dit byderhand kan hê om daarna te kyk wanneer jy dag-tot-dag besluite neem.

4.3.3.b Bou geleidelik meer aan jou geestelike sterkpunte en werk doelgerig aan jou geestelike beperkinge.

Gaan kyk na jou geestelike sterkpunte en beperkings (sien doelwit 4.3.1.a). Stel dan 'n geestelike groei kurrikulum uit hierdie Geestelike Groeiprogram vir jouself saam wat hierdie beperkings adresseer (sien doelwit 4.7.1.c) en werk dit op 'n beplande wyse deur.

4.3.3.c Beplan vir persoonlike finansiële gemoedsrus, deur 'n effektiewe huishoudelike begroting op te stel waarin die "Keiser kry wat hom toekom, en God wat Hom toekom."

Kyk weer na doelwit 3.3.1.e en stel dan 'n effektiewe huishoudelike begroting op.

4.3.3.d Beoefen effektiewe tydsbestuur waarin God se prioriteite verreken is.

Lewe volgens die lewensplan wat jy opgestel het (sien doelwit 4.3.1.e). Die kort- en langtermyn doelwitte wat deel uitmaak van jou lewensplan sal onder andere verband hou met die geestelike-, finansieële-, fisieke-, gesins-, persoonlike-, sosiale-, beroeps-, veiligheids-, en politieke areas van jou lewe. Skryf 'n situasie waarin jy nog nie kan slaag om 'n geskeduleerde doelwit te bereik nie neer, byvoorbeeld: "Ek en my huweliksmaat wil graag twee ure per week alleen met mekaar deurbring. Die huidige probleemsituasie is dat ons nie daarin slaag nie." Kyk of jy nie die interaksie-faktore so kan manipuleer dat die kragte wat jou verhinder om die betrokke doelwit suksesvol te bereik, uitgekanselleer kan word nie (interaksiefaktore: akteurs betrokke by die mislukte interaksieproses; fisiese rigting waarin die probleemaksies wat deel uitmaak van die interaksieproses, uitgevoer word; aksie-mediums wat gebruik word in die uitvoering van die probleemaksies; tydsduurte van die mislukte interaksieproses; tydstip waarop probleemaksies plaasvind; intensiteit waarteen probleemaksies uitgevoer word; oorsake van probleemaksies; gevolge van probleemaksies).
In hierdie voorbeeld is die begeerde interaksieproses wat ten doel gestel is, "twee ure alleen met mekaar deurbring per week". Die mislukte interaksieproses is dat julle geskeduleerde "alleen-saamwees-interaksieproses", ook die kinders insluit. Die belangrikste probleemfaktor is waarskynlik die tydstip waarop die beplande byeenkoms geskeduleer is. Dit bots moontlik met die kinders se behoefte om tyd saam met hulle ouers te spandeer. Skeduleer die byeenkoms dus vir 'n tyd waarop die kinders slaap of by maatjies speel. Deur die tydstip vir die beplande interaksieproses te manipuleer, kan daar dus in die doel geslaag word.
Onthou dat beplanning en herbeplanning wel tyd neem, maar dat dit uiteindelik die moeite werd is.

4.3.3.e Is besig om alle persoonlike gewoontes wat skadelik is vir jou geestelike groei, in te kort en om nuwe gewoontes wat jou geestelike groei sal bevorder, in te oefen.

Dit gaan hier om effektiewe Bybelse verandering (Lukas 9:23; Filippense 2:13; 1 Timoteus 4:7; 2 Timoteus 3:17; 2 Petrus 2).
Dit is moeilik om gewoontes (aangeleerde gedrag wat instinktief gedoen word byvoorbeeld fietsry of deure slaan) te verander. Onderskei tussen jou aangebore "natuur" en jou aangeleerde "gewoontes". Gedragsverandering is 'n proses waartydens sekere gedragswyses afgeleer en ander aangeleer word. Kyk wat die rol van die Heilige Gees hierin is (sien doelwit 4.3.1.c).
Word bewus van jou gewoontes wat afgelê moet word, deur 'n lys te maak van persoonlike gewoontes wat skadelik is vir jou geestelike groei.
Ontdek nou, tydens stiltetyd, Bybelse alternatiewe vir jou skadelike gewoontes. Daarna moet jy skakels in die ketting van sonde identifiseer en breek deur sulke sondes te bely, daarteen weerstand te bied (Jakobus 4:7) en deur jouself te bedwing (Spreuke 10:19; 17:26; 21:23).
Jy moet in die aanleer van nuwe gewoontes, jou verhouding tot Christus beklemtoon, en die nuwe gewoonte gereeld beoefen (na 21 keer se herhaling sal 'n nuwe gedragspatroon 'n gewoonte begin word). Indien jy nie konstruktief vorder in die verandering van gewoontes wat skadelik is vir jou geestelike groei nie, moet jy hulp van ander verkry (Hebreërs 10:24,25).

4.3.3.f Volhard konsekwent met die instandhouding van jou liggaam as tempel van God deur 'n gesonde oefenprogram en dieet te volg, en vasgestelde doelwitte in die verband te bereik.

Omdat die beste konkrete, fisiese bewys van gesonde oefening en dieet 'n gesonde liggaam en gewig wat onder beheer gehou word is, is dit belangrik dat jy moet volhard in jou oefenprogram en dieet (sien doelwit 3.3.3.f). Indien jy probleme daarmee ondervind, is dit belangrik om iemand te betrek wat jou kan aanmoedig, bemoedig of wat dalk self vir 'n rukkie (minstens drie weke) saam met jou sal oefen totdat jy in die gewoonte kom.

4.3.3.g Lewe 'n lewe wat deur die Heilige Gees beheers word.

Is jy met die Heilige Gees vervul? Hoe weet jy dit? Aanvaar die uitdaging om ooreenkomstig die beginsels van 'n geesvervulde lewe (sien doelwit 4.3.1.c) te lewe.


4.4 GROEIAREA: GESIN

INHOUD

4.4.1 Kennisdoelwitte:
a. Verstaan wat intimiteit in die huweliksverhouding behels.
b. Verstaan wat Bybelse kommunikasie in die huwelik behels.
c. Verstaan wat kameraadskap in die huwelik behels.
d. Verstaan wat seksuele gemeenskap in die huwelik behels.
e. Verstaan wat geloofsgemeenskap in die huwelik behels.
f. Ken die Bybelse siening ten opsigte van homoseksualiteit en aborsie.
g. Ken die Bybelse beginsels oor ouer-en-kind verhoudings.
h. Ken die basiese Bybelse beginsels van die huwelik.
i. Ken God se wil in die keuse van 'n huweliksmaat.
j. Neem kennis van maniere waarop jy jou eie en jou gesinslede se nie-verbale kommunikasievaardighede kan verbeter.

4.4.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Aanvaar jou rol binne die gesin as hoë prioriteit.
b. Is bereid om op 'n Bybelse en intelligente wyse jou standpunte rondom seks, egskeiding, homoseksualiteit en aborsie te verdedig.
c. Aanvaar dat jy nie met 'n ongelowige sal trou nie.
d. Beleef die ongetroude staat as 'n voordeel en 'n tydelike of permanente gawe van God.

4.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Beplan saam met jou huweliksmaat hoedat julle die geloofsgemeenskap in julle huwelik gaan versterk.
b. Bid vir die gesinslede en familielede.
c. Betrek jou kinders by 'n gesins-dissipelskap bediening.
d. Neem entoesiasties deel aan aktiwiteite van 'n gesinsbediening.
e. Begin onafhanklik van jou ouers raak, afhangende van jou ouderdom en werksituasie.
f. Gebruik die voordeel van die ongetroude staat tot volle voordeel van bedieningswerk.
g. Ontwikkel die vermoë om beter te luister.


4.4.1 Kennisdoelwitte:

4.4.1.a Verstaan wat intimiteit in die huweliksverhouding behels.

Kyk wat sê die Bybel omtrent intimiteit in die huwelik in Filippense 2:2-5. Paulus wys hier op die noodsaaklikheid van 'n besondere eenheid in die gemeente. Hierdie eenheid geld soveel te meer vir man en vrou as getroudes. Die besondere eenheid tussen man en vrou noem ons "intimiteit". Intimiteit in die huwelik is die innige persoonlike meedeling van man en vrou aan mekaar van alles wat hulle is en het. In hierdie gee en ontvang word jou diepste behoeftes vervul. Intimiteit in die huweliksverhouding kan groei en verdiep.

Verskillende fasette van intimiteit:
Emosionele intimiteit sê hoe jy iets ervaar ("Ek voel ...") en so begin diepte-kommunikasie. Intellektuele intimiteit dra kennis en feite oor. Kreatiewe intimiteit behels daardie eenheid tussen man en vrou wanneer hulle saam iets tot stand bring, byvoorbeeld soos wanneer hulle saam kinders opvoed. Krisis-intimiteit is die besondere eenheid wat voortvloei uit die saamstaan in swaarkry en beproewinge. Geloofsintimiteit word ervaar as man en vrou as geesgenote onder andere die diepste ervaringe van hulle verhouding met God meemaak en aan mekaar meedeel. Seksuele intimiteit word ervaar as man en vrou in onselfsugtige liefde hulle self in die daad van liggaamlike eenwording aan mekaar meedeel. Liggaamlike eenwording word hier as term gebruik na aanleiding van die Bybelse "Een vlees word".

Die liefde wat intimiteit bevorder:
Intimiteit in die huwelik word bevorder deur liefdevolle kommunikasie. Die feit dat mense van nature daartoe geneig is om een enkele aspek van ware huweliksliefde te oorbeklemtoon, gee aanleiding tot die ontstaan van ongebalanseerde sienings omtrent liefde.
Liefde kan nie gelykgestel word aan emosionele opwinding (gevoel) nie. Dit is slegs 'n aspek van liefde. Liefde word soms misverstaan as slegs seksuele aantrekkingskrag. Liefde is nie maar net sekuriteit of die bou van lugkastele en romantiese ideale nie. Liefde is nie selfsugtig op jouself gerig nie, maar op God en jou naaste.
Ware liefde is moeilik definieerbaar. Ware liefde is die God-gegewe vermoë om 'n onselfsugtige keuse te maak naamlik om die allerbeste vir die ander een te soek (Deuteronomium 30:19,20a). Daar word dan onvoorwaardelik en ten alle koste by die keuse gehou met gesindheid, woord en daad (1 Johannes 4:16-18). Eers wanneer jy God wat liefde is ken, kan jy ware liefde in praktyk beleef en uitleef (1 Johannes 4:7vv). Liefde is 'n gawe van God. Hy gee dit deur sy Gees wat in ons kom woon (Galasiërs 5:22). Jesus se liefde in my is nie selfsugtig nie maar is gerig op God en my naaste. Ware liefde is selfoorgawe (Johannes 3:16) en onselfsugtige diens (Galasiërs 6:2). Ware liefde is onvoorwaardelik (Romeine 5:8) en standhoudend (1 Korintiërs 13:8). Ware liefde praat die waarheid en pas tug op gepaste wyse toe waar nodig (Efesiërs 4:15; Hebreërs 12:5,6).

Die verskillende wyses waarop man en vrou se liefde tot uiting gebring word:
Kameraadskaplike liefde word ervaar tydens ontspanne tye saam (saamwees, saampraat, saambeplan, saamdoen - Maleagi 2:14). Verder word daar ook onderskei tussen seksuele liefde, medelydende liefde (Romeine 12:15), romantiese liefde (vergelyk gedeeltes uit Hooglied), tere liefde (Efesiërs 5:29).

4.4.1.b Verstaan wat Bybelse kommunikasie in die huwelik behels.

Dit is belangrik om die kuns om te luister te bemeester (sien doelwit 4.4.3.g). 'n Mens kan nie liefhê sonder om te luister nie - daardeur ontdek jy jou maat se ware persoon en behoeftes. Ons moet leer om na die woorde en na die gevoel agter die woorde te luister want in alles wat gesê word is die inhoud slegs 7% werd, die stemtoon 38%, en die nie-verbale uitdrukking en houding 55%.
Selfontsluiting: Nadat jy geluister het, sal jy kan praat - nie leë woorde nie, maar openhartige en eerlike oopmaak van wat in jou binneste is. Hierdie selfontsluiting kos baie. Jy gee jouself sonder om terug te hou en daar is altyd 'n moontlikheid dat jy verwerp kan word of kan seerkry. Dit dra egter vrug want daarsonder kan daar geen groei, geen volwassenheid, geen geluk, geen intimiteit wees nie.
As iemand hom of haar terugtrek en weier om te luister en in liefde te praat, sê so 'n persoon vir sy maat: "Jy is onbelangrik; ek vertrou jou nie; ek waardeer jou nie". Mans is veral geneig om toe te maak en nie te sê wat hulle voel nie.

Vlakke van kommunikasie:
Die kuns van goeie kommunikasie moet aangeleer word. Dit is uiters belangrik want daarsonder kan liefde nie uitgedruk word nie en kan probleme nie uitgestryk word nie. Ons kan vyf vlakke van kommunikasie onderskei:

• Vlak 5: Oppervlakkige geklets: "Hoe gaan dit?" "Goed dankie, en met jou?"
• Vlak 4: Blote oordrag van feite: "Dit is warm."
• Vlak 3: Idees en beoordeling: "Ek dink die regering maak 'n fout." "Dit is 'n mooi rok."
• Vlak 2: Gevoel en emosie: "Ek voel gelukkig wanneer ..." "Wat my die seerste maak, is ..."
• Vlak 1: Persoonlike intimiteit: "Ek verstaan en ek gee om vir jou." "Sal jy my vergewe?"

Op watter vlak kommunikeer jy met jou huweliksmaat?

Hindernisse in kommunikasie:
• Pas veral op vir vinniger-dink-as-luister: Omdat 'n mens vyf maal vinniger dink as wat met jou gepraat word, kan jy uit verveeldheid aan 'n klomp goed dink. Jy kan jou antwoorde gereed kry en selfs die ander persoon in die rede val.
• Uitsorteer-wat-ek-wil: Ons is geneig om wat ons graag wil hoor te hoor en die res te ignoreer.
• Ek-hou-my-mond: Die uitdrukking "Woorde is silwer, stilte is goud" is nie waar in kommunikasie nie. Stilstuipe maak kommunikasie dood.
• Praat-sonder-oë: 'n Oog-tot-oog kontak is van lewensbelang.
• Sê-en-bedoel-dit-nie: Moenie iets sê en dit nie bedoel en iets bedoel wat jy nie sê nie; sulke dubbeldoelboodskappe steur kommunikasie.

4.4.1.c Verstaan wat kameraadskap in die huwelik behels.

Intieme liefde en verbondenheid kom tot uitdrukking in kammeraadskap. Man en vrou is ook vriende en maats. Dit bestaan in 'n besondere toegeneëntheid teenoor mekaar en is veral vir die vrou die belangrikste uiting van haar liefde.
Die uitspreek van waardering is uiters belangrik. Met die groei van die verhouding ontwikkel 'n spesiale taal wat net die spesifieke egpaar se kameraadskap weerspieël. Hierdie taal bestaan uit woorde, dade en gebare wat ryk is aan inhoud.
Die huwelik is 'n lewende en ontwikkelende verhouding: Daar moet kwaliteit tyd aan gewy word. Wat my maat hinder, moet uit die weg geruim word. Daar moet klem gelê word op die dinge wat ons verhouding sterk maak. Ek moet die verhouding opwindend hou deur af en toe uit die roetine te breek en saam iets te doen. Ons moet finansieël begroot vir 'n belegging in ons verhouding. Absolute eerlikheid moet al meer en meer tussen huweliksmaats heers.
Kameraadskap veronderstel respek vir my maat se persoonlikheid en identiteit. Elkeen moet die geleentheid hê om net hom of haar self te wees.

4.4.1.d Verstaan wat seksuele gemeenskap in die huwelik behels.

Man en vrou beleef die seksuele verskillend. Vir die vrou is dit soms bykomstig en kan dit soms selfs oorbodig voel. Sy voel dikwels tevrede solank as wat sy kameraadskap en liefde kan ontvang. Vir die man is dit dikwels noodsaaklik. Dit is hoe hy vir sy vrou sê dat hy haar liefhet op die innigste manier wat hy kan.
Die heilige doel van die seksuele aspek van die huwelik: Die seksuele is nodig vir voortplanting (Genesis 1:27,28). Die Here beveel ouers om kinders te hê (Genesis 1:28; 9:1). Kinders is 'n geskenk en 'n seën van die Here af. Verbondskinders is een van die maniere waarop die Here Sy Kerk laat groei. Hulle word dan deel van die oplossing van die wêreld se nood deur die uitdra van die Evangelie (Psalm 127:3,4,5; 128:1-4; Job 42:12,13).
Die seksuele is nodig om die liefdeseenheid tussen man en vrou te verstewig (Matteus 19:5,6). Deur die fisieke daad van seksuele gemeenskap, word twee mense een. Hierdie eenheid groei tot veel meer as die fisieke. Die huweliksmaats vul mekaar aan en bevredig mekaar se behoeftes. Hulle eenheid word 'n beeld van die wese van God. Die gee van jouself vir jou maat spreek van die aard van God se liefde en bou julle wedersydse liefde.
Die Here het ons so gemaak dat die seksuele vir ons 'n intense genot verskaf (Spreuke 5:15-19; Hooglied 5:10-16; 7:1-13; 8:6; 1 Korintiërs 6:20; 7:3,5). Die rede hiervoor is dat ons geslagsorgane 'n baie ryk senuweestelsel het. Ons is ook sielkundig so saamgestel dat die seksuele ons bevredig.
Die seksuele is dus 'n gawe van die Here en in sigself beslis nie sonde nie. As dit buite die huwelik om misbruik of uit selfsugtigheid gebruik word, is dit sonde. Die begeerte na seksuele gemeenskap in die huwelik is so normaal soos honger en dors.
Die seksuele is gereeld nodig om man en vrou van die gevare van onsedelikheid te bewaar (1 Korintiërs 7:2-5). Uit die oorspronklike taal blyk dit dat die vrou haar man iets skuld - haarself! Die man skuld sy vrou iets - homself! Deur jouself te weerhou van jou maat, maak jy die deur oop vir die duiwel om julle huwelik te vernietig. Onthouding is slegs reg vir kort periodes met wedersydse toestemming sodat beide hulle aan gebed kan wy. Dit gaan hier ook om jou maat te bevredig - 'n klimaks te laat bereik. Beide die man en die vrou kan die seksuele inisieer.

Algemene seksuele probleme in die huwelik:
Die vrou geniet nie die seksuele nie. Die redes kan wees dat baie dink hulle is nie veronderstel om dit te geniet nie; baie dink seks is sonde; vir baie was die eerste maal pynlik of onaangenaam; baie dink hulle raak te oud; skuldgevoelens oor voorhuwelikse seksuele omgang verhinder haar om haarself ten volle te gee; die omgewing waar hulle gemeenskap het, sit haar af; hulle sekslewe raak te eentonig; algemene siektetoestande; oorgewig; moegheid as gevolg van faktore soos onfiksheid, oorgewig of stres; migraine - die mees algemene verskoning; voorbehoedmiddels - sommiges skakel die vrou eenvoudig net af; die "pil" veroorsaak soms 'n vermindering van die vrou se seksdrang; vrees vir swangerskap; die vrou het doodeenvoudig net nie altyd lus vir seksuele omgang nie, aangesien sy 'n emosionele siklus het, wat dikwels gekoppel is aan hormonale veranderinge tydens haar menstruele siklus; 'n historektomie behoort geen verandering te veroorsaak nie - inteendeel, dit behoort die seksuele te verbeter; sommige vroue mag selfs besluit om haar man te straf.
Koudheid (frigiditeit) is die ernstigste vorm van seksuele weerstand en kom hoofsaaklik by die vrou voor. Sy ontwikkel 'n weerstand teen seksuele omgang. Afgesien van die reeds genoemde faktore, kan die volgende tot hierdie toestand lei: Sy was as kind oorbeskerm. Daarom het sy 'n gebrek aan emosionele rypheid en aan 'n seksuele waardesisteem; sy kan haar self nie met haar man identifiseer nie; sy kan nie emosioneel betrokke raak by die liefdespel nie; daar is fisieke kwale; sy het 'n vrees vir swangerskap - soms onbewustelik; buite-egtelike seksuele omgang veroorsaak 'n skuldkompleks. Herstel is moontlik deur Bybelse beginsels uit te leef en in moeiliker gevalle mediese of sielkundige behandeling te ontvang.
Die man is uiters sensitief oor die seksuele: As sy vrou hom weier (deur woorde of deur optrede), voel hy maklik verstoot en dat sy liefdesuiting verwerp word. Soms voel 'n man onseker. Hy wil nie sy vrou gebruik bloot om hom te bevredig nie, maar hy voel dat sy so dink. Dit veroorsaak dat 'n man afskakel en sy vrou vermy. Die oorspronklike kommunikasiebreuk lei tot 'n groter breuk. Die vrou kan haar man laat voel soos 'n man as sy wil. Sy het egter ook die mag om hom af te takel en af te breek.
Impotensie by die man: Dit kan primêr wees (nooit in staat tot gemeenskap nie) of sekondêr (by tye impotent). Die redes kan wees: 'n Verkeerde godsdienstige siening; vroeëre homoseksuele verhoudings; 'n aanvanklike traumatiese mislukking; sterk drank; rookgewoontes wat die algemene gesondheidstoestand aantas; fisieke omstandighede soos moegheid en spanning; oorgewig; blote sielkundige faktore.
Hierdie probleem kan opgelos word deur besondere begrip van die vrou se kant en in moeilike gevalle behandeling deur 'n sielkundige of medikus.
Gevolgtrekking: Die seksuele is een van die hoofpilare van die huwelik. Dit neem tyd, 'n geduldige en eerlike soeke na kennis en insig in mekaar asook liefdevolle uitlewing.

4.4.1.e Verstaan wat geloofsgemeenskap in die huwelik behels.

Geloofsgemeenskap is die nabyheid wat ervaar word wanneer man en vrou as geesgenote hulle diepste lewenssake met mekaar deel. Hulle beleef hulle verhouding met God saam en so is die huwelik ook Gods-diens. Om in jou eie krag huweliksvreugde na te jaag, is 'n mors van tyd. God se plan met julle huwelik kan alleen verwesenlik word wanneer julle vervul is met die Heilige Gees, en gewillig is om gehoorsaam te wees aan die Here se bevele in Sy Woord. Onthou, julle twee kan alleen één wees as die Here julle lewens en julle verhouding beheer. Dit is die grondslag van God se dinamiese plan vir julle lewens!

4.4.1.f Ken die Bybelse siening ten opsigte van homoseksualiteit en aborsie.

Lees die meegaande Skrifgedeeltes oor homoseksualiteit deur (Verbied - Levitikus 18:22. Gruwel - 1 Konings 14:24. Word gestraf - Levitikus 20:13. Onrein - Romeine 1:24, 26,27).
Lees daarna die meegaande Skrifgedeeltes oor aborsie (Wette -Eksodus 21:22-25. 'n Oordeel - Hosea 9:14. Verligting van lyding - Job 3:16. Beeldspraak - 1 Korintiërs 15:8).
"Jy mag nie doodslaan nie" (Eksodus 20:13). Die lot van die fetus kom tersprake wanneer aborsie op aanvraag deel word van die stryd om waardes wat oor die wêreld heen gevoer word.
Verskeie persone en instansies propageer veranderinge in wette rakende sterilisasie en aborsie, wat aborsie op aanvraag wettig. Tot 'n mens se verbasing probeer sommige van die voorstanders van aborsie op aanvraag, om hulle argumente op die artikels van menseregte-aktes te baseer wat elke persoon se reg op die beskerming van sy of haar lewe, verskans. Daar bestaan dan ook vandag bepaalde konstitusionele- en ander howe wat die reg op die beskerming van die lewens van moeders deurgaans bo die reg van die fetus op lewe, beskou.
Voorstaanders van aborsie op aanvraag, voel deurgaans dat aborsie die besluit van die individu moet wees en nie van die staat nie. So is daar ook sommige wat onder andere aborsie propageer as essensiële voorkomingsmaatreël om die hoeveelheid geboortes in bepaalde lande drasties te verminder. Hulle redeneer dat die beskikbaarheid van wettige aborsies 'n belangrike bydrae sal maak tot effektiewe gesinsbeplanning en sal help om agterstande op die opvoedkundige, ekonomiese en ander terreine, uit te wis.
Daar is verskeie redes waarom aborsie op aanvraag in verskeie lande in die wêreld wettig is en waarom die wettiging daarvan in ander lande gepropageer word. Een rede is die groot getalle onwettige agterstraat aborsies wat daagliks in lewensgevaarlike, onhigiëniese omstandighede uitgevoer word. Hulle verwys na hierdie praktyk as "backstreet butchery", omdat dit die lewens van die betrokke moeders bedreig.
Die voorstaanders van aborsie op aanvraag, redeneer dat 'n vrou die reg het om dit met haar liggaam te doen wat sy self verkies - om haar eie liggaam te beheer. Dit is deel van haar vryheid van keuse, sê hulle.
Sommige redeneer dat dit goedkoper is om van ongewensde babas ontslae te raak as om hulle gebore te laat word om dan net in die tronk te beland of deur die welsyn onderhou te moet word.
Die meeste aborsioniste sien die ongebore baba slegs as "fetale weefsel" en nie as 'n lewende entiteit nie. Ander voel dat aborsie 'n lewe beëindig met die doel om lyding, as gevolg van ekstreme liggaamlike- of verstandelike gebrek en selfs van ekstreme armoede, te voorkom.
Daar is selfs diegene wat hul argumente op sogenaamde godsdiensvryheid baseer. Hiervolgens het elke persoon die reg op sy eie religieuse oortuigings sonder die inmenging van die staat.
'n Ander argument wat ten gunste van aborsie op aanvraag gebruik word, is dat, so lank as wat die ongebore baba van die "lewens ondersteunings sisteem" van die moeder afhanklik is, dit nie 'n lewensvatbare lewe is nie en behoort geaborteer te kan word indien nodig.

Gevolge van die wettiging van aborsie op aanvraag:
Aborsie het die nommer een moordenaar in die VSA geword.
In 1988 was daar om en by 5,500 aborsie klinieke (abortuaries) in die VSA, en hulle inkomste het meer as 'n 500 miljoen dollar per jaar beloop. In 1986 alleen is 1,5 miljoen aborsies in die VSA gerapporteer. Vanaf 1973 tot 1986 is 20 miljoen ongebore babas in die VSA vermoor. Plus minus 10 miljoen aborsies is jaarliks uitgevoer in die voormalige Sowjet Unie.
Olga Fairfax skryf in haar boek "Baby Bodies and Billions" (1988), dat nie alle geaborteerde liggaampies in die VSA vernietig word nie. Babaliggaampies word na bewering per sak verkoop - tot $5,500 per pond. Sy skryf dat die Washington DC Algemene Hospitaal geaborteerde liggaampies ter waarde van $68,000 verkoop het tussen 1966 en 1976. Die geld is gebruik om TV stelle en verversings vir besoekende professore te koop. Sy skryf ook dat geaborteerde-baba plasentas aan farmaseutiese maatskappye verkoop word teen 50 sent stuk vir die vervaardiging van produkte soos "Placenta Plus Shampoo". Sy beweer dat die gelatien-agtige substansie, genaamd “kollagien”, wat onder andere in hegtingsweefsel aangetref word, aan kosmetiese firmas verkoop word vir gebruik in skoonheidsprodukte.
Matthew Clark rapporteer in die tydskrif Newsweek (14 Sept 1987) dat die nuutste ontwikkeling toe was om weefsel van geaborteerde babas te gebruik in die behandeling van diabete en pasiente met Parkinson-, Huntington- en Alzheimer sindroom. Besigheidsanaliste het, volgens hom, 'n 6 miljard dollar mark in die VSA vir hierdie tipe industrie in die vooruitsig gestel.
Dit blyk dus asof almal behalwe die ongebore babas 'n geleentheid het om uit aborsie op aanvraag voordeel te trek.

Waarom is aborsie op aanvraag totaal onaanvaarbaar?
Aborsie is moord. Om aborsie te pleeg met die doel om die gevolge van egbreuk te probeer ontduik voeg net een sonde by die ander. Om die waarde van menslike lewe te meet met produktiwiteit of lyding as maatstaf, kan 'n proses veroorsaak waarin nie-produktiewe individue (soos oumense en mense met liggaamlike- en verstandelike gebrek) saam met ongeborenes geëlimineer kan word.
Volgens Dr Jimmy Gordon (Die Kerkbode, 17 Jan 1992) is "die groot stryd in die VSA dat wetgewing voorgestel is waarvolgens dokters 'n ou of siek pasiënt mag doodmaak. Dokters sal verplig wees om die dood toe te pas op aanvraag. Dit sluit ook in wanneer die familie dit aanvra omdat die pasient se mediese koste te duur geword het. Die huidige blitsverkoper in Noord-Amerika is juis 'n handleiding vir selfmoord!"
Dr Bernard Nathanson, 'n stigterslid van die National Abortion Rights League in America, wat self plus minus 5,000 aborsies uitgevoer het, het van opinie verander en bestry nou aborsie. Volgens hom is die fetus nie deel van 'n vrou se liggaam nie. Dit is immunologies en biologies onderskeie. Die ongebore baba is in werklikheid 'n lewende menslike wese wat 'n pynlike dood sterf met aborsie. Senuwees is in plek ses weke na bevrugting. Chemikalieë om sensasies vanaf senuwees deur die rugmurg oor te sein na die brein, bestaan op twaalf weke. Die fetus reageer op dieselfde manier as 'n volledig uitgegroeide individu wanneer hy aan pyn blootgestel word, deur in te krimp met 'n versnelde polsslag en verhoogde bloeddruk. Die maag, lewer en niere begin reeds op ses weke funksioneer. Op sewe weke het die klein babatjie al sy buitenste en binneste organe en sy eie meetbare breingolwe. Die teenwoordigheid van breingolwe is een van die wetlike kriteria waarvolgens bepaal word of 'n individu lewendig of dood is. Op tien weke het die ongebore baba alles wat in 'n pasgebore baba gevind word. Op twaalf weke is die vingerafdrukke volledig gevorm. Op agt en twintig weke (500 gm) is premature babatjies instaat om buite die baarmoeder te oorleef met mediese ondersteuning.
Onafhanklike behandeling van die fetus, byvoorbeeld bloed-oortapping en chirurgie, het daartoe gelei dat die ongebore baba as 'n pasiënt afsonderlik van die moeder gesien word.
Volgens die Prenatale Sielkunde begin baie belangrike sielkundige prosesse (sensoriese waarneming, bewussyns- en persoonlikheids-ontwikkeling) reeds in die vroeë voorgeboortelike fase.
Baie volwassenes is afhanklik van lewensondersteuningsisteme soos nierdialise, respirators, ensovoort, vir hul lewens. Indien iemand so 'n sisteem sou afskakel sou die aanklag moord wees.
Die geskiedenis van ons eeu het sonder twyfel bewys dat geen kategorie van menswees as minderwaardig uitgesluit kan word nie. Hierdie soort uitsluiting het tot die grootste denkbare lyding gelei onder mense soos Hitler, Stalin en Amin. Daarom word die regte van mense vandag as baie ernstig behandel.
Menslike lewe begin met bevrugting, met die ontstaan van 'n totaal nuwe genetiese wese. Alles wat hierdie klein wesentjie moet word, is alreeds in beginsel met bevrugting teenwoordig. Dit is 'n unieke menslike lewe wat geregtig is op juridiese beskerming. Die regte van ongebore babas behoort deur dieselfde wetgewing beskerm te word wat die lewens van gebore babas beskerm.
In 'n wêreld waarin die waarde van menslike lewe sodanig verlaag is as wat ons vandag ervaar, moet niks gedoen word wat die waarde van lewe enigsins verder kan verlaag nie. 'n Aborsie-mentaliteit sal juis dít veroorsaak.

Wat wil God hê moet ons doen?
God is die Gewer van lewe en wil dat ons lewe sal bewaar. Hy wil dat mans en vroue hulle eie en mekaar se lewens sal beskerm. Daarom verbied Hy ons om egbreuk te pleeg.
God is, met alle respek, nie 'n pretbederwer nie. Hy het ons lief en wil die beste vir ons. As ons ongehoorsaam is, sal die gevolg sekerlik gebroke huwelike, onbeheerbare bevolkingsgroei, verskillende veneriese siektes en vigs wees. Behandeling van hierdie dodelike siekte (vigs) sal die belastingbetaler dalk meer kos as om na "onbeplande" kinders om te sien. Die siekte kos nogtans, na al die onkoste en moeite, 'n egbreker sy lewe.
Ons gemeenskap moet die oorsaak van die probleem aanspreek, en nie slegs die simptome nie. Ons moet iets doen aan die positiewe persepsies wat geassosieer word met egbreuk en buite-huwelikse seks, eerder as om aborsie op aanvraag te probeer wettig.
Baie tyd en geld moet spandeer word om mense en veral kinders oor die gevolge van egbreuk in te lig. God gee beslis nie aan ons die reg om ons bevolkingsaanwas deur moord te beheer nie. Hy wil dat ons dit deur gehoorsaamheid moet bewerkstellig. Ons moet liewer ons beskikbare tyd, geld en energie spandeer om sterilisasie op aanvraag teen bekostigbare pryse vir almal beskikbaar te maak, as om aborsie teen bekostigbare pryse vir almal beskikbaar te maak.
Ons sal baie meer praktiese hulp moet verleen aan verwagtende vroue wat hul babas nie kan of wil grootmaak nie. Hulle kan nie aan die genade van agterstraat slagters oorgelaat word nie. Daar sal ook voorsiening gemaak moet word vir kinders wat ly omdat niemand hulle wil hê nie.
Daar sal nooit 'n maklike uitweg vir die probleem van ongehoorsaamheid en onbeplande swangerskappe wees nie. Ons sal ook nooit die reg hê om God te speel nie. Op die laaste dag sal ons verantwoording moet doen aan God, die Skepper van lewe!

4.4.1.g Ken die Bybelse beginsels oor ouer-en-kind verhoudings.

Bestudeer die volgende Skrifgedeeltes oor ouer-kind verhoudings. Identifiseer die verhoudingsbeginsels in elkeen en skryf dit neer. Identifiseer ook die vyf belangrikstes vir ouers en kinders:
Ouers teenoor kinders (Genesis 18:19; 25:28; Deuteronomium 4:9; 6:6,7; 21:18-21; 1 Samuel 1:21; 2:27-36; 17:15; 1 Konings 15:26; 2 Korintiërs 12:14; Galasiërs 4:1,2; Efesiërs 6:4; Hebreërs 11:23).
Kinders teenoor ouers (Genesis 9:21-27; Eksodus 20:12; 21:15,17; Levitikus 19:3; 20:9; Deuteronomium 21:18-21; 30:2; 1 Samuel 2:12,17; 8:1-3; 2 Samuel 15:10; Spreuke 28:24; 30:17; Daniël 1:1-6; Romeine 1:30; Efesiërs 6:1-3; Timoteus 5:4; Hebreërs 12:9; 1 Petrus 5:51).

Lees ook die volgende, van 'n ouer aan 'n kind:

"Ek het jou die lewe gegee, maar ek kan dit nie vir jou lewe nie. Ek kan jou dinge leer, maar ek kan jou dit nie maak leer nie. Ek kan jou probeer rigting gee, maar ek is nie altyd daar om jou te lei nie. Ek kan jou vryheid toelaat, maar ek kan uiteindelik nie daarvoor verantwoording doen nie. Ek kan jou kerk toe neem, maar ek kan jou nie maak glo nie. Ek kan jou leer onderskei tussen reg en verkeerd, maar ek kan nie vir jou besluit nie.
"Ek kan vir jou mooi klere koop, maar ek kan jou nie van binne mooi maak nie. Ek kan jou raad gee, maar ek kan dit nie namens jou aanvaar nie. Ek kan jou liefde gee, maar ek kan dit nie op jou afdwing nie. Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees, maar ek kan jou nie onselfsugtig maak nie. Ek kan jou leer om respek te hê, maar ek kan jou nie dwing om eer te bewys nie. Ek kan jou raad gee oor vriende, maar ek kan hulle nie vir jou kies nie.
"Ek kan jou leer omtrent seks, maar ek kan jou nie rein hou nie. Ek kan vir jou die feite van die lewe vertel, maar ek kan nie jou reputasie behou nie. Ek kan jou vertel van drank, maar ek kan nie namens jou nee sê nie. Ek kan jou waarsku teen dwelms, maar ek kan nie verhoed dat jy dit gebruik nie. Ek kan jou vertel van hoë prestasies, maar ek kan hulle nie vir jou bereik nie. Ek kan jou vertel van goedheid, maar ek kan jou nie forseer om genadig te wees nie. Ek kan jou waarsku omtrent sonde, maar ek kan nie jou standaarde stel nie.
"Ek het jou lief as my kind, maar ek kan jou nie God se kind maak nie. Ek kan vir jou bid, maar ek kan nie maak dat jy met God wandel nie. Ek kan jou leer van Jesus, maar ek kan nie Jesus jou Koning maak nie. Ek kan jou leer van die lewe, maar ek kan jou nie die Ewige lewe gee nie."

Die volgende is ook baie interessant:

Do you want to raise a juvenile delinquent? Then follow these rules, as supplied by the Houston Police Department. Give your child everything he asks for. This rule should be applied from the very beginning. That way he grows up with the belief that he is entitled to everything and that life owes him.
"Laugh at every dirty word he adds to his vocabulary. He must know that you find his swearing amusing, for that will motivate him to go out and find even more amusing words and expressions. These will come in handy later in life, when he starts swearing at you.
"Never discipline him for whatever reason. Rather solve your little problems in a psychological way.
"Give your child as much money as he wants. He must never work for his money - he doesn't have to suffer earning money the way you had to.
"Never force him to attend church or Sunday school on a Sunday. Let him sleep as late as he wants to if he is tired. Don't teach him how to pray and don't expect him to read a Bible. He can make up his own mind about these things once he comes of age.
"Allow him to read anything he can lay his hands on. His mind must be broadened in this way - it doesn't matter that his spirit is contaminated in the process.
"Fight with your spouse in front of the children regularly. This will stimulate your child to think for himself. Again, it doesn't matter that his spirit is defiled by what he sees and hears.
"Pick up all the clothes, shoes, books and everything else he leaves on the bed, and the floor or wherever. Do everything for him, so that he can learn to hold others responsible for his things and behaviour.
"See to it that he gets all he wants to eat and drink and make sure that his comfort is always your primary concern. By refusing to let him have his way, you might cause harmful frustrations in his young and vulnerable mind.
"Always take his part against everybody else - and that includes the neighbours, teachers, police and pastor. Remember, they are all prejudiced against your precious offspring.
"Never use the word "wrong" in his presence. It could cause feelings of guilt, which may, in turn, create the impression that the whole community is against him and that he is being persecuted, should he be arrested for any criminal offence such as a car theft in later years.
"If he gets into serious trouble, wash your hands of the situation, by stating emphatically that he was uncontrollable right from the start.

4.4.1.h Ken die basiese Bybelse beginsels van die huwelik.

Bestudeer die volgende Skrifgedeeltes. Identifiseer die ses belangrikste beginsels vir die huwelik daaruit en formuleer die doel van die huwelik in jou eie woorde: Die huwelik word beskryf as (Genesis 2:18-24; Spreuke 5:15-19; Matteus 19:5,6; Efesiërs 5:21-33; Hebreërs 13:4). Verbode ten opsigte van die huwelik (Eksodus 34:16; Levitikus 18:6-18; Matteus 5:32).

4.4.1.i Ken God se wil in die keuse van 'n huweliksmaat.

'n Huweliksmaat is 'n lewensmaat. Die Christelike huwelik word vir die volle duur van die lewe gesluit. Die lewensmaat beteken dus 'n maat in elke opsig, al die dae van jou lewe. Vier-en-twintig uit die vier-en-twintig uur, jaar in en jaar uit. Hieruit is dit baie duidelik dat die keuse van so 'n maat 'n uiters belangrike saak is. Dit raak jou eie lewe voluit. Daarom moet oorweging aan die volgende aspekte geskenk word by so 'n belangrike keuse:
Die persoon moet die Here ken (Spreuke 31:10-12,28-30; 1 Korintiërs 7:36-38; 2 Korintiërs 6:14-16).
Ken jouself en jou lewensmaat se persoonlikhede, agtergrond (ouerhuis, godsdiens, kultuur, nasionaliteit, etnisiteit, opvoeding-standaard, politieke beskouing, ekonomies-maatskaplike lewen-standaard).

4.4.1.j Neem kennis van maniere waarop jy jou eie en jou gesinslede se nie-verbale kommunikasievaardighede kan verbeter.

Oefening "Kategorieë":
Skryf alle kategorieë waaraan jy behoort op 'n stuk papier neer (byvoorbeeld blank, staatsdiensamptenaar, manlik). Gooi die papier weg. Jy het nie hierdie kategorieë nodig om jou werklike self te wees nie. Hulle beperk meestal jou vrye uitlewing van jouself.
Daar is egter een kategorie wat jy nie kan weggooi nie, en dit is die kategorie "kind-en-erfgenaam van God". Slegs binne hierdie kategorie kan jy waarlik vry wees om jou wérklike self in enige situasie te wees.

Oefening "Verwagtinge":
Skryf alles wat jy verwag van hierdie reeks oefeninge neer op 'n stuk papier. Dit gaan in 'n groot mate van jouself afhang of hierdie reeks oefeninge aan hierdie verwagtinge gaan voldoen. Die reeks oefeninge gaan geleentheid tot bepaalde " A Ha!"-ervaringe aan jou bied. Dieselfde geld vir die werklike lewe daar buite. Jou ingesteldheid en wil om hierdie lewensgeleenthede te gebruik om te leer en in jou geestelike lewe te groei, gaan 'n deurslaggewende rol speel in jou sukses as mens. Mense leer gewoonlik deur ervaring wat hulle andersins nie wil leer nie.

Oefening "Praatsiek":
Vertel aan jou maat enigiets wat vir jou belangrik is vir een minuut lank, terwyl jou maat terselfdertyd enigiets wat vir haar belangrik is aan jou vertel. Vra daarna vier vrae oor dit wat jy vertel het aan jou maat en laat sy dieselfde doen.
Kan julle mekaar se vrae beantwoord? Kan twee mense tegelykertyd oor twee verskillende onderwerpe met mekaar praat en ook werklik na mekaar luister? Is só 'n kommunikasiepatroon sinvol? Doen julle dieselfde in julle gesin en huwelik?

Oefening "Luister":
Vertel dieselfde belangrike storie as in die vorige oefening aan jou maat. Die opdrag aan haar is om eers na jou storie te luister voordat sy geleentheid kry om haar belangrike storie aan jou te vertel terwyl jy luister. Vra elkeen nou op sy/haar beurt vier vrae aan mekaar oor die inhoud van elkeen se storie. Elke verteller vra ook wat sy/haar onderliggende emosie en houding was wat tydens die vertelling gekommunikeer is.
Is julle instaat om mekaar se vrae bevredigend te antwoord? Het julle die vermoë om op twee vlakke (informasie en emosie) te luister?

Oefening "Nuwe Moontlikhede":
Wetenskaplikes het 'n hond in 'n hok geplaas met sy kosbak op die vloer aan die een kant van die hok. Hulle het die vloer van die een helfte van die hok ("kos kant") geëlektrifiseer sodat dit die hond skok sodra hy na sy kosbak beweeg. Aanvanklik het hy die "kos kant" van die hok vermy. Later het hy te honger geword en die skokke getrotseer terwyl hy eet, waarna hy na die ander kant terug beweeg het. Hulle elektrifiseer toe die hok se "nie-skok kant" maar nie die "kos kant" nie. Die hond was toe eers verward, totdat hy ontdek dat die "kos kant" veilig is, en het daar gaan lê. Die "kos kant" is toe weer geëlektrifiseer maar nie die "nie-skok kant" nie. Skaars het die verbouereerde hond ontdek dat hierdie kant nou die veilige kant is, of die skokke word daarheen verskuif. So is die elektriese skokke van die een kant van die hok na die ander kant verskuif op 'n onvoorspelbare patroon. Aanvanklik het die hond verbouereerd elke keer van die skokke weg beweeg na waar hy gedink het dit veilig sou wees. Later het hy nie meer geweet waar dit veilig sou wees nie, en het toe maar gaan lê en die skokke verduur. Die deur van die hok is toe oop gemaak, maar die hond het, ten spyte van die skokke, nie die hok verlaat nie.
Hy het vertroue in alle skynbare moontlikhede ("ontsnaproetes") verloor en moed opgegee. Dit gebeur maklik met mense in die werklike lewe. Tog moet ons onthou dat elke nuwe verhouding nuwe hoop bied en dat God tot alles instaat is, al lyk dinge vir ons soms onherstelbaar.

Oefening "Aanraak telefoon":
Een persoon kommunikeer 'n bepaalde gesindheid of emosie (soos vertroue) aan 'n ander deur hom slegs in stilte aan te raak terwyl die ander persoon sy oë sluit. Die ander persoon kommunikeer dan weer op sy beurt die emosie of gesindheid wat hy waargeneem het, aan 'n derde persoon oor deur hóm slegs in stilte aan te raak terwyl hy sy oë sluit. Die laaste twee persone sê watter emosie of gesindheid hulle waargeneem het.
Was die eerste twee persone daartoe instaat om slegs deur aanraking korrek van hart tot hart te kommunikeer op die houdings/emosionele vlak? 'n Mens kan deur aanraking houdings en emosies kommunikeer wat nie deur woorde gekommunikeer kan word nie.

Oefening "Kollektiewe konneksie":
Onderwerp jou gesinslede aan 'n onnatuurlike (kommunikasie verduistering) stilte, deur self net te swyg terwyl julle almal saam is.
Voel sommige van hulle genoodsaak om iets te sê? Kan julle tevrede saam wees sonder om te praat? Watter mate van groepskohesie (kollektiewe konneksie) bestaan dus onderling tussen die lede van die gesin? 'n Gesin met 'n sterk mate van groepskohesie kan vir lang tye saam wees sonder om te voel hulle moet iets sê.

Oefening "Oogkontak":
Die gesinslede sit in 'n sirkel, elkeen op 'n stoel. Elke keer wanneer enige twee van hulle oogkontak maak, staan beide vinnig op en ruil stoele. Laat hierdie proses vir drie minute voortduur.
Het sommige gesinslede oor die algemeen 'n probleem om oogkontak te maak? Het bepaalde lede 'n probleem om met mekaar oogkontak te maak? Het hulle ook normaalweg probleme om met mekaar te kommunikeer? Oogkontak is essensieel in wedersydse kommunikasie, veral op die houdings- en emosionele vlak.

Oefening "Perspektief":
Plaas 'n doek met baie klein loergaatjies oor 'n snaakse objek. Laat die gesinslede elkeen 'n betrokke gaatjie kies en met sy een oog daardeur loer. Gee aan die gesinslede geleentheid om hul waarnemings met mekaar te bespreek en om gesamentlik te besluit watter objek deur die doek bedek word.
Kon enigeen sê wat die objek was? Was die gesin se gesamentlike antwoord nader aan die waarheid as dié van individuele lede? Het die informasie wat die onderskeie lede bygedra het baie van mekaar verskil? Elke gesinslid het 'n bepaalde perspektief op die ware objek gehad en elkeen se perspektief was anders as dié van die ander lede. Net so sien ons die alledaagse lewenswerklikhede uit ons eie beperkte perspektief, en vorm ons gevolglik bepaalde persepsies waarvolgens ons voortaan doen, voel en dink. Ons ken net ten dele. Ons moet aanvaar dat ander persone ook aspekte van die waarheid ken waaroor ons nie beskik nie en wat daartoe kan bydra dat ons meer perspektief verkry. Dit loon dus die moeite om na hulle te luister en nie te dink dat net jy altyd reg is nie. God kan hulle ook in jou lewe gebruik.

Oefening "Kanalisering":
Die gesin staan in 'n groot sirkel met een lid in die middel. Die ander lede beweeg na hom toe, elkeen met sy handpalms op mekaar geplaas, teen sy maag met die vingers na voor gepunt. Sodra 'n persoon hom bereik, druk hy die persoon se hande van hom af weg met 'n sirkelbeweging. Die persoon beweeg dan weg, saam met die wegdruk aksie in 'n sirkelbeweging, voltooi die sirkel en beweeg weer na hom toe. As iemand saggies weggedruk word, beweeg hy in 'n kleiner sirkel weg en weer terug as wanneer hy harder weggedruk word. Na een minuut gaan 'n ander lid van die gesin middel toe. Die proses word herhaal totdat elkeen 'n beurt in die middel gekry het. Persone mag nie mekaar in die ribbes pomp of beseer nie. Die oefening vind sag en vriendelik plaas.
Die gesin oefen hier 'n interaksiestyl waarin 'n "aanval" op een lid se persoon en "betreding" van sy persoonlike ruimte nie met aggressie teengewerk word nie, maar vriendelik in 'n ander rigting gekanaliseer word. Gedrag wat kompetisie probeer uitlok, word dus só gekanaliseer dat die kompetisie moment met 'n "speel" moment vervang word. Dit geskied deurdat een lid weier om te kompeteer (waartydens daar noodwendig 'n wenner en 'n verloorder moet wees, met die gevolglike pyn wat daarop volg) sonder om onbetrokke of afsydig te wees.

Oefening "Honde":
Gesinslede beweeg almal, soos honde, hande-vier-voet op 'n mat. Hulle kruip, rol, draai, maak vriendelik en sag kontak, voer deurgaans sirkelbewegings met dele van en met die totale liggaam uit (net soos wanneer honde met mekaar speel). Hulle vlug en volg, volg en vlug. Hulle neem nooit op enige manier beheer oor mekaar se liggame nie (selfs nie deur te kielie nie). Die grotes speel met die kleines asof hulle ewe klein is.
Hierdie oefening is veral vir gebruik met kinders bedoel. Daar is baie genotvolle spel moontlik indien die kompetisie moment daaruit gehaal en daar op die "speel" moment gekonsentreer word. In hierdie oefening ervaar kinders dat hul ouers op hulle eie vlak met hulle in interaksie verkeer. Dit breek baie sielkundige hekkies tussen ouer en kind af en kan selfs die speelse element tussen ouers onderling opnuut stimuleer.

Oefening "Treinry":
Die gesinslede sit twee-twee rug aan rug plat op die mat. Hulle simuleer die bewegings van 'n trein (links draai, regs draai, stop, wegtrek, opdraend, afdraend) terwyl hulle rûe deurgaans aan mekaar raak. Na een minuut ruil die lede, sodat almal 'n geleentheid kry om saam met mekaar "trein te ry".
Die persone het mekaar se persoonlike ruimtes binne gedring sonder om intieme kontak te maak. Die oefening stimuleer sinergie tussen hulle, maar nie fisiese intimiteit nie.

Oefening "Vierkante":
Knip vier ses-sentimeter vierkante uit karton. Trek die volgende lyne in die vierkante en knip elke vierkant in drie dele, al op die lyne langs (onthou, die ander lede van die gesin mag nie sien wat jy doen nie):
Vierkant 1: Trek 'n reguit lyn vanaf die linker boonste hoek na die regter onderste hoek. Vind die middelpunt van hierdie lyn en trek 'n reguit lyn van hierdie middelpunt na die linker onderste hoek.
Vierkant 2: Vind die middelpunt van die onderste sy van die vierkant. Trek 'n reguit streep van hierdie punt na die linker boonste hoek. Trek nog 'n reguit lyn van hierdie punt na die regter boonste hoek.
Vierkant 3: Vind die middelpunt van die vierkant. Trek 'n reguit lyn vanaf die middelpunt na die linker onderste hoek van die vierkant. Trek nog 'n reguit lyn vanaf die middelpunt na die regter onderste hoek van die vierkant. Trek 'n derde reguit lyn vanaf die middelpunt van die vierkant na die middelpunt van die boonste sy van die vierkant.
Vierkant 4: Vind die middelpunt van die vierkant. Trek nou 'n reguit lyn van hierdie middelpunt na die regter onderste hoek van die vierkant. Vind ook die middelpunte van die linker en boonste sye van die vierkant. Trek eers 'n reguit lyn vanaf die middelpunt van die vierkant na die middelpunt van die boonste sy, en daarna 'n volgende reguit lyn vanaf die middelpunt van die vierkant na die middelpunt van die linkersy.
Knip daarna elke vierkant in drie stukke, al langs die lyne wat jy getrek het. Skommel die onderskeie stukke van al die vierkante deurmekaar en verdeel dit gelykop tussen die gesinslede. Laat hulle gesamentlik vier ses-sentimeter vierkante bou. Hulle mag egter gladnie met mekaar praat nie. Niemand mag onder enige omstandighede of op enige manier 'n stuk in 'n ander lid se besit vra nie. Stukke mag egter wel in stilte aan mekaar aangebied word, maar dit mag ook geweier word. Gee na voltooiing van die taak aan die gesin geleentheid om hul onderskeie ervarings tydens die oefening met mekaar te bespreek. Skommel die stukke weer en herhaal die oefening.
Het die gesinslede ontdek dat hulle nie die oefening kan voltooi solank hulle selfsugtig aan stukke en hul eie planne vasklou nie? Ontdek hulle dat, deur saam aan een plan op 'n slag te werk, hulle die oefening gouer kan voltooi? Hierdie oefening leer gesinslede om mekaar se bydraes in gesinsaktiwiteite op prys te stel en te waardeer.

Oefening "Besemstok dans":
Twee gesinslede hou elkeen aan 'n punt van dieselfde besemstok vas. Hulle voer sirkelbewegings met hul hande in alle moontlike en "onmoontlike" rigtings uit, sonder om die stok se punte te laat los. Namate hulle begin saamwerk, word die stok net op die handpalms gerus, sonder om dit te laat val. Die sirkelbewegings word voortgesit. Hulle ontdek nuwe en verbeeldingryke bewegings. Elke lid kry geleentheid om vir een minuut lank die "besemstok dans" met elke ander lid uit te voer.
Hierdie oefening stimuleer samewerking tussen gesinslede en 'n onderlinge "verstaan" van mekaar. Hulle kry geleentheid om saam iets te skep en met mekaar te deel. Iets wat nét hulle met mekaar deel.

Oefening "Vertroue":
Die gesin vorm 'n klein sirkel met een lid in die middel. Hy maak sy oë toe, plaas sy arms langs sy sye, maak sy lyf en bene styf en val in enige rigting. Die persoon aan daardie kant vang hom en stoot hom versigtig regop. Hy val weer na 'n ander kant, word vroegtydig gevang en regop gestoot.
Hierdie oefening leer gesinslede om op mekaar staat te maak, en om verantwoordelikheid vir mekaar se welstand te aanvaar. Die oefening kan nie gedoen word waar klein kinders volwassenes moet vang nie.

Oefening "Lewensiklus":
Vier blomme (een verdroog, een aan die afgaan, een besig om oop te gaan en een op sy mooiste) word in 'n vertrek op verskillende plekke op die vloer geplaas. Elke gesinslid kry 'n geleentheid om plat op die grond by enige blom te gaan sit. Die wat so voel kan aan die ander vertel waarom hulle juis by die spesifieke blomme gaan sit het. Hulle kry daarna geleentheid om te verskuif na die blom wat hulle die meeste aan hulleself laat dink. Weer kry hulle geleentheid om, indien hulle so voel, aan die ander te sê waarom hulle juis die betrokke blom verkies. Hulle kry daarna geleentheid om eers die blom te kies wat hulle met hulle werk vereenselwig en daarna met hulle geestelike lewe. Hulle kry elke keer geleentheid om, indien hulle so voel, aan die ander te sê waarom hulle by die betrokke blom sit.
Hierdie oefening gee aan gesinslede geleentheid om oor hulle dieper self met mekaar te kommunikeer, hul eie skatte aan mekaar toe te vertrou en om met ander lede se skatte vertrou te word. Dit stimuleer 'n hegte band tussen gesinslede.

4.4.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.4.2.a Aanvaar jou rol binne die gesin as hoë prioriteit.

Dink na oor die eenheid van die gesinslewe asook oor die verskillende rolle wat die verskeie gesinslede kan vervul. Hoe belangrik ervaar jy jou eie rol in jou gesin? Bid dat God jou in die lewens van jou gesinslede en in jou gesin as geheel sal gebruik (sien doelwit 2.4.1.f; 3.4.1.d,e).

4.4.2.b Is bereid om op 'n Bybelse en intelligente wyse jou standpunte rondom seks, egskeiding, homoseksualiteit en aborsie te verdedig.

Maak seker dat jy die Bybelse standpunte rondom seks, egskeiding, homoseksualiteit en aborsie (sien doelwit 3.4.1.b; 4.4.1.d,f) ken. Dit is belangrik om aktief standpunt oor hierdie sake in te neem. Oefen deur jou standpunte eers aan 'n Christenvriend te verduidelik. Laat hom die teenargumente noem en maak seker dat jy genoeg selfvertroue verkry sodat jy bereid sal wees om hierdie standpunte op 'n taktiese wyse aan ander deur te gee.

4.4.2.c Aanvaar dat jy nie met 'n ongelowige sal trou nie.

Aanvaar dat die wil van God belangriker is as jou eie. Maak hierdie doelwit 'n beginselbesluit tot eer van God. Vra God in gebed om jou wil toenemend in lyn met sy wil te bring.

4.4.2.d Beleef die ongetroude staat as 'n voordeel en 'n tydelike of permanente gawe van God.

Bestudeer weer 1 Korintiërs 7:25-40. Let veral op verse 20,21,28-32,40. Paulus beklemtoon sekere waardes vir die enkellopende, met die doel om onnodige kommer te vermy (7:20,21); om onnodige probleme te vermy (7:28); om beter van beperkte tyd gebruik te maak (7:29-31); om vry van sorge te wees (7:32); om instaat te wees om meer aandag aan die dinge van die Here te gee (7:32); om persoonlike geluk te bevorder (7:40).

4.4.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.4.3.a Beplan saam met jou huweliksmaat hoedat julle die geloofsgemeenskap in julle huwelik gaan versterk.

Doen die volgende saam met jou huweliksmaat:
Kommunikeer oor die Here en julle geestelike groei (Galasiërs 5:22, 23). Sê vir jou maat watter aspekte van die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22 in haar lewe die meeste na vore kom (probeer aan spesifieke voorbeelde dink). Sê vir jou maat watter drie aspekte van die vrug van die Gees die minste in jou eie lewe na vore kom. Vra aan haar om dieselfde te doen. Besluit om, volgens jou maat se belydenis onder die vorige punt, vir haar voorbidding te doen.
Lees saam uit die Bybel (2 Timoteus 3:16,17). Besluit saam oor die mees geskikte tyd om daagliks saam (net julle twee) uit die Bybel te lees. Bid by hierdie geleenthede saam tot die Here (Johannes 16:24). Besluit saam oor drie dinge waaroor julle gaan bid.
Wees saam diensbaar vir die Here (Josua 24:15c). Dink na oor hoe julle ten minste twee spesifieke dinge doelbewus vir die Here gaan doen binne die volgende week. Gaan kuier byvoorbeeld saam vir 'n persoon of gesin om julle Christelike belangstelling te toon.

4.4.3.b Bid vir jou gesinslede en familielede.

Bid daagliks vir jou gesinslede en familielede en gee spesifiek aandag aan die behoeftes binne jou gesin, sodat jy daarvoor kan bid.

4.4.3.c Betrek jou kinders by 'n gesins-dissipelskap bediening.

Kyk weer na doelwit 3.4.1.g en pas, as geestelike groei-leier, die Geestelike Groeiprogram in die lewens van gelowige gesinslede wat daarvoor gereed is, toe.

4.4.3.d Neem entoesiasties deel aan aktiwiteite van 'n gesinsbediening.

Neem entoesiasties deel aan die bedieningsaktiwiteite van jou gesin (sien doelwit 4.4.3.c). Wees 'n voorbeeld vir die ander lede en neem leiding in die bediening waar en wanneer nodig. Gee nuwe idees en ploeg jou kennis en ervaring in die bedieningswerk in. Dit is hier waar jou deelname die moeilikste mag wees, maar ook die nodigste.

4.4.3.e Begin onafhanklik raak van ouers, afhangende van ouderdom en werksituasie.

Pak die proses om die huis te verlaat aan nadat jy dit met jou ouers bespreek het en wanneer jou omstandighede dit toelaat en die tyd daarvoor ryp is.

4.4.3.f Gebruik die voordeel van die ongetroude staat tot volle voordeel van bedieningswerk.

Begin met 'n bediening waartoe die Here jou roep. Identifiseer die geestelike groei fase waarin jy jouself bevind, rakende die bediening. Stel 'n geestelike groeikurrikulum op (sien doelwit 4.7.1.c), spesifiek met die oog op hierdie bediening.

4.4.3.g Ontwikkel die vermoë om beter te luister.

Lees die volgende aandagtig deur:
Die luisteraar poog, deur aktief te luister, om die feite en emosies wat hy hoor te begryp, en om die spreker te help om sy eie probleme deur te werk. Deur sy basiese houding openbaar die aktiewe luisteraar 'n gesindheid van eerlike en egte respek vir die waarde van die spreker.
Aktiewe luister is dus 'n manier om verandering by mense te fasiliteer. Dit stimuleer verandering in mense se houdings oor hulle self en ander, hulle basiese waardes en lewensbenadering. Mense na wie só geluister word, kan emosioneel meer volwasse, meer oop vir hul eie ervarings, minder vergeldend en defensief en minder outoritêr word.
Wanneer daar aktief na mense geluister word, is hulle geneig om ook meer versigtig na hulle self te luister en om duidelik te maak presies wat hulle dink en voel. Hulle is ook geneig om self beter te luister, om minder te argumenteer en word meer gereed om ander se opinies in ag te neem. Hulle is ook geneig om te voel dat hulle bydraes die moeite werd is.
Ongeag die informasie wat deur luister verkry word, bou aktiewe luister diep en positiewe verhoudings en is die luisteraar se eie houding geneig om te verander. Aktiewe luister is dus 'n groei ervaring vir beide die luisteraar en spreker.
Gedurende ons lewens leer ons om op baie spesifieke maniere oor onsself te dink. Ons ontwikkel beelde van ons self. Soms is hierdie selfbeelde baie realisties maar soms nie. Ons het ook almal ervarings wat ons selfbeeld pas. Hierdie ervarings aanvaar ons. Dit is egter moeiliker om ervarings te aanvaar wat nie aan ons selfbeeld voldoen nie. Indien ons selfbeeld baie belangrik vir ons is, aanvaar en integreer ons nie selfervarings wat bots met ons selfbeeld nie, en ervaar ons dit as bedreigend. Onder hierdie omstandighede is ons geneig om ons selfbeeld te verdedig of om die betrokke ervaring heeltemal te ontken. Hierdie reaksie bring rigiditeit van gedrag mee en maak persoonlike aanpassing moeilik.
Die aktiewe luister benadering bedreig egter nie so 'n persoon se selfbeeld nie. Dit laat aan hom ruimte om dit te ontdek, te sien soos dit regtig is en om self te besluit hoe realisties dit is. Hy is dan in 'n posisie om te verander. Solank die atmosfeer bedreigend is, kan daar nie effektiewe kommunikasie wees nie. Die luisteraar moet dus 'n klimaat skep wat nie krities, evaluerend of moraliserend is nie, maar van kwaliteit, vryheid, begrip, warmte en aanvaarding. In hierdie klimaat aleen kan die individu veilig genoeg voel om nuwe ervaringe en waardes by sy selfkonsep te integreer.
'n Individu sal dikwels sy ware gevoelens waaroor hy angstig voel en wat hy nie kans sien om te kommunikeer nie, op 'n aanvaarbare wyse vir homself en ander kamoefleer deur slegs oppervlakkige vrae of behoeftes te kommunikeer. Deur die korrekte vrae te vra, kan die aktiewe luisteraar die nodige veilige ruimte vir die spreker skep waarin hy sy diepgewortelde gevoelens veilig kan kommunikeer. Dit laat aan die luisteraar die geleentheid om saam met die spreker in die situasie of probleem te deel, sonder om alle verantwoordelikheid vir besluitneming by hom oor te neem. Die luisteraar dink dan saam met die spreker en nie vir hom nie.
Veroordeling, regspraak en positiewe- of negatiewe evaluering skep 'n ruimte waarin vrye uitdrukking moeilik is. Wanneer die luisteraar 'n persoon positief evalueer, word dit vir so 'n persoon moeilik om ook oor sy eie foute en onvermoëns te praat. Selfs bemoediging soos "alles sal regkom" kan 'n persoon ontmoedig.
Advies en informasie word meestal deur sprekers gesien as pogings om hulle te verander en kan dus die ontwikkeling van 'n kreatiewe verhouding waarin vrye selfuitdrukking moontlik is, inhibeer. Dit word in elk geval selde ter harte geneem en gebruik.
Aktiewe luister beteken om in 'n persoon se wêreld in te beweeg en uit sy oogpunt te begryp wat hy wil kommunikeer. Hierdie tegniek behels dat daar na totale betekenis van dit wat 'n spreker kommunikeer, geluister word. Elke boodskap het twee komponente naamlik die inhoud en die onderliggende gevoel of houding. Beide gee aan die boodskap betekenis.
Soms is die inhoud van 'n boodskap baie minder belangrik as die onderliggende houding en gevoelens. Daarom word daar in aktiewe luister spesifiek op die gevoelskomponente van boodskappe gereageer. Die luisteraar moet dus bedag wees op verskeie aspekte van kommunikasie soos huiwering, intonasie, klem, gesigsuitdrukking, liggaamshouding, handbewegings, oogkontak en asemhaling, wat alles bydra tot die totale boodskap wat gekommunikeer word.
Deur volgehoue luister kommunikeer die luisteraar dat hy in die spreker as persoon geïnteresseerd is, dat hy die spreker se idees en dit wat hy voel respekteer en as belangrik beskou en dat hy dit werklik probeer verstaan - dat hy waardig is om na geluister te word. Dit kommunikeer ook aan die spreker dat die luisteraar self iemand is met wie in vertroue gepraat kan word.
Soos baie ander gedrag, is luistergedrag ook aansteeklik. Deurdat een persoon werklik aktief luister, word 'n patroon van luister binne die verhouding gevestig. Dit gebeur omdat gedrag wat deur een persoon geopenbaar word, dikwels met dieselfde tipe reaksie begroet word. Luister word dus dikwels begroet met luister. Die luisteraar wat verantwoordelik voel vir die betrokke verhouding waarbinne hy en die spreker hulle bevind, kan sodoende daartoe bydra dat 'n wedersydse luister patroon in die verhouding ontwikkel.
Dit is wel moeilik maar tog profytlik om konstruktiewe gedrag soos aktiewe luister in 'n ander persoon te stimuleer. Om slegs te wag totdat die spreker klaar gepraat het sonder om werklik na hom te luister, werk uiters remmend in op die ander persoon se vrymoedigheid om sy hart oop te maak. Die een wat volhardend, ernstig, met aandag en begrip luister is die mees waarskynlike persoon om uiteindelik na geluister te word. Om dus hierdie voorreg te verdien, moet die luisteraar die ander persoon se potensiaal ontwikkel as luisteraar, gereed vir nuwe idees. Dit word deur die luisteraar se voorbeeld gedoen. Daarom kan dit by geleentheid vir die luisteraar lonend wees om sy eie luistervermoë te ontwikkel deur gereeld die spreker se vorige stelling in sy eie woorde te herfraseer tot die spreker se bevrediging.
Dit is belangrik vir 'n luisteraar om 'n eerlike belangstelling in die spreker te hê, voordat hy aktief na hom kan luister. Indien die spreker kunsmatige belangstelling bemerk, sal hy geïnhibeerd wees en homself nie meer vrylik kan uitdruk nie. As die aktiewe luisteraar eerlik probeer om die betekenis wat die spreker se wêreld vir hom het te verstaan, loop hyself die risiko om daardeur verander te word soos die spreker. Dit is 'n bedreigende ervaring en verg baie moed en innerlike sekuriteit om selfs vir 'n oomblik jou eie siening te laat vaar, om in die terme van die spreker te dink ten einde hom te probeer verstaan.
'n Aktiewe luisteraar hoor dikwels negatiewe en vyandige stellings gerig op homself. Niemand hou daarvan nie. Dit is moeilik om die punt te bereik waar jy sterk genoeg is om sulke aanvalle toe te laat sonder om dit nodig te vind om jouself te verdedig of om terug te slaan.
Ons vrees ook almal dat mense sal verkrummel onder 'n aanval van ware negatiewe gevoelens. Daarom is luisteraars dikwels geneig om, wanneer hulle negatiewe gevoelens teenoor 'n spreker ervaar, 'n houding van skyn vrede te bewaar. Die ware skade word egter verrig deur ontkenning en onderdrukking van negatiewe gevoelens.
Luisteraars hanteer dit baie moeilik wanneer onaanvaarbare gedrag aan hulle vertel word, of om onvanpaste gedrag te hanteer. Dit kan kommunikasie momenteel of permanent blokkeer. Onder bepaalde omstandighede is dit ook moeilik om positiewe gevoelens of uitdrukkings wat in 'n gesig-tot-gesig verhouding teenoor jou openbaar word, te hanteer.
Die luisteraar se eie gevoelens vorm dikwels 'n blokkering in aktiewe luister. Wanneer emosies op hulle hoogtepunt is en aktiewe luister die belangrikste is, is dit die moeilikste om jou eie kommer tersyde te stel en begrypend te wees.
Hoe meer betrokke die luisteraar raak, hoe minder geneig is hy om gewillig te wees om na die ander se houdings en emosies te luister. Hoe meer die luisteraar dit nodig ag om op sy eie behoeftes te reageer, hoe minder is hy instaat om op die behoeftes van die spreker te reageer.
Wanneer die luisteraar verdedigend begin optree, is dit 'n gevaarteken dat sy eie emosie met sy luisteraktiwiteit inmeng. Dit kan geïdentifiseer word wanneer die luisteraar vind dat hy 'n punt benadruk of om die ander daarvan te probeer oortuig. Dit getuig van oomblikke van onveiligheid waarin hy minder instaat is om te luister. Dit is altyd moeiliker om na 'n opinie wat jou eie oponeer te luister. Wanneer 'n luisteraar voel dat sy posisie en opinies uitgedaag word, behoort hy sy kommer aan die spreker deur te gee.
Nog 'n gevaarteken is wanneer die luisteraar en spreker se persoonlikhede bots. Die ware uitdrukking van gevoelens deur die luisteraar sal die ontwikkeling van 'n gesonde verhouding meer help as die onderdrukking daarvan. 'n Basiese eerlike verhouding is die mees produktiewe. Die ander persoon begin eers veilig voel wanneer hy vind dat die luisteraar sy gevoelens eerlik en openlik aan hom kan uitdruk.
Om na jouself te kan luister is 'n voorvereiste voordat jy na 'n ander kan luister. Wanneer ons die meeste opgewonde, aangedaan en veeleisend is, is ons die minste instaat daartoe om ons eie gevoelens en houdings te verstaan. Om die probleme van ander te kan hanteer, is dit belangrik om seker van jou eie posisie, waardes en behoeftes te wees.
Die vermoë om die betekenis wat 'n bepaalde episode vir jou het, te herken en te verstaan, met al die gevoelens wat dit in jou wakker maak, en die vermoë om hierdie betekenis uit te druk wanneer dit in die pad van aktiewe luister staan, sal die lug suiwer en jou instaat stel om vry te kan luister. As 'n persoon of situasie dus gevoelens in jou raak wat jou pogings om met begrip te luister blokkeer, moet jy dringend na jouself luister. Vermy die onderdrukking van sulke gevoelens. Kommunikeer dit liewer so duidelik moontlik teenoor die ander persoon.


4.5 GROEIAREA: GEMEENSKAP

INHOUD

4.5.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken verskillende aspekte van Bybelse gemeenskap met medegelowiges.
b. Ken die verskillende bedieningsmoontlikhede in die plaaslike kerk.
c. Ken die rol en plek van liefde in die gemeenskap van die heiliges.
d. Ken die betekenis van die woorde "versoening", "koninkryk" en "geregtigheid" vir die samelewing.

4.5.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Erken jou sterk en swak punte as lid van die liggaam van Christus in alle nederigheid, en respekteer jou eie en mede gelowiges se genadegawes, talente en bedieninge.

4.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Bestudeer 'n seleksie van Bybelsgefundeerde materiaal oor Bybelse gemeenskap.
b. Ontdek jou eie genadegawes van die Gees.
c. Poog om jou eie sterk en swak punte te ontwikkel terwille van die opbouing van die liggaam van Christus.
d. Beoefen jou geestelike gawes binne die plaaslike kerk.
e. Vertoon sommige eienskappe van 'n geestelike volwasse lidmaat.


4.5.1 Kennisdoelwitte:

4.5.1.a Ken verskillende aspekte van Bybelse gemeenskap met medegelowiges.

Die Griekse woord "koinonia" (gemeenskap) beteken "om te assosieer, gemeenskap te hê, om deel te neem/hê".
Ware gemeenskap met ander mense begin by gemeenskap met God Drie-enig. 'n Baie spesifieke faset van hierdie gemeenskap is om saam met Jesus Christus te lewe (Romeine 6:8; 2 Korintiërs 7:3), te ly (Romeine 8:17), gekruisig te wees (Romeine 6:6), lewend gemaak te wees (Efesiërs 2:5,6; Kolossense 2:12,13; 3:1), verheerlik te wees (Romeine 8:17), en te regeer (2 Timoteus 2:12).
Gemeenskap met mekaar binne die gemeente vind plaas tydens voorbidding (Handelinge 2:42; 12:12), finansiële nood (Handelinge 4:32; Romeine 15:25-27; 2 Korintiërs 9:13), in gelykheid voor God (Jakobus 2:1-13), deur te voorsien in mekaar se behoeftes (Jakobus 5:14-18). Sien ook doelwit 4.5.1.c; 4.5.3.a.

4.5.1.b Ken die verskillende bedieningsmoontlikhede in die plaaslike kerk.

Vergelyk die verskillende gawes/bedieninge (1 Korintiërs 12:5) met die bedieninge wat reeds binne jou plaaslike kerk (gemeente) figureer (sien ook doelwit 3.5.1.b en 4.5.3.b).
Bestudeer dan ook 1 Timoteus 3:1-13 en 5:17-20 en bedink ook die konsekwensies van Matteus 28:19,20 vir elke gelowige ten opsigte van sy bediening binne die kerk. Lê veral klem op die woorde "maak dissipels" (sien ook doelwit 5.7.1.b).

4.5.1.c Ken die rol en plek van liefde in die gemeenskap van die heiliges.

Daar kan, sonder die band van liefde wat God in sy kerk uitstort, geen gemeenskap van die heiliges plaasvind nie. Bedink nou die rol en plek van liefde in die gemeenskap van die heiliges (Matteus 22:37-40; Romeine 13:8-10; Johannes 13:34,35; 1 Korintiërs 13; 16:14; 1 Johan-nes 3:16-18; 4:7-21; Galasiërs 5:22; 1 Petrus 4:8).

4.5.1.d Ken die betekenis van die woorde "versoening", "koninkryk" en "geregtigheid" vir die samelewing.

“Versoening” is van toepassing op mense terwyl hulle hulpeloos (Romeine 5:6), sondaars (Romeine 5:8), vyande van God (Romeine 5:10) en haters van God (Kolossense 1:21) is. Dit word bewerkstellig deur God in Christus (2 Korintiërs 5:18), die dood van Christus (Romeine 5:10), die bloed van Christus (Efesiërs 2:13). Dit het ten gevolg vrede met God (Romeine 5:1), toegang tot God (Romeine 5:2), eenheid tussen Jode en heidene (Efesiërs 2:14).
"Koninkryk" word beskryf as die koninkryk van God (Markus 1:15), van die hemele (Matteus 3:2), van Christus en God (Efesiërs 5:5), van die Vader (Matteus 13:43; 26:29;), van die Seun (Kolossense 1:13). Daar word verwys na die evangelie van die koninkryk (Matteus 24:14), die Woord van die koninkryk (Matteus 13:19), die geheimenisse van die koninkryk (Markus 4:10-13), die sleutels van Dawid tot die koninkryk (Openbaring 3:7). Toegang tot die koninkryk word gevind deur opnuut gebore te word (Johannes 3:1-8), toegewing (Lukas 22:29), Goddelike roeping (1 Tessalonisense 2:12), bekering (Matteus 3:2). Burgers van die koninkryk soek dit eers (Matteus 6:33), ly vervolging (Handelinge 14:22), predik dit (Handelinge 8:12), bid daarvoor (Matteus 6:10), werk daarin (Kolossense 4:11). Die koninkryk is geestelik van aard (Romeine 14:17), ewig (2 Petrus 1:11), nie van hierdie wêreld nie (Johannes 18:36) en in die harte van hulle wat in Christus glo (Lukas 17:21).
"Geregtigheid" word toegeskryf aan God (Deuternomium 32:4; Johannes 17:25), Christus (Handelinge 3:14; 1 Johannes 2:1), Messias (Jesaja 53:11; Sagaria 9:9), verloste Christene (Matteus 25:37,46; Hebreërs 12:23). Regverdiges word geseën deurdat hulle gebede verhoor word (Spreuke 15:29), hulle veilig bewaar word (Spreuke 18:10), so dapper soos leeus is (Spreuke 28:1), hulle soos die son sal skitter (Matteus 13:43). Christus is die gelowige se geregtigheid (Jeremia 33:16), het dit lief (Hebreërs 1:9), oordeel daarmee (Jesaja 11:4), regeer daarvolgens (Jesaja 11:5), bring dit (Jesaja 46:13), vervul dit (Matteus 3:15). Dit is die vrug van ware wysheid (Spreuke 8:15), ouerlike onderrig (Genesis 18:19), ware geloof (Hebreërs 10:38).

4.5.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.5.2.a Erken jou sterk en swak punte as lid van die liggaam van Christus in alle nederigheid, en respekteer jou eie en medegelowiges se genadegawes, talente en bedieninge.

Verstaan jy dat jou geestelike gawes genadegawes is wat jy van God ontvang het sonder verdienste? Jy is nie beter of hoër as ander lede van die liggaam van Christus nie. Sekere gawes maak jou ook nie 'n beter mens as ander nie. Dit is ook nie deur jou eie toedoen dat jy sekere gawes ontvang het nie. Die Heilige Gees gee die gawes soos Hy wil, aan wie Hy wil en wanneer Hy wil (1 Korintiërs 12:11). Daarom het niemand iets om op te roem nie.
Bedink die volgende stellings: "Ek beskik net oor een of twee genadegawes en daarom is ek minderwaardig." "Daar is mense wat geen swakpunte het nie." "Ek maak so maklik foute en daarom onttrek ek myself." "My sterk punte is ... " "My swak punte is ... "
Vra aan 'n Christen vriend wat jou goed ken of hy oor die laaste twee punte met jou saamstem of nie en vra hom om sy standpunt te motiveer.
Elkeen is waardevol en nodig as lidmate binne die kerk (vergelyk doelwit 3.3.1.c). Jy het ook jou medegelowiges met hulle gawes, talente en bedieninge nodig. Maak 'n lys van vyf probleme wat jy gedurende die afgelope maand op godsdienstige terrein ondervind het. Merk die probleme waar 'n medegelowige jou kon gehelp het of wel gehelp het, af.
Bid oor hierdie probleme, vir hulle wat deur God gebruik is in jou lewe, en vir hulle wat nie hul verpligtinge teenoor jou as medegelowige in nood kon nakom nie.

4.5.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.5.3.a Bestudeer 'n seleksie van Bybelsgefundeerde materiaal oor Bybelse gemeenskap.

Gemeenskap is 'n uitmuntende doelwit om na te streef (Psalm 133:1-3) en is gebaseer op geloof (1 Samuel 20:30-42; Handelinge 2:42), oortuiging (1 Petrus 3:8), werk (Nehemia 4:1-23), hoop (Hebreërs 11:39,40), lyding (Daniël 3:16-30), behoefte (2 Korintiërs 8:1-15). Volmaakte gemeenskap word ondervind tussen Vader, Seun en Christene (1 Johannes 1:3), Christus en Christene (1 Korintiërs 1:9), Heilige Gees en Christene (Filippense 2:1), Apostels (Handelinge 2:42), gelowiges (1 Johannes 1:7). Tydens gemeenskap word iets met mekaar gedeel soos materiële dinge (2 Korintiërs 8:4), lyding (Filippense 3:10), evangelie bediening (Galasiërs 2:9), evangelie voorregte (Filippense 1:5), misterie van die evangelie (Efesiërs 3:9).
Besoek boekwinkels en biblioteke, nadat jy die meegaande Skrifgedeeltes bestudeer het, om jou te vergewis van beskikbare materiaal omtrent Bybelse gemeenskap (ook videos en kassetbande). Bespreek die materiaal wat jy gevind het met 'n Christen vriend en maak saam 'n seleksie van materiaal wat jy kan bestudeer. Bespreek dit wat jou beïndruk, of dalk ontstel, met jou vriend.

4.5.3.b Ontdek jou eie genadegawes van die Gees.

Voltooi die meegaande vraelys:

Hoe om die Gawe-ontledingsvraelys te voltooi:
Elke stelling in die vraelys het 5 moontlike reaksies (baie min, min, gemiddeld, baie, besonder baie). Dit verteenwoordig persentasies op 'n skaal van 0-100 (baie min = 0-20%; min = 20-40%; gemiddeld = 40-60%; baie = 60-80%; besonder baie = 80-100%). Lees elke stelling. Besluit in watter mate elke stelling van jou waar is soos jy jouself oor die afgelope 5-10 jaar ken. Kies die toepaslike antwoord en omkring sy numeriese waarde. Jou eerste indruk is gewoonlik korrek. As jy jouself hoofsaaklik aan die regter of linkerkant van die kolom plaas, moet jy jou nie nou daaroor bekommer nie. Alhoewel die vraelys jou sal help om jou gawes te identifiseer, sal die uitslag slegs 'n tentatiewe aanduiding wees.

1. Ek het die vermoë om idees, take, mense en tyd vir Christelike diens te organiseer (1, 2, 3, 4, 5).
2. Ek het al 'n skeppende vermoë soos skryf, skilder, drama ens. tot voordeel van die liggaam van Christus gebruik (1, 2, 3, 4, 5).
3. Ek beskik oor die vermoë om tussen geestelike waarhede en dwalinge te onderskei (1, 2, 3, 4, 5).
4. Ek het mense al aangemoedig om Christelike lewens te lei (1, 2, 3, 4, 5).
5. Ek hou daarvan om oor Christus te gesels met mense wat Hom nie ken nie (1, 2, 3, 4, 5).
6. Ek het al ondervind dat ek met sekerheid weet wat die wil van God in 'n spesifieke situasie is, selfs wanneer konkrete getuienis ontbreek het (1, 2, 3, 4, 5).
7. Ek aanvaar reeds verantwoordelikheid daarvoor om in finansiële behoeftes binne die kerk en gemeenskap te voorsien
(1, 2, 3, 4, 5).
8. Ek geniet dit om verblyf aan gaste te verskaf en voel nie dat onverwagte gaste moeite veroorsaak nie (1, 2, 3, 4, 5).
9. Ek beskou andere se versoeke om voorbidding as ernstig en hou vol om vir hulle te bid (1, 2, 3, 4, 5).
10. Ek motiveer groepe om spesifieke Bybelse doelwitte na te streef (1, 2, 3, 4, 5).
11. Ek het die vermoë om aan my meegevoel uitdrukking te gee deur middel van blymoedige goeie dade (1, 2, 3, 4, 5).
12. Ek het al die saak van God binne die kerk en/of wêreld bepleit (1, 2, 3, 4, 5).
13. Ek geniet dit om ander te help om hul dienswerk doeltreffend te verrig (1, 2, 3, 4, 5).
14. Ek was al verantwoordelik vir die geestelike ontwikkeling van ander Christene en het goeie resultate behaal (1, 2, 3, 4, 5).
15. Wanneer ek onderrig gee aan studente (kinders of volwassenes) word die leerstof "lewendig" (1, 2, 3, 4, 5).
16. Ek hou daarvan om dinge te beplan waarby mense betrokke is (1, 2, 3, 4, 5).
17. Ek sal daarvan hou om skeppend aan myself uitdrukking te gee vir God, byvoorbeeld deur middel van musiek of poësie of drama (1, 2, 3, 4, 5).
18. Ek beskou dit as 'n ernstige gevaar wanneer valse leringe en praktyke die kerk binnesluip (1, 2, 3, 4, 5).
19. Ek is gevoelig vir lydende, bekommerde en ontmoedigde mense en wil hulle graag help om God se antwoorde op lewensprobleme te vind (1, 2, 3, 4, 5).
20. Ek sal daarvan hou om die evangelie doeltreffend en met vrymoedigheid met ongelowiges te kan deel (1, 2, 3, 4, 5).
21. Ek aanvaar God se beloftes onvoorwaardelik en pas dit sonder om te twyfel toe op gegewe situasies (1, 2, 3, 4, 5).
22. Ek voel my gedronge om te gee wanneer ek deur finansiële behoeftes in God se koninkryk gekonfronteer word (1, 2, 3, 4, 5).
23. Ek is sensitief vir dade van bedagsaamheid wat 'n groot verskil maak vir vreemdelinge en gaste (1, 2, 3, 4, 5).
24. Ek is sensitief vir andere se behoefte aan voorbidding en is besorg daaroor om hulle die nodige gebedsonderskraging te gee (1, 2, 3, 4, 5).
25. Ek het 'n begeerte om mense te help, te lei en te rig op 'n belangrike kerklike diensterrein (1, 2, 3, 4, 5).
26. Ek sal daarvan hou om aan mense met fisiese of verstandelike probleme diens te lewer (1, 2, 3, 4, 5).
27. Ek het geestelike insig in die Skrif met betrekking tot mense en sake, wat ek graag met ander wil deel (1, 2, 3, 4, 5).
28. Ek voel aan wanneer andere hulp nodig het en is bereid om dit te verleen (1, 2, 3, 4, 5).
29. Ek is besorg daaroor dat in die geestelike behoeftes van gelowiges voorsien moet word en is bereid om persoonlik betrokke te wees by die opvoedings- en onderrigbediening in die gemeente (1, 2, 3, 4, 5)
30. Ek hou daarvan om ander mense te help om Bybelse beginsels te begryp (1, 2, 3, 4, 5).
31. Ek beskik oor die vermoë om doeltreffend planne te maak om doelwitte te bereik (1, 2, 3, 4, 5).
32. Ek het betekenisvolle artistieke vermoëns (musiek, drama, skryf, skilder, beeldhou ensovoort) wat ek reeds gebruik het in God se koninkryk (1, 2, 3, 4, 5).
33. Ek het al vals en manipulerende mense en lering bemerk wanneer andere nie kon nie (1, 2, 3, 4, 5).
34. Mense in die Christelike gemeenskap is al tot liefde en goeie werke beweeg deur my raad en aanmoediging (1, 2, 3, 4, 5).
35. Ek is al as instrument gebruik om ander te lei tot geloof in Christus as hul Verlosser (1, 2, 3, 4, 5).
36. God het my al in spesifieke gevalle die versekering gegee dat Hy sal doen wat onwaarskynlik gelyk het (1, 2, 3, 4, 5).
37. Ek gee blymoedig en mildelik ter ondersteuning van die Here se werk (1, 2, 3, 4, 5).
38. Ek het die vermoë om vreemdelinge in my huis en by die kerk tuis te laat voel (1, 2, 3, 4, 5).
39. Ek bid vir ander omdat ek weet dat hulle doeltreffendheid daarvan afhang (1, 2, 3, 4, 5).
40. Ek geniet dit om ander op doelwitte te rig, hulle te lei en te versorg terwille van Christus (1, 2, 3, 4, 5).
41. Ek geniet dit om met mense te werk wat fisiese, psigiese of emosionele probleme het (1, 2, 3, 4, 5).
42. Ek het al dringende en aktuele boodskappe uit die Woord van God verkondig (1, 2, 3, 4, 5).
43. Ek hou daarvan om klein takies te verrig wat die liggaam van Christus opbou (1, 2, 3, 4, 5).
44. Ek aanvaar verantwoordelikheid om te help wanneer ek sien dat 'n Christen op 'n dwaalspoor gelei word (1, 2, 3, 4, 5).
45. Ek kan kennis helder en kernagtig oordra aan studente, kinders of volwassenes (1, 2, 3, 4, 5).
46. Ek sal dit geniet om leiding te gee ten opsigte van 'n belangrike dienswerk in die kerk (1, 2, 3, 4, 5).
47. Ek beskik oor die potensiaal om skeppend te wees op 'n gebied wat kan dien tot die opbou van die kerk (1, 2, 3, 4, 5).
48. Ek kan dieper kyk en mense se motiewe waarneem (1, 2, 3, 4, 5).
49. Ek glo dat mense tot geestelike volwassenheid sal groei deur raad en onderrig in die Woord (1, 2, 3, 4, 5).
50. Ek voel verantwoordelik om vriende en bekendes wat nie in Christus glo nie te help (1, 2, 3, 4, 5).
51. Ek het 'n aanvoeling vir tye wanneer die gelowige gebed nodig is (1, 2, 3, 4, 5).
52. Ek is gewillig om 'n laer lewenstandaard te handhaaf sodat God se werk deur my finansiële steun bevoordeel kan word (1, 2, 3, 4, 5).
53. Ek is meer bewus van die behoeftes van gaste as van my eie (1, 2, 3, 4, 5).
54. Ek het die innerlike oortuiging dat God reageer op gebed en wil graag gebruik word om andere deur middel van gebed te help (1, 2, 3, 4, 5).
55. As ek die geleentheid sou kry, sou ek dit geniet om ander ten opsigte van sekere aspekte van die Here se werk te lei, te rig en te motiveer (1, 2, 3, 4, 5).
56. Wanneer ek ellende aanskou, begeer ek om uitdrukking aan God se liefde in my te gee teenoor mense wat ly (1, 2, 3, 4, 5).
57. As ek die geleentheid ontvang sal ek dit geniet om 'n prediker te wees wat die Woord uitlê
(1, 2, 3, 4, 5).
58. Ek hou daarvan om ander te help om hulle werk te doen (1, 2, 3, 4, 5).
59. Ek word bewus van 'n herdersinstink in my wanneer ek weet van Christene wat geestelik raad benodig (1, 2, 3, 4, 5).
60. Ek kom gou agter wanneer mense (kinders of volwassenes) verward is in hulle denke (1, 2, 3, 4, 5).
61. Ek beskik oor die vermoë om belangrike take aan die regte mense op die regte tydstip te delegeer. Ek is bewus daarvan dat mense deur my skeppende of artistieke vermoëns seën ontvang het (1, 2, 3, 4, 5).
63. Ek het 'n vermoë ontwikkel om, in vandag se wêreld, tussen goed en kwaad te onderskei (1, 2, 3, 4, 5).
64. Ek is bly wanneer mense my terwille van troos, bemoediging en raad opsoek (1, 2, 3, 4, 5).
65. Ek is daartoe instaat om die evangelie duidelik en betekenisvol aan gelowiges oor te dra (1, 2, 3, 4, 5).
66. Ek besit die vermoë om aan te hou glo dat God in 'n situasie sal optree ten spyte van bewyse van die teendeel (1, 2, 3, 4, 5).
67. Ek help mense en die werk van die Here deur mildelike bydraes (1, 2, 3, 4, 5).
68. My huis is tot die beskikking van hulle wat gasvryheid nodig het (1, 2, 3, 4, 5).
69. Ek is bewus daarvan dat ek ander dien wanneer ek vir hulle bid (1, 2, 3, 4, 5).
70. Ek het al die verantwoordelikheid van leierskap aanvaar en het met sukses 'n groep daartoe gelei om 'n doelwit te bereik (1, 2, 3, 4, 5).
71. Siekes, hulpeloses en eensames word deur my dienswerk gehelp (1, 2, 3, 4, 5).
72. God gebruik my om ander Christene op te bou, te bemoedig en te troos deur met hulle oor geestelike dinge te praat (1, 2, 3, 4, 5).
73. Ek vind praktiese maniere om ander te help en put bevrediging daaruit (1, 2, 3, 4, 5).
74. Die Here gebruik my om oor ander gelowiges te waak, hulle te lei en op te voed tot geestelike volwassenheid
(1, 2, 3, 4, 5).
75. Ek behou die belangstelling van die wat ek onderrig (1, 2, 3, 4, 5).
76. Ek weet wanneer dienswerk of projekte beter georganiseer behoort te word (1, 2, 3, 4, 5).
77. Ek beskik oor 'n latente skeppende vermoë (teken, skryf, musiek) wat ek graag sal wil gebruik vir die koninkryk van God (1, 2, 3, 4, 5).
78. Ek is gewoonlik bewus daarvan wanneer mense voorgee om te wees wat hulle nie is nie (1, 2, 3, 4, 5).
79. Ek is bereid om elke week tyd af te staan aan 'n bediening om mense raad te gee (1, 2, 3, 4, 5).
80. Ek kom agter wanneer iemand Christus nie ken nie en ek is besorg oor hom/haar (1, 2, 3, 4, 5).
81. Ek begryp wat Christus bedoel het toe Hy gesê het dat berge deur die geloof versit kan word (1, 2, 3, 4, 5).
82. Ek is daarvan oortuig dat alles wat ek het aan God behoort en ek wil graag 'n goeie rentmeester wees (1, 2, 3, 4, 5).
83. Ek het 'n opregte waardering vir elke gas wat deur my bedien word (1, 2, 3, 4, 5).
84. Ek sal daarvan hou om 'n gebedsondersteuner te wees van iemand wat die een of ander bediening behartig (1, 2, 3, 4, 5).
85. Ek is bewus daarvan wanneer 'n groep, waarvan ek deel is, klei trap en ek wil iets daaromtrent doen (1, 2, 3, 4, 5).
86. Ek voel aan wanneer iemand op die een of ander manier ly (1, 2, 3, 4, 5).
87. Ek dink meer Christene moet openlik standpunt inneem oor morele kwessies soos aborsie, vrye seks, rassisme, ensovoort (1, 2, 3, 4, 5).
88. Ek wens ek het meer geleentheid gehad om ander in hul dienswerk by te staan (1, 2, 3, 4, 5).
89. Ek sal daarvan hou om in die posisie te wees om gelowiges vir hul dienswerk toe te rus (1, 2, 3, 4, 5).
90. Dit is vir my 'n opwindende ervaring wanneer ek nuwe idees ontdek wat ek met ander kan deel (1, 2, 3, 4, 5).

Hoe om die sleutelkaart te gebruik:
Plaas die numeriese waarde wat die dissipel aan elke stelling in die vraelys geskenk het regoor die ooreenstemmende nommer op die sleutelkaart.
Tel elke ry van 3 syfers in kaart A horisontaal op en skryf die totaal langsaan onder kolom "Totale A". Doen dieselfde met kaart B.
Trek 'n sirkel om die hoogste tellings in "Totale A" -kolom. Omsirkel 3 of 4 maar nie meer as 5 nie. Skryf hierdie gawes op kaart "Werkende Gawes" met die hoogste telling eerste.
Omsirkel die hoogste tellings in "Totale B" -kolom wat nie reeds in stap 3 omsirkel is nie. Skryf hierdie gawes op kaart "Latente Gawes" en begin met die hoogste telling.
Skryf alle oorblywende gawes op Kaart C. Dit is waarskynlik nie jou gawes nie, maar wel take ten opsigte waarvan jy 'n verantwoordelikheid het.
Jou "Totale B" tellings wat 2 of meer is as jou "Totale A" tellings, dui gawes aan wat jy behoort te ontwikkel en gebruik.


KAART A: WERKENDE GAWES
KAART B: LATENTE GAWES
1
1
2
2
3
3
4
4
5
5



KAART C: NIE 'N GAWE NIE MAAR WEL 'N TAAK













Sleutelkaart:


KAART A   Totale A

Totale B   KAART B
1   31   61
Organisasie
16   46   76
2   32   62
Skeppende Vermoë
17   47   77
3   33   63
Onderskeiding
18   48   78
4   34   64
Bemoediging
19   49   79
5   35   65
Evangelisering
20   50   80
6   36   66
Geloof
21   51   81
7   37   67
Uitdeling
22   52   82
8   38   68
Gasvryheid
23   53   83
9   39   69
Voorbidding
24   54   84
10  40   70
Leierskap
25   55   85
11  41   71
Barmhartigheid
26   56   86
12  42   72
Profesie
27   57   87
13  43   73
Diens
28   58   88
14  44   74
Herderskap
29   59   89
15  45   75
Onderrig
30   60   90



Dink goed oor die volgende vrae en meegaande verduidelikings na:

Beskik ek werklik oor die genadegawes wat ek geïdentifiseer het? Sommige mense is verras deur die gawes wat deur hulle vraelys uitgewys word, en ander nie. Twee dinge moet egter gesê word, ongeag in watter groep jy val. Ten eerste, veels geluk! Om bewus te wees van die gawes wat die Heilige Gees skenk, is 'n opwindende en betekenisvolle ervaring. Ten tweede, wees versigtig. Jy beskik dalk nie werklik oor die genadegawes wat jy deur middel van hierdie vraelys geidentifiseer het nie. Miskien beskik jy oor gawes wat nie hier geidentifiseer is nie. Nog twee dinge is nodig voor jy seker kan wees van wat jou gawes werklik is. Eerstens behoort ander mense jou gawes waar te neem en aan jou te sê wat jy goed kan doen. Tweedens behoort jy jou gawes werklik in dienswerk te gebruik en 'n mate van sukses te ervaar.
Wat is die verskil tussen 'n werkende en 'n latente gawe? 'n Werkende gawe is een wat jy alreeds op die een of ander manier gebruik. Jy herken dit dalk nie as 'n genadegawe nie, maar jy gebruik dit nogtans. Jy was instaat om werkende gawes te identifiseer deur vrae te beantwoord wat gemik was op werksaamhede in die koninkryk, waar jy tans betrokke is. 'n Latente gawe is 'n gawe wat tot 'n groot mate onontwikkeld bly. Daar mag aanduidings daarvan in jou aktiwiteite wees, maar die gawe bly grootliks ongebruik. Nogtans het jy potensiaal op hierdie gebied. Jy kan nie so 'n gawe identifiseer deur eenvoudig na jou werksaamhede te kyk nie. In plaas daarvan moet jy kyk na belangstellings, voorkeure, sake waarvoor jy sensitief is, benaderings en betrokkenhede. Hierdie dinge dui dikwels op 'n gawe wat nog wag om ontwikkel te word.
Wat beoog ek om op daardie terreine te doen waarvoor ek geen gawes het nie? Moenie minder van jouself dink as gevolg van die gawes wat op kaart C verskyn en wat na alle waarskynlikheid nie jou gawes is nie. Onthou dat aan ander mense juis gawes op hierdie terreine geskenk is. Dank God vir hierdie gawes en vir hulle wat hierdie gawes het. Moedig hulle wat wel oor hierdie gawes beskik aan en bid vir hulle. Hulle is ook belangrik vir God en sy saak. Hulle benodig op hulle beurt weer die ondersteuning wat jy, met jou gawes, vir hulle kan gee. Jy het ook 'n verantwoordelikheid as lid van die kerk om fluks te werk op elkeen van hierdie terreine.
Bedink die meegaande definisies van genadegawes wat in die sleutelkaart genoem word (onthou dat die definisies slegs pogings is om gawes te omskryf ten opsigte waarvan die Bybelse inligting dikwels so gering is dat dit nie moontlik is om heeltemal seker te wees oor die presiese aard daarvan nie):
Organisasie: Die vermoë om mense se aktiwiteite so te organiseer en te lei dat Christus se program ten uitvoer gebring kan word (1 Korintiërs 12:28).
Skeppende vermoë: Die vermoë om God se koninkryk deur skeppende vermoëns (soos musiek, drama, grafiese kuns, skryf, skilder, beeldhouwerk) te bevorder (Eksodus 35:35).
Onderskeiding: Die vermoë om tussen waarheid en valsheid te onderskei, om te weet wanneer 'n persoon of handeling van God is (1 Korintiërs 12:10).
Bemoediging: Die vermoë om mense deur middel van bemoedigende woorde te motiveer om praktiese Christelike lewens te lei (Romeine 12:8).
Evangelisering: Die vermoë om die evangelie aan ongelowiges te bring op so 'n helder en betekenisvolle manier dat dit reaksie ontlok (Efesiërs 4:11).
Geloof: Die vermoë om 'n visie te hê van die wil van God en om seker te wees dat Hy dit sal doen in reaksie op gebed, selfs wanneer daar geen konkrete bewys daarvoor is nie (1 Korintiërs 12:10).
Uitdeling: Die vermoë om God se werk te ondersteun met mildelike, tydige en blymoedige bydraes (Romeine 12:8).
Gasvryheid: Die vermoë om gaste en vreemdelinge met grasie te verwelkom en te bedien (Romeine 12:13).
Voorbidding: Die vermoë om getrou vir ander te bid en om spesifieke antwoorde op daardie gebede raak te sien (Kolossense 1:9,10).
Leierskap: Die vermoë om lede van 'n groep met liefdevolle besorgdheid en met oorleg te lei (Romeine 12:8).
Barmhartigheid: Die vermoë om saam te voel met die wat ly en om daaraan uitdrukking te gee deur blymoedige dade van diens (Romeine 12:8).
Profesie: Die vermoë om die waarheid van God so bekend te maak en toe te pas, dat dit gelowiges mag opbou, bemoedig en troos, sowel as om ongelowiges te oortuig (1 Korintiërs 12:10,28).
Diens: Die vermoë om ander in hulle lewe en in hulle dienswerk te help deur hulle op praktiese maniere by te staan (Romeine 12:7).
Herderskap: Die vermoë om toesig te hou oor die geestelike lewens van ander en om te sorg vir hulle geestelike behoeftes, deur hulle te leer en te lei tot volwassenheid (Efesiërs 4:11).
Onderrig: Die vermoë om kennis aan ander oor te dra met die doel om op te bou (1 Korintiërs 12:28, Romeine 12:7, Efesiërs 4:11).
Waak teen die misbruik van genadegawes (verheerliking van gawes, projeksie van gawes, belastering of ontering van gawes, individualisering van gawes).

4.5.3.c Poog om jou eie sterk en swakpunte te ontwikkel terwille van die opbouing van die liggaam van Christus.

Maak 'n lys van jou vyf sterkste en vyf swakste punte. Lees hierdie lys aan jouself voor. Probeer dink hoe jy jou sterk en swak punte kan verbeter. Soek raad in die verband. Gesels met kundiges en "wyses" wat jou van goeie raad kan bedien.

4.5.3.d Beoefen jou geestelike gawes binne die plaaslike kerk.

Jy weet nou wat jou gawes is (sien doelwit 4.5.3.b). Doen navorsing oor hoe jou verskillende gawes in jou plaaslike kerk geïmplementeer en ontwikkel kan word. Jy kan begin deur jou gawes neer te skryf en ook vasstel in watter behoeftes van die gemeente hierdie gawes kan voorsien. Jy kan nou deur middel van 'n denkskrum saam met 'n Christen vriend, beplan hoe jy dink jy jou gawes kan gebruik om in elkeen van die geïdentifiseerde behoeftes te help voorsien. Gesels in hierdie proses met ander gelowiges, wat oor dieselfde gawes as jy beskik, om te hoor hoe hulle dit aanwend en beoefen. Gesels ook met jou leraar. Neem inisiatief indien nodig.
Onthou om alles biddende te doen, dat dit die Heilige Gees is wat hierdie gawes aan jou gee en dat Hy jou wil gebruik. Bespreek die probleme wat jy ondervind met 'n Christen vriend wat jou kan bemoedig om, ongeag teenstand en struikelblokke, voort te gaan om jou genadegawes in diens van die koninkryk van God te gebruik.

4.5.3.e Vertoon sommige eienskappe van 'n geestelik volwasse lidmaat.

Gaan doelwitte 2.3.1.b en 3.5.1.a aandagtig na en meet jouself biddend daaraan. Identifiseer die eienskappe van 'n geestelik volwassene wat, volgens jou, reeds in jou lewe gestalte begin vind, in alle eerlikheid.
Is jy bewus van enige eienskappe wat by jou teenwoordig is en wat tipies is van 'n geestelike kind of selfs van 'n geestelike baba? Dink aan 'n spesifieke geleentheid waartydens hierdie eienskap na vore gekom het. Hoe het jy die betrokke situasie ervaar? Deel hierdie baie persoonlike konflikte of probleemervarings vir die eerste keer met God in gebed. Hierdie ervarings was moontlik verantwoordelik vir blokkerings in jou geestelike groei. Indien dit met 'n betrokke sonde in jou lewe verband hou, moet jy dit voor God bely. So kan jy in Christus oorwinning oor die dinge verkry wat jou geestelike groei tot volwassenheid in die weg staan.
Onthou dat Christus jou aanvaar soos jy is en dat Hy jou met 'n herskeppende liefde liefhet. Wees daarop voorbereid dat daar konflik en baie emosies tydens jou gesprek met God na vore mag kom. Praat met Hom oor jou emosies.


4.6 GROEIAREA: GETUIENIS

INHOUD

4.6.1 Kennisdoelwitte:
a. Besit 'n basiese kennis van dit wat die Bybel oor verlossing leer.
b. Besit 'n oorsigtelike kennis oor wat Christelike Apologetiek behels.
c. Verstaan die begrip "krisis", sowel as die ontstaan, terreine, en karakteristieke van 'n aktiewe staat van krisis waarin 'n individu hom mag bevind, die getuienisgeleentheid wat met krisisberaad gepaard gaan, en die taak en korrekte benadering van die berader as getuie teenoor 'n persoon in krisis.
d. Neem kennis van die koms en werk van die Antichris.
e. Verstaan die begrip "godsdiensvryheid" en die praktiese probleme wat daarmee verband hou.
f. Besit 'n diepgaande kennis omtrent die kommunikering van die evangelie aan ongelowiges.
g. Besit 'n deeglike kennis oor die beloftes van God.
h. Ken die belangrikste nie-Christelike en okkultiese godsdienste.

4.6.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Is daarvan oortuig dat getuienis 'n belangrike verantwoordelikheid en voorreg is.
b. Is diep onder die indruk van jou totale afhanklikheid van God.
c. Is sensitief vir die fisieke-, sosiale-, emosionele-en godsdienstige behoeftes van nie-Christene.
d. Ervaar 'n gesindheid van barmhartigheid en die begeerte om mense in krisis by te staan in hul nood en om hulle te help om hul dagtaak weer met blymoedigheid te kan voortsit.

4.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Maak van geleenthede gebruik om die beloftes van God met ongelowiges te deel en neem inisiatief om gesprekke met ongelowiges te voer oor Christus.
b. Stel jou Christelike standpunt teenoor leerstellings en praktyke voortvloeiend uit nie-Christelike en okkultiese godsdienste.
c. Voer krisisberading met persone in krisis wanneer nodig.


4.6.1 Kennisdoelwitte:

4.6.1.a Besit 'n basiese kennis van dit wat die Bybel oor verlossing leer.

Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes:

Behoefte aan verlossing: Romeine 3:11; 5:12; 8:7,8.
Basis vir verlossing: Psalm 1:6; Jeremia 1:5; Hosea 13:5; Amos 3:2; Matteus 7:23; Handelinge 13:48; Romeine 8:28-30; 9:11; 1 Korintiërs 8:3; Galasiërs 4:9; Efesiërs 1:4,5; 2 Timoteus 1:9; 2:19; Petrus 1:2; 1 Johannes 3:1.
Aard van verlossing: Levitikus 4:35; 10:17; 16:30; Psalm 11:5-7; 97:10; Jesaja 52:13-15; 53:7; Johannes 3:16; 6:28; 10:17,18; Romeine 3:25; 5:6-11,19; 2 Korintiërs 5:18-21; Galasiërs 3:13,25,26; Efesiërs 1:7; Filippense 2:7,8; Kolossense 1:14; Hebreërs 9:1-28; 10:1-18; 1 Petrus 2:23,24; 1 Johannes 2:2.
Roeping en verlossing: Romeine 8:30; 1 Korintiërs 7:20,24; 2 Galasiërs 1:5; Timoteus 1:9.
Wedergeboorte en verlossing: Johannes 3:3-8; 2 Korintiërs 5:17; Efesiërs 4:24; Titus 3:5; 1 Petrus 1:3,23; 2:2.
Kennis en verlossing: Psalm 9:10; 51:3,4; Esegiël 36:31; Romeine 3:20; 10:13-17; Fillipense 3:8.
Gevoel en verlossing: Jeremia 31:19; Psalm 51:17; Johannes 4:43; 1 Korintiërs 7:10; 1 Tessalonisense 2:13.
Wil en verlossing: Esegiël 14:6; Handelinge 15:11; 16:31; 26:18; 2 Korintiërs 7:11; Filippense 3:9.
Voorbeelde van verlossing: Handelinge 16:13-15; 16:19-34; 9:1-28.
Regverdigmaking en verlossing: Romeine 3:21,22; Galasiërs 1:8,9; 2:21-3:3,10; 5:4.
Heiligmaking en verlossing: Psalm 24:3,4; Jesaja 6:1-5; Romeine 8:4; 12:11; 15:13; Galasiërs 5:5,25; Efesiërs 4:22,24; Kolossense 3:12,13; Hebreërs 1:12.
Klimaks van verlossing: Johannes 5:24-28; Romeine 6-8; Galasiërs 5:1,13; Efesiërs 5:25-27; 1 Tessalonisense 3:13; 5:23.

4.6.1.b Besit 'n oorsigtelike kennis oor wat Christelike Apologetiek behels.

Deur die eeue heen was daar gedurig aanslae op die grondwaarhede van die Christelike geloof. Apologetiek is die verdediging van die Christelike belydenis teenoor 'n aantasting daarvan deur bepaalde gedagterigtings en tendense in die wysbegeerte. Die apologetiek stel hom ten doel om valse leerstellings te ontmasker en te konfronteer met die waarheid. Dit is nodig dat die apologeet homself deeglik moet vergewis van die inhoud van valse leerstellings en dwalinge wat die grondwaarhede van die Christelike belydenis aantas. Hy moet egter 'n deeglike kennis van die Skrif, sy boodskap en Bybelse konsepte hê. Gereelde en indringende Bybelstudie is dus 'n vereiste vir die voornemende apologeet (2 Timoteus 3:16,17).
Bestudeer die belydenisskrifte van jou kerk indringend (sien ook doelwit 4.6.1.f,h en 5.8.1.a-e).

4.6.1.c Verstaan die begrip "krisis", sowel as die ontstaan, terreine en karakteristieke van 'n aktiewe staat van krisis waarin 'n individu hom mag bevind, die getuienisgeleentheid wat met krisisberaad gepaard gaan, en die taak en korrekte benadering van die berader as getuie teenoor 'n persoon in krisis.

Mense en dinge breek voortdurend. Daarom het elke dag sy eie lading groot en klein probleme. Die een is skaars opgelos, of 'n ander een duik op. Dit gebeur in die beste gesinne, soos toe die pa-muis met 'n slagyster om die lyf huistoe kom, en die klein muisies vir die ma-muis skree dat pa-muis 'n nuwe Jeep gekoop het.
Begripsomskrywing: Krisis toestande is episodes wat van tyd tot tyd voorkom in die lewensduur van individue, gesinne, groepe, gemeenskappe en selfs nasies. Die term "krisis" kom van die Griekse woord "krinein" wat beteken "om te besluit". Dit verwys na 'n moment van drastiese verandering in 'n positiewe of negatiewe sin. In 'n staat van krisis het ons dus te doen met 'n draaipunt of kruispad.
Ontstaan: Krisis toestande kan hul oorsprong in verskillende omstandighede hê. Sommige krisis toestande word geïnisieer deur 'n katastrofiese gebeurtenis wat as gevaarlik beleef word. So 'n gebeurtenis mag 'n slag van buite of druk van binne wees wat aanleiding gee tot onverwagte verandering in die individu se lewensomstandighede (byvoorbeeld dood van 'n geliefde, werksverlies, verlies van die een of ander vorm van sekuriteit). So 'n verandering kan 'n plotselinge verlies aan stabiliteit by 'n persoon teweeg bring - met kritiese gevolge.
Ander krisis toestande word voorafgegaan deur 'n reeks probleemgebeure, ongelukke of misstappe met 'n kulminerende effek (byvoorbeeld die langdurige versorging van 'n moeilike ouer of eggenoot wat homself nie kan help nie, of 'n hoë stress tipe werk). Die individu se basiese menslike balans (stabiliteit) word versteur en hy raak weerloos. Hy respondeer op 'n verskeidenheid maniere in 'n poging om balans te herwin. As die normale response nie werk nie, ervaar hy verhoogde spanning en probeer hy nuwe metodes om balans te herstel. As hy nie slaag nie groei die spanning tot 'n piek.
'n Noodtoestand of 'n aktiewe krisisstaat ontstaan wanneer 'n bepaalde faktor (byvoorbeeld uitputting) op hierdie stadium so op die individu inwerk dat daar 'n breuk ontstaan in sy vermoë om die situasie die hoof te bied en die persoon gevolglik onstabiliteit en disorganisering ondergaan.
Soms is die persoon wat die krisis ondergaan eerder die aktiewe as die passiewe agent in die krisis. Die krisis word dan ontwerp en veroorsaak deur die persoon self (byvoorbeeld 'n selfmoord poging).
'n Sosiale krisis kom voor binne die konteks van verhoudinge (byvoorbeeld probleme by die werk of in die gesin). Wanneer een lid van 'n sosiale groep 'n krisis ondergaan kan die ander lede van die groep, en die groep as geheel, deur sy krisis geraak word. Die gedrag van die groepslid kan 'n kulminerende negatiewe effek op die ander lede van die groep hê totdat hulle tolleransie daarvoor op 'n stadium eenvoudig versadig word. Dit kan die stabiliteit van die groep as sosiale eenheid so versteur, dat die groep disorganisering ondergaan. Al die lede van die groep ervaar dan 'n krisis.
'n Krisis is dus 'n noodtoestand wat op enige van die volgende terreine van menswees kan ontstaan of afspeel:
In die psigiese sisteem (byvoorbeeld disoriëntasie); in die somatiese sisteem (byvoorbeeld 'n hartaanval); in die interpersoonlike sisteem waarin hy 'n rolspeler is (byvoorbeeld huwelikskonflik).
'n Krisis kan ook 'n noodtoestand wees wat direk verband hou met bepaalde lewensfases, of met oorgange tussen lewensfases: 'n Intratemporale krisis kom voor binne 'n bepaalde lewensfase (byvoorbeeld menopouse tydens die oorgangsjare); 'n intertemporale krisis kom voor met verwisseling tussen lewensfases (wanneer 'n persoon 'n onvermoë het om een lewensfase agter te laat en 'n nuwe fase te betree).
Karakteristieke: Waaraan herken ons 'n aktiewe staat van krisis? Omdat 'n krisis baie onverwags gebeur (net soos met 'n epileptiese aanval) en met erge onstabiliteit en disorganisasie gepaard gaan, kan dit duidelik onderskei word van die voorafgaande fase waarin die persoon stabiel en goed georganiseerd gefunksioneer het.
'n Aktiewe staat van krisis kan daardeur gekenmerk word dat die individu 'n gevaar vir homself of vir ander is of toesig en beskerming nodig het.
Voor die hand liggende noodtoestande in die lewens van individue kan ook herken word aan gedrag soos aanranding, selfmoordpogings, verkragting, kindermolestering, egskeiding, vernietiging van eiendom, bizarre gedrag.
Dit kan ook herken word aan spesifieke persepsies van die gebeure wat plaasvind naamlik as 'n bedreiging van sy basiese behoeftes; as 'n bedreiging van sy onafhanklikheid; as die verlies aan self-identiteit; as die verlies van 'n bepaalde vermoë; as 'n aanslag op oorlewing; as 'n aanslag op sy ontwikkeling; as 'n aanslag op sy beheer oor sy lewe.
Sulke persepsies ontlok 'n karakteristieke emosionele reaksie by die individu. As die gebeurtenis as 'n bedreiging gesien word, sal angs verhoog; as die gebeurtenis as 'n verlies gesien word, sal depressie of selfs rousmart ervaar word; as die gebeurtenis as 'n aanslag beskou word, mag die individu 'n matige verhoging in angs, hoop en verwagting ervaar. In al die gevalle word 'n polsende sin vir dringendheid ervaar wat (net soos by patologiese angs) die persoon se kapasiteit om te respondeer en sy vermoëns effektief te gebruik, belemmer.

Geleentheid:
Predikante en ander sogenaamde nie-professionele beraders, soos die van ons wat hier betrokke is, is gewoonlik in 'n uiters gunstige posisie om met die krisisse van individue gekonfronteer te word, en wel om die volgende redes:
Hulle het dikwels vanweë hul besondere betrokkenheid by die lewens van mense, reeds 'n vertrouensverhouding met persone in krisis opgebou, en daarom is hulle die logiese keuse om vertroulike aangeleenthede mee te bespreek.
Persone in krisis is dikwels ook nie gereed vir professionele psigologiese behandeling nie.
In gevalle van sosiale krisis, waar die groepslid, wat homself in die fokuspunt van die krisistoestand bevind, onttrekkingsgedrag toon en nie om hulp soek nie, sal ander lede van die groep dikwels namens hom om hulp soek. So 'n individu sien dikwels die probleem nie as ernstig genoeg nie, en raadpleeg daarom eerstens beskikbare betroubare nie-professionele hulp.

Op die vraag of ons die krisistoestand van 'n persoon as 'n geskikte geleentheid vir Woordverkondiging kan en behoort te gebruik, kan ons antwoord dat ons krisisberading as 'n besondere geleentheid moet benader, en wel om die volgende redes:
'n Krisistoestand kan 'n individu se emosionele-, fisieke- en intellektuele lewe affekteer en kan daarom ook sy sin vir waardes en betekenis omkeer. Elke krisis lok basiese vrae uit, veral met gods-dienstige implikasies (Christene kan in so 'n toestand byvoorbeeld dit wat hulle altyd aanvaar het bevraagteken). Mense in krisis gaan deur 'n periode van verhoogde ontvanklikheid. Dit behels 'n verhoogde openheid om te leer by hulle wat daar is om te help. Wilbur Marley stel hierdie staat van verhoogde ontvanklikheid as volg diagrammaties voor:

In die eerste diagram verteenwoordig die driehoek die persoonlikheid van 'n persoon wat nie in 'n staat van krisis verkeer nie. Een sy van die driehoek is vas geplant, êrens op die kontinuum (lyn) tussen geestesgesondheid en die afwesigheid daarvan. 'n Groot deel van die persoon se psige is redelik stabiel. 'n Noodwendige gevolg van die stabiliteit van die persoon is, volgens Marley, dat die persoon minder oop vir verandering is.
In die tweede diagram is daar maar 'n klein gedeelte van die persoon se persoonlikheid vas geplant op die kontinuum. Hy is dus in 'n staat van ontsteldheid en kwesbaarheid. Sy natuurlike drang is om stabiliteit te verwerf. Daarom is hy oop vir invloede van buite of binne wat van hulp kan wees in die oplossing van sy krisis.
Gedurende die oplossing van die krisis is die geaffekteerde persoon dus gewoonlik gereed om hulp te aanvaar. Hy is meer beskikbaar omdat sy verdedigingsmeganismes onklaar is en die maniere waarop hy in die verlede sy probleme die hoof gebied het, gedisorganiseerd mag wees.
Gedurende hierdie fase is die persoon besig om sy "self" te herintegreer. Dit is 'n goeie geleentheid waartydens hy gehelp kan word om nuwe en beter maniere aan te leer om toekomstige krisistoestande die hoof te bied. As hy nie gehelp word nie, kan hy wanaangepaste patrone aanleer wat nie in latere krisisse sal slaag nie.
'n Krisistoestand kan om hierdie redes juis die draaipunt in 'n persoon se lewe wees wat sy welsyn op alle vlakke van menswees raak. Ook op die godsdienstige vlak.

Taak van die berader:
'n Aktiewe staat van krisis vereis 'n respons. Dit is nie iets wat uiteindelik na homself sal omsien nie. Dit is die tipiese situasie waarvan ons gewoonlik sê: "Iemand moet iets hieraan doen!" Dit plaas dus druk op die omgewing om te respondeer op 'n manier wat die krisis sal verlig of oplos.
Dit is meestal nie-professionele persone wat eerste met die krisis gekonfronteer word en wat hierdie respons moet lewer. Die krisis word ons besigheid, of ons daarvan hou of nie. Daarom het almal van ons reeds, wetend of onwetend, 'n styl van krisishantering ontwikkel.
Ons moet ook onthou dat 'n aktiewe staat van krisis nie in werklikheid 'n siekte of patologiese toestand is nie. Dit is duidelik 'n realistiese stryd wanneer die werklike omstandighede van die individu in ag geneem word.
Jy sal dus begryp dat 'n pastor wat eenvoudig, empaties, aktief luisterend teenwoordig is, van groot waarde kan wees (sien doelwit 4.4.3.g). Niks kan 'n koelkop en goeie menslike reaksie en aanvoeling vervang nie.
Die doel van krisisberaad is om individue en groepe te help om stabiliteit te herwin en weer georganiseerd te funksioneer.
Dit is baie belangrik dat die berader self moet verstaan wat hy kan doen, voordat hy persone in krisis kan help om te verstaan wat hulle in hul krisis kan doen. Hierdie begrip van wat gedoen kan word, verlaag reeds die intensiteit van die probleem en maak dit vir beide meer hanteerbaar.
Dit is juis nodig om orde te gee aan die ongeorganiseerde atmosfeer van die krisisgebeurtenis. Tydens krisisberaad mik die berader op korttermyn doelwitte naamlik: Die verlaging van die onmiddellike impak van die verskeurende stressvolle gebeure; om die persoon te help om sy selfbeheersing te behou en om nie deur die infektiewe dringendheid oorweldig te word nie. Dit is noodsaaklik omdat die beskikbare energie in enige noodtoestand ekonomies gebruik moet word.
'n Berader moet ook in gedagte hou dat 'n krisistoestand vroeëre konflikte, wat gedeeltelik of volledig opgelos is, kan raak, en dan mag die berader misplaaste of oordrewe response waarneem. In so 'n geval is dit ook die taak van die berader om die huidige krisis op te klaar, die vorige konflik weer te hanteer en die koppeling tussen die twee op te klaar.
Gevare: Sommige mense geniet die opwinding wat met ander se krisisse gepaard gaan. Wanneer mense krisisse meer nodig het as wat die krisisse hulle nodig het, is hulle dikwels geneig om die krisis te verleng eerder as om dit te probeer beëindig. Beraders moet seker maak dat dit nie van hulle waar is nie.
Daar is ook diegene wat hul eie sogenaamde "krisisse" (en atmosfere van krisis) uitermate geniet. Hulle is soos psigopate wat kriminele dade pleeg vir die opwinding en wat nie veel plesier uit gewone gebeure en verhoudings put nie. Om van "krisisse" te leef is 'n plaasvervangende lewe vir hulle. Hierdie persone het 'n unieke probleem wat op sy eie manier hanteer moet word.

Om op te som:
Almal van ons beland vroeër of later in 'n krisis. As dit gebeur dat 'n persoon in so 'n toestand op ons pad kom, is dit 'n baie spesiale geleentheid om hom in sy nood by te staan en om hom te help om sy dagtaak weer met blymoedigheid te kan voortsit. Om van hierdie geleentheid 'n sukses te kan maak, moet ons verstaan wat 'n staat van krisis behels, wat daartoe aanleiding gee en hoe om so 'n persoon te benader. Lees (Matteus 5:7).

4.6.1.d Neem kennis van die koms en werk van die Antichris.

In die Christenwêreld word daar in Christus as Verlosser geglo. Maar daar word daar ook duidelik kennis geneem van die Antichris. Daar word aanvaar dat hy nie net 'n tydsgees sal wees soos sommige wel glo nie, maar dat hy 'n persoon sal wees; 'n persoon wat uit 'n bepaalde anti-Chirstelike tydsgees tevoorskyn sal tree. Die Bybel noem hom die mens van sonde wat in die tempel van God sal sit en voorgee dat hy God is (2 Tessalonisense 2:3; 1 Johannes 2:18).
Die Bybel praat ook van die voorlopers van die Antichris, en noem hulle antichriste. Sulke persone word wêreldwyd gevind. Hulle is leiers op verskillende lewensterreine, wat antichristelik optree om 'n toestand te skep wat Christus algeheel probeer uitskakel. Hier kan byboorbeeld gedink word aan Nero, Napoleon, Hitler, Stalin, maar ook aan ekonomiese leiers, voorlopers in die Satanaanbiddingkultus, die Marxisme, die wêreldwye gelykmakingsmagte ensovoort.
Die naam Antichris dui terselfdertyd ook sy aard en karakter aan. Iemand wat teenoor Christus staan. Die direkte teenbeeld van Christus.
Daar word verwag dat hy 'n geniale persoonlikheid sal wees, die hoogste produk van kulturele ontwikkeling; 'n meester in kuns, organisasievermoë, leierskap; 'n welsprekende persoon wat die massas sal imponeer en verlei.
Johannes, die evangelis, sien hom as 'n dier. Dit wil sê hoewel uiterlik die hoogste produk van kultuurontwikkeling, innerlik die draer van die gees van 'n dier. Dus uiterlik verfynd maar innerlik verdorwe.
'n Mens tree gewoonlik in ooreenstemming met sy karakter op. Waar Christus die koninkryk van die hemel kom stig het, sal die Antichris probeer om 'n aardse koninkryk te stig. Daarom sal hy deur die imperiale idee gelei word en 'n allesomvattende wêreldryk probeer bevorder; 'n ryk waarin die ware godsdiens nie geduld sal word nie. Nasionale grense sal uitgewis word en natuurlike verskeidenheid sal in eenvormigheid geforseer word.
Babilon sal as wêreldstad, sy setel wees. Beide Bybelboeke naamlik Esegiël en Openbaring maak melding van so 'n groot stad waarin die Antichris sy luisterryke residensie sal vestig. Vandaar sal hy ook die ekonomie van die wêreld beheer. Sy regering sal 'n ware skrikbewind wees. Iets van bogenoemde verskynsels word in 'n mindere of meerdere mate vandag reeds verspreid oor die wêreld gevind. Dink aan handelsmonopolieë en boikotte, die drukvermoë van die Verenigde Nasies en ander ondergrondse magte.
Volgens die boek Daniël sal sy regeringsduur drie en 'n half jaar wees (Daniël 4:25; 7:25; 12:11; Openbaring 11:2; 13:5). Hierdie drie en 'n half jaar moet waarskynlik simbolies verstaan word en kan ongeveer die helfte van 'n menseleeftyd duur - min of meer 30-40 jaar.
Die regering van die Antichris sal deur die wederkoms van Christus beëindig word (2 Tessalonisense 2:8). Dit sal vir die Antichris vreeslik wees om in die hande van God te val (Hebreërs 10:31). Die vreeswekkende figuur van die Antichris sal deur die magtige Christus, die uiteindelike en finale Heerser oor die wêreld, vernietig word. Aan Hom is gegee alle mag in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18).
Wêreldwyd word daar vandag geworstel om die begeerde staatsmodel in werking te kry. Daar word onderhandel, gedreig, gestem, staatsgrepe vind plaas, koalisies word gevorm - alles volgens die eie oordeel van wat reg is.
Dieper gesien vind al die bogenoemde pogings plaas teen die agtergrond van die veel groter en intenser stryd tussen die koninkryk van God en die pogings om die ryk van die Antichris wêreldwyd te bevorder.
Hoewel die Christendom en so elke Christen, 'n donker toekoms tegemoetgaan en die druk van die Antichris al hoe feller sal word, skyn daar aan die eindpunt van die menslike bestaan, tog 'n helder lig - die wederkoms van Jesus Christus, die gelowige se Here en Koning. Sy koninkryk duur tot in ewigheid. Ons mag vandag reeds in sy koninkryk deel en in Hom as ons enigste Koning glo en Hom gehoorsaam.

4.6.1.e Verstaan die begrip "godsdiensvryheid" en die praktiese probleme wat daarmee verband hou.

"Godsdiens" kan verwys na die verering, aanbidding van God of 'n god, gesamentlike plegtighede en leerstellings waardeur 'n volk of kerkgenootskap sy God of god vereer, om jou God/god in gehoorsaamheid te dien.
"Vryheid" kan beteken los, ongebonde, ongehinderd, onafhanklik, sonder dwang, onbelemmerd, nie belas met, nie verplig tot, sonder. Vryheid beteken letterlik dat 'n mens aan niks gebonde is nie.
Indien mense hul vryheid op hierdie laaste manier sou uitleef, sou dit op totale wanorde uitloop (sien 3.8.1.c - anargie). Soos 'n vis in die water, word 'n mens se vryheid altyd begrens deur sy eie en sy medemens se beperkte vermoëns en behoeftes. Die hoogste vorm van menslike vryheid is keusevryheid. Dit beteken dat 'n mens altyd so moet kies dat jy later weer vry sal wees om te kan kies (sien doelwit 3.8.1.j).
Godsdiensvryheid: Dit beteken om God/god ongehinderd te vereer/aanbid; om nie verplig te wees tot die verering/aanbidding van God/god nie; om God/god ongehinderd in gehoorsaamheid te kan dien, indien jy dit sou verkies; om nie sonder jou keuse aan G/godsdienstige idees of praktyke onderwerp te word nie; die reg om enige godsdiens in die openbaar te bely en te beoefen.
Menseregte: Vanuit die feit dat die mens se drie basiese regte eintlik verantwoordelikhede is wat deur sy Skepper aan hom opgedra is (sien doelwit 3.8.1.a), kan ons die volgende afleidings maak: Die gehoorsame uitvoering van God se opdrag (skeppingsopdrag) is diens aan God en dus deel van ons godsdiens; godsdiensvryheid is gebaseer op die drie basiese menseregte; dit behels die vryheid om te mag kies om God te dien, onder andere deur die skeppingsopdrag ooreenkomstig God se reëls uit te voer; godsdiensvryheid impliseer gehoorsaam-heidsvryheid; dit impliseer die vryheid om God se opdragte te mag uitvoer.
Regering: Dit is nie die taak van 'n regering om individue te dwing om bepaalde keuses te maak, onder andere oor W/wie, waar, wanneer en hoe hulle moet aanbid of nie moet aanbid nie, G/godsdiens moet beoefen of nie beoefen nie. Dit is wel die taak van 'n regering om die vryheid om te mag kies, en om ooreenkomstig jou keuse te mag optree, daar te stel en te beskerm. Dit geld ook vir G/godsdiens.
Groepsregte versus individuele regte: Op internasionale terrein manifesteer groepsregte hul in die vorm van die beskerming van minderhede. Die regte wat groepe beskerm wil hê, wissel, en sluit ook godsdienstige regte in. In 'n demokratiese bestel, waar die stem van die volk die stem van God word, het minderheidsgroepe altyd 'n probleem om hul regte beskerm te kry, aangesien hulle weinig mag het om uit te oefen. Hulle is uitgelewer aan die goeie guns, of selfs nukke en grille van die meerderheid. As die meerderheid vir of teen 'n bepaalde G/godsdiens kant kies, kan dit gebeur dat so 'n G/godsdiens met belastingbetalersgeld (wat die minderheid se bydrae insluit) deur die staat gepropageer, teengewerk of geneutraliseer kan word.
Individuele regte sal in so 'n bestel waarkynlik slegs beskerm word, indien die individu se keuse met die meerderheid se keuse saamval.
'n Menseregte-akte: Die doel van 'n menseregte-akte is om individuele regte te beskerm. Dit kan egter slegs gebeur indien die grondwet van 'n land wetlik voorsiening maak vir die erkenning van 'n menseregte-akte, en indien die hooggeregshof (of konstitusionele hof) die reg het om wetgewing en uitvoerende administratiewe handelinge aan die menseregte-akte te toets.
Die probleem bly egter dat die meerderheid van die regeringsverteenwoordigers van die meerderheid van die bevolking gewoonlik die reg het om wysigings, wat enige afbreuk kan doen aan die regte verleen in die akte, aan te bring. Hierin het minderhede weereens geen sê nie. As 'n twee-derde meerderheid byvoorbeeld grondwetlik sou geld, sou dit in die praktyk kon beteken dat verteenwoordigers van slegs twee derdes van die bevolking byvoorbeeld die reg en mag sou hê om individuele regte van 'n land te bepaal. 'n Relatief groot gedeelte van die bevolking verbeur so die reg/vryheid om te besluit hoe, waar, wanneer hulle 'n bepaalde G/godsdiens kan beoefen of nie kan te beoefen nie.
Oos-Europese model: In Oos-Europa was daar na bewering altyd sogenaamde godsdiensvryheid toegelaat, solank dit onder die staat se toesig en met sy instemming gepaardgegaan het. Die staat het egter geregistreerde kerke en amptenare vir sy eie doeleindes misbruik (om mag te behou) en ongeregistreerde kerke en predikers as vyande van die staat vervolg. Die staat het in die praktyk ook die propagering van 'n godsdiens verbied, met die gevolg dat selfs ouers nie die evangelie aan hul kinders kon verkondig nie. Terselfdertyd is die bevolking aan aktiewe ateïstiese propaganda blootgestel.
Amerikaanse model: Die Amerikaanse grondwet lees dat die Kongres en die state "geen wet sal maak met betrekking tot die totstandkoming van 'n godsdiens of om die vrye beoefening daarvan te verbied nie." As gevolg van die huidige Hooggeregshof se interpretasie van die wet (naamlik dat die regering niks mag doen om 'n sekere geloof of godsdiens in die algemeen te bevorder nie) word God uit die openbare oog van Amerika "verban". Die geskil gaan dus nie soseer oor wat die mense moet glo nie, maar hoe, waar en teenoor wie hulle oor godsdiens mag praat.
Dit kom neer op 'n botsing tussen regte en verantwoordelikhede. Dit is soos 'n heilige oorlog tussen die "separatiste" en die "akkomodeerders". Eersgenoemde voer aan dat kerk en staat duidelik afsonderlik moet bly. Die regering mag nie die een of ander geloof, of geloof in die algemeen ondersteun nie. Hulle is bekommerd dat die staat se betrokkenheid sal aanleiding gee tot lewelose kerke. Hulle vrees dat die politici sal probeer om 'n skadelose soort sekulêre staatsgodsdiens daar te stel. Hulle vrees ook dat daar druk op ander kleiner gelowe en ateïste geplaas kan word om te konformeer, en dat hul regte sodoende aangetas mag word. Laasgenoemde voer aan dat deur God van die openbare lewe te isoleer, die howe vryheid van geloof vervang het met vryheid sonder geloof en dat gelowiges op stuk van sake uitgesluit word - dat geloof aanvaarbaar is solank dit nie in die openbaar beoefen word nie.
Vrye beoefening van godsdiens en geen staatsbevoordeling van godsdiens is dus twee beginsels in die Amerikaanse grondwet wat nie op gelyke voet gehandhaaf kan word nie.
Konklusie: Daar is godsdiensvryheid in 'n land indien individue en groepe God/god ongehinderd in gehoorsaamheid kan dien indien hulle dit sou verkies, en indien niemand sonder sy/haar keuse aan G/godsdienstige idees of praktyke onderwerp word nie.
Gespreksvrae: Gestel ons leef op 'n eiland met 70 inwoners. Daar bly 7 groepe mense op die eiland met 10 mense in elke groep en daarom is dit in 7 streke verdeel. Die eiland het 2 politieke partye, naamlik party A en party B. Elke party stel een kandidaat per streek beskikbaar in 'n algemene verkiesing vir 'n nuwe regering. Party A wen 'n volstrekte meerderheid van stemme (6 teen 4) in streke 1-4. Party B wen 'n volstrekte meerderheid van die stemme (6 teen 4) in streke 5-7.
Die beleid van party A sluit die volgende in: "Party A glo dat Islam die enigste ware godsdiens is. As hierdie party regeer sal die Islam geloof in alle staatskole gepropageer word. Alle ander godsdienste sal verdra word. Dit sal nie deur die staat ondersteun of verhinder word nie."
Die beleid van party B sluit die volgende in: "Party B glo dat geen wet gemaak behoort te word met betrekking tot die totstandkoming van 'n godsdiens of om die vrye beoefening daarvan te verbied nie."
Watter party gaan die nuwe regering vorm? Hoeveel verteenwoordigers het party A in die parlement, en hoeveel mense word deur hulle verteenwoordig? Hoeveel verteenwoordigers het party B in die parlement, en hoeveel mense word deur hulle verteenwoordig? Vir watter party sal jy stem, en waarom? Wat is die taak van 'n regering? Is godsdiensvryheid die reg van die individu? Kan godsdiensvryheid as individuele reg in 'n akte van menseregte verskans word? Kan die staat 'n bepaalde godsdiens op sy burgers af forseer? Kan 'n staat sy burgers verbied om 'n bepaalde godsdiens in die openbaar te beoefen?

4.6.1.f Besit 'n diepgaande kennis omtrent die kommunikering van die evangelie aan ongelowiges.

Lees doelwit 1.1.1.c en maak daarna 'n diepgaande studie van die meegaande Skrifgedeeltes. Vra 'n Christen vriend om jou kennis te toets deur middel van rollespel:
Die opdrag: Esegiël 33:7,8; Matteus 5:13-16; 28:18-20; Handelinge 1:8. Medelye: 'n Onsterflike siel is prysloos vir God. Tog bring God die siele van verlore sondaars uit hul verlorenheid terug teen 'n prys - sy enigste Seun Jesus Christus. Satan haat elke siel en alles wat hy doen is daarop gemik om die siele van mense te ruïneer. Medelye was die hartklop van ons Verlosser se bediening - Psalm 86:15; Matteus 9:36. Die hemel is ingestel op verlossing - Psalm 126:5,6; Lukas 15:7; 16:28.
Besorgdheid: Het ek 'n verantwoordelikheid teenoor ander? - Genesis 4:9; Esegiël 22:30; 34:6; Psalm 106:23; Jesaja 58:10; Lukas 19:41; Handelinge 20:31; Romeine 9:1-3.
Voorbidding is die sleutel tot die terugwinning van siele: Jesaja 53:12; Matteus 9:38. Die wyse persoon wen siele: Spreuke 11:30; Daniël 12:3. Persoonlike kontak: Matteus 4:19; Lukas 19:10; Johannes 1:41,42. Liefde vir Christus lei tot liefde vir mense: 2 Timoteus 2:15.
Leef die boodskap: 1 Korintiërs 4:9. Wees lief vir mense: Openbaring 22:17. Kom mense tegemoet: 1 Korintiërs 9:22; Efesiërs 4:32. Let op na behoefte, want dit bied 'n aanknopingspunt: Markus 2:17. Kommun-i-keer: Johannes 4:20, 25,26. Konsentreer op Christus: Johannes 3:30; 12:32. Wees taktvol: Jakobus 1:5. Bring die persoon tot 'n besluit: Johannes 16:8; Jakobus 4:2.
Leer hom om na God te luister deur 'n Skrifgedeelte aan hom te gee wat op hom van toepassing is: Job 22:21; Johannes 5:24. Maak dit baie duidelik dat "om God te ken" heeltemal verskil van "om van God te weet": Johannes 10:4,5; Jakobus 4:8.

Bestudeer ook die volgende verskonings:

"Ek wil eers my besigheid vestig. Daarna sal ek 'n Christen word." (Psalm 1:1,2; Spreuke 29:25; Matteus 6:33; Markus 8:36; 10:29,30; Lukas 12:20). "Ek is nie 'n sondaar nie." (Matteus 22:37; Romeine 3:10; Galasiërs 3:22; 1 Johannes 1:8,10).
"Ek het geen gevoel nie." (Johannes 3:36; Efesiërs 1:13; 1 Petrus 1:8; Openbaring 3:20. "Ek is so swak." Jesaja 26:3,4; 41:10, 13,14; 1 Korintiërs 10:13; Filippense 1:6; 2 Timoteus 1"12; Judas 24.
"Ek is 'n te groot sondaar." (Jesaja 1:18; Matteus 9:13; Lukas 19:10; 23:39-43; Johannes 6:37; Romeine 5:6-8; 1 Timoteus 1:5; Hebreërs 7:25. "Daar is te veel skynheiliges in die kerk." (1 Samuel 16:7; Sagaria 13:6; Matteus 7:1-5; Handelinge 1:6; 17:30,31; Romeine 2:1-6; 14:12; Hebreërs 12:2). "n Christen het my benadeel." (Johannes 3:36).
"Daar is te veel om op te gee." (Psalm 16:11; 84:11; Spreuke 3:17; 13:15; Jesaja 57:21; Matteus 11:30; Markus 8:36,37; Lukas 18:29,30; Romeine 8:32.
"Ek verstaan nie." (Romeine 11:33; 1 Korintiërs 1:8; 2:14). "Die mense sal lag." (Spreuke 1:26; 4:14-19; Matteus 10:32,33). "Nie nou nie!" (Spreuke 27:1; 29:1; Jesaja 55:6; 2 Korintiërs 6:2; Hebreërs 2:3).
"Ek dink jy maak 'n te groot saak hiervan." (Matteus 16:26; Lukas 12:20; Romeine 5:8; Galasiërs 6:7; Hebreërs 9:27; Openbaring 3:20).
"Ek sal my geluk waag." (Jesaja 55:11; Daniël 4:17,35; Matteus 22:12,13; Johannes 5:27-29). "Ek wil nie graag my vriende verloor nie." (Matteus 19:29; Lukas 15:14-16; Johannes 1:45; 15:15; Jakobus 4:4).
"Ek gaan hierdie lewe geniet. Die lewe hierna moet maar vir homself sorg." (Prediker 11:9; Lukas 12:15; 16:25). "Moenie met my daaroor praat nie." (Jeremia 1:17; Esegiël 3:11; 2 Korintiërs 2:15,16).
"Ek is my eie baas." (Spreuke 14:12; Matteus 7:13,14). "Ek is skepties oor die hele saak." (Psalm 34:8; Johannes 8:47; Romeine 1:25,28; 2 Tessalonisense 2:10,12). "Ek wil heeltemal neutraal hieromtrent wees." (Matteus 12:30; Johannes 6:48; 8:12).
"God is te goed om enigiemand verlore te laat gaan." (Psalm 1:5,6; Johannes 12:48; Romeine 2:5; 2 Petrus 3:9). "Hoe rym die leerstelling oor die hel met die God van verlossing?" (Jesaja 5:14-16; Esegiël 18:23; Matteus 10:28; 23:33; 25:41,46; Lukas 16:25; Handelinge 1:25; 2 Petrus 3:9).
"Ek is godsdienstig." (Matteus 7:22,23; Markus 10:17-27; Handelinge 11:14; Galasiërs 1:14; Filippense 3:6; 1 Timoteus 1:13,15). "Ek probeer om 'n Christen te wees." (Jesaja 12:2; 64:6; Romeine 4:3,5; Efesiërs 2:9; Jakobus 2:10).
"Wat is sonde?" (Johannes 16:8,9; Romeine 3:23; 14:23; 1 Johannes 3:10; 5:17; Jakobus 4:17). "Ek het nie baie sonde nie en is daarom nie bekommerd nie." (Jesaja 48:22; 59:2; Johannes 8:34; Romeine 6:23; 1 Korintiërs 6:9). "Miskien word ek gestraf, maar nie vir ewig nie." (Matteus 25:41; Johannes 5:28,29; Openbaring 20:13-15). "Ek is nou al te oud om 'n Christen te word." (Deuteronomium 4:29-31; 2 Korintiërs 6:2).
"Ek dink nie ek is oud genoeg om 'n besluit te neem nie." (2 Samuel 19:35; Prediker 12:1; Hebreërs 3:13). "Ek beplan om 'n Christen te word voordat ek sterf." (Job 34:20; Spreuke 29:1; Jesaja 55:6; Jakobus 4:13-17).
"Ek is bang ek kan nie daarmee volhou nie." (Johannes 10:11-14; 2 Korintiërs 12:9; Filippense 1:6; Tessalonisense 5:24; 2 Timoteus 1:12). "Ek is bang ek word vervolg." (Markus 8:38; Lukas 6:22,23; Romeine 8:18; 2 Timoteus 2:12; Hebreërs 12:2; Openbaring 21:8).
"Ek dink Jesus is net een van die groot historiese figure." (Matteus 26:63-65; Lukas 2:34; Johannes 4:42; 7:17; 8:46; Handelinge 2:24; Filippense 2:6).
"Waarom laat God die slegte in hierdie wêreld toe?" (Deuteronomium 30:19; Johannes 14:6; Romeine 6:14). "Daar is soveel lyding." (Genesis 1:31; Job 4:8; Jesaja 65:20; Romeine 6:23).
"Moet ek in die openbaar my geloof bely?" (Matteus 10:32,33; Markus 8:38; Lukas 12:8; Johannes 12:42,43; Romeine 10:10). "Ek kan nie met my sondes breek nie." (Lukas 13:3; Johannes 8:36; Galasiërs 6:8; Filippense 4:13; Hebreërs 7:25; Openbaring 21:8).
"Ek sien geen fout met wêreldse plesier nie." (1 Korintiërs 3:17; 6:12,19; 10:31; 2 Korintiërs 6:17; Kolossense 3:17; 2 Timoteus 2:4; Titus 1:16).
"Ek is nie goed genoeg om 'n Christen te wees nie." (Jesaja 41:13; Lukas 15:20-24; 18:10-14; Romeine 4:5). "Ek is bang Christus sal my nie wil hê nie." (Lukas 15:2; Johannes 6:37; Romeine 10:13; Openbaring 22:17).
"Ek het al voorheen probeer en het misluk." (Matteus 26:41; Lukas 11:24-26; Handelinge 17:11; Romeine 12:1; Hebreërs 10:25; 1 Petrus 2:2).
"Ek dink ek het die onvergeeflike sonde gedoen." (Jesaja 55:7; Psalm 32:5; Matteus 12:31,32; Markus 3:29; Lukas 23:43; Johannes 4:18; Handelinge 10:43; 13:39; 1 Korintiërs 6:9-11; Efesiërs 4:19; 1 Timoteus 1:13,15,16; 1 Johannes 5:16).
“Sal selfmoord nie die beste uitweg weg van my probleme wees nie? (Job 15:20; Matteus 6:33; Romeine 14:12; 2 Korintiërs 5:17; 1 Johannes 1:9). "Ek soek, maar kan Christus nie vind nie." (Jeremia 29:13; Handelinge 17:27,28; Romeine 10:6-11).
"Ek is skaam om na Christus te kom." (Matteus 9:12,13; Romeine 5:6-8). "Ek kan nie my vyande vergewe nie." (Matteus 6:14,15; 19:26; 2 Korintiërs 9:8; 12:9).
"Ek wil graag gered word, maar ek kan nie glo nie." (Johannes 1:12,13; 5:24; Handelinge 16:31; Romeine 5:1; Efesiërs 2:8).
"Daar is kontradiksies en inkonsekwenthede in die Bybel." (Jesaja 55:8,9; Daniël 12:10; 1 Korintiërs 2:14; 2 Petrus 3:16-18). "Hoe kan ek weet dat daar 'n God is?" (Psalm 8:3; 33:6; Romeine 1:19).
"Waarom het ek die bloed van Christus nodig?" (Levitikus 17:11; Matteus 26:28; Romeine 5:9,10; Hebreërs 9:22; 1 Petrus 1:18,19). "Waarom moet ek die Bybel as finale gesag aanvaar?" (Markus 13:31; Romeine 3:3,4; 2 Timoteus 3:16).

4.6.1.g Besit 'n deeglike kennis oor die beloftes van God.

Bestudeer die meegaande Skrifgedeeltes oor die beloftes van God:
Faal nooit (Josua 23:5-15; 1 Konings 8:56). Gerugsteun deur 'n eed van God (Hebreërs 6:12-20). Word op tyd vervul (Handelinge 7:6,17; Galasiërs 4:4). Gemaak aan Israel (Romeine 9:4). Bevestig deur Christus (Romeine 15:8). Sentreer rondom Christus (2 Korintiërs 1:20; 2 Timoteus 1:1). Gaan in vervulling deur geloof (Romeine 4:20,21; Hebreërs 11:13-40). Is groots (2 Petrus 1:4). Word nie onnodig vertraag nie (2 Petrus 3:4-13). Heilige Gees (Lukas 24:49). Verlossing (Hande-linge 2:39). Koninkryk (Jakobus 2:5). Ewige Lewe (Titus 1:2; Johannes 17:2,3). Kroon van die lewe (Jakobus 1:12). Nuwe Aarde (2 Petrus 3:13). Toegang tot God (Romeine 5:2). Christus se voorspraak (Hebreërs 7:25,26). Groei (1 Petrus 2:2). Voorspraak deur die Gees (Romeine 8:16,17). Kinders (Hebreërs 2:10-14). Burgerskap van God se koninkryk (1 Korintiërs 6:9-11). Naam geskryf in die Boek van die Lewe (Openbaring 20:15). Deelgenote in die Goddelike natuur (2 Petrus 1:4). Versoening met God (Romeine 5:10). Ly saam met Christus (Handelinge 5:41). Oor beproewinge kom (1 Petrus 1:6-8). Lewe van oorwinning (Romeine 8:37-39). Sal uit die dood opgewek word (Johannes 6:40.

4.6.1.h Ken die belangrikste nie-Christelike en okkultiese godsdienste.

Bestudeer die volgende:

Jehowa Getuies:
Charles Taze Russell staan bekend as die stigter van die Jehowa Getuies. Hy is op 16 Februarie 1852 gebore. Hy stig die "Zion's Watch Tower" tydskrif in 1879, wat vandag bekend staan as "The Watch Tower Announcing Jehovah's Kingdom". In 1894 inkorporeer hy die "Zion's Watch Tower Tract Society" hierby, wat tussen 1886 en 1917 onder andere sewe boeke publiseer. Die sewende boek word na Russel se dood in Oktober 1916 ("The Finished Mystery") gepubliseer en veroorsaak 'n skeuring in die organisasie. Die groter groep volg 'n sekere J.F. Rutherford en die kleiner groep bly onafhanklik en word "The Dawn Bible Students Association." Onder Rutherford se leiding word die organisasie bekend as die "Jehovah's Witnesses."
Hulle glo onder andere nie in die Drie-eenheid van God nie; dat Jesus Christus God se eerste skepsel is en nie self God nie; dat die Heilige Gees nie God of 'n Persoon is nie maar 'n aktiewe krag; dat onsterflikheid 'n beloning is vir hulle wat Jesus getrou volg; dat Jesus as 'n gees uit die dood opgewek is; dat daar nie 'n hel is waar sondaars tot in ewigheid gestraf word nie; dat die mens nie 'n onsterflike siel het nie; dat net 144,000 getroue volgelinge van Jesus 'n aandeel sal kry in die Koninkryk van God; dat hulle wat opstandig of ontrou word aan die einde van duisend jaar waarin Jesus op hierdie aarde sal regeer, saam met die Satan genihileer sal word.

"Christian Science":
Mary Eddy (gebore Baker - 1821) was emosioneel onstabiel en is twee keer geskei. As die weduwee van haar derde man Asa G. Eddy publiseer sy in 1875 een van haar boeke genaamd "Science and Health", wat haar die moeder van "Christian Science" maak. Groot dele van hierdie boek is plagiaat uit werke van 'n sekere Dr. Phineas Parkhurst Quimby. Sy maak daarop aanspraak dat sy slegs dit wat God Almagtig gespreek het, gekopieer het. Sy beskou haarself as 'n gelyke en verkose opvolger van Christus.
"Christian Science" verwerp dele van die Bybel as leuens (Genesis 2:7); verwerp die Drie-eenheid asof dit drie gode veronderstel; aanvaar dat Jesus Christus na sy mensheid nie God was nie, maar dat die geestelike Christus onfeilbaar was; aanvaar dat God alles is en dat die eindelose siel/verstand/geestelike mens God is, die goddelike beginsel van alles wat is; glo dat die bloed van Christus wat aan die kruis gevloei het nie meer effektief ten opsigte van die reiniging van sondes was as sonder die kruisiging nie; glo dat Christus nie gesterf het nie maar in die graf versteek is; dat Hy, as vergoeding vir sy getrouheid in materiële sin verdwyn het en dat hierdie verdwyning bekend staan as sy hemelvaart; omdat God alles is, is daar geen ruimte vir sy teenoorgestelde naamlik die slegte nie, en daarom bestaan die kwaad nie werklik nie; dat die sondaar sy eie hel skep deur kwaad te doen, en die heilige sy eie hemel deur reg te doen; dat hemel harmonie is, die atmosfeer van die siel; glo dat die mens, as God se idee, reeds vir ewig verlos is; glo dat die mens God se beeld is, en dat alles wat vir God moontlik is ook vir die mens moontlik is; ook die dood word as 'n illusie afgemaak; glo dat geen materie bestaan nie.

Mormonisme ("Latter Day Saints"):
Die mormone word in twee groepe verdeel. "The Church of Jesus Christ of Latter Day Saints" met sy hoofkwartier in Salt Lake City, Utah, en "The Reorganised Church of Jesus Christ of Latter Day Saints" met sy hoofkwartier in Independence, Missouri.
Joseph Smith Jr. (gebore 23 Desember 1805) het beweer dat God die Vader en God die Seun in 1820 aan hom verskyn het en bekendgemaak het dat hy gekies is om die ware Christendom te herstel. Hy beweer dat hy in 1827 sekere goue plate ontvang het waarop die boek van Mormon in Egiptiese hierogliewe geskryf was en deur hom vertaal is met behulp van 'n wonderlike bril. Hy en sy broer word gearresteer op aanklag van veelwywery en op 27 Junie 1844 word hulle in die tronk vermoor deur 'n massa wat die tronk bestorm het. Hy word opgevolg deur Brigham Young.
Behalwe vir die King James vertaling van die Bybel, aanvaar die Mormone ook "Doctrine and Covenants", "The Pearl of Great Price" en "The Book of Mormon" as die Woord van God. Hulle glo dat die Bybel die Boek van Mormon voorspel en dat laasgenoemde die Ou Testamentiese profesieë interpreteer en deel is van die nuwe verbond.
Mormonisme is politeïsties (die heelal word bewoon deur verskillende gode wat geestelike kinders voortbring en wat beklee is met liggame op verskillende planete). Hulle glo dat God eers was soos ons mense nou is en dat mense kan word soos God nou is.
Hulle beskou die Christus waarna hulle verwys as die geestesbroer van Lucifer. Hulle glo in drie hemele. Die eerste is vir heidene, die tweede vir nie-Mormoonse Christene en die derde vir Mormone. In hierdie hemel is daar geleentheid om 'n god te word en oor 'n planeet te regeer.

Spiritisme:
Dit is 'n eeu-oue religie wat daarop aanspraak maak dat dit toegang en kontak met en informasie van wesens anderkant die graf bied. Moderne Spiritisme het sy ontstaan te danke aan Kate en Margaret Fox in 1848 in Hydesville, New York. Hulle het snaakse geluide in die bokamers en kelder van hulle huis gehoor, en was uitermate sensitief vir hierdie geluide. As gevolg van hierdie sensitiwiteit ontwikkel hulle in mediums. Hulle kommunikasies met demone wat hulleself voordoen as afgestorwenes staan bekend as die "Rochester Rappings".
Spiritisme leer die kontinuiteit van lewe en die ewige vooruitgang van die mens na perfeksie in die geesteswêreld.

Theosofiese Vereniging:
Helena Blavatsky bestudeer mistiese religieë in Tibet, Indië, Egipte, Kuba, Kanada, en stig die Theosofiese vereniging in New York in 1875. Daar word beweer dat "Meesters" (Mahatmas - gevorderde reïnkarnasies) as goddelike wesens Helena Blavatsky se dienste gebruik het om die geslagte wat nou op die aarde woon met die waarhede van die groot religieë van die wêreld (wat deur die mensheid bederf is) te bereik. Sy skryf onder andere "The Secret Doctrine".
Dit is 'n panteïstiese (God is deel van die skepping) religie wat probeer om religieuse, filosofiese en wetenskaplike waarhede te omarm as 'n vereniger en vredemaker tussen religieë. Dit wil 'n kern vorm van die universele broederskap van die mensdom en alle godsdienste, sonder onderskeid tussen ras, geslag, of stand.
Hulle glo dat niks bestaan behalwe God nie, en dat die mensheid 'n fase van die wese van God is. Die heelal bestaan volgens hulle uit sewe vlakke. Die fisiese is die digste van hierdie vlakke. Daar is onder andere ook die Astrale- en Geestesvlakke. Die mens het 'n fisieke-, geestes- en astrale liggaam. Op hierdie stadium van kosmiese ontwikkeling wag die hoër liggame nog op organisering. Die siele van mense moet deur al sewe die vlakke vooruitgaan op weg na hulle "hemel" (Devachan). Hulle glo ook in 'n tussenfase (Kamaloka) waar die ontslape siele lyding ervaar vir hul vorige sondes, terwyl hulle wag op reïnkarnasie in 'n nuwe liggaam. Deur eindelose reïnkarnasies kan hulle vooruitgaan na Devachan. Alle mense word, met verloop van tyd, "christusse".

Zen Buddisme:
“Zen" het sy oorsprong in die Japanese vertakking van die "meditasie" skool van die Budistiese filosofie wat in die sewende eeu nC. uit China na Japan oorgewaai het. "Zen" is, volgens skrywers, die mees irrasionele en onverstaanbare van alle dinge. Dit leer niks. Watter leerstellinge daar ookal in "Zen" is, ontspring uit die aanhanger daarvan se eie gedagtes. Die doel van "Zen" is om die denke self te dissiplineer, te bemeester en insig in die ware natuur daarvan te verkry. Daar word 'n volkome geloof in die mens se eie innerlike wese gestel. Die aanhanger van "Zen" skep sy eie lewensreëls. God word volgens hierdie religie in die mens self gevind. Daar is geen bonatuurlike tussenkoms nie. Die mens dra die volle verantwoordelikheid van sy eie dade en niks het die reg om inbraak op sy vrye wil te maak nie. Al wat werklik belangrik is, is liefde vir die self en daarom om onsself te ken. Met die moment van 'n mens se groot Ontwaking (Awakening) ontdek hy sy oorspronklike onskeidbaarheid van die heelal, en sal hy sê: "Ek is die weg". Bewusteloosheid is die uiterste Realiteit.

Hindoeïsme:
Hindoeïsme is al 'n ensiklopedie van alle religieë genoem omdat dit die indruk skep van 'n versameling van oorvleuelende religieë. Dit het uit 'n groot verskeidenheid godsdienste en filosofiese stelsels ontwikkel. Verskeie weë om tot God te nader word aanvaar en word verteenwoordig deur 'n oneindige getal gode (waarvan die bekendste Siva, Vishnu, Brahma, Durga, Kali en Shakti is).
Hindoes glo onder andere dat elke daad van 'n mens morele betekenis het wat sy toekomstige inkarnasies beïnvloed. Die hele kosmos word deur hierdie een wet (karma) gedomineer. Daarom leef almal onder omstandighede wat verband hou met die meriete van hul vorige dade. Wanneer die goeie persoon ongeluk ervaar, betaal hy vir misdade gepleeg in 'n vorige lewe. Wanneer 'n slegte persoon goeie dinge ervaar, pluk hy nog die vrugte van 'n vorige goeie lewe. Die lewensproses is sonder begin en sonder end. Verlossing beteken vir hulle die vrywording (moksa) van hierdie ewige kringloop (samsara).
Hindoeïsme sluit 'n groot hoeveelheid kultiese handelinge (wassinge, offers, feeste, heilige dae, optogte, vuurlope, ensovoort) in om gode te vereer en bose geeste te verdrywe. Vir hindoes speel die hemelliggame en die posisies wat hulle inneem (Astrologie) 'n belangrike rol in die lewe en lotsbepaling van mense.
Die Joga-sisteem skrywe 'n sekere dissiplinering voor om die mens te help om "moksa" te bereik. Daar is verskeie Joga-skole (Karma-, Jnana-, Mantra-, Bhakti-, Hatha- en Raja-Joga). Raja-Joga wil die ander Joga-sisteme verenig. Hierdie sisteem sluit agt stappe in (selfbeheersing, eerbiediging van sekere voorskrifte, liggaams-oefeninge, kontrole oor asemhaling, onttrekking van die wêreld, konsentrasie, meditasie en 'n stadium waarin die mens nie meer van homself bewus is nie, genaamd "samadhi".

Islam:
Islam is 'n wettiese godsdiens waarin 'n reeks dwingende wette vervat is. Moslems glo dat alles wat in die Koran geskryf staan berus op direkte openbaring van God aan Mohammed deur 'n proses van meganiese inspirasie oor 'n tydperk van 20-25 jaar.
Die Islam bestaan uit dit wat geglo (Din) en dit wat gedoen (Fiqh) moet word. Dit wat geglo moet word is eenvoudig. Die geloofsartikels is saamgevat in die kort belydenis: "Daar is geen God behalwe Allah nie en Mohammed is sy profeet". Baie aandag word gegee aan die praktiese seremoniële pligte wat uitgevoer moet word.
Hulle glo dat niks in die wêreld gebeur sonder die gebod, wil en krag van Allah nie. Hy gebied die goeie en kwade, geloof en ongeloof, redding en verdoemenis. Selfs willekeurige dade van die mens is die resultaat van God se krag. Hulle glo ook dat Mohammed die uitnemendste van alle profete is (Christus was ook 'n profeet volgens hulle), asook van alles wat geskape is.
Baie aandag word gegee aan die praktiese seremoniële pligte wat uitgevoer moet word. Die belangrikste godsdienstige pligte word die vyf pilare van Islam genoem. Dit behels die opsê van die kort belydenis (Kalam), seremoniële pliggebede (gedeeltes van die Koran wat opgesê word), die gee van aalmoese ('n wettiese belasting wat jaarliks betaal word), vas (algehele onthouding bedags gedurende die maand Ramadan van voedsel, drank en geslagtelike verkeer) en 'n pelgrimstog na Mekka ten minste eenmaal in 'n Moslem se lewe.
Moslems glo ook in die heilige oorlog wat gevoer moet word teen alle ongelowiges, om hulle vir die Islam te wen of uit te roei totdat Islam oor die hele wêreld heers.

4.6.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.6.2.a Is daarvan oortuig dat getuienis 'n belangrike verant-woordelikheid en voorreg is.

Kyk weer na doelwit 2.6.1.d. Ervaar jy die getuienis opdrag ook as jou persoonlike verantwoordelikheid en voorreg? Spreek jou vrese en vertwyfelinge in die verband teenoor God uit. Kyk ook weer na die inhoud van doelwit 5.7.1.b, Afdeling 1, Module 1. Bid dat God hierdie gesindheid in jou sal werk en versterk.

4.6.2.b Is diep onder die indruk van jou totale afhanklikheid van God.

Kyk weer na doelwit 3.6.2.a. Hoe beleef jy jou verhouding met God? Voel jy nooit, soms, dikwels of deurgaans werklik totaal afhanklik van God? In watter mate kan jy die evangelie op jou eie verdedig? Weet jy wat God se verantwoordelikhede en wat jou eie verantwoordelikhede in die getuienishandeling teenoor ongelowiges is?
Lees Romeine 11:33-36 biddend. Vra dat God jou tenvolle afhanklik van Homself sal maak.

4.6.2.c Is sensitief vir die fisieke-, sosiale-, emosionele-, en godsdienstige behoeftes van nie-Christene.

Is jy sensitief vir die behoeftes van ongelowiges? Toets jouself deur die behoeftes van 'n paar ongelowiges wat jy ken op te noem. Onthou, die behoeftes van ongelowiges kan as aanknopingspunt dien om hulle met die evangelie van Jesus Christus te bedien.
Wees versigtig om nie jou eie behoeftes op ander te projekteer nie, maar om fyn op te let na hulle reaksies, en te luister na emosies wat in hulle gesprekke verraai word. So lê mense hulle swakhede bloot, en vra soms hulp van die gewillige en beskikbare luisteraar. Onderstreep die gebod om jou naaste so lief soos jouself te hê (Lukas 10:27). Bid dat God hierdie sensitiwiteit in jou sal werk en versterk.

4.6.2.d Ervaar 'n gesindheid van barmhartigheid en die begeerte om mense in krisis by te staan in hulle nood en om hulle te help om hulle dagtaak weer met blymoedigheid te kan voortsit.

Hoe ervaar jy mense in krisis (sien doelwit 4.6.1.c)? Is jy geneig om hulle te probeer vermy? Watter emosies ervaar jy wanneer jy iemand in krisis sien? Ervaar jy vrees dat dieselfde dinge wat ander persone se lewe in krisis dompel ook met jou sal gebeur? Dit sal help om hierdie vrese tydens gebed in die hand van God oor te gee.
Iemand in krisis mag verskeie behoeftes hê en jy moet daarop ingestel wees. Dit kan jou help om binne jou vermoë meer doelgerig van hulp te wees. Bid dat God hierdie gesindheid en begeerte in jou lewe sal werk en versterk.

4.6.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.6.3.a Maak van geleenthede gebruik om die beloftes van God met ongelowiges te deel en neem inisiatief om gesprekke met ongelowiges te voer oor Christus.

Lees weer die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou (Johannes 4) en 1 Korintiërs 2:1-5 deur. Skakel by jou gemeente se sending- of evangelisasieaksie in, of inisieer so 'n aksie in samewerking met jou leraar.
Konsentreer op die behoeftes van gespreksgenote wanneer die geleenthede hulle voordoen by die werk of op ander lewensterreine, en bring dan die ter sake beloftes van God in sulke gesprekke ter sprake.
Berei jouself, na aanleiding van spesifieke gesprekke, tuis voor en volg sulke gesprekke op deur ter sake beloftes van God aan gespreksgenote bekend te maak.

4.6.3.b Stel jou Christelike standpunt teenoor leerstellings en praktyke voortvloeiend uit nie-Christelike en okkultiese godsdienste.

Oefen jouself in gesprekke met persone van nie-Christelike en okkultiese godsdienste (sien doelwit 4.6.1.h) deur rollespel. Vra 'n Christen vriend om die rol van die nie-Christen te vertolk. Gebruik die geleentheid om die gesprek te inisieer. Voer die gesprek vir 'n paar minute en bespreek dan julle ervarings van mekaar se benadering met mekaar. Oefen jouself op hierdie wyse in gesprekke met al die nie-Christelike en okkultiese godsdienste wat in doelwit 4.6.1.h behandel is.
Maak 'n realistiese situasie evaluering, en besluit dan biddend om op lede van een van die godsdienste te konsentreer. Inisieer gesprekke met persone van hierdie godsdiens. Onthou om die persoon se behoeftes as invalshoek te gebruik. Bespreek jou ervaring na elke gesprek met 'n Christen vriend, en bid saam met hom vir die persoon en vir jouself. Dank God vir die geleentheid om die Woord uit te dra en vir die geleentheid wat daardeur ontstaan om self geestelik te groei.

4.6.3.c Voer krisisberading met persone in krisis wanneer nodig.

Oefen jouself in krisisberaad deur rollespel (sien doelwit 4.6.1.c). Laat jou Christen vriend die rol van die persoon in krisis vertolk en gebruik die geleentheid om die gesprek te inisieer. Voer die gesprek vir 'n paar minute en bespreek dan julle ervarings van mekaar se benadering met mekaar.
Hou jou oë oop vir mense in krisis wat jou pad kruis, en neem vrymoedigheid om krisisberading met so 'n persoon te doen, met die doel om hom te help om sy dagtaak weer met blymoedigheid voort te sit. Bespreek jou ervarings na elke gesprek met God, en bid vir die persoon en vir jouself. Dank God vir die geleentheid om die Woord uit te dra en vir die geleentheid wat daardeur ontstaan om self geestelik te groei.


4.7 GROEIAREA: BEDIENING

INHOUD

4.7.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken die basiese Bybelse beginsels vir dissipelskap.
b. Verstaan basiese leierskap-beginsels gebaseer op die gesindheid van Christus.
c. Weet hoe om hierdie geestelike groeiprogram te gebruik as persoonlike dissipelmaker.

4.7.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Is minder selfsugtig en meer bereid om ontberinge te verduur ter wille van jou bediening.
b. Besit 'n groeiende behoefte om ander te lei in hulle geestelike groei.

4.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Lei 'n nuwe Christen deur die geboortesorg fase van hierdie geestelike groeiprogram en begin om hom op 'n persoonlike wyse in sy geestelike groei te begelei.
b. Rus jouself verder toe vir diens in die bedieningsareas waartoe God jou geroep het.


4.7.1 Kennisdoelwitte:

4.7.1.a Ken die basiese Bybelse beginsels vir dissipelskap.

Bestudeer die basiese Bybelse beginsels vir dissipelskap aan die hand van die meegaande Skrifgedeeltes:
'n Dissipel van Christus is gehoorsaam (Matteus 7:21; Markus 8:34; Lukas 6:46; Johannes 14:15); getrou (Johannes 15:8); volhardend (Johannes 8:31); liefdevol (Johannes 13:35); nederig (Matteus 10:24,25); totaal oorgegee (Lukas 14:26,33; 16:13); iemand wat die kruis opgeneem het (Matteus 16:24,25); 'n gestuurde van Christus (Matteus 28:18-20; Markus 3:13,14); word erken deur Christus (Matteus 12:49,50); se denke word deur Christus verlig (Johannes 8:12); word deur die Heilige Gees gelei (Johannes 16:13); word deur die Vader geëer (Johannes 12:26); leer deur die voorbeeld van Christus (Lukas 11:1-13; Johannes 13:15; 1 Korintiërs 11:1; Filippense 3:17; 4:9; 2 Tessalonisense 3:9); word met die Groot Opdrag toevertrou (Matteus 4:17-19; Lukas 6:12,13; Handelinge 6:5; 2 Timoteus 2:2); is geroep om te dien (Matteus 10:8; Markus 1:17; Lukas 10:1-20); is geroep om te ly (Matteus 10:17,21; Handelinge 8:1; Filippense 1:29); is geroep om ander dissipels te maak (Matteus 28:19,20; 2 Timoteus 2:2).

4.7.1.b Verstaan basiese leierskap-beginsels gebaseer op die gesindheid van Christus.

Lees eers Markus 10:42-45, Johannes 13:4-17 en Filippense 2:1-11 deur en bestudeer dan die volgende:
Wanneer Christus leiding gee, fokus Hy op individue (Johannes 21); op die Skrif (Matteus 4:7; 5:21-48); op Homself (Johannes 14:9); op 'n spesifieke doel (Johannes 4:34; 5:30; 6:38-40). Paulus lê klem op baie spesifieke leierskap-beginsels (Filippense 1:9,10; 3:17; 4:9; Kolossense 3:17). Sien ook doelwit 4.3.1.a.
Hersey en Blanchard definieer leierskap as die proses waardeur die aktiwiteite van 'n individu of groep beïnvloed word in pogings tot doelbereiking in 'n gegewe situasie. Stodgill definieer leierskap as die proses waardeur die aktiwiteite van 'n georganiseerde groep beïnvloed word in hul pogings tot daarstelling en bereiking van doelstellings. Schilbach definieer leierskap as 'n interpersoonlike proses waardeur 'n leier die aktiwiteite van individue of groepe deur middel van kommunikasie rig tot die doelgerigte navolging van gegewe doelstellings in 'n spesifieke situasie.
'n Leier staan altyd in 'n bepaalde magsverhouding met sy volgeling(e). In 'n magsverhouding is een persoon afhanklik van 'n ander wat daartoe instaat is om die bevrediging van sy behoeftes toe te laat of te verhoed. Leiers kan oor enige van die volgende sewe magsbasisse in so 'n magsverhouding beskik. Dwingende-mag is gebaseer op vrees. Kontak-mag is gebaseer op die leier se kontakte en is gemik op die verkryging van gunste. Kundigheidsmag is gebaseer op die spesiale kundigheid, vaardigheid, vermoëns van die leier. Informasie-mag is gebaseer op die leier se beskikking oor of toegang tot informasie wat as waardevol beskou word. Legitieme-mag is gebaseer op 'n bepaalde posisie wat deur die leier beklee word. Verwysingsmag is gebaseer op die leier se persoonlike eienskappe waarvan volgelinge hou, wat deur hulle geadmireer word en waarmee hulle wil identifiseer. Belonings-mag is gebaseer op die leier se vermoë om in belonings soos vergoeding, bevordering of erkenning te voorsien.
Daar is verskillende benaderings tot leierskap. Die Kenmerke-benadering fokus op fisieke karakteristieke, intelligensie en vermoëns, persoonlikheids-, taakverwante- en sosiale eienskappe. Die Funksionele-benadering fokus op wat 'n persoon doen in sy posisie as leier. Daar word onderskei tussen prosedure- (aanmoediging tot groepsdeelname, probleemstelling en diagnosering, versameling van informasie, feite, idees, onderhouding van taakoriëntering), substantiewe- (onafhanklike bydraes, bewys van meelewing, samehorigheid, deelname, betrokkenheid, verkryging van feite deur navorsing) en groepsonderhoud funksies (openbaar gedrag wat sal bydra tot spanningsverligting binne die groep, aanmoediging, kompli-mentering, humor, daarstelling van geleenthede vir die bevrediging van bepaalde individue se behoeftes).
Die Gedragsbenadering fokus op gedrag wat getoon behoort te word om as effektiewe leier te funksioneer. Lewin, Lippit en White volg hierdie benadering en identifiseer drie leierskapstyle. Outokratiese- (die leier bepaal beleid op sy eie en gee persoonlik opdragte aan sy ondergeskiktes), demokratiese- (beleid word bepaal deur middel van groepsdiskussie, terwyl die leier slegs die proses fasiliteer deur groeplede aan te moedig en interaksie te bevorder) en liassez-faire leierskap styl (daar bestaan feitlik geen beleid nie en die leier neem tot 'n mate aan diskussie deel).
Volgens McGregor se X Teorie het die gemiddelde mens 'n inherente afkeur in werk en sal dit vermy indien moontlik. Daarom moet die meeste mense gedwing, beheer, voorgesê en gedreig word om te werk. Hy verkies om voorgesê te word, wil verantwoordelikheid vermy, het weinig ambisie en benodig veiligheid bo alles. Volgens McGregor se Y Teorie is fisieke en verstandelike inspanning so natuurlik soos speel en rus. Mense sal hulleself rig en beheer in diens van doelstellings waartoe hulle hulself verbind. Verbintenis tot doelstellings is 'n funksie van die beloning geassosieer met sukses. Die gemiddelde mens leer nie alleen om verantwoordelikheid te aanvaar nie, maar soek ook daarna. Daar is 'n hoë graad van verbeelding en kreatiwiteit teenwoordig onder die algemene publiek, terwyl hulle intellektuele vermoëns slegs gedeeltelik gebruik word.
Die Situasie benadering is gebaseer op die voorveronderstelling dat leierskap spesifiek is en altyd relatief tot die spesifieke situasie waarin dit voorkom. Tannenbaum en Schmidts volg hierdie benadering en stel 'n leierskap glyskaal daar wat deurswaai vanaf 'n leier- gesentreerde (1) tot 'n ondergesiktes gesentreerde (7) leierskap benadering (1- die leier maak besluite en kondig dit aan; 2- die leier "verkoop" besluite; 3- die leier maak voorstelle en laat die ondergeskiktes toe om vrae te vra; 4-die leier seggureer tentatiewe besluite onderhewig aan verandering; 5- die leier dra die probleem voor en kry insette van die ondergeskiktes voordat besluite geneem word; 6- die leier gee parameters waarbinne besluite geneem kan word; 7- die leier en ondergeskiktes neem gesamentlike besluite binne die parameters wat deur die organisasie gestel is.
Hersey en Blanchard volg ook hierdie benadering. Hulle onderskei tussen 'n "Telling"- (leier voorsien spesifieke instruksies, rolle, doelstellings aan volgelinge, hou naby toesig oor taakvolvoering, terwyl baie klem op die taak en min op die onderlinge verhouding geplaas word), "Selling"- (leier verduidelik besluite en ontlok voorstelle van volgelinge, terwyl baie klem op die taak sowel as die onderlinge verhouding geplaas word), "Participating"- (leier neem besluite saam met volgelinge, terwyl baie klem op die onderlinge verhouding en min klem op die taak geplaas word), en 'n "Delegating" leierskap styl (leier handig besluitneming en verantwoordelikheid oor aan volgelinge, terwyl min klem op sowel die onderlinge verhouding as die taak geplaas word). Die leierskap styl moet verband hou met die volwassenheidsvlak (vermoë en gewilligheid om die taak uit te voer) van die volgelinge. Die "Telling" styl word aanbeveel wanneer die volgelinge nie oor die vermoë of gewilligheid beskik om die taak uit te voer nie. Die "Selling" styl word aanbeveel wanneer die volgelinge gewillig, maar nie instaat is om die taak uit te voer nie. Die "Participation" styl word aanbeveel wanneer die volgelinge instaat maar onwillig is om die taak uit te voer. Die "Delegating" styl word aanbeveel wanneer die volgelinge instaat en gewillig is om die taak uit te voer.
Hierdie laaste benadering word sterk aanbeveel vir persone wat dissipels in hul geestelike groei begelei. Die sielkundige sowel as geestelike volwassenheidsvlak van die dissipel sal die leierskap styl bepaal wat op hom van toepassing gemaak behoort te word, sonder dat die gesindheid van Christus ooit ingeboet moet word (sien doelwit 4.8.2.b)

4.7.1.c Weet hoe om hierdie geestelike groeiprogram te gebruik as persoonlike dissipelmaker.

Voordat jy die GGP sinvol op hierdie wyse kan gebruik, moet jy eers die raamwerk waarbinne persoonlike dissipelmaking met die oog op geestelike groei gedoen word, verstaan. Hierdie raamwerk word onder doelwit 5.7.1.b op bladsy 43-76 van deel 5 verduidelik. Bestudeer dus hierdie gedeelte eers baie goed.
Vra die Here tydens jou stiltetyd om jou baie duidelik te lei en om 'n persoon aan jou uit te wys vir wie jy moet nader met die doel om hom vir een jaar te begelei in sy geestelike groei. Wanneer die Here 'n persoon aan jou uitgewys het, kan jy begin om 'n vriendskapsverhouding met hom aan te knoop. Praat met hom oor die noodsaaklikheid van geestelike groei wanneer hy daarvoor gereed is. Verduidelik kortliks aan hom wat die geestelike groeiprogram behels (sien inleiding op bladsy vii-xii van deel 1). Laat die selfevaluerings-vraelyste by hom met sy instemming en nadat hy verklaar het dat hy graag die stand van sy eie geestelike groei wil evalueer. Maak 'n besliste afspraak met hom vir wanneer hy die voltooide vraelyste aan jou sal teruggee.
Gesels tydens die tweede afspraak met hom oor sy ervaringe tydens die invul van die vraelyste. Vra aan hom of hy iets van homself geleer het. Verduidelik aan hom dat jyself tyd nodig het om sy vraelyste te bestudeer en om sy geestelike groeiprofiel te trek. Maak weer 'n afspraak vir 'n geleentheid wanneer julle saam na die resultate van die evalueringsvraelyste kan kyk.
Begin om by die derde geleentheid van sy antwoorde met hom te bespreek. Dit gee aan jou die geleentheid om hom op 'n persoonlike manier beter te leerken. Dit kan ook as ysbreker dien om die geestelike groeileier versus dissipel verhouding tussen julle te begin vestig. Maak tydens hierdie gesprekke (julle sal waarskynlik verskeie gespreksessies nodig hê om al die vorms deur te werk) seker dat jy sy antwoorde baie goed verstaan. Maak notas op die vraelyste wat jou kan help in die daarstelling van 'n voorlopige geestelike groei kurrikulum wat aan sy besondere behoeftes sal voldoen. Moenie deur die gesprekke jaag nie. Dit is reeds deel van die proses van geestelike groeibegeleiding (persoonlike dissipelmaking). Dit verskaf die geleentheid om mekaar te leer ken en te vertrou. Tydens hierdie gesprekke moet daar 'n behoefte by hom ontstaan en groei om vir ten minste een volle jaar doelbewus aan sy geestelike groei aandag te gee onder jou leiding.
Wanneer die gesprekke afgehandel is, kan jy sy geestelike profiel trek deur eenvoudig 'n kruisie onder die 1, 2, 3 of 4 op die toepaslike profielkaarte te trek (linkerkantste antwoord op selfevalueringsvraelys = 1, tweede van links = 2, derde van links = 3, regs = 4). Die kruisies word verbind om 'n profiel te vorm. Bespreek die onderskeie profielkaarte met hom. Wys bepaalde tendense aan hom uit wat op die profielkaarte getoon word (het hy byvoorbeeld deurgaans lae aktiwiteitswaardes en hoë kenniswaardes? Stem die lae aktiwiteitswaardes ooreen met lae gesindheidswaardes? Het hy deurgaans gemiddelde gesindheids-waardes terwyl sy kenniswaardes hoog is?).
Stel uit hierdie gegewens 'n voorlopige geestelike groei kurrikulum saam wat waarskynlik aan sy geestelike behoeftes sal voldoen. Bespreek hierdie voorlopige kurrikulum met hom. Wysig dit saam met hom waar nodig. Gaan met hom 'n ooreenkoms aan om saam met hom hierdie kurrikulum deur te werk oor 'n tydperk van een jaar (een uur per week). Onderneem ook om met hierdie proses van geestelike groeibegeleiding voort te gaan totdat die dissipel in staat is om verder selfstandig geestelik te groei, en om self as persoonlike dissipelmaker iemand anders in sy geestelike groei te begelei.
Maak gereelde afsprake. Probeer om nooit langer as een uur aan 'n gespreksessie te wy nie. Wissel die tye en plekke af vir gespreksessies sodat dit nie vervelig word nie. Sommige kan in 'n studeerkamer gedoen word, en ander terwyl julle 'n ent gaan stap, of wanneer julle êrens heen ry, of oor middagete, afhangende van die aard van die doelwit wat bereik moet word. Maak dit egter deel van julle normale lewensprogram sodat dit nie veeleisend word en negatief ervaar word nie.
Dit mag vir beide van julle nodig wees om iets op julle normale program weg te laat om tyd in te ruim vir hierdie geestelike groei gesprekke. Dit is 'n aktiewe besluit wat deur beide van julle geneem moet word. Sien ook doelwit 4.7.2.a,b; 5.7.1.c,d,e,f,g,h. Hierdie doelwitte kan jou help om die dissipel altyd meer effektief te begelei.

4.7.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.7.2.a Is minder selfsugtig en meer bereid om ontberinge te verduur ter wille van jou bediening.

Sien jy kans om iemand in sy geestelike groei te begelei oor 'n tydperk van 'n jaar deur middel van hierdie geestelike groeiprogram - selfs al moet jy sekere opofferings maak? Dink na oor verskeie moontlike opofferings wat so 'n proses van jou kan vereis. Bestudeer doelwit 5.7.1.b, module 1. Bid dat God die liefde van Galasiërs 5:13 in jou waar sal maak.

4.7.2.b Besit 'n groeiende behoefte om ander te lei in hulle geestelike groei.

Hoe kundig dink jy is die deursnee Christen omtrent geestelike groei? Dink jy dat die geestelike lewe van die deursnee gelowige kragteloos is? Wees spesifiek en noem voorbeelde om jou standpunt te motiveer. Kyk na punt 5.7.1.b, module 1. Bid dat die Here hierdie behoefte in jou sal werk en versterk.

4.7.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.7.3.a Lei 'n nuwe Christen deur die geboortesorg fase van hierdie geestelike groeiprogram en begin om hom op 'n persoonlike wyse in sy geestelike groei te begelei.

Bestudeer doelwit 4.7.1.c en verduidelik daarna aan 'n nuwe Christen wat deur die Here aan jou uitgewys is, die geestelike groeiprogram. Hoe het hierdie nuwe Christen dit ervaar en wat dink hy van die geestelike groeiprogram? Gaan voort om hierdie persoon op 'n persoonlike wyse deur die Geboortesorg fase van hierdie geestelike groeiprogram te lei. Begin om hom daarna op 'n persoonlike wyse in sy geestelike groei te begelei aan die hand van hierdie Geestelike Groeiprogram (sien doelwit 4.7.1.c). As jy deel is van 'n groeigroep, kan jy die ander lede motiveer om ook aandag aan hierdie doelwit te skenk. Ondersteun mekaar in hierdie werk.

4.7.3.b Rus jouself toe vir diens in die bedieningsareas waartoe God jou geroep het.

Jy dra nou kennis van die verskillende tipes bedieninge (sien doelwit 4.5.3.b) en het reeds betrokke begin raak by bedieninge of kerklike projekte (sien doelwit 4.5.1.b, 4.5.3.d). Stel nou ondersoek in om uit te vind vir watter bediening(s) jy die beste aangelê is. Jy kan dit doen deur weer 'n lys van jou geestelike vrugte (Galasiërs 5:22), besondere gawes van die Gees, talente en vaardighede te maak (sien doelwit 4.5.3.b). Maak ook 'n lys van moontlike bedieninge. Vergelyk nou hierdie twee lyste met mekaar om die bediening, waarvoor jy die beste aangelê en toegerus is, te bepaal. Vra die vraag of daar 'n plaaslike behoefte aan so 'n bediening bestaan en of dit dalk op 'n ander plek of wêrelddeel bestaan. Roep die Here jou tot so 'n bediening? Indien wel moet jy die nodige kennis en toerusting verkry. Daarvoor sal jy materiaal wat hieroor handel moet raadpleeg (boeke, videobande, kassetbande, kundiges en andere wat ook dieselfde bediening het, seminare, preke, lesings, kursusse).


4.8 GROEIAREA: LEEFWêRELD

INHOUD

4.8.1 Kennisdoelwitte:
a. Ken die faktore wat as 'n indikasie dien vir die bepaling van die intensiteit van menslike lyding binne 'n bepaalde samelewing.
b. Ken die noodsaaklike voorvereistes voordat 'n persoon, as verteenwoordiger van God, sy Godgegewe taak in sy gemeenskap kan nakom.
c. Verstaan waarna in 'n samelewing gestreef moet word ten einde menslike lyding tot die minimum te beperk.

4.8.2 Gesindheidsdoelwitte:
a. Begeer om eties verantwoordelik op te tree in gehoorsaamheid aan God, om die wêreldse stryd te laat vaar en om die taak van God aan te pak.
b. Aanvaar die gesindheid van Christus.

4.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte:
a. Ontwikkel 'n persoonlike lewenplan ooreenkomstig die wil van God.
b. Bid die gebed van die pro-mens.


4.8.1 Kennisdoelwitte:

4.8.1.a Ken die faktore wat as 'n indikasie dien vir die bepaling van die intensiteit van menslike lyding binne 'n bepaalde samelewing.

Maatskaplike terrein:
Verstedeliking: Gaan na watter persentasie toename in verstedeliking per jaar in die betrokke land plaasvind sonder dat daar voorsiening gemaak is vir 'n lewensvatbare bestaan. Die skematiese voorstelling (Figuur 4.8.1.a) hieronder dui aan hoedat mense geneig is om uit tradisionele situasies na moderne situasies en uit landelike situasies na stedelike situasies te trek. Die noodwendige omstandighede van hulle wat hulself uiteindelik in moderne stedelike situasies bevind, bied vrugbare teelaarde vir gesindhede van ongenoegsaamheid en negatiewe/destruktiewe gedrag (sien doelwit 4.3.1.e):

Figuur 4.8.1.a
Stedelik
Tradisioneel Modern
Landelik

Huisgesin: Gaan die gemiddelde lewensverwagting van huwelike in die betrokke land na. Hoeveel kinders ly onder gebroke en buite-egtelike verhoudings?
Sterftes by geboorte: Stel vas hoeveel sterftes by geboorte gemiddeld in die betrokke land per jaar plaasvind en of daar 'n toename of afname in die syfer is.
Daaglikse per kapita kalorie voorsiening: Stel vas watter persentasie van benodigde kalorie inname per persoon per dag, word in die betrokke land gehandhaaf.
Toegang tot skoon drinkwater: Stel ook vas watter persentasie van die betrokke land se bevolking gereelde toegang tot skoon drinkwater het.
Menslike lyding: As die getal 0 geen lyding verteenwoordig, en die getal 100 ekstreme lyding, het die volgende scenario hom in 1987 in die wêreld afgespeel volgens die "International Human Suffering Indeks: Population Crisis Committee" (Washington): Switzerland (4), VSA (8), Australië (16), Ierland (23), Hong Kong (29), Portugal (33), Jamaaika (40), Panama (47), Thailand (47), Suid-Afrika (52), Fillipynse Eilande (55), Lesotho (69), Ivoorkus (73), Zambië (74), Kenia (77), Etiopië (82), Burkina Faso (84), Angola (91), Mosambiek (95).
Bevolkingsgroei: Stel vas hoe die verskillende groeikoerse van verskillende bevolkingsgroepe in die betrokke samelewing van mekaar verskil, en hoe lank dit vir elk sal neem om te verdubbel. Stel vas in hoeveel mense se behoeftes die beskikbare watervoorraad van die betrokke land, wanneer dit op die bes moontlike wyse bestuur word, kan voorsien.
Neem daarvan kennis dat elke land met 'n bevolkingsgroei probleem, ook hoë vlakke van menslike lyding ervaar. Hierdie faktor lê ten grondslag van die meeste ander genoemde probleme. Bevolkingsgroei hou, op sy beurt, verband met die vlak van ontwikkeling van die betrokke groep. Bevolkingsgroei sou dus na bewering in toom gehou kan word deur die ontwikkelingsvlak en lewenstandaard van 'n bevolkingsgroep te verhoog. 'n Alternatief om bevolkingsgroei in toom te hou, is dat die natuur sy gang gaan en via baie menslike lyding, bevolkingsgetalle deur die dood verminder.
Indien bevolkingsgroei nie in toom gehou word nie, plaas dit 'n uitermate groot las op die vraag na voedsel en infrastruktuur, wat eenvoudig op ondervoeding en sterftes moet uitloop. As gevolg van lae ontwikkelingsvlakke van veral landelike bevolkings, kom veral verhoogde landelike bevolkingsgroei voor. Dit plaas 'n verhoogde las op die voorsiening in lewensmiddele, en bring weer verstedeliking mee deurdat mense na lewensmoontlikhede soek.
Sterftes by geboorte is 'n goeie aanduiding van die vlak van gesondheidstoestande, sanitasie en beskikbaarheid van dienste. Hierdie faktore gee ook weer aanleiding tot oormatige verstedeliking.
Die beskikbaarheid van skoon drinkwater is een van die belangtrikste maatstawwe vir sanitasie. Waterverbonde siektes is verantwoordelik vir 'n groot persentasie van alle sterftes by kinders onder 5 jaar.

Ekonomiese terrein (sien doelwit 3.8.1.a-j):
Produksie: In alle lande word kapitaalgoedere gebruik in die vervaardiging van verbruikersgoedere. Daar word dus oral kapitalistiese ekonomiese stelsels aangetref (sien doelwit 3.8.1.e). Stel vas of daar 'n tendens van toenemende regulering (fasisme) en nasionalisering (sosialisme) of van deregulering en privatisering (vrye mark) van die ekonomie van die betrokke land te bespeur is, in watter mate kompetisie 'n rol in die ekonomie speel en watter invloed dit op die intensiteitsaanduiders van menslike lyding het (sien doelwit 4.8.1.a). Stel ook vas watter persentasie van die bevolking van die betrokke land werkloos en onopgelei is en dus nie selfvoorsienend is en 'n bydrae tot die BBP kan lewer nie. Probeer ook bepaal of die betrokke land die nodige erns maak met die produksie van spesifiek léwensmiddele (sien doelwit 3.8.1.a).
Privaatbesit: Stel vas in watter persentasie van die bevolking se besit die oorgrote meerderheid kapitaalgoedere/produksiemiddele is, en in hoe 'n mate die res toegang tot die verkryging van produksiemiddele het.
Verdeling van eiendom: Stel vas watter persentasie van die persoonlike inkomste van kapitaalbesitters, deur die regering van die betrokke land deur middel van persoonlike belasting ingevorder word en in watter mate diefstal, welsyn, liefdadigheid, plundering en oorlog voorkom, en hoe georganiseerd hierdie praktyke geskied. Stel ook vas in watter mate omgesien word na die deel van die bevolking wat, behalwe vir luiheid, nie instaat is om lewensmiddele te produseer nie (sien doelwit 3.8.1.h).
Inflasie: Stel vas wat die inflasiekoers van die betrokke land is en of dit jaarliks toeneem of afneem (sien doelwit 3.8.1.i).

Politieke terrein:
Stel vas of dit die doel van die betrokke regering is om individuele regte tot lewe, produksie van lewensmiddele en behoud van geproduseerde lewensmiddele, te beskerm, en in watter mate die bevolking bereid is om verantwoordelikhede saam met hul regte te aanvaar (sien doelwit 3.8.1.a). Stel ook vas of daar, op 'n konstitusionele wyse, ruimte viralle landsburgers geskep word waarin hulle die verantwoordelikhede wat hul Skepper op hul skouers geplaas het, kan nakom (sien doelwit 3.8.1.c). Kyk na wat die betrokke regering en opposisie partye se beleid en besluite vir die man op straat se lewenswyse en lewenskwaliteit inhou en sal inhou. Dit gaan uiteindelik nie oor wie reg is nie, maar oor wat reg is.

Veiligheids terrein:
Stel vas of die betrokke land se regering in 'n magstryd gewikkel is (of verskillende instansies mag probeer verkry oor die vier magsbasisse: ekonomiese-, politiese-, maatskaplike-, militêre terrein). Wie hierdie terreine/magsbasisse beheer, beheer die volk. Is dit dus die doel van die deelnemers aan die magstryd, om beheer oor hierdie lewensterreine/magsbasisse oor te neem? In elke magstryd word die onvervreembare reg van die individu (meestal die verontregte) tot lewe, geskend. Strydende partye/organisasies eien dikwels vir hulself die reg toe om die lewens van onskuldiges te neem, onder die dekmantel van die beskerming van die regte van dieselfde verontregtes.

Godsdienstige terrein:
Stel vas of Kerke en godsdienstige organisasies in die betrokke land deur maghebbers/magsoekers gevra of geforseer word om, op godsdienstige gronde, hulle lidmate aan te moedig om hulle in hul magstryd te ondersteun. Maghebbers (en magsoekers) se aktiwiteite op die bogenoemde vier lewensterreine/magsbasisse is altyd gefundeer op hul ideologiese/godsdienstige uitgangspunte. Uit hul oogpunt, sal die godsdienstige terrein dus ook as 'n magsbasis gesien word. Hulle besef dat wie in die betrokke land beheer oor die godsdiens en godsdienstige organisasies verkry, beheer verkry oor die moraal, waardes en hoogste lewensdoel van groot persentasies van die totale bevolking. Dit beteken dat die magsoeker/maghebber ook die Kerk in sy eie aardse magstrewe misbruik. Iemand het gesê dat as die mense nie deur God regeer wil wees nie, hulle deur tiranne regeer sal word.

4.8.1.b Ken die noodsaaklike voorvereistes voordat 'n persoon, as verteenwoordiger van God, sy Godgegewe taak in sy gemeenskap kan nakom.

Om as verteenwoordigers van God enigsins ons taak in 'n samelewing na te kom, is dit noodsaaklik dat ons: Onsself volledig aan God sal oorgee, omdat ons Hom met ons lewens vertrou; vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom sal lewe; steeds sal toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, deur sistematiese en doelgerigte Bybelstudie te doen; die gevolge van sonde in ons eie kultuur sal identifiseer, en sover moontlik, sal regmaak deur dit in lyn te bring met die Wet van God; besef dat ons nie al die foute wat ons in ongehoorsaamheid en onwetendheid gemaak het kan regmaak nie; hulle vergewe wat teen ons oortree het (2 Petrus 3:14,18).

4.8.1.c Verstaan waarna in 'n samelewing gestreef moet word ten einde menslike lyding tot die minimum te beperk.

Ten einde menslike lyding in enige samelewing tot die minimum te beperk, moet, wie ookal regeer, die volgende doelstellings suksesvol nastreef: Bevolkingsgroei op 'n verantwoordelike wyse in bedwang hou; bevolkings-ontwikkeling van veral agtergeblewenes suksesvol bewerk-stellig; lewensstandaard van veral agtergeblewenes suksesvol laat styg; verstedeliking op 'n verantwoordelike wyse in toom hou; voedselproduksie tot sy reg laat kom; inflasie effektief bekamp; skoon drinkwater aan 100% van die bevolking voorsien; regeringsmag konstitusioneel beperk tot die beskerming van onvervreembare Godgegewe regte van individue; regte van minderhede en meerderhede konstitusioneel beskerm.
Om bogenoemde doelstellings na te streef, moet die Christen landsburger ook op die volgende wyse sy deel doen:
Bevolkingsgroei/verstedeliking: Nie egbreuk pleeg nie; sy eie en ander se huwelikke respekteer; kinders wat hy verwek versorg en respekteer; nie kinders verwek wat hy nie sal kan versorg nie.
Bevolkingsontwikkeling: Hy moet sy naaste opvoed, deur hom te help om sy Skepper te ken; die Skeppingsopdrag te verstaan; homself, sy naaste en sy leefwêreld te sien soos God dit sien; die Wet van God as maatstaf en riglyn te kan gebruik in die uitvoering van sy kultuurtaak.
Lewenstandaard, Inflasie, Voedselproduksie, Skoon drinkwater: Hy moet bereid wees om ses dae te arbei en al sy werk te doen tot eer van God; God se dag vir homself en hulle saam met hom, as 'n gereelde rusdag, af te sonder; 'n ekonomiese stelsel te ondersteun waarin die individu nie deur vrees gedwing word om te produseer nie, maar deur wins, verantwoordelikheidsin en gehoorsaamheid aan God se skeppingsopdrag aangemoedig word; uit sy surplus, 'n bydrae te maak tot die lewensonderhoud van hulle wat nie instaat is om te produseer nie; aan die regering van die dag te betaal wat hom toekom, ten einde hom instaat te stel om sy verantwoordelikheid (om die lewens van hulle wat nie in staat is om te produseer nie, in stand te hou) te kan nakom; aan God te gee wat Hom toekom.
Regeringsmag: Hy moet 'n grondwet vir die land ondersteun waarin die regte van die individu, minderhede en meerderhede beskerm sal word; die mag en taak van die regering beperk sal word tot die beskerming van die onvervreembare Godgegewe regte van die individu.
Menseregte: Hy moet aanvaar dat God alleen die volgende onvervreembare regte aan die mens skenk, naamlik lewe, produksie van lewensmiddele en behoud van geproduseerde lewensmiddele; dat ons regte eintlik verantwoordelikhede is. Hy moet bereid wees om nie sy regte gewelddadig op te eis nie, maar om 'n beroep op die verantwoordelikheid (wat voortspruit uit God se skeppingsopdrag) te doen van hulle wat hom verontreg; nie te vra wie reg is nie, maar wel wat reg is; aan mede landsburgers vryheid te gee deur self uit dankbaarheid gehoorsaam aan God se wet te wees.
Slegs in die mate waarin die inwoners van 'n land daarin slaag om uit dankbaarheid gehoorsaam aan die wet van God te wees, sal vrede, geregtigheid en vryheid daar realiseer.

4.8.2 Gesindheidsdoelwitte:

4.8.2.a Begeer om eties verantwoordelik op te tree in gehoorsaamheid aan God, om die wêreldse stryd te laat vaar en om die taak van God aan te pak.

Bestudeer doelwit 2.8.1.e aandagtig. Maak seker dat jy hierdie gesindheid as jou eie aanvaar het, en bid dat God dit in jou lewe sal waar maak.
4.8.2.b 4.8.2.b. Aanvaar die gesindheid van Christus.
Sien jy jouself soos jy werklik is? Daar is twee bronne van selfkennis. Die Woord van God en interaksie met die dinge en mense rondom jou. Deur jou Skepper uit sy Woord te leer ken, leer ken jy jouself op 'n baie unieke manier. Deurdat jy Hom onder andere in sy grootheid, almag, geduld, heiligheid, trou, ewigheid leer ken, leer ken jy jouself in jou kleinheid, onmag, ongeduld, onreinheid, ontrou, tydelikheid.
Interaksie met die dinge en mense rondom jou lei tot selfontdekking. Selfontdekking kan 'n natuurlike proses van bewuswording behels, sonder doelbewuste inmenging van buite, of dit kan 'n kunsmatige proses van bewusmaking wees deur doelbewuste inmenging van buite (propaganda, indoktrinasie, breinspoeling).
Beide hierdie prosesse kan tot 'n realistiese of onrealistiese ware selfbeeld aanleiding gee. Dit kan ook tot 'n realistiese of onrealistiese ideale selfbeeld aanleiding gee. Die Bybelse perspektief kan jou help om jou ware en ideale selfbeeld van onrealisties na realisties te verander.
Beide die prosesse kan ook aanleiding gee tot 'n realistiese of onrealistiese selfervaring. Wanneer 'n mens jouself tydens interaksie met die mense en dinge rondom jou, anders ervaar as wat jy jouself sien, ontstaan daar 'n inherente konflik wat weer tot baie negatiewe emosies en gedrag aanleiding kan gee, en wat tot meer negatiewe ervarings van jou self mag lei, meer verwyderd van jou selfbeeld.
Dit is dus belangrik om te onderskei tussen 'n realistiese en onrealistiese siening en ervaring van jouself. 'n Bybelse perspektief kan jou help om jou self te sien soos God jou sien, en om jouself te ervaar soos God wil hê jy moet (sien doelwit 2.3.1.a; 3.3.1.c; 3.3.1.g). As jy daarin slaag om jou realistiese selfbeeld en -ervaring met mekaar te integreer sal jy groei ervaar in jou persoonlikheid (die tipiese manier waarop jy jouself aan ander mense openbaar).
Sien jy jou leefwêreld soos dit werklik is?
Interaksie met die dinge en mense rondom jou lei tot leefwêreld ontdekking. Leefwêreld ontdekking kan 'n natuurlike proses van bewuswording behels, sonder doelbewuste inmenging van buite, of dit kan 'n kunsmatige proses van bewusmaking wees deur doelbewuste inmenging van buite.
Beide hierdie prosesse kan tot 'n realistiese of onrealistiese ware leefwêreld beskouing aanleiding gee. Dit kan ook tot 'n realistiese of onrealistiese ideale leefwêreld beskouing aanleiding gee. Die Bybelse perspektief kan jou help om jou ware en ideale leefwêreld beskouing van onrealisties na realisties te verander.
Beide die prosesse kan ook aanleiding gee tot 'n realistiese of onrealistiese leefwêreld ervaring. Wanneer 'n mens jou leefwêreld tydens interaksie met die mense en dinge rondom jou, anders ervaar as wat jy dit sien, ontstaan daar 'n inherente konflik wat weer tot baie negatiewe emosies en gedrag aanleiding kan gee, en wat tot meer negatiewe ervarings van jou self mag lei, meer verwyderd van jou selfbeeld.
Dit is dus belangrik om te onderskei tussen 'n realistiese en onrealistiese siening en ervaring van die mense en dinge rondom jou. 'n Bybelse perspektief kan jou help om hulle te sien soos God hulle sien, en om hulle te ervaar soos God wil hê jy moet. As jy daarin slaag om jou realistiese leefwêreld beskouing en -ervaring met mekaar te integreer, sal jy groei ervaar in jou persoonlikheid (die tipiese manier waarop jy jouself aan ander mense openbaar deur jou optrede teenoor hulle en die dinge rondom jou).
Elke mens funksioneer op drie terreine. Die persoonlike-, gesins- en gemeenskapsterrein. Dit is op hierdie terreine waarop 'n mens deur die prosesse van bewuswording of bewusmaking 'n bepaalde (realistiese of onrealistiese) selfbeskouing, leefwêreld beskouing, selfervaring en leefwêreld ervaring ontwikkel. Dit is ook op hierdie terreine waarop 'n mens die moontlikhede en werklikhede in terme van jouself en jou leefwêreld, op 'n realistiese of onrealistiese wyse sien en ervaar. Wanneer jy die moontlikhede en werklikhede as naby genoeg aan mekaar sien en ervaar, volg 'n grondhouding van genoegsaamheid. Wanneer jy die moontlikhede en werklikhede egter as gestagneerd en te ver van mekaar sien en ervaar, volg 'n grondhouding van ongenoegsaamheid (sien Davies se teorie van rewolusie in doelwit 4.3.1.e).
'n Mens se grondhouding gee aanleiding tot bepaalde gedrag. 'n Negatiewe grondhouding van ongenoegsaamheid, gee aanleiding tot negatiewe, destruktiewe en opstandige gedrag. In die uiterste vorm gee dit aanleiding tot die vernietiging van die self, gesinsverhoudings, rewolusie in die gemeenskap en tot opstand teen God.
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik dat jy daarteen moet waak dat doelbewuste bewusmaking van buite nie jou grondhouding op 'n kunsmatige manier manipuleer deur kunsmatige genoegsaamheid of ongenoegsaamheid te skep nie. Dit gebeur as doelbewuste bewusmaking tot so 'n onrealistiese negatiewe selfbeskouing of leefwêreld beskouing aanleiding gee dat jy die moontlikhede vir jouself en jou leefwêreld as so onbereikbaar ver van die werklikhede wat jou lewe beïnvloed, ervaar, dat jy roekeloos en destruktief kan raak teenoor jouself en jou leefwêreld.
Dit kan ook gebeur deurdat doelbewuste bewusmaking van buite tot so 'n onrealistiese positiewe selfbeskouing of leefwêreld beskouing aanleiding gee dat jy die moontlikhede as so naby aan die werklikhede wat jou lewe beïnvloed, ervaar, dat jy vergenoegd met jouself en jou omstandighede is, dat jy geen motivering tot konstruktiewe verandering en verbetering aan jouself of jou leefwêreld nodig ag nie, en maar voort ploeter.
Daarom is dit ook belangrik dat iemand van buite, soos die persoon wat aan jou leiding gee in jou geestelike groei, jou moet help om 'n realistiese Bybelse self- en leefwêreld beskouing te ontwikkel, om nie na onrealisties goeie "moontlikhede" te strewe nie, en om nie jou werklikheid as onrealisties sleg te ervaar nie.
Wanneer daar verandering in jou grondhouding ontstaan (jy sal dit waarskynlik waarneem in verandering van jou emosie of selfs gedrag teenoor sekere sake, dinge of mense) is dit raadsaam om die rigting waarin hierdie veranderinge plaasvind te monitor. Bring die verandering jou nader aan God en jou medemens, of veroorsaak dit verdere verwydering? Vind daar versoening of polarisering plaas? Dra dit daartoe by dat die gesindheid van Christus in jou gestalte aanneem? (Johannes 13:4-17; Filippense 2:1-11).
Ontleed jou grondhouding. Hoe genoegsaam is jy in jou persoon? Het jy vrede met God, met jouself, jou medemens en jou omstandighede? Onthou dat jou houding van (on)genoegsaamheid op die biologiese-, sosiale-, veiligheids-, erkennings-, en selfaktualiserings vlakke van jou menslike behoeftes kan voorkom. Dit is op hierdie vlakke waar jy (on)genoegsaamheid ervaar. Dit is dus ook op hierdie vlakke waarop jou negatiewe/positiewe grondhouding gevestig word. Hoe genoegsaam ervaar jy jou gesin? Kan jy die eise van jou huwelik, huishouding, ouerskap/ouers en arbeid hanteer? Hoe genoegsaam ervaar jy jou gemeenskap? Bied jou gemeenskap aan jou werksgeleentheid, behuising, gesondheidsfasiliteite en beskerming?

4.8.3 Aktiwiteitsdoelwitte:

4.8.3.a Ontwikkel 'n persoonlike lewensplan ooreenkomstig die wil van God.

Gradeer jou lewensplan (sien 2.3.3.c; 4.3.1.e) ooreenkomstig die wil van God op teen die agtergrond van dit wat jy in 4.8.1.a-c, 4.8.2.a geleer het. Gebruik die kundigheid van doelwit 5.8.1.g in die afronding van jou lewensplan.

4.8.3.b Bid die gebed van die pro-mens.

Bid die meegaande gebed van die pro-mens, om uitdrukking te gee aan die gesindheid van Christus wat jy as jou eie aanvaar het. Die gebed van die pro-mens is 'n gebed om versoening tussen God en mens, en mens en mens. Dit is 'n gebed om openheid en begrip vir die nood van ander. 'n Gebed om die regte gesindheid in myself, ten spyte van myself. 'n Gebed om betrokkenheid sonder bymotiewe. 'n Gebed om versoening.
"Here, help my om 'n instrument van versoening te wees. Maak my bereid en gewillig om met dankbaarheid vir U te leef omdat U met U kosbare bloed vir al my sonde aan die kruis betaal het. Help my om die goeie nuus van redding en verlossing uit te dra na hulle wat dit nog nie gehoor het nie of dit nie reg verstaan nie.
"Here, help my om met U gesindheid van liefde te kyk na gebeurtenisse om my, en help my om ook soos U onvoorwaardelik lief te hê. Gee dat ek, soos U, begrip sal hê vir die bestaansnood van mense wat as gevolg van moeilike omstandighede vyandiggesind is of ontmoedig raak wanneer hulle in ongeloof nie meer 'n toekoms vir hulleself of hulle kinders kan sien nie. En vergewe my as ek bewustelik of onbewustelik deel gehad het aan enige situasie waarin mense onregverdig behandel is ter wille van my selfsugtige ideale.
"Here, wanneer ander mense of ekself as gevolg van omstandighede vervolg, verdruk of verneder word, bid ek dat U my sal help om dit tot U eer te hanteer. Help my om volgens die eise van die liefde te soek na die omvattende geluk van my naaste. Ek erken dat ek alleen deur die krag wat U gee daartoe instaat is. Help my om nie oordele oor mense uit te spreek nie, want U het gesê ek mag nie oordeel nie. Help my om ook vir hulle wat nie dink soos ek dink nie, lief te wees en gee dat ons mekaar rondom die Kruis sal ontmoet.
"Gee dat ek in die Gees van Christus sal meewerk aan die eerlike soeke na oplossings vir die probleme van ons land en sy mense en bewaar my van selfsug of naywer in hierdie proses.
"Ek dank U dat ek kan weet dat U my hier met 'n doel geplaas het." Amen.

No comments:

Post a Comment